voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 
i | ii
reisnuus

as testosteroon hoog loop in florence

   
jens friis
     

Florence. Drie keer jaarliks loop die testosteroon hoog in Florence se Piazza Santa Croce. Dis dan wanneer 54 jong manne van twee spanne mekaar hier aanvat in gevegsvoetbal wat dateer van die 15de eeu.
Die Calcio Storico, oftewel gevegsvoetbalspel, in ryklik versierde kostuums spruit uit 'n antieke Romeinse balspel wat 'n Florentynse spesialiteit geword het in die goue eeu van die Toskaanse hoofstad.
Edelmanne het dit eens gebruik om hul vaardigheid en krag te toon. Deesdae word die gespeel tussen die manne van die vier Florentynse kwartiere San Giovanni, Santa Maria Novella, Santo Spirito en Santa Croce.
Geklee in Middeleeuse-klere poog die spelers om die bal te bêre op enige manier moontlik in die doelhok, wat die hele agterlyn beslaan.
Presisie is van kradinale belang, want punte word verloor as 'n doel gemis word of die bal onderskep word.
Die wenspan word beloon met T-bene anders as die tradisionele prys van 'n wit kalf of bistecca fiorentina wat vroeër geslag is vir die okkasie.
Die drie wedstrye vind jaarliks in Junie/Julie plaas.
Die Santa Croce-kerk waarna die piazza genoem is, dateer van 1294. In hierdie historiese kerk het Michelangelo onder meer gebid en is Galileo ter ruste gelê.

j f

reisnuus

laaste vd post-boeke kry rusplek

   
jens friis
     

 

Die laaste van sir Laurens van der Post se boeke is onlangs hier uitgepak. Dit volg nadat ekstra boekrakke aangebring moes word by die Laurens van der Post-gedenksentrum. Plek was daar nie genoeg nie.
Die boeke is enkele maande gelede vanaf sy studeerkamer in Londen na Philippolis verskeep.
Tesame hiermee het ook die studeertafel waarby hy vele van sy boeke geskryf het gekom.
Ander besittings sluit in boekrakke, 'n lessenaarstoel, foto's waaronder een waar hy rugby speel vir Grey Kollege in Bloemfontein, en kleiner goedjies wat in sy studeerkamer was.
"Die houtmeubels moes reeds dikwels olie kry," vertel me. Naómi Friis, mede-bestuurder van die Pos(t)-sentrum. "Die rede is waarskynlik dat die souterige seelug op die skip baie droog was en ook dat die Suid-Vrystaatse weer heelwat verskil van dié in Londen."
Die grootste gros van die kosbare boeke is in Engels. Tog is daar ook heelparty uiteenlopende werke in Afrikaans soos Elsa Joubert se Die Swerfjare van Poppie Nongena, Die Verhaal van Meneer de Vos (Beatrix Potter), Maretha Maartens (Plek van Dolfyne) en In Memoriam Ingrid Jonker wat onderteken is deur die skrywer Jack Cope.
Selfs in die feitlik misdaadvrye Philippolis word dit nodig geag om die boekery te beskerm deur 'n alarmstelsel.
Die boeke behoort aan die Van der Post Trust waar die beherende aandeel behoort aan sir Laurens se dogter, mev. Lucia Crichton-Miller, en haar man, Neil. Lucia is nes haar pa betrokke in die skryf-/uitgewerswêreld. Die ander twee trustees is me. Alida Stewart, 'n Port Elizabethse argitek en ontwerper van die Gedenksentrum, asook ds. Bertie Haasbroek van Bloemfontein.
In die afgelope maand het besoekers van onder meer Noorweë, die VSA, Holland, Engeland, Italië, Australië en Duitsland by die sentrum aangedoen.
"Dit is 'n klein nismark, maar Van der Post-volgelinge kom van oraloor-selfs na die afbrekende biografie van Jones oor sir Laurens wat sowat twee jaar gelede verskyn het," sê Friis.
"Laurens het waarskynlik 'n paar voetfoute begaan, maar vir die meeste van sy lesers maak dit nie saak nie. Hul lees sy boeke vir die ervaring wat hul daaruit kry. Dat die feite nie altyd klop nie, is nie vir hul die alfa en omega nie."
Heelwat van sy 25 boeke is vertaal in Frans en Duits tot Japannees en Spaans. "Was dit nie vir 'n foto van hom in die Japannese vertaling nie, sou g'n Westerling geweet het dat hy die skrywer was nie!"
Wat die boekery so kosbaar maak is dat dit waarskynlik die uitgebreidste versameling Van der Post-boeke ter wêreld is. Tweedens was dit die skrywer se privaat versameling. Nes die meeste van sy boeke eerste uitgawes is, is dit ook die geval met talle van die boeke wat hy aangekoop of aan hom geskenk is deur vriende of kennisse soos Nadine Gordimer, Alan Paton en Uys Krige.
Navorsers mag ter plaatse van die boeke gebruik maak, maar geen word uitgeleen nie.
Buiten die museum bestaan die Van der Post Gedenksentrum ook uit 'n restaurantjie (besprekings nodig) en Philippolis se informasiekantoor.
Van der Post se as is in die gedenktuin begrawe. Eersdaags sal hier ook 'n waterlabirint geopen word.
"Die doel met die Van der Post Skrywershuis is om aan woordmense tot skilders die geleentheid te gee om in vrede te kom arbei." Om uitgawes te delg word die skrywershuis ook soms ingespan as gastehuis.
Bekendes wat reeds hier aangedoen het sluit in die dramaturg Pieter Fourie, modeontwerper Marianne Fassler, filosoof Johann Rossouw, en oud-redakteur van Insig, Piet Muller.
Laurens van der Post is in 1906 op Philippolis gebore. Hy het wyd gereis in veral Afrika. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy 'n krygsgevangene op Java. Die Kalahari en Boesmans het hom na aan die hart gelê. As Engelse ridder is hy geslaan en was 'n vriend van onder meer Jung en Margaret Thatcher. Sir Laurens was 'n mentor vir Prins Charles en ook die peetpa van sy eersgeborene, prins William. Van der Post is in Chelsea, Engeland, oorlede kort na sy 90ste verjaardag in 1996.

sou jy gaan

· Die sir Laurens van der Post Gedenksentrum oftewel in kort die Pos(t) is langs Voortrekkerstraat geleë aan die Trompsburgse kant van Philippolis. "Dis altyd maklik om vir besoekers te verduidelik waar dit is, want die sentrum is reg langs die groot, wit, historiese N.G. Kerk-by verre die imposantste gebou in die dorp," vertel Friis.
· Die Pos(t) is Dinsdae tot Saterdae oop, maar op ongereelde ure. Skakel (051-7730073) of skryf aan jensfriis@intekom.co.za om te verseker dat jy die museum sal kan besigtig. Gooi 'n oog by www.philippolis.org.za/post.htm vir meer inligting.

Brief aan Afrika se Oervlermuis

Uit die klein lyf
van die amper uitgeroeide Boesman
het die Groot Gees
jou kindtyd al bekruip

later
'n kolskoot gegee
met insig en woord
- die pyl en boog van skeppend leef -

dat jy oor kontinente
in Kalahari's onbegrip
mens, veld en dier
kon saamgooi en inbind

'n smeltkroes
wat sou stol
in ryk skakerings:
jy jouself
kleurloos wit
Afrika se skitter kaïngklip!

- Pieter Fourie, 21-09-2002, Laurens van der Post Skrywershuis

j f

 

reisnuus

roemenië om om te gee

   
jens friis
     

"'n Vreemde land word nooit jou moederland nie, maar my moederland het 'n vreemde land geword.''
Só het Marlene Dietrich eens oor Duitsland opgemerk, maar dit kon eweneens Calin geld wat vir ons ghiveci berei. Dié groentebredie was altoos sy gunsteling Roemeense gereg, maar sedert hy 13 jaar gelede moes vlug, het hy dit nou vir die eerste keer weer geëet tydens 'n kuier daar.
Met sy terugkoms is Calin 'n ghiveci-resep ryker, maar hy het ook veel meer saam teruggebring. Dit was skynbaar drie weke wat aan rowe wou krap.
Skielik was die verlede weer al te naby: 'n stink stuk geskiedenis wat Calin niks anders as stief behandel het nie.
In die laat jare tagtig het hy, soos ander, nooit-gehoorde menings al hoe openliker uitgespreek. Idees waarvoor mense huiwerig was. Dit het nie veel gekos om in dié ystervuisstaat in die pekel te beland nie.
Nietemin was die nodige saadjies gesaai, want teen 1987 het werkers in die Middeleeuse stad Brasov betoog. Ontevredenheid het in die winter van 1988/'89 verder gegroei en dis aangeblaas omdat die land 'n erge kostekort ondervind het.
Pres. Nicolae Ceausescu het wild en wakker van teëstaanders ontslae geraak. Terwyl die veiligheidspolisie aan Calin se deur gehamer het, het hy by 'n eersteverdiepingvenster uitgespring, die grens na Hongarye oorgesteek en hom 'n halfjaar lank in 'n vlugtelingkamp duskant Berlyn bevind. ``Die nag toe ek uit Roemenië is, het ek geglo dit sal net vir 'n paar weke wees. Verandering was ongetwyfeld op pad.''
Sy mond glimlag terwyl hy dit sê, maar nie sy oë nie. 'n Ommekeer het wel gekom, maar die nood, gebreke en lyding was daarna in vele opsigte selfs erger as onder die kommuniste.
Sy pa sowel as sy enigste broer is vermoor. Sy ma het geskryf dat sy woonstel afgebrand is. Terug wou hy nie gaan as dit is hoe ``sy'' mense maak nie.
Hier in anderland peins ek en hy nou 13 jaar later oor hoe lank dit neem om te vergeet. Calin is deesdae prokureur, want ``selfs goeie mense kan soms vreeslike dinge aanvang''. Die gesprek kies koers na die mens se hartstog om vermaak te put uit bloedvergieting, geweld en ramspoed in rolprente tot Grand Prix's voordat ek hom vra hoe Roemenië deesdae lyk.
Met 'n tikkie trots vertel hy van boomomsoomde boulevards, mere in parke en grootse monumente in Boekarest.
Van Ceausescu se Stalinistiese herbouing van die stad is identiese Sowjet-styl woonstelle en enorme, onvoltooide monumente steeds te sien. In die invloedryke Ortodokse Kerk het min verander.
Ook vertel hy van vryemarkhervormings waaronder die omstrede sluiting van niewinsgewende steenkoolmyne. Daar's 'n nuwe grondwet, verkiesings en vryer waardes. Roemenië hoop om teen 2007/'10 deel van die Europese Unie te word.
Hy proe aan die negru (rooiwyn) wat hy saam teruggebring het. ``Om om te gee vir Roemenië het beteken dat ek nie langer daar kón bly nie en mettertyd nie wóu bly nie! Hoe anders sou my lewe nie gewees het as ek destyds eenvoudig `ingesmelt' het nie? Soos dit maar gewoonlik gaan: wie nie gehoor word nie, word immers nie gepla nie,'' sê Calin. ``As dinge anders was, sou ek nou saam met my hele familie negru kon drink . . . in 'n kommunistiese Roemenië.''

j f

reisnuus

gee die mensdom om?

   
jens friis
     
Eendag, nie te lank gelede nie, is ek in Suid-Lesotho. Die berge is wondermooi. Dis hoogsomer.
Saam met ons is 'n vriend wat 'n dag tevore nog in Luanda was. Daar is veel moois in Angola, maar hy vertel ook van krotte en skerms. Rook wat oral uitslaan. Slymerige strande. En 'n brandmaer meisie wie se oë nie saamglimlag met haar lippe nie.
``So min soos die mensdom vir die wêreld omgee, sou jy nie glo die aarde is die middelpunt van die meeste van ons se kosmos nie,'' merk hy op.
Met die deurblaai van Earth from above 365 Days (Harry N. Abrams Publishers, 2001) besef jy dat die straf swaar sal wees as ek en jy eendag tot verantwoording geroep word oor hierdie planeet.
``Ons skynbare rykdom word gemeet in ekonomiese groei, maar dit neem nie die stand van natuurlike hulpbronne in ag nie,'' skryf Yann Arthus Bertrand.
In Bertrand se pragboek is daar vir elke dag van die jaar 'n lugfoto van oraloor. Anders as so dikwels, is Afrika, veral Suider-Afrika, goed verteenwoordig.
Hieronder tel foto's van ryslande in Madagaskar, asook die Namibiese Brandberge in Damaraland. 'n Treffende kiekie is dié by Duikereiland van duisende pelsrobbe wat net langs die Namibiese en Suid-Afrikaanse kus voorkom. En dan is daar een van die Okavangorivier wat soos 'n slang deur Botswana kronkel. Hierdie rivier bereik nooit die see nie, hoewel dit die derde langste (1 300 km) in Suider-Afrika is.
Tog kan ons kinders hierdie wonders maklik misloop. ``Lewe is moontlik weens lug, grond en water, maar dít is in gevaar,'' skryf Bertrand.
Statistieke van onder meer die Wêreldbank, Unesco, Unicef en die VN gee die volgende prentjie van ons planeet:
Die gebruik van fossielbrandstowwe het in die afgelope halfeeu vyf keer vermenigvuldig olieverbruik agt keer.
Die verskaffing van windenergie het tussen 1990 en 200 met tien vermenigvuldig. Tog het dit in 1999 net 1% van die energieprodukei verteenwoordig.
Van die wêreldbevolking woon 80% in ontwikkelende lande, 40% het nie elektrisiteit nie en 47% leef op minder as $2 per dag.
'n Fransman genereer 350 kg huishoudelike afval per jaar, sowat 1 kg per dag. In die VSA is dit dubbel soveel.
Ook verbruik 'n Fransman gemiddeld 150 tot 250 water per dag. Hiervan word net 2 gedrink. 'n Keniaan verbruik slegs 4 per dag, terwyl 'n New Yorker 680 nodig het.
'n Kwart van die volwassenes is ongeletterd. Een uit elke vyf mense het nie toegang tot moderne gesondheidsorg nie. 95% van diegene met vigs woon in ontwikkelende lande woon.
Bertrand stel voor mense plaas druk op instellings om meer omgewingsvriendelik te wees.

j f

reisnuus

kalifornië se sitruswortels
deur park vereer

   
jens friis
     

"... dis tyd om die oranje kamers van lemoene uit te suig,
die soet smaak in die mond uit te dop ..."

- Theunis Engelbrecht, Kladwerk

Riverside, Kalifornië. Nadat dit in die vroeë 20ste eeu geblyk het dat die area sowat 100 km oos van Los Angeles ideaal was vir die verbouing van sitrus het die menigtes hul daarheen gehaas in hul Model T's en per trein.
Ook die pasgetroude Frank en Hannah Nixon van Ohio het so gemaak, maar van hul drome het weinig gekom en hul het eerder 'n winkel begin. Hul seun, Richard, het hul 45 jaar bygestaan totdat hy verkies is as die 37ste president van die VSA.
Dis verhale soos dié wat vertel word by die California Citrus State Historic Park, 'n nuwe nasionale park in Kalifornië.
Daar is besluit om hierdie park by Riverside te proklameer omdat dit die kern was van die Orange Gold Rush. Hier is ou-ou lemoenboorde te sien. Daardie einste bome wat eens 'n draai in die streeksekonomie veroorsaak het.
Soos met die goudstormloop het lemoene mense en masse laat migreer. Om werkers te lok, het boere lemoenkratte versier met plakkers wat Suid-Kalifornië veel eksotieser uitgebeeld het as wat dit was: palmbome, 'n eilandblou see ... die hele lot.
Stap die park se besoekersentrum in en wat jy eerste sien is sulke eienaardig potte. Dié boordverwarmers is snags in die lemoenboorde geplaas om die koue winternagte af te weer wat selfs Suid-Kalifornië soms teister.
Historiese uitstallings leer dat die lemoen oorspronklik vanaf Mexiko ingevoer is na Kalifornië meer as 200 jaar t'rug. Dit is egter nie waar die lemoen oorspronklik vandaan kom nie. Volgens die meeste navorsers is dit oorspronklik van Asië. Hierna het dit 'n draai gemaak in Noord-Afrika en toe in Suid-Europa.
Skeepsvaarders het besef dat sitrus uitstekend is teen skeerbuik. Portugese, Spanjaarde, Arabiers en Nederlanders het op hul vaarte sitrusbome geplant op St. Helena en die Azores tot Madeira en dan ook Suid-Afrika. Dit was selfs wet dat elke Spaanse matroos onderweg na die Amerikas 100 sitruspitte moes saamneem.
Die Kaliforniese sitrusindustrie het eers in alle erns afgeskop in 1873 danksy 'n Presbiteriaanse sendeling wat gewoon het in Bahia, Brasilië. Sy was so beïndruk met 'n soet, saadlose lemoen dat sy twee boompies na die Amerikaanse Landboudepartement in Washington gestuur het. 'n Werknemer daar het dit mettertyd aangestuur na Riverside vir 'n vriendin. Beide bome leef steeds.
Chinese, Japanese en Spaanse immigrante het aanvanklik hoofsaaklik in die lemoenboorde gewerk. Die vader van die Kaliforniese sitruskultuur was egter 'n Kanadees, Matthew Gage, wat hom hier as sitrusboer gevestig het. Was dit nie vir hom nie, sou die sitrusbedryf in dié geweste nie so snel gegroei het nie, want Gage het 'n kanaal laat bou van 18 km. So is kosbare water gebring vanaf die Santa Ana River in San Bernardino na Riverside. Dié sementkanaal wat deur die park vloei word steeds gebruik.
En ja, jou vermoede is korrek dat nawellemoene hul naam kry deurdat die gaatjies daarop lyk soos die mens se naeltjie.
Daar word 76 sitrusvariëteite verbou in die California Citrus State Historic Park. Grond word uitverhuur en 60 % van die inkomste uit verkope van sitrus moet teruggeploeg word in die park.

het jy geweet?

  • Die streke rondom São Paulo en Florida is die grootste verskaffers van lemoene.
  • Naas Brasilië en die VSA word lemoene ook in die (sub-)tropiese streke van Mexiko, China, Suid-Afrika en Australië met welslae verbou.
  • 'n Lemoen ("orange") word só genoem in die volgende lande: arancia (Italië), laranja (Portugal), naranja (Spanje), naranj (Persië) en naranga (Indië).

j f

 

reisnuus

stapskoene vir kyk in san francisco

   
jens friis
     


San Francisco. ``It's easy, but tough,'' hoor ek 'n Amerikaner sê. Ons het pas teen Tafelberg uitgeklim. Grootdoenerig? Miskien. Of dalk is dit bloot dat denke jou woorde rig: Om die mas op te kom in die magtigste land ter wêreld, móét alles moontlik wees. Hoe dit ook al sy, 'n klim teen Tafelberg uit sal ek in 'n oortreffender trap beskryf as dié Amerikaner. Tog sou sy teenstellende opmerking vir my deug om die menige stel trappe in San Franciso te beskryf. Hiervan is daar byna 400 langs die 42 heuwels in 'n stad waar kabelkarre meer is as sentimentele anakronismes. Minder energiekes sal nie sin hê in dié staptogte nie en hartlyers moet dit liefs nie aanpak nie. ``Die res kan egter gerus stilhou en stapskoene aantrek,'' skryf Adah Bakalinsky in Stairway Walks in San Francisco. En waar is dit gewis. Bo wag daar gewoonlik 'n bankie, soos by Broadway tussen Taylor- en Jonesstraat. Die beste trappe is gewoonlik dié wat paaie of sypaadjies heeltemal vervang. Soos die boom-omsoomde Macondray Lane. Dis onwaarskynlik dat 'n aardbewing jou sal tref, maar dit is gerusstellend om te weet dis volgens oorlewering bo-op Nob Hill die veiligste.

j f

reisnuus

van wasgoed en dagga tot naaimasjiene

   
jens friis
     

Museums is wêreldwyd toonlokale vir die beskerming van voorwerpe van historiese, wetenskaplike en kulturele belang. Net so uiteenlopend as die meriete en gehalte van die onderskeidelike museums, is die temas daarvan.
Die Wasgoedmuseum in Spa, België, het 20 kamers vol strykysters, wasmasjiene en seep, terwyl die Flagstaff-huismuseum in Hongkong op teepotte fokus.
Soos te wagte het Amsterdam 'n handvol museums wat jy nie elders kry nie. Die naam sê alles by die Hash Marihuana Hemp Museum: dagga word hier vereer.
Die Sex-museum de Venustempel is die eerste een wat baie besoekers raakloop in die Nederlandse hoofstad omdat dit 'n klipgooi van die stasie is. Enigiets pornografies word hier verdra. In die History of Contraception Museum in Toronto word gekyk hoe vroue en mans gepoog het om swangerskap te voorkom.
Dit is egter die Amerikaners met hul sin vir die buitengewone wat verstom.
In die Toaster Museum in Charlottesville, Virginia, word die broodrooster vereer, terwyl versierde toiletsitplekke die tema is in die Toilet Seat Art Museum in Alamo Heights, Texas. Altesame 21 000 Barbie-poppe sal eersdaags verskuif word in Kalifornië nadat die Barbie Hall of Fame verkoop is. Die Frederick's of Hollywood Museum in Los Angeles vertoon bra's, buiklyfbande en onderrokke wat vir sterre ontwerp is.
Daar's van Jane Powell se kniebroek in Seven Brides for Seven Brothers tot ondergoedjies wat Tori Spelling in Beverly Hills 90210 gedra het.

j f

reisnuus

"wens jy was hier!"

   
jens friis
     

Onlangs stuur ek 'n e-pos na 'n vriend wat in Berlyn woon, maar hy antwoord binne minute terug vanaf Istanbul. E-pos is gewis 'n effektiewe kommunikasiemedium. Tog hou dit nie kers vas by 'n poskaart nie. Wat is dan lekkerder as om 'n stukkie karton te ontvang met 'n bekende panorama daarop uit 'n verre oord?
Die nadeel is egter dat 'n poskaart dikwels die ontvanger bereik as die afsender reeds dae tuis is. JENS FRIIS het in die afgelope halfjaar aangeteken hoe lank dit vir poskaarte neem om hom te bereik op Philippolis in die Suid-Vrystaat.
Hier is die resultate: Montreal (24 dae), Chicago (23 dae), Tokio (19 dae), Maputo (18 dae), Dresden (17 dae), Brisbane (16 dae), Parys (14 dae), Mauritius (13 dae), Rome (12 dae), Windhoek (9 dae), Skukuza (8 dae), Kaapstad (5 dae).

j f

reisnuus

amerigo vespucci
 vader van "amerika" en "nuwe wêreld"

   
jens friis
     

Heelparty mense is daarmee vertroud dat Amerika genoem is na ene Amerigo Vespucci, maar weinig weet weet waarom. 
Volgens www.wordorigins.org bestaan daar veral twee mites oor Vespucci.  Die een is dat hy nooit na die Nuwe Wêreld gevaar het nie en die tweede dat hy die eerste Europeër was wat voet op Amerikaanse grond gesit het.  Beide is egter onwaar.
Vespucci het twee vaarte onderneem na die Nuwe Wêreld as ‘n skeepsnavigator waarvan die eerste in 1499.  Gedurende 1503 en 1504 het hy twee briewe geskryf aan die invloedryke Lorenzo de Medici.  Daarin het hy die vermoede uitgespreek dat dit ‘n onbekende kontinent was en nie ‘n deel van Asië nie.  Later sou Columbus dit dan ook bevestig.
Vespucci se eerste brief aan De Medici heet Novus Mundus, oftewel Nuwe Wêreld – van daar dié term. 
Dié twee briewe was geweldig gewild en Vespucci was feitlik oornag bekend.  Dit is egter onseker of hierdie gewildheid te danke was aan sy innoverende navigasie-teorieë óf sy uitbeelding van die sekslewens van die Amerikaanse Indiane. 
In 1507 het die kartograaf, Martin Waldseemueller, ‘n kaart gepubliseer waarop die nuwe wêreld Amerika genoem is.  Dit is onbekend waarom Waldseemueller die voornaam van Vespucci gebruik het eerder as sy van.  ‘n Moontlikheid is dat Amerigo maklik vervorm kon word in Latyn.  Ook sou Amerika dan begin met dieselfde eerste en laaste letters as Asië en Afrika – ook die geval by Australië, Antarktika en Arktika.

j f

reisnuus

krugerwildtuin 
bied nou aandetes in die veld

   
jens friis
     

SATARA.   Die plan om die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke as besigheidseenhede te bestuur het ‘n paar jaar gelede vrese laat ontstaan dat die wildtuine oorgekommersialiseer gaan word.
Die oordeelkundige manier waarop die Nasionale Krugerwildtuin geleenthede aangegryp het om ‘n inkomste te maak uit die bedryf het vrese aansienlik besweer.
Só is nagritte in 1994 ingestel, begeleide voertuigtoere in 2001, terwyl die eerste wildernisstaptoere na 1978 terugdateer.  Nou is daar ‘n nuwe manier waarop meer wins gemaak word sonder om onnodig inbreuk te maak op die omgewing.  
Verskeie kampe in die wildtuin kombineer ‘n aandete (R75) in die middel van die veld met die uiters gewilde nagritte (R100).  Besprekings word gemaak by die kampe se ontvangskantore en/of restaurante. 
Laatmiddag, net voordat Afrika donker word om jou, word daar vanaf die kampe vertrek.  Na ‘n wildbesigtigingsrit en eersteklasmaal word daar sowat ses ure later teruggekeer.  
Die aandetes is uiters gewild onder buitelanders.  Op ons rit was daar onder meer Hongare, Engelse en Italianers.  
Daar moet minstens vier belangstellendes per aand wees voordat die etes aangebied word.
Wat betref Satara, is daar tans twee plekke in die veld waar tafels opgeslaan word vir etes.  Dit sal blykbaar eersdaags omhein word.  ‘n Noodsaaklikheid omdat die persentasie katte in hierdie omgewing besonder hoog is.  Enigeen wat al die S-100 roete vanaf Satara na Nwanetsi aangepak het sal weet dat die kanse goed is dat jy kat se kind gaan teekom.  
Voordele van die nagritte is dat die toerleiers ‘n beter idee het as die besoeker waar diere te wagte kan wees.  Paaie word ook geneem wat andersins nie toeganklik is nie.  
Dit is bemoedigend dat die Krugerwildtuin toenemend maniere vind om bewaringsbestuur finansieël te ondersteun. 

  • Gereelde besoekers aan die Wildtuin sou merk dat die snoepwinkeltjies by piekniekplekke soos Tshokwane en Afsaal nou omskep is tot selfhelp-winkels.  ‘n Winkel- en restaurantkompleks is in aan’t bou by Onder-Sabie nadat dit afgebrand het.  Dieselfde gebeur by Pretoriuskop.   Ontwikkelings by Onder-Sabie sluit ook in dat die kamp met ‘n nuwe ingangshek spog en dat karavane nie meer kan staan waar hul wil nie.  In die karavaanpark word nou spesifieke staanplekke aan kampeerders toegewys. 

‘n Uitgebreide veldtog word tans in die Wildtuin geloods om daarop te wys dat nie alle veldbrande “verwoestend” is nie, maar ‘n normale element in die natuur is.  Dit kan selfs voordelig wees deurdat dit sekere sade laat ontkiem. 
Dan word ook ‘n nuwe ingangshek beplan vir die Krugerwildtuin.  Die hek word beoog naby die Albasini ruïnes tussen die Paul Kruger- en Numbi-hekke naby Hazyview.  

j f

reisnuus

graun - 
die dorp wat deur water verswelg is

   
jens friis

     

     
Voor 1950 was daar aan die rand van die Reschenmeer 'n pragtige dorp, maar sedertdien swem daar visse in die strate rond.
Van die Noord-Italiaanse dorpie, AltGraun, is net die 14de-eeuse kerktoring nog sigbaar nadat dit oorstroom is met die bou van die Reschensee-studamprojek. Die 500 inwoners wat die prooi hiervan geword het, moes inpak en hul geluk elders loop soek.
Die Italiaanse regering sou aanvanklik die wal met 5 m verhoog, wat geen gevaar vir Graun sou inhou nie, maar met die aanvang van die projek is die planne verander. Die wal sou nou 22 m hoër gemaak word wat sowel Graun as Reschen se einde sou beteken.
Gelukkig vir die inwoners het die Tweede Wêreldoorlog bouwerk verlam, maar in 1947 is dit hervat.
Hulle protesteer soos vroeër heftig, maar in 1949 vloei water reeds die huise binne sonder dat daar sprake is van skadevergoeding. Inwoners in die laerliggende wonings probeer wanhopig red wat te redde is.
Om so min moontlik op te dok, beweer die firma wat die bouwerk doen dat die streek onvrugbaar en waardeloos is ``een vierkante meter is slegs 'n sny brood werd''.
Terwyl dié redekawelry voortgaan word begin om die huise met dinamiet op te blaas. Op Sondag 15 Julie 1950 word die laaste kerkdiens in Graun gehou. Nadat die pous ingeroep is en ook politici uit Suid-Tirol word die inwoners vergoed.
``Vir sommige was dit egter nie genoeg nie. So het ons buurvrou geweier om haar huis te verlaat en moes sy uiteindelik saam met haar honde en katte van die solder gered word toe die huis oorstroom,'' vertel 'n oubaas in die nuutgeboude Graun, rantjie-op va
 AltGraun.
``Soms kyk ek van hier af oor AlteGraun. Dan raak ek bedroef. Ek koester geluide, name, reuke en herinnerings, want my geboortedorp is nou net a landscape of the mind. Die water het dit verswelg.''

j f

reisnuus

oorwinnaars se optrede na tweede wêreldoorlog alles behalwe prysenswaardig

   
jens friis
     
 
"Reg en verkeerd en leuen en waarheid is in elk geval twee strome wat só deurmekaar geloop het in hierdie land dat geen emmer op aarde dit ooit weer uitmekaar geskep sal kry nie.” 
Dalene Matthee het só oor Suid-Afrika geskryf in die Brug van die esels, maar dit kon net sowel van toepassing gewees het op Europa tydens en na die Tweede Wêreldoorlog. Dit besef jy maar al te goed met die lees van Crimes and Mercies - The Fate of German Civilians under Allied Ocupation, 1944 – 1950 (Londen, Warner, 1988). 
Hierin kantel James Bacques die algemeen bekende feite oor dié oorlog dat dit die leser twee keer laat dink. Hy wys op byna ondenkbare wraakaksies deur die Geallieerdes teen die Duitsers ná die afloop van die Oorlog (met die groot “O”). 
Soos altyd het ‘n saak twéé kante. Hoe jy daarna kyk hang net grootliks af van waar jy staan. 
Die wreedhede van die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog is alom bekend, maar selde word ‘n woord gerep oor die wandade van die Geallieerdes wat lank na vredesluiting nog voortgeduur het.
Daar is sterk aanduidings dat die Geallieerdes na die oorlog die Morgenthau-plan in werking probeer stel het, skryf dié Kanadese skrywer. Ingevolge die Morgenthau-plan moes onder meer nywerhede in Duitsland afgetakel word. 
Hierna word ook verwys in Regverdige oorlog: ‘n verkennende historiese studie oor die bruikbaarheid van die begrip van Leopold & Ingrid Scholtz (Universiteit van Stellenbosch). 
Selfs in 1949 met die totstandbringing van die Wes-Duitse regering is daar daar blykbaar selfs nog 268 fabrieke in hul geheel of gedeeltelik na Geallieerde lande verskuif. Twee jaar vroeër was die nywerheidsproduksie in die Britse en Amerikaanse besettingsones minder as ‘n derde van die produksie van 1938. 
Dalk van die ergste was dat die Geallieerde wraak ‘n doelbewuste hongersnood geskep het. Volgens Bacque het 9,3 miljoen Duitsers tussen Oktober 1946 en September 1950 gesterf. Hiervan was die dood van 5,7 milj. tot dusver onbekend. 
Hy skryf: “Alhoewel die meeste van dié mense dood is weens ‘n tekort aan voedsel, het hul nie gesterf weens hongersnood nie soos beskryf deur sommige historici. Hul is dood sewentien maande tot vyf jaar nadat die Duitsers oorgegee het. Hulle het gesterf terwyl die wêreldvoedselproduksie reeds ‘n vlak van 97 % weer bereik het.”
“Hul het gesterf terwyl voedselproduksie gestyg het.”
Bacques meen hul dood is veral daaraan te wyte dat hul vir ‘n uitgerekte tydperk nie hulp ontvang het nie en nie hul eie brood mog verdien het nie. 
‘n Vriend van my oupa het eens gesê: “Daar is twee dinge wat noodsaaklik is vir die bestaan van ‘n bejaarde: Genoeg om van te leef en genoeg om vir te leef.” En dit is beslis nie net waar vir bejaardes nie. Nietemin het die Geallieerdes so waar as twee en twee vier is vir talle Duitsers hierdie basiese lewensvoorwaardes ontsê, meen Bacques. 
‘n Groot hoeveelheid van die Duitsers wat gesterf het was vroue, kinders en ouer mans. 
Talle historici het reeds in die verlede daarop gewys dat die toestande tydens die oorlog in veral die Franse konsentrasiekampe vergelyk kon word met dié in Nazi-kampe. By die Nazi-kamp Bergen-Belsen was die daaglikse rantsoen byvoorbeeld op ‘n stadium dubbeld soveel as in sommige Franse kampe. Daar het 1,4 – 1,7 milj. Duitse soldate omgekom waarvan ‘n miljoen in die Westerse Geallieerdes se krygsgevangenekampe. 
Vir verdere leesstof oor die onderwerp, skraap nader die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns se Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Jaargang 42, Nommer 1). 

j f

reisnuus

druk plaas toekoms in weegskaal

 

   
jens friis
     

Eendag nie te lank gelede is ek in suid-Lesotho. Die dag se imposante berge was wondermooi. Dis hoogsomer. Ons kampvuur gooi vlamvlekke in die skemer. 
Saam met ons is 'n vriend wat 'n dag tevore nog in Luanda was. Daar is veel moois in Angola, maar hy vertel ook van krotte en skerms. Rook wat orals uitslaan. Slymerige strande. En 'n brandmaer dogtertjie wie se oë nie saamglimlag met haar lippe nie. 
``So min soos die mensdom vir die wêreld omgee sou jy nie glo die aarde is die middelpunt van die meeste van ons se kosmos nie,'' merk hy op. ``Die ergste is dat Luanda geensins die uitsondering is nie. So ook nie Romenië waar ek onlangs was. Indien omgewingsbewaring die oordeelsmaatstaf was het die beskawing nog feitlik nêrens vatplek gekry nie.''
Met die deurblaai van Earth from above 365 Days (Harry N. Abrams Publishers, 2001) besef jy dat die straf swaar sal wees as ek en jy eendag tot verantwoording geroep word oor hierdie planeet. 
``Ons skynbare rykdom word gemeet in ekonomiese groei, maar dit neem nie die stand van natuurlike hulpbronne in ag nie,'' skryf Yann Arthus Bertrand.
In Bertrand se pragboek is daar vir elke dag van die jaar 'n lugfoto van oraloor. Anders as so dikwels, is Afrika en veral Suidelike-Afrika goed verteenwoordig. 
Hieronder tel foto's van ryslande in Madagaskar, asook die Namibiese Brandberge in Damaraland. 'n Treffende kiekie is dié by Duikereiland van duisende pelsrobbe wat slegs voorkom langs die Namibiese en Suid-Afrikaanse kus. En dan is daar een van die Okavangorivier wat soos 'n slang heen kronkel deur Botswana. Hierdie rivier bereik nooit die see nie, alhoewel dit die derde langste (1 300 km) in Suider-Afrika is. 
Tog kan ons kinders hierdie wonders maklik misloop. ``Lewe is moontlik weens lug, grond en water, maar dít is in gevaar en daarom word ons bedreig,'' skryf Bertrand. 
Statistieke van onder meer die Wêreldbank, Unesco, Unicef en die VN gee die volgende prentjie van ons planeet:
Die gebruik van fossielbrandstowwe het vyf keer vermenigvuldig in die afgelope halfeeu- olieverbruik agt keer. 
Die verskaffing van windenergie het met tien vermenigvuldig tussen 1990 en 2000. Tog het dit in 1999 slegs 1% verteenwoordig van energieproduksie. 
Van die wêreldbevolking woon 80% in 'n ontwikkelende land, 40% het nie elektrisiteit nie en 47% leef op minder as 2 Amerikaanse dollar per dag. 
'n Fransman genereer 350 kg huishoudelike afval per jaar sowat 1 kg per dag. In die VSA is dit dubbeld soveel. 
Ook verbruik 'n Fransman gemiddeld 150 tot 250 water per dag. Hiervan word net 2 gedrink. Gevolglik word slegs sowat 0,5 % water afgesluk wat behandel word vir drinkdoeleindes. 'n Keniaan verbruik slegs 4 per dag, terwyl 'n New Yorker 680 nodig het. 
'n Kwart van volwassenes is ongeletterd. 
Een uit elke vyf mense het nie toegang tot moderne gesondheidsorg nie. Daar word gereken dat 95% van diegene met vigs in ontwikkelende lande woon. 
Waarom is daar soveel verandering? 
``Gebeure in ontwikkelende lande word swakker deur die media gedek as elders,'' skryf Bertrand. ``Ook stam ons siening van die omgewing steeds daaruit dat die wêreld se hulpbronne eindeloos is.'' Dit is nie die geval nie. 
Bertrand stel voor mense plaas druk op instansies om meer omgewingsvriendelik te wees, versprei bewustheid hieroor en verminder onnodige verbruik. 


j f

i | ii

voorblad
| bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's