RRB NASIONALE BYBELVASVRA REGLEMENT

1. Naam

Die Rapportryerbeweging se Nasionale Bybelvasvra – hierna genoem die Bybelvasvra.

2. Doelstellings

2.1 Bevordering en handhawing van die jeug se liefde vir die Bybel en Bybelstudie.

2.2 Bevordering van die jeug se kennis en hanteringsvermoë van die Bybel.

2.3 Bevordering van die jeug se kommunikasievermoë.

2.4 Bevordering van die jeug se samewerkingsvermoë.

2.5 Bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur.

3. Aanbieding

Die Bybelvasvra word deur die Bybelvasvrakomitee in opdrag van die Rapportryerraad aangebied.

4. Inskrywingsgeld

4.1 Inskrywingsgeld word jaarliks bepaal soos deur die Rapportryerraad goedgekeur.

4.2 Inskrywingsgeld moet die inskrywingsvorm vergesel.

4.3 Geen inskrywingsgeld is terugbetaalbaar nie.

5. Inskrywingsreëls

5.1 Slegs skoliere (seuns en/of dogters), wat in die laerskool is, word ingeskryf.

5.2 ’n Span bestaan uit vier (4) skoliere van dieselfde skool / gemeente.

5.3 Slegs spanne wat deur hulle skole / gemeente ingeskryf is mag deelneem.

5.4 ’n Skolier mag slegs in een span deelneem en wel vir die span waarvoor die skolier ingeskryf is.

5.5 ’n Skool / gemeente mag nie meer spanne inskryf as wat jaarliks voorgeskryf word nie.

5.6 Die kompetisie vind in Afrikaans plaas.

5.7 Deur inskrywing onderwerp skole, gemeentes, spanne en deelnemers hulle aan hierdie reglementreëls, regulasies, reëlings, organisasie, pryse en alle verordeninge wat in besonder of in die algemeen behoudens die toesig en bevoegdhede van die Rapportryerraad deur die Bybelvasvrakomitee vir die Bybelvasvra voorgeskryf word.

6. Pryse

6.1 Pryse word jaarliks deur die Bybelvasvrakomitee bepaal.

6.2 Geen deelnemer, span, skool of gemeente het enige aanspraak op ’n prys, voordat die prys nie amptelik oorhandig/gewen is nie. Die Bybelvasvrakomitee behou hom die reg voor om te enigertyd voor ’n prys oorhandig/gewen word/is, sodanige prys tot niet te verklaar of te wysig.

7. Aard Van Die Bybelvasvra

7.1 Die Bybelvasvra word in drie (3) rondtes beslis, naamlik ’n uitdunrondte, ’n halfeindrondte en ’n eindrondte.

7.2 Daar vind soveel uitdunrondtes en halfeindrondtes plaas soos deur die Rapportryerraad goedgekeur.

7.3 Daar word soveel wenspanne per uitdunrondte en halfeindrondte aangewys soos deur die Rapportryerraad goedgekeur.

7.4 Daar vind slegs een eindrondte plaas.

7.5 Die uitslag van die beoordelaar is finaal en geen kommunikasie word oor die uitslag gevoer nie.

8. Beoordelaars en Beamptes

Die Bybelvasvrakomitee of sy gemagtigdes wys beoordelaars, vraestellers en kontroleurs vir die verskillende rondtes aan.

9. Borge

Die bevoegdhede van en die skakeling met die borg word deur die Bybelvasvrakomitee behartig volgens voorskrifte van die Rapportryerraad.

10. Bywoning van Rondtes

Lede van die Bybelvasvrakomitee woon rondtes by soos van tyd tot tyd deur die Bybelvasvrakomitee bepaal.

11. Beëindiging

                    Die Bybelvasvra word alleenlik beëindig kragtens ’n besluit van die  Rapportryerraad.

12. Reglementwysiging

Hierdie reglement kan deur die Rapportryerraad gewysig word met dien verstande dat die Bybelvasvrakomitee bevoeg is om die aanbeveling en voorstelle te doen.

 Terug na Bybelvasvra