STRUWIG BOSVELDPLAAS
~ ons eie plaas in die boendoes ~
Na die dood van n ene Mnr Petrus Cornelius
Struwig, of oom Struwig soos hy maar aan almal van ons bekend is, het dit aan die lig
gekom dat hy sy plase, Zeekoegat, Dundee, Lisbon en Klipheuwel, bemaak het aan die JRB
(nou RRB), Voortrekkers, KJA, FAK en Volkspele.
n Bepaling van die
testament was dat indien van die erfgename sou besluit om van hul nalatingskap ontslae te
raak die helfte van die opbrengs vir kanker navorsing beskikbaar gestel moet word
vandaar die Germishuysen-Struwig Kankernavorsingtrust. Beurse is gedurende 1999 vir die
eerste keer aan kandidate toegeken wat spesifiek in kankernavorsing studeer. Met n sterk jeug komponent onder die
erfgename is dit ook die wens van die PC Struwig Trust dat die plaas gebruik moet word vir
jeugontwikkeling.
Die FAK en Volkspele het besluit
om hulle grond aan Sybrand vd Spuy, n aangrensende grondeienaar te verkoop. Na hierdie transaksie was n maatskappy
gestig (Struwig Bosveldplaas maatskappy) waarop Mnr vd Spuy 40 % en die drie kultuur
organisasies elkeen 20 % of 60 % gesamentlik besit.
Vir die bestuur
en handhawing van die jeug se bate is die Struwig Trust gestig met begunstigdes daarvan
die RRB, Voortrekkers en KJA.
Op die plaas is wild volop en
word koedoes, kameelperde, rooibokke, ystervarke, vlakvarke, waterbokke, leeus, olifante,
buffels, blouwilde beeste , zebras, seekoeie, hiënas, krokodille, bosbokke, steenbokke,
duikers, renosters, ensovoorts gereeld gesien. Selfs die GROOT 5 word gereeld
opgemerk. Skaarser diersoorte soos Sharpes se grysbok, klipspringers, luiperds
en jagluiperds, siwet- en rooikatte is ook al van tyd tot tyd opgemerk. Daar is ook meer
as 200 spesies voëls waarvan 6 visarende in die kamp se omgewing nes maak en gereeld
gesien word besig om vis te vang in die rivier reg voor die kamp.

Planne was vir n goeie 18
maande beraam en deurdink maar aan die begin van 1999 het die verbeterings begin. Die rondawels was ten volle oorgedoen, warm water
geriewe vir dames en mans is gebou en voorsien, die Oewer huis is omskep in n
raadsaal vir 24 mense met n ingangsportaal en gerieflike kombuis. n Groot lapa is aangrensend daartoe gebou
met n gerieflike braai area wat direk oor die Olifants rivier uitkyk. By Uitsig was die huis ook opgeknap en n
swembad is geïnstalleer vir die somerdae wat maar kan warm raak.
Hier is nog foto's
van die plaas, die diere en alles en nog wat. E-pos
vir ons ook van julle foto's vir publikasie op die foto blad.


BESPREKINGS: Lede kan net die nodige besprekings
doen om 'n sorgvrye naweek in die Bosveld saam met hulle gesinne te geniet. Skakel
met die RRB HK vir die nodige rëelings. Vergewis uself asb ook met hierdie inligtingstuk indien u van plan is om die plaas te besoek.