Bybelvasvra geskiedenis

 

Die gedagte aan ‘n Bybelvasvrakompetisie het by die Junior Rapportryerkorps Sasolburg begin wat gedurende 1977 afgeskop het met ‘n vasvra vir St. 5 leerlinge.

Danksy groot entoesiasme van Rapportryers, skoolhoofde, leraars en ouers, het 64 leerlinge op 16 Oktober 1977 aan die heel eerste vasvra deelgeneem.  Gedurende 1980 het Secunda ook sodanige vasvra begin aanbied en het die eerste kompetisie tussen streke gedurende 1981 plaasgevind.  Gedurende 1983 is die hoofkantoor van die Beweging gevra om die handleiding van hierdie kompetisie landswyd te versprei en gedurende 1985 het die Rapportraad besluit om hierdie kompetisie die status van ‘n nasionale projek te gee en dit vanaf 1986 op ‘n nasionale basis te laat plaasvind.

Na die nederige begin in 1977 het hierdie vasvra in die eerste jaar waarin dit nasionaal aangebied is, 300 skole en instansies betrek wat spanne ingeskryf het.

Hierdie vasvra is nou een van die RRB se prestige projekte.

Vanaf 1986 tree mnr. en mev. O.A.W. van Zyl as beskermpaar op en in hierdie hoedanigheid oorhandig hulle tydens die eindrondte die pryse.

Weens die afwesigheid van ‘n borgskap, is die vasvra nie in 1993 aangebied nie, maar AKPOL (Afrikaanse Kultuurvereniging van die Polisie) het die RRB in staat gestel om sedert 1994 die vasvra weer met nuwe ywer te kon aanbied.  Sedert 1997 kon AKPOL ook nie meer help nie a.g.v. die besnoeïng van fondse in die SAPD.  Die RRB het egter deurgedruk en die koste self gedra vir die kompetisie.  Dit het egter broekskeur gegaan en die RRB was ook genoodsaak om slegs die nodige te kon aanbied vir die deelnemers.  Dit is met wense dat ons hoop om weer ‘n borgskap te vind om hierdie puik kompetisie in die nodige fleur te laat geskied waaraan dit gewoond was die afgelope 21 jaar.  Gedurende 1999 het 400 spanne regoor die land in 27 verskillende uitdunrondtes deelgeneem.  Een en tagtig spanne het aan die einde van Augustus meegeding om ‘n plek in die halfeindrondte.  Tien spanne het deurgedring na die eindrondte wat plaasgevind het by die Sinode saal van die Gereformeerde Kerk op Potchefstroom.

Terug na Bybelvasvra