voorblad
| bestemmings | raad
& neigings | reisnuus | nie-reis
| foto's
|
| i
| ii
|
|
|
reisnuus
as
testosteroon hoog loop in florence
|
|
jens
friis
|
|
Florence.
Drie keer jaarliks loop die testosteroon hoog in Florence se Piazza Santa
Croce. Dis dan wanneer 54 jong manne van twee spanne mekaar hier aanvat
in gevegsvoetbal wat dateer van die 15de eeu.
Die Calcio Storico, oftewel gevegsvoetbalspel, in ryklik versierde kostuums
spruit uit 'n antieke Romeinse balspel wat 'n Florentynse spesialiteit
geword het in die goue eeu van die Toskaanse hoofstad.
Edelmanne het dit eens gebruik om hul vaardigheid en krag te toon. Deesdae
word die gespeel tussen die manne van die vier Florentynse kwartiere San
Giovanni, Santa Maria Novella, Santo Spirito en Santa Croce.
Geklee in Middeleeuse-klere poog die spelers om die bal te bêre
op enige manier moontlik in die doelhok, wat die hele agterlyn beslaan.
Presisie is van kradinale belang, want punte word verloor as 'n doel gemis
word of die bal onderskep word.
Die wenspan word beloon met T-bene anders as die tradisionele prys van
'n wit kalf of bistecca fiorentina wat vroeër geslag is vir die okkasie.
Die drie wedstrye vind jaarliks in Junie/Julie plaas.
Die Santa Croce-kerk waarna die piazza genoem is, dateer van 1294. In
hierdie historiese kerk het Michelangelo onder meer gebid en is Galileo
ter ruste gelê.
j
f
|
|
|
reisnuus
laaste
vd post-boeke kry rusplek
|
|
jens
friis
|
|
|
Die
laaste van sir Laurens van der Post se boeke is onlangs hier uitgepak.
Dit volg nadat ekstra boekrakke aangebring moes word by die Laurens
van der Post-gedenksentrum. Plek was daar nie genoeg nie.
Die boeke is enkele maande gelede vanaf sy studeerkamer in Londen
na Philippolis verskeep.
Tesame hiermee het ook die studeertafel waarby hy vele van sy
boeke geskryf het gekom.
Ander besittings sluit in boekrakke, 'n lessenaarstoel, foto's
waaronder een waar hy rugby speel vir Grey Kollege in Bloemfontein,
en kleiner goedjies wat in sy studeerkamer was.
"Die houtmeubels moes reeds dikwels olie kry," vertel
me. Naómi Friis, mede-bestuurder van die Pos(t)-sentrum.
"Die rede is waarskynlik dat die souterige seelug op die
skip baie droog was en ook dat die Suid-Vrystaatse weer heelwat
verskil van dié in Londen."
Die grootste gros van die kosbare boeke is in Engels. Tog is daar
ook heelparty uiteenlopende werke in Afrikaans soos Elsa Joubert
se Die Swerfjare van Poppie Nongena, Die Verhaal van Meneer de
Vos (Beatrix Potter), Maretha Maartens (Plek van Dolfyne) en In
Memoriam Ingrid Jonker wat onderteken is deur die skrywer Jack
Cope.
Selfs in die feitlik misdaadvrye Philippolis word dit nodig geag
om die boekery te beskerm deur 'n alarmstelsel.
Die boeke behoort aan die Van der Post Trust waar die beherende
aandeel behoort aan sir Laurens se dogter, mev. Lucia Crichton-Miller,
en haar man, Neil. Lucia is nes haar pa betrokke in die skryf-/uitgewerswêreld.
Die ander twee trustees is me. Alida Stewart, 'n Port Elizabethse
argitek en ontwerper van die Gedenksentrum, asook ds. Bertie Haasbroek
van Bloemfontein.
In die afgelope maand het besoekers van onder meer Noorweë,
die VSA, Holland, Engeland, Italië, Australië en Duitsland
by die sentrum aangedoen.
"Dit is 'n klein nismark, maar Van der Post-volgelinge kom
van oraloor-selfs na die afbrekende biografie van Jones oor sir
Laurens wat sowat twee jaar gelede verskyn het," sê
Friis.
"Laurens het waarskynlik 'n paar voetfoute begaan, maar vir
die meeste van sy lesers maak dit nie saak nie. Hul lees sy boeke
vir die ervaring wat hul daaruit kry. Dat die feite nie altyd
klop nie, is nie vir hul die alfa en omega nie."
Heelwat van sy 25 boeke is vertaal in Frans en Duits tot Japannees
en Spaans. "Was dit nie vir 'n foto van hom in die Japannese
vertaling nie, sou g'n Westerling geweet het dat hy die skrywer
was nie!"
Wat die boekery so kosbaar maak is dat dit waarskynlik die uitgebreidste
versameling Van der Post-boeke ter wêreld is. Tweedens was
dit die skrywer se privaat versameling. Nes die meeste van sy
boeke eerste uitgawes is, is dit ook die geval met talle van die
boeke wat hy aangekoop of aan hom geskenk is deur vriende of kennisse
soos Nadine Gordimer, Alan Paton en Uys Krige.
Navorsers mag ter plaatse van die boeke gebruik maak, maar geen
word uitgeleen nie.
Buiten die museum bestaan die Van der Post Gedenksentrum ook uit
'n restaurantjie (besprekings nodig) en Philippolis se informasiekantoor.
Van der Post se as is in die gedenktuin begrawe. Eersdaags sal
hier ook 'n waterlabirint geopen word.
"Die doel met die Van der Post Skrywershuis is om aan woordmense
tot skilders die geleentheid te gee om in vrede te kom arbei."
Om uitgawes te delg word die skrywershuis ook soms ingespan as
gastehuis.
Bekendes wat reeds hier aangedoen het sluit in die dramaturg Pieter
Fourie, modeontwerper Marianne Fassler, filosoof Johann Rossouw,
en oud-redakteur van Insig, Piet Muller.
Laurens van der Post is in 1906 op Philippolis gebore. Hy het
wyd gereis in veral Afrika. Tydens die Tweede Wêreldoorlog
was hy 'n krygsgevangene op Java. Die Kalahari en Boesmans het
hom na aan die hart gelê. As Engelse ridder is hy geslaan
en was 'n vriend van onder meer Jung en Margaret Thatcher. Sir
Laurens was 'n mentor vir Prins Charles en ook die peetpa van
sy eersgeborene, prins William. Van der Post is in Chelsea, Engeland,
oorlede kort na sy 90ste verjaardag in 1996.
sou
jy gaan
·
Die sir Laurens van der Post Gedenksentrum oftewel in kort die
Pos(t) is langs Voortrekkerstraat geleë aan die Trompsburgse
kant van Philippolis. "Dis altyd maklik om vir besoekers
te verduidelik waar dit is, want die sentrum is reg langs die
groot, wit, historiese N.G. Kerk-by verre die imposantste gebou
in die dorp," vertel Friis.
· Die Pos(t) is Dinsdae tot Saterdae oop, maar op ongereelde
ure. Skakel (051-7730073) of skryf aan jensfriis@intekom.co.za
om te verseker dat jy die museum sal kan besigtig. Gooi 'n
oog by www.philippolis.org.za/post.htm
vir meer inligting.
Brief
aan Afrika se Oervlermuis
Uit
die klein lyf
van die amper uitgeroeide Boesman
het die Groot Gees
jou kindtyd al bekruip
later
'n kolskoot gegee
met insig en woord
- die pyl en boog van skeppend leef -
dat
jy oor kontinente
in Kalahari's onbegrip
mens, veld en dier
kon saamgooi en inbind
'n
smeltkroes
wat sou stol
in ryk skakerings:
jy jouself
kleurloos wit
Afrika se skitter kaïngklip!
-
Pieter Fourie, 21-09-2002, Laurens van der Post Skrywershuis
j
f
|
|
|
|
reisnuus
roemenië
om om te gee
|
|
jens
friis
|
|
"'n
Vreemde land word nooit jou moederland nie, maar my moederland het 'n
vreemde land geword.''
Só het Marlene Dietrich eens oor Duitsland opgemerk, maar dit kon
eweneens Calin geld wat vir ons ghiveci berei. Dié groentebredie
was altoos sy gunsteling Roemeense gereg, maar sedert hy 13 jaar gelede
moes vlug, het hy dit nou vir die eerste keer weer geëet tydens 'n
kuier daar.
Met sy terugkoms is Calin 'n ghiveci-resep ryker, maar hy het ook veel
meer saam teruggebring. Dit was skynbaar drie weke wat aan rowe wou krap.
Skielik was die verlede weer al te naby: 'n stink stuk geskiedenis wat
Calin niks anders as stief behandel het nie.
In die laat jare tagtig het hy, soos ander, nooit-gehoorde menings al
hoe openliker uitgespreek. Idees waarvoor mense huiwerig was. Dit het
nie veel gekos om in dié ystervuisstaat in die pekel te beland
nie.
Nietemin was die nodige saadjies gesaai, want teen 1987 het werkers in
die Middeleeuse stad Brasov betoog. Ontevredenheid het in die winter van
1988/'89 verder gegroei en dis aangeblaas omdat die land 'n erge kostekort
ondervind het.
Pres. Nicolae Ceausescu het wild en wakker van teëstaanders ontslae
geraak. Terwyl die veiligheidspolisie aan Calin se deur gehamer het, het
hy by 'n eersteverdiepingvenster uitgespring, die grens na Hongarye oorgesteek
en hom 'n halfjaar lank in 'n vlugtelingkamp duskant Berlyn bevind. ``Die
nag toe ek uit Roemenië is, het ek geglo dit sal net vir 'n paar
weke wees. Verandering was ongetwyfeld op pad.''
Sy mond glimlag terwyl hy dit sê, maar nie sy oë nie. 'n Ommekeer
het wel gekom, maar die nood, gebreke en lyding was daarna in vele opsigte
selfs erger as onder die kommuniste.
Sy pa sowel as sy enigste broer is vermoor. Sy ma het geskryf dat sy woonstel
afgebrand is. Terug wou hy nie gaan as dit is hoe ``sy'' mense maak nie.
Hier in anderland peins ek en hy nou 13 jaar later oor hoe lank dit neem
om te vergeet. Calin is deesdae prokureur, want ``selfs goeie mense kan
soms vreeslike dinge aanvang''. Die gesprek kies koers na die mens se
hartstog om vermaak te put uit bloedvergieting, geweld en ramspoed in
rolprente tot Grand Prix's voordat ek hom vra hoe Roemenië deesdae
lyk.
Met 'n tikkie trots vertel hy van boomomsoomde boulevards, mere in parke
en grootse monumente in Boekarest.
Van Ceausescu se Stalinistiese herbouing van die stad is identiese Sowjet-styl
woonstelle en enorme, onvoltooide monumente steeds te sien. In die invloedryke
Ortodokse Kerk het min verander.
Ook vertel hy van vryemarkhervormings waaronder die omstrede sluiting
van niewinsgewende steenkoolmyne. Daar's 'n nuwe grondwet, verkiesings
en vryer waardes. Roemenië hoop om teen 2007/'10 deel van die Europese
Unie te word.
Hy proe aan die negru (rooiwyn) wat hy saam teruggebring het. ``Om om
te gee vir Roemenië het beteken dat ek nie langer daar kón
bly nie en mettertyd nie wóu bly nie! Hoe anders sou my lewe nie
gewees het as ek destyds eenvoudig `ingesmelt' het nie? Soos dit maar
gewoonlik gaan: wie nie gehoor word nie, word immers nie gepla nie,''
sê Calin. ``As dinge anders was, sou ek nou saam met my hele familie
negru kon drink . . . in 'n kommunistiese Roemenië.''
j
f
|
|
|
reisnuus
gee
die mensdom om?
|
|
jens
friis
|
|
Eendag,
nie te lank gelede nie, is ek in Suid-Lesotho. Die berge is wondermooi.
Dis hoogsomer.
Saam met ons is 'n vriend wat 'n dag tevore nog in Luanda was. Daar is
veel moois in Angola, maar hy vertel ook van krotte en skerms. Rook wat
oral uitslaan. Slymerige strande. En 'n brandmaer meisie wie se oë
nie saamglimlag met haar lippe nie.
``So min soos die mensdom vir die wêreld omgee, sou jy nie glo die
aarde is die middelpunt van die meeste van ons se kosmos nie,'' merk hy
op.
Met die deurblaai van Earth from above 365 Days (Harry N. Abrams Publishers,
2001) besef jy dat die straf swaar sal wees as ek en jy eendag tot verantwoording
geroep word oor hierdie planeet.
``Ons skynbare rykdom word gemeet in ekonomiese groei, maar dit neem nie
die stand van natuurlike hulpbronne in ag nie,'' skryf Yann Arthus Bertrand.
In Bertrand se pragboek is daar vir elke dag van die jaar 'n lugfoto van
oraloor. Anders as so dikwels, is Afrika, veral Suider-Afrika, goed verteenwoordig.
Hieronder tel foto's van ryslande in Madagaskar, asook die Namibiese Brandberge
in Damaraland. 'n Treffende kiekie is dié by Duikereiland van duisende
pelsrobbe wat net langs die Namibiese en Suid-Afrikaanse kus voorkom.
En dan is daar een van die Okavangorivier wat soos 'n slang deur Botswana
kronkel. Hierdie rivier bereik nooit die see nie, hoewel dit die derde
langste (1 300 km) in Suider-Afrika is.
Tog kan ons kinders hierdie wonders maklik misloop. ``Lewe is moontlik
weens lug, grond en water, maar dít is in gevaar,'' skryf Bertrand.
Statistieke van onder meer die Wêreldbank, Unesco, Unicef en die
VN gee die volgende prentjie van ons planeet:
Die gebruik van fossielbrandstowwe het in die afgelope halfeeu vyf keer
vermenigvuldig olieverbruik agt keer.
Die verskaffing van windenergie het tussen 1990 en 200 met tien vermenigvuldig.
Tog het dit in 1999 net 1% van die energieprodukei verteenwoordig.
Van die wêreldbevolking woon 80% in ontwikkelende lande, 40% het
nie elektrisiteit nie en 47% leef op minder as $2 per dag.
'n Fransman genereer 350 kg huishoudelike afval per jaar, sowat 1 kg per
dag. In die VSA is dit dubbel soveel.
Ook verbruik 'n Fransman gemiddeld 150 tot 250 water per dag. Hiervan
word net 2 gedrink. 'n Keniaan verbruik slegs 4 per dag, terwyl 'n New
Yorker 680 nodig het.
'n Kwart van die volwassenes is ongeletterd. Een uit elke vyf mense het
nie toegang tot moderne gesondheidsorg nie. 95% van diegene met vigs woon
in ontwikkelende lande woon.
Bertrand stel voor mense plaas druk op instellings om meer omgewingsvriendelik
te wees.
j
f
|
|
|
reisnuus
kalifornië
se sitruswortels
deur park vereer
|
|
jens
friis
|
"...
dis tyd om die oranje kamers van lemoene uit te suig,
die soet smaak in die mond uit te dop ..."
- Theunis Engelbrecht, Kladwerk
Riverside,
Kalifornië. Nadat dit in die vroeë 20ste eeu geblyk
het dat die area sowat 100 km oos van Los Angeles ideaal was vir
die verbouing van sitrus het die menigtes hul daarheen gehaas
in hul Model T's en per trein.
Ook die pasgetroude Frank en Hannah Nixon van Ohio het so gemaak,
maar van hul drome het weinig gekom en hul het eerder 'n winkel
begin. Hul seun, Richard, het hul 45 jaar bygestaan totdat hy
verkies is as die 37ste president van die VSA.
Dis verhale soos dié wat vertel word by die California
Citrus State Historic Park, 'n nuwe nasionale park in Kalifornië.
Daar is besluit om hierdie park by Riverside te proklameer omdat
dit die kern was van die Orange Gold Rush. Hier is ou-ou lemoenboorde
te sien. Daardie einste bome wat eens 'n draai in die streeksekonomie
veroorsaak het.
Soos met die goudstormloop het lemoene mense en masse laat migreer.
Om werkers te lok, het boere lemoenkratte versier met plakkers
wat Suid-Kalifornië veel eksotieser uitgebeeld het as wat
dit was: palmbome, 'n eilandblou see ... die hele lot.
Stap die park se besoekersentrum in en wat jy eerste sien is sulke
eienaardig potte. Dié boordverwarmers is snags in die lemoenboorde
geplaas om die koue winternagte af te weer wat selfs Suid-Kalifornië
soms teister.
Historiese uitstallings leer dat die lemoen oorspronklik vanaf
Mexiko ingevoer is na Kalifornië meer as 200 jaar t'rug.
Dit is egter nie waar die lemoen oorspronklik vandaan kom nie.
Volgens die meeste navorsers is dit oorspronklik van Asië.
Hierna het dit 'n draai gemaak in Noord-Afrika en toe in Suid-Europa.
Skeepsvaarders het besef dat sitrus uitstekend is teen skeerbuik.
Portugese, Spanjaarde, Arabiers en Nederlanders het op hul vaarte
sitrusbome geplant op St. Helena en die Azores tot Madeira en
dan ook Suid-Afrika. Dit was selfs wet dat elke Spaanse matroos
onderweg na die Amerikas 100 sitruspitte moes saamneem.
Die Kaliforniese sitrusindustrie het eers in alle erns afgeskop
in 1873 danksy 'n Presbiteriaanse sendeling wat gewoon het in
Bahia, Brasilië. Sy was so beïndruk met 'n soet, saadlose
lemoen dat sy twee boompies na die Amerikaanse Landboudepartement
in Washington gestuur het. 'n Werknemer daar het dit mettertyd
aangestuur na Riverside vir 'n vriendin. Beide bome leef steeds.
Chinese, Japanese en Spaanse immigrante het aanvanklik hoofsaaklik
in die lemoenboorde gewerk. Die vader van die Kaliforniese sitruskultuur
was egter 'n Kanadees, Matthew Gage, wat hom hier as sitrusboer
gevestig het. Was dit nie vir hom nie, sou die sitrusbedryf in
dié geweste nie so snel gegroei het nie, want Gage het
'n kanaal laat bou van 18 km. So is kosbare water gebring vanaf
die Santa Ana River in San Bernardino na Riverside. Dié
sementkanaal wat deur die park vloei word steeds gebruik.
En ja, jou vermoede is korrek dat nawellemoene hul naam kry deurdat
die gaatjies daarop lyk soos die mens se naeltjie.
Daar word 76 sitrusvariëteite verbou in die California Citrus
State Historic Park. Grond word uitverhuur en 60 % van die inkomste
uit verkope van sitrus moet teruggeploeg word in die park.
het
jy geweet?
- Die
streke rondom São Paulo en Florida is die grootste verskaffers
van lemoene.
- Naas
Brasilië en die VSA word lemoene ook in die (sub-)tropiese
streke van Mexiko, China, Suid-Afrika en Australië met
welslae verbou.
- 'n
Lemoen ("orange") word só genoem in die volgende
lande: arancia (Italië), laranja (Portugal), naranja (Spanje),
naranj (Persië) en naranga (Indië).
j
f
|
|
|
|
|
|
|
reisnuus
stapskoene
vir kyk in san francisco
|
|
jens
friis
|
|
San Francisco. ``It's
easy, but tough,'' hoor ek 'n Amerikaner sê. Ons het pas teen Tafelberg
uitgeklim. Grootdoenerig? Miskien. Of dalk is dit bloot dat denke jou
woorde rig: Om die mas op te kom in die magtigste land ter wêreld,
móét alles moontlik wees. Hoe dit ook al sy, 'n klim teen
Tafelberg uit sal ek in 'n oortreffender trap beskryf as dié Amerikaner.
Tog sou sy teenstellende opmerking vir my deug om die menige stel trappe
in San Franciso te beskryf. Hiervan is daar byna 400 langs die 42 heuwels
in 'n stad waar kabelkarre meer is as sentimentele anakronismes. Minder
energiekes sal nie sin hê in dié staptogte nie en hartlyers
moet dit liefs nie aanpak nie. ``Die res kan egter gerus stilhou en stapskoene
aantrek,'' skryf Adah Bakalinsky in Stairway Walks in San Francisco. En
waar is dit gewis. Bo wag daar gewoonlik 'n bankie, soos by Broadway tussen
Taylor- en Jonesstraat. Die beste trappe is gewoonlik dié wat paaie
of sypaadjies heeltemal vervang. Soos die boom-omsoomde Macondray Lane.
Dis onwaarskynlik dat 'n aardbewing jou sal tref, maar dit is gerusstellend
om te weet dis volgens oorlewering bo-op Nob Hill die veiligste.
j
f
|
|
reisnuus
van
wasgoed en dagga tot naaimasjiene
|
|
jens
friis
|
|
Museums
is wêreldwyd toonlokale vir die beskerming van voorwerpe van historiese,
wetenskaplike en kulturele belang. Net so uiteenlopend as die meriete
en gehalte van die onderskeidelike museums, is die temas daarvan.
Die Wasgoedmuseum in Spa, België, het 20 kamers vol strykysters,
wasmasjiene en seep, terwyl die Flagstaff-huismuseum in Hongkong op teepotte
fokus.
Soos te wagte het Amsterdam 'n handvol museums wat jy nie elders kry nie.
Die naam sê alles by die Hash Marihuana Hemp Museum: dagga word
hier vereer.
Die Sex-museum de Venustempel is die eerste een wat baie besoekers raakloop
in die Nederlandse hoofstad omdat dit 'n klipgooi van die stasie is. Enigiets
pornografies word hier verdra. In die History of Contraception Museum
in Toronto word gekyk hoe vroue en mans gepoog het om swangerskap te voorkom.
Dit is egter die Amerikaners met hul sin vir die buitengewone wat verstom.
In die Toaster Museum in Charlottesville, Virginia, word die broodrooster
vereer, terwyl versierde toiletsitplekke die tema is in die Toilet Seat
Art Museum in Alamo Heights, Texas. Altesame 21 000 Barbie-poppe sal eersdaags
verskuif word in Kalifornië nadat die Barbie Hall of Fame verkoop
is. Die Frederick's of Hollywood Museum in Los Angeles vertoon bra's,
buiklyfbande en onderrokke wat vir sterre ontwerp is.
Daar's van Jane Powell se kniebroek in Seven Brides for Seven Brothers
tot ondergoedjies wat Tori Spelling in Beverly Hills 90210 gedra het.
j
f
|
|
|
reisnuus
"wens
jy was hier!"
|
|
jens
friis
|
Onlangs
stuur ek 'n e-pos na 'n vriend wat in Berlyn woon, maar hy antwoord
binne minute terug vanaf Istanbul. E-pos is gewis 'n effektiewe kommunikasiemedium.
Tog hou dit nie kers vas by 'n poskaart nie. Wat is dan lekkerder as
om 'n stukkie karton te ontvang met 'n bekende panorama daarop uit 'n
verre oord?
Die nadeel is egter dat 'n poskaart dikwels die ontvanger bereik as
die afsender reeds dae tuis is. JENS FRIIS het in die afgelope halfjaar
aangeteken hoe lank dit vir poskaarte neem om hom te bereik op Philippolis
in die Suid-Vrystaat.
Hier is die resultate: Montreal (24 dae), Chicago (23 dae), Tokio (19
dae), Maputo (18 dae), Dresden (17 dae), Brisbane (16 dae), Parys (14
dae), Mauritius (13 dae), Rome (12 dae), Windhoek (9 dae), Skukuza (8
dae), Kaapstad (5 dae).
j
f
|
|
|
reisnuus
amerigo
vespucci
vader van "amerika" en "nuwe wêreld"
|
|
jens
friis
|
|
Heelparty
mense is daarmee vertroud dat Amerika genoem is na ene Amerigo Vespucci,
maar weinig weet weet waarom.
Volgens www.wordorigins.org
bestaan daar veral twee mites oor Vespucci.
Die een is dat hy nooit na die Nuwe Wêreld gevaar het nie en die
tweede dat hy die eerste Europeër was wat voet op Amerikaanse grond gesit
het. Beide is egter onwaar.
Vespucci het twee vaarte onderneem na die Nuwe Wêreld as ‘n skeepsnavigator
waarvan die eerste in 1499. Gedurende
1503 en 1504 het hy twee briewe geskryf aan die invloedryke Lorenzo de
Medici. Daarin het hy die
vermoede uitgespreek dat dit ‘n onbekende kontinent was en nie ‘n deel
van Asië nie. Later sou Columbus
dit dan ook bevestig.
Vespucci se eerste brief aan De Medici heet Novus Mundus, oftewel Nuwe
Wêreld – van daar dié term.
Dié twee briewe was geweldig gewild en Vespucci was feitlik oornag bekend.
Dit is egter onseker of hierdie gewildheid te danke was aan sy
innoverende navigasie-teorieë óf sy uitbeelding van die sekslewens van
die Amerikaanse Indiane.
In 1507 het die kartograaf, Martin Waldseemueller, ‘n kaart gepubliseer
waarop die nuwe wêreld Amerika genoem is.
Dit is onbekend waarom Waldseemueller die voornaam van Vespucci
gebruik het eerder as sy van. ‘n
Moontlikheid is dat Amerigo maklik vervorm kon word in Latyn.
Ook sou Amerika dan begin met dieselfde eerste en laaste letters
as Asië en Afrika – ook die geval by Australië, Antarktika en Arktika.
j
f
|
|
|
reisnuus
krugerwildtuin
bied nou aandetes in die veld
|
|
jens
friis
|
|
SATARA.
Die plan om die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke as besigheidseenhede
te bestuur het ‘n paar jaar gelede vrese laat ontstaan dat die wildtuine
oorgekommersialiseer gaan word.
Die oordeelkundige manier waarop die Nasionale Krugerwildtuin geleenthede
aangegryp het om ‘n inkomste te maak uit die bedryf het vrese aansienlik
besweer.
Só is nagritte in 1994 ingestel, begeleide voertuigtoere in 2001, terwyl
die eerste wildernisstaptoere na 1978 terugdateer. Nou
is daar ‘n nuwe manier waarop meer wins gemaak word sonder om onnodig
inbreuk te maak op die omgewing.
Verskeie kampe in die wildtuin kombineer ‘n aandete (R75) in die
middel van die veld met die uiters gewilde nagritte (R100).
Besprekings word gemaak by die kampe se ontvangskantore en/of restaurante.
Laatmiddag, net voordat Afrika donker word om jou, word daar vanaf
die kampe vertrek. Na ‘n
wildbesigtigingsrit en eersteklasmaal word daar sowat ses ure later teruggekeer.
Die aandetes is uiters gewild onder buitelanders.
Op ons rit was daar onder meer Hongare, Engelse en Italianers.
Daar moet minstens vier belangstellendes per aand wees voordat
die etes aangebied word.
Wat betref Satara, is daar tans twee plekke in die veld waar tafels opgeslaan
word vir etes. Dit sal blykbaar
eersdaags omhein word. ‘n
Noodsaaklikheid omdat die persentasie katte in hierdie omgewing besonder
hoog is. Enigeen wat al die
S-100 roete vanaf Satara na Nwanetsi aangepak het sal weet dat die kanse
goed is dat jy kat se kind gaan teekom.
Voordele van die nagritte is dat die toerleiers ‘n beter idee het
as die besoeker waar diere te wagte kan wees.
Paaie word ook geneem wat andersins nie toeganklik is nie.
Dit is bemoedigend dat die Krugerwildtuin toenemend maniere vind
om bewaringsbestuur finansieël te ondersteun.
‘n Uitgebreide veldtog word tans in die Wildtuin geloods
om daarop te wys dat nie alle veldbrande “verwoestend” is nie, maar ‘n
normale element in die natuur is. Dit kan selfs voordelig wees deurdat
dit sekere sade laat ontkiem.
Dan word ook ‘n nuwe ingangshek beplan vir die Krugerwildtuin. Die
hek word beoog naby die Albasini ruïnes tussen die Paul Kruger- en Numbi-hekke
naby Hazyview.
j
f
|
|
|
reisnuus
graun
-
die dorp wat deur water verswelg is
|
|
jens friis
|
|
|
|
Voor 1950 was daar aan
die rand van die Reschenmeer 'n pragtige dorp, maar sedertdien swem daar
visse in die strate rond.
Van die Noord-Italiaanse dorpie, AltGraun, is net die 14de-eeuse kerktoring
nog sigbaar nadat dit oorstroom is met die bou van die Reschensee-studamprojek.
Die 500 inwoners wat die prooi hiervan geword het, moes inpak en hul geluk
elders loop soek.
Die Italiaanse regering sou aanvanklik die wal met 5 m verhoog, wat geen
gevaar vir Graun sou inhou nie, maar met die aanvang van die projek is
die planne verander. Die wal sou nou 22 m hoër gemaak word wat sowel Graun
as Reschen se einde sou beteken.
Gelukkig vir die inwoners het die Tweede Wêreldoorlog bouwerk verlam,
maar in 1947 is dit hervat.
Hulle protesteer soos vroeër heftig, maar in 1949 vloei water reeds die
huise binne sonder dat daar sprake is van skadevergoeding. Inwoners in
die laerliggende wonings probeer wanhopig red wat te redde is.
Om so min moontlik op te dok, beweer die firma wat die bouwerk doen dat
die streek onvrugbaar en waardeloos is ``een vierkante meter is slegs
'n sny brood werd''.
Terwyl dié redekawelry voortgaan word begin om die huise met dinamiet
op te blaas. Op Sondag 15 Julie 1950 word die laaste kerkdiens in Graun
gehou. Nadat die pous ingeroep is en ook politici uit Suid-Tirol word
die inwoners vergoed.
``Vir sommige was dit egter nie genoeg nie. So het ons buurvrou geweier
om haar huis te verlaat en moes sy uiteindelik saam met haar honde en
katte van die solder gered word toe die huis oorstroom,'' vertel 'n oubaas
in die nuutgeboude Graun, rantjie-op va
AltGraun.
``Soms kyk ek van hier af oor AlteGraun. Dan raak ek bedroef. Ek koester
geluide, name, reuke en herinnerings, want my geboortedorp is nou net
a landscape of the mind. Die water het dit verswelg.''
j
f
|
|
|
reisnuus
oorwinnaars
se optrede na tweede wêreldoorlog alles behalwe prysenswaardig
|
|
jens
friis
|
|
|
"Reg en verkeerd en leuen en waarheid is in elk geval twee
strome wat só deurmekaar geloop het in hierdie land dat geen emmer
op aarde dit ooit weer uitmekaar geskep sal kry nie.”
Dalene Matthee het só oor Suid-Afrika geskryf in die Brug van die
esels, maar dit kon net sowel van toepassing gewees het op Europa
tydens en na die Tweede Wêreldoorlog. Dit besef jy maar al te goed
met die lees van Crimes and Mercies - The Fate of German Civilians
under Allied Ocupation, 1944 – 1950 (Londen, Warner, 1988).
Hierin kantel James Bacques die algemeen bekende feite oor dié oorlog
dat dit die leser twee keer laat dink. Hy wys op byna ondenkbare
wraakaksies deur die Geallieerdes teen die Duitsers ná die afloop
van die Oorlog (met die groot “O”).
Soos altyd het ‘n saak twéé kante. Hoe jy daarna kyk hang net grootliks
af van waar jy staan.
Die wreedhede van die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog is alom
bekend, maar selde word ‘n woord gerep oor die wandade van die Geallieerdes
wat lank na vredesluiting nog voortgeduur het.
Daar is sterk aanduidings dat die Geallieerdes na die oorlog die
Morgenthau-plan in werking probeer stel het, skryf dié Kanadese
skrywer. Ingevolge die Morgenthau-plan moes onder meer nywerhede
in Duitsland afgetakel word.
Hierna word ook verwys in Regverdige oorlog: ‘n verkennende historiese
studie oor die bruikbaarheid van die begrip van Leopold & Ingrid
Scholtz (Universiteit van Stellenbosch).
Selfs in 1949 met die totstandbringing van die Wes-Duitse regering
is daar daar blykbaar selfs nog 268 fabrieke in hul geheel of gedeeltelik
na Geallieerde lande verskuif. Twee jaar vroeër was die nywerheidsproduksie
in die Britse en Amerikaanse besettingsones minder as ‘n derde van
die produksie van 1938.
Dalk van die ergste was dat die Geallieerde wraak ‘n doelbewuste
hongersnood geskep het. Volgens Bacque het 9,3 miljoen Duitsers
tussen Oktober 1946 en September 1950 gesterf. Hiervan was die dood
van 5,7 milj. tot dusver onbekend.
Hy skryf: “Alhoewel die meeste van dié mense dood is weens ‘n tekort
aan voedsel, het hul nie gesterf weens hongersnood nie soos beskryf
deur sommige historici. Hul is dood sewentien maande tot vyf jaar
nadat die Duitsers oorgegee het. Hulle het gesterf terwyl die wêreldvoedselproduksie
reeds ‘n vlak van 97 % weer bereik het.”
“Hul het gesterf terwyl voedselproduksie gestyg het.”
Bacques meen hul dood is veral daaraan te wyte dat hul vir ‘n uitgerekte
tydperk nie hulp ontvang het nie en nie hul eie brood mog verdien
het nie.
‘n Vriend van my oupa het eens gesê: “Daar is twee dinge wat noodsaaklik
is vir die bestaan van ‘n bejaarde: Genoeg om van te leef en genoeg
om vir te leef.” En dit is beslis nie net waar vir bejaardes nie.
Nietemin het die Geallieerdes so waar as twee en twee vier is vir
talle Duitsers hierdie basiese lewensvoorwaardes ontsê, meen Bacques.
‘n Groot hoeveelheid van die Duitsers wat gesterf het was vroue,
kinders en ouer mans.
Talle historici het reeds in die verlede daarop gewys dat die toestande
tydens die oorlog in veral die Franse konsentrasiekampe vergelyk
kon word met dié in Nazi-kampe. By die Nazi-kamp Bergen-Belsen was
die daaglikse rantsoen byvoorbeeld op ‘n stadium dubbeld soveel
as in sommige Franse kampe. Daar het 1,4 – 1,7 milj. Duitse soldate
omgekom waarvan ‘n miljoen in die Westerse Geallieerdes se krygsgevangenekampe.
Vir verdere leesstof oor die onderwerp, skraap nader die S.A. Akademie
vir Wetenskap en Kuns se Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Jaargang
42, Nommer 1).
j
f
|
|
|
|
reisnuus
druk
plaas toekoms in weegskaal
|
|
jens
friis
|
Eendag
nie te lank gelede is ek in suid-Lesotho. Die dag se imposante
berge was wondermooi. Dis hoogsomer. Ons kampvuur gooi vlamvlekke
in die skemer.
Saam met ons is 'n vriend wat 'n dag tevore nog in Luanda was.
Daar is veel moois in Angola, maar hy vertel ook van krotte
en skerms. Rook wat orals uitslaan. Slymerige strande. En 'n
brandmaer dogtertjie wie se oë nie saamglimlag met haar lippe
nie.
``So min soos die mensdom vir die wêreld omgee sou jy nie glo
die aarde is die middelpunt van die meeste van ons se kosmos
nie,'' merk hy op. ``Die ergste is dat Luanda geensins die uitsondering
is nie. So ook nie Romenië waar ek onlangs was. Indien omgewingsbewaring
die oordeelsmaatstaf was het die beskawing nog feitlik nêrens
vatplek gekry nie.''
Met die deurblaai van Earth from above 365 Days (Harry N. Abrams
Publishers, 2001) besef jy dat die straf swaar sal wees as ek
en jy eendag tot verantwoording geroep word oor hierdie planeet.
``Ons skynbare rykdom word gemeet in ekonomiese groei, maar
dit neem nie die stand van natuurlike hulpbronne in ag nie,''
skryf Yann Arthus Bertrand.
In Bertrand se pragboek is daar vir elke dag van die jaar 'n
lugfoto van oraloor. Anders as so dikwels, is Afrika en veral
Suidelike-Afrika goed verteenwoordig.
Hieronder tel foto's van ryslande in Madagaskar, asook die Namibiese
Brandberge in Damaraland. 'n Treffende kiekie is dié by Duikereiland
van duisende pelsrobbe wat slegs voorkom langs die Namibiese
en Suid-Afrikaanse kus. En dan is daar een van die Okavangorivier
wat soos 'n slang heen kronkel deur Botswana. Hierdie rivier
bereik nooit die see nie, alhoewel dit die derde langste (1
300 km) in Suider-Afrika is.
Tog kan ons kinders hierdie wonders maklik misloop. ``Lewe is
moontlik weens lug, grond en water, maar dít is in gevaar en
daarom word ons bedreig,'' skryf Bertrand.
Statistieke van onder meer die Wêreldbank, Unesco, Unicef en
die VN gee die volgende prentjie van ons planeet:
Die gebruik van fossielbrandstowwe het vyf keer vermenigvuldig
in die afgelope halfeeu- olieverbruik agt keer.
Die verskaffing van windenergie het met tien vermenigvuldig
tussen 1990 en 2000. Tog het dit in 1999 slegs 1% verteenwoordig
van energieproduksie.
Van die wêreldbevolking woon 80% in 'n ontwikkelende land, 40%
het nie elektrisiteit nie en 47% leef op minder as 2 Amerikaanse
dollar per dag.
'n Fransman genereer 350 kg huishoudelike afval per jaar sowat
1 kg per dag. In die VSA is dit dubbeld soveel.
Ook verbruik 'n Fransman gemiddeld 150 tot 250 water per dag.
Hiervan word net 2 gedrink. Gevolglik word slegs sowat 0,5 %
water afgesluk wat behandel word vir drinkdoeleindes. 'n Keniaan
verbruik slegs 4 per dag, terwyl 'n New Yorker 680 nodig het.
'n Kwart van volwassenes is ongeletterd.
Een uit elke vyf mense het nie toegang tot moderne gesondheidsorg
nie. Daar word gereken dat 95% van diegene met vigs in ontwikkelende
lande woon.
Waarom is daar soveel verandering?
``Gebeure in ontwikkelende lande word swakker deur die media
gedek as elders,'' skryf Bertrand. ``Ook stam ons siening van
die omgewing steeds daaruit dat die wêreld se hulpbronne eindeloos
is.'' Dit is nie die geval nie.
Bertrand stel voor mense plaas druk op instansies om meer omgewingsvriendelik
te wees, versprei bewustheid hieroor en verminder onnodige verbruik.
|
|
j
f
|
|
| i
| ii
|
voorblad
| bestemmings | raad
& neigings | reisnuus | nie-reis
| foto's |