voorblad
| bestemmings | raad
& neigings | reisnuus | nie-reis
| foto's
|
| i
| ii |
|
|
reisnuus
kuier
in vsa se berugste tronk
|
|
jens
friis
|
| SAN FRANCISCO.
Besoeke aan die bekendste maksimum-sekuriteits gevangenis in Amerika is
só gewild dat daar somermaande veel langer in rye gestaan moet word as die
vaart van 10 minute daarheen.
Bekende boewe
soos Al Capone moes op dié eiland sit terwyl dit die Alcatraz tronk was
tussen 1909 en 1963.
As die swaars
bewaakte gevangenis in Amerika was ontsnapping onmoontlik oftewel "escape-proof"
soos ons toerleier benadruk het. Swem na San Francisco sou miskien kon,
maar daarvoor is die seestrome te sterk, die water te koud en boonop is
hier haaie.
Die lewe op
die eilandjie is in talle films verromantiseer en deesdae is Alcatraz
‘n grootse toeriste-lokaas. Jy sou byna kon vergeet dat misdadigers eens
hier hul straf uitgedien het. Reuse foto’s van dié manne hang nou in die
tronk waardeur jy gelei word met ‘n draagbare bandopnamemasjien.
Om hier ‘n
straf uit te dien was g’n pret nie. Rye en rye selle met net tralies het
g’n privaatheid gebied nie. Besoekers mog slegs met hul dierbares oor
persoonlike sake praat. Liggaamlike kontak is nie toegelaat nie. Drink
en eetgoed mog hul nie saambring nie. Indien daar nie aan die menigte
reëls gehou is nie is oortreders in isoleerselle vir maande aaneen opgesluit.
Na die haarkapper moes jy elke drie weke gaan. Almal se hare is dan identies
gesny. Snorre en baarde was verbode.
In 1969 het
die Federal Bureau of Prisons besluit om nie meer die uitgeleefde selblokke
te gebruik nie. ‘n Groep Indiane het die eiland oorgeneem en aanspraak
daarop gemaak. In 1971 is hul gewelddadig verdryf. In die daaropvolgende
jaar het die eiland deelgeword van die Golden Gate National Recreation
Area.
Deesdae is
dit moontlik om Alcatraz ook na-donker te besoek. Buiten dat die uitsig
dan op San Franciso onverbeterlik is, is dit ook meer intiem. Bedags besoek
4 000 mense die Rock, maar saans slegs nagenoeg 600.
Onlangse toere
het ingesluit "Sanity and Survival at the Rock" (oor hoe gevangenis
die toestande in die tronk hanteer het), "Small Town Alcatraz"
(‘n toer oor die families op die eiland) en "Escapes of All Sorts".
Alcatraz-vaarte
vertrek vanaf Pier 41 langs die San Francisco Waterfront. Nagtoere is
slegs beskikbaar Donderdae tot Sondae.
j
f
|
|
|
reisnuus
kry
kooklesse in italië via internet
|
|
jens
friis
|
Wat
sou 'n besoek aan Montepulcano in Toskane wees sonder Chianti
Classico? Parma en ham is een. Bologna is sinoniem met tortellini.
Kulinêre
toere is 'n knap manier om 'n voorliefde vir kos en reis te
kombineer. So kan jy 'n vreemde wêrelddeel sien, aan kenmerkende
geregte uit die streek smul en selfs leer hoe om dit te berei.
Dié
toere floreer op die internet, en Italië is 'n paradys vir resepteboeklesers.
Die
beskrywing van
cookitaly.com se toere maak dié webblad al 'n besoek werd.
Die plaashuis-kookkursusse in die pragtige, ommuurde Toskaanse
dorpie Lucca sal jou mond laat water terwyl jy die webwerf verken.
Klik op gedroogde sampioene, geroomde pecorino-kaas en torta
Garfagnina 'n koek met lemoene en versuikerde suurlemoenskil
versier.
Of
bly in 'n villa tussen Florence en Siëna. Toer daarvandaan na
wyn-, olyf- en kaasmakers. Lê smiddae langs die villa se swembad.
Kuier oor 'n fles wyn langs 'n 15de-eeuse palazzo.
Die
webblad van
theinternationalkitchen.com meld meer as 40 verskillende
kulinêre reise, waaronder skole in Genua, op die oewer van die
meer Como, en aan die Amalfi-kus. Daar is ook fiets-en-kook-toere
na Bordeaux en Provence.
Toerleiers
soos John Wilson, die eienaar van die culinaryvacationsinc.com,
is 'n sjef van die hoogaangeskrewe Culinary Institute of America.
Loer
ook gerus by
culinarytours.net wat toere na Thailand, Spanje en Nieu-Seeland
bied.
j
f
|

'n
Italiaanse deli met puik kase, salami's, olywe, tamaties en
wyne waarvoor Italië so bekend is
|
|
|
|
reisnuus
geskiedenis
van die fiets
|
|
jens
friis
|
Nijmege.
Velorama, die Nederlandse Nasionale Fietsmuseum, het 'n byna twee
eeu oue fiets ryker geword.
Wat
die nuwe aanwins waardevol maak is die ouderdom en goeie toestand
daarvan.
Die
``draisine'' oftewel ``hobbyhorse'' was vir dekades op 'n solder
in Orleans in Frankryk vergete.
'n
Inskripsie lees dat I.I. Lippe dié houtfiets in 1818 gebou het.
Van Lippe is weinig bekend, maar dis seker dat hy 'n presiese
kopié wou maak van die loopfiets waarmee die Duitser Freiherr
Karl von Drais aan die begin van die 19de eeu die wêreld probeer
verower het.
Op
die draisine is gery deur met die voet teen die grond te stoot.
Van pedale was in 1817 nog nie sprake nie.
By
die Velorama-museum bied 250 outentieke veteraanfietse 'n blik
op die evolusie van die fiets as vervoermiddel.
Die
museum is in 1981 geopen in 'n ou gebou langs die besige waterfront
van Nijmegen. Dit is geskoei op 'n private versameling veteraan-
en moderne fietse van mnr. Gertjan Moed, die stigter.
Vir
meer oor die fiets as kultuurerfenis kan die Velorama (Waalkade
107) in Nijmegen sewe dae per week tussen 11 vm. en 5 nm. besoek
word.
j
f
|
|
|
|
|
reisnuus
twee
engelse kusdorpies
wil branderplank ry
|
|
jens
friis
|
| Twee Engelse
kusdorpe wil Europa se hoofstad vir branderplankryers word deur kunsmatige
riwwe op te rig en só die perfekte golf te skep. Newquay
en Bournemouth beplan om duisende sakke sand van 10 ton elk op die seebed
te plaas. Dit sal hopelik sulke toestande skep dat daar aan internasionale
branderplankkompetisies deelgeneem sal kan word.
Die bykomende toerisme sal jaarliks miljoene pond genereer.
Die sport lok deesdae 'n nuwe geslag goed betaaldes met gesinne wat maklik
vir 'n week 'n huis sal huur. Hoewel die Atlantiese kus tradisioneel
dié bestemming vir branderplankryers in Brittanje is, poog Bournemouth aan
die suidkus om hierdie posisie oor te neem deur sy eie kunsmatige rif op
te rig.
j
f
|
|
|
reisnuus
berlynse
museums in rooi
|
|
jens
friis
|
Die
Alte Nationalgalerie (Ou Nasionale Kunsmuseum) hier is onlangs
teen 'n bedrag van DM 133,5 miljoen (sowat R400 miljoen) gerestoureer
Dié
museum, wat uit die vroeë negentiende eeu dateer, is in 'n Klassissistiese
styl gebou en is geleë op 'n eiland in die Spree wat deur die
ooste van Berlyn vloei.
Verskeie
ander vooraanstaande museums is ook omtrent in dié tyd op die
eiland gebou en kry nou dringende ``gesigsontrimpelings''.
Die
voltooiingsdatum vir die Neues Museum (1855) is 2005, en die
Bodemuseum (1940) wat op Unesco se Wêrelderfenislys verskyn,
heropen in 2004.
Ontstellend
egter is dat Berlyn se finansiële verknorsing nou die wêreldkultuurerfenis
van dié Duitse hoofstad bedreig. In die vorige belastingjaar
was daar 'n tekort van DM 305 miljoen mark. Boonop leef 10 %
van die Berlyners onder die armoedegrens en is wanadministrasie
g'n geheim hier nie. Daarby word die regerende Christen-Demokrate
se verhouding met die Sosiaal-Demokrate gekenmerk deur vriendskapspolitiek
en korrupsie. Dit het byvoorbeeld maande geduur om tot 'n besluit
te kom oor die datum van die Love Parade, die reusagtige tegno-karnaval
waarheen Europeërs van oral stroom.
Dat
Berlyn nogtans daarin geslaag het om 'n positiewe beeld te bou,
is eintlik 'n wonderwerk.
Terwyl
die restourasie van die museums deel vorm van 'n program om
die stad tot sy glorie van vóór die Tweede Wêreldoorlog te herstel,
is daar eenvoudig nie meer geld vir die opknapping van die bekende
Museum-eiland nie.
Die
koste van dié projek, wat deur kanselier Gerhard Schröder onderskryf
word, word op DM 2 miljard geraam.
Jaarliks
betaal die stad, sowel as die Duitse regering, DM 100 miljoen
hiervoor. Een kwart van die Berlynse bydrae gaan van aanstaande
jaar af deur die Europese Unie in Brussel geskenk word.
Die
Berlyners sukkel egter om met hul verpligte bydrae by te hou.
Daar is reeds 'n tekort van DM 55 miljoen en opknappingswerk
dreig om tot stilstand te kom. Nou is 'n beroep op die Duitse
regering gedoen om dié tekort aan te vul, maar die staat is
nie juis gewillig nie.
Terwyl
die stad nog verdeeld was, het Berlyn enorme subsidies van die
Weste ontvang, maar sedert eenwording het dit aansienlik afgeneem.
Die staat het ook al talle kulturele take van Berlyn oorgeneem,
soos die beheer van die Joodse museum.
Dis
egter nie net aan die museums wat gewerskaf word nie. Die Volkskammer,
waar die Oos-Duitse Parlement in 1976 in die asbesgevulde Republiekspaleis
oorkant Marx-Engels Platz bymekaargekom het, word ook nou gesloop.
Gelukkig
is die Pergamon-museum darem nog oop. Dié museum herinner aan
die oud-heerskappy van Duitse vakkunde oor antieke beskawings
van die (Midde-)Ooste. Die versameling is indrukwekkend en sluit
vondste van die Babiloniese, Arabiese en Chinese kulture in.
j
f
|
|
|
|
|
reisnuus
stokou
fuike gevind
|
|
jens
friis
|
| Schokland -
Argeoloë van Flevoland, die provinsie wat feitlik in sy geheel gevorm is
nadat land teruggewen is van die Zuidersee, het bewyse gevind dat hier véél
vroeër reeds mense gewoon het.
Die Zuidersee
is in die 1930's tot die Ijsselmeer hernoem nadat 'n dyk dit van die waters
van die Friesiese see geskei het. Die Zuidersee was 'n vloedvlakte voordat
die waters gestyg en die grond gesak het.
Die inwoners
het voor 1930 op enkele eilande soos dié by Marken, Schokland, Urk en
Wieringen gewoon. Vis was hul vernaamste voedselbron.
Argeoloë het
nou gevorderde visfuike (``fish traps'') van so ver terug as 4 000 jaar
onder lae klei gevind. Op sommige plekke is fuike in verskillende kleilae
bo mekaar gevind, wat beteken dit kom uit verskillende eras.
Die fuike
het bestaan uit houtpale en mure gevlegte wilgertakke in die strome.
Visse wat deur die ingang geswem het, is verder in die labirint ingelei
totdat hul nie meer kon uit nie. Vishoeke, naalde, messe, erdewerk,
die bene van otters, en visse en bere, is ook opgegrawe.
Die ontdekking
is gemaak tydens die voorbereiding vir 'n industriële besigheidspark.
Nou het die Nederlandse regering verdere finansiering vir opgrawings bewillig.
Die plaaslike
Schokland-museum sal die nuut gevonde artifakte uitstal.
j
f
|
|
|
reisnuus
eet
'n kriek en leer meer oor die insek
|
|
jens
friis
|
|
In
Things Fall Apart vertel die Nigeriese skrywer Chinua Achebe hoe die lug
donker word oor 'n dorpie in Afrika. 'n Swerm sprinkane is op pad.
Die
mense bid dat die sprinkane moet gaan sit. As die swerm land, word die
insekte gevang en die inwoners smul weke daarna nog aan die gelukkie wat
op hulle neergedaal het. Nie omdat hulle honger is nie, maar omdat dit
lekker is.
Die
Australiese inboorlinge is bekend daarvoor dat hulle verskeie wurms en
eiers eet. Van die mense in die Kongo (Kinshasa) is verheug as die
kriekseisoen uitbreek. Hulle smul net so graag aan krieke as wat
die Kanadese in die somer aarbeie eet.
Die
inwoners van Quebec doen egter deesdae ook smaaklik mee aan insek-etes
iets wat nog redelik vreemd is in die Weste. Sedert 1993 word daar gereeld
sulke proe-sessies in Montreal gehou. Die doel van die ``Munch an Insect''-projek
is om inligting oor insekte te versprei.
Mense
se negatiewe houding hieroor word omgeswaai deur te wys op die belang
van insekte vir ekologiese balans.
Buiten
die opvoedkundige en kulturele funksie van die Montrealse Insektarium
word hier ook navorsing gedoen. Terwyl hulle aan 'n gebraaide kriek kou,
kan besoekers leer hoe insekte uitbroei, en hoe die gediertes voorberei
en gekook kan word.
Gewilde
disse is pizza met meelwurm-koekies, mexikaanse sprinkane, asook gebraaide
krieke wat in sjokolade gedoop word. Kenners wys jou vinnig daarop
dat insekte baie gesond is. Dit bevat bloedweinig vette, maar geweldig
baie prote¨ene.
Volgens
die webblad www.eatbug.com
eet die gemiddelde mens onbewustelik sowat 'n halwe kilogram insekte in
'n leeftyd. Hierdie goggos kom blykbaar veral in graanprodukte voor
en is soms te sien as 'n klein swart spikkeltjie in byvoorbeeld 'n sny
brood. Insekte word ook in vrugte en groente gevind, en is veral
algemeen in verwerkte en geblikte kos en drank, word gesê.
Ander
eetbare insekte is tamatiegegeurde wurms, langhoringsprinkane, kewerlarwes,
mieliewurms en sonbesies. Koekies, tacos en selfs patee word van sommige
insekte gemaak.
Moet
dit net nie tuis probeer maak nie die goggas kon iewers al onder gifstowwe
deurgeloop het of kan self giftig wees.
Onder
die leiding van sjef Jean-Louis Thenistocle berei studente van die Toerisme-
en Hotelskool van Quebec tot 35 000 krieke en 100 000 meelwurms by die
insektarium voor.
'n
Allemintige 150 000 voornemende insek-eters kom loer elke jaar in. Die
insektarium staan in die skadu van die Montrealse Olimpiese Stadion van
1976 en is deel van die botaniese tuin in die stad. Insekte van
oor die wêreld is hier te sien - 150 000 altesaam. Sommige is gepreserveer,
maar baie is springlewendig.
In
dié insektempel is daar onder meer 'n akwarium, deursigtige byekorf en
'n skoenlappertent wat in die noordelike somer oop is. Dis 'n belewenis
as derduisende kleurvolle insekte rondom jou fladder, op jou kom sit of
raakafstand aan nektardraende blomme suig.
j
f
|
|
|
reisnuus
plaaslike
afrika-vlegwerk vind 'n nis
|
|
jens
friis
|
|
Me.
Sophie Lampetje van Philippolis se hande is deesdae weinig stil. Sy’s
aan’t vlegte – blinders en besems tot plekmatjies.
En
daar is beslis ‘n mark daarvoor.
Pas
het ‘n Johannesburger ‘n blinder by me. Sophie Lampetje aangeskaf. Dié
fotograaf gaan dit nie voor sy venster hang nie, maar as agtergrond vir
portretfoto’s.
Ook
by die onlangs geopende kunstenaarshuis in die dorp het die keuse van
die ontwerper nie op gordyne of hortjies geval nie. Nee, me. Alida Stewart,
oud-dosent in argitektuur aan die Vrystaatse Universiteit, het besluit
dat eenvoudige, aardse blinders van vleitjiesriet die felle sonlig en
hitte sal uitweer.
‘n
Sagte biesiesoort wat herinner aan vleitjiesriet en ook aan mandjiesgoed
word gebruik vir die vlegwerk.
Lampetje
wat op die plaas Grootfontein van mnr. John Kolver woon het onlangs vir
hul lapa plekmatjies gemaak. "Dit lyk goed en deug uitstekend as
jy buite eet," sê me. Marelize Kolver.
"Boonop
is dit so reg uit Afrika – net reg as jy buitelanders onthaal." Die
Kolvers bedryf ook ‘n wildplaas – in lyn met agri-toerisme wat deesdae
baie veld wen.
"'n
Mens kan net hoop dat die geldjie wat gemaak word uit hierdie vlegwerk
sal help om te verhoed dat hierdie tradisie nie sal uitsterf nie."
Slegs enkele vroue beoefen dit nog in die omgewing.
As jy
meer wil leer van dié Afrika-handewerk skakel me. Marelize Kolver
by 051-7730400 of mnr. Gert van Biljon by 051-7730246.
j
f
|
|
|
jens
friis
|

Om
plek te spaar word tuin gemaak op woonstelle se dakke in Amstelveen,
'n voorstad van Amsterdam.
|
Den
Haag - Nederlandse boere verloor vinnig die stryd om ruimte, blyk
uit 'n opname van die ministerie van ruimtelike ordening.
Dié
ministerie beraam dat Nederlandse boere in die komende 30 jaar
475 000 ha landbougrond aan huisvesting, paaie, damme, natuurbewaring
en fabrieke sal afstaan.
Dit
is 10% van totale Nederlandse grondgebied. Die grondtekort is
so 'n gevoelige onderwerp in Zeeland dat ``ontpoldering'' weer
onder die loep is. Vanweë stygings in grondwaarde, stygende
koste en lae pryse vir hul produkte loon dit talle landbouers
om hul grond te verkoop.
In
die eerste helfte van 2000 het landbougrond gemiddeld 23% duurder
geword, terwyl dit in die vorige jaar 18% was. Gemiddeld sou
jy vir 'n hektaar grond in Nederland verlede jaar 75 700 gulde
(sowat R250 000) moes opdok. Dit is 25 000 gulde meer as in
1998. In byna die helfte van die landbougebiede is die gemiddelde
prys tussen 90 000 en 100 000 gulde.
Die
grootste styging (50%) was in die Ijsselmeerpolders. Die vrugbare
bodem maak dié polders uiters geskik vir boere wat elders hul
grond verkoop en nuwe eiendom aanskaf.
Daar
is wel nog grond vir landbou-uitbreiding beskikbaar, maar hoofsaaklik
in die suidweste en die noorde, soos die Fries-eilande waar
die bevolkingsdigtheid van die laagste is. Die regering oorweeg
dit boonop om groen gebiede te bevorder deur net ontwikkeling
voor te staan in gebiede wat reeds stedelik is of naby spoorwegstasies
en hoofwegverbindings. Die regering stel die uitbreiding van
nasionale parke voor, wat die opkoop van plase tot gevolg sal
hê.
j
f
|
|
|
|
reisnuus
verblyf
in ossewaens is ideale wegbreek
|
|
jens
friis
|
| Terwyl Hennie
Aucamp in sy bundel Hongerblom boezoeki-musiek, inkblou seë en stamnaki
besing, merk hy op: ``Ons Boere moet leer om ons eie kultuur te verkoop:
mampoer en afval, konsertina en ghitaar.''
Meer in die
kol kon Gerhard en Reinette Wille van Ficksburg nie gewees het nie op
die plaas Hoekfontein bied ossewaens onderdak.
In die skadu
van koeltebome is daar uitgespan en laer getrek. In elk van die waens
slaap agt wat ideaal is vir skoolgroepe. Rondawels is ook beskikbaar.
Om dit oorspronklik
te hou word olielampe ingespan, bakke water vir stortdoeleindes gebruik
en word daar onder die sterre in die lapa geëet op mooiweersaande.
Met die Groot
Trek sou jy maar jou ry moes ken, want dié hoge Oos-Vrystaatse berge soms
pers en winters wit is nie elkeen se maat nie. Om deur só 'n streek te
trek moes erg gewees het as jy 'n lewe agterlaat en met beperkte besittings
'n nuwe tegemoet gaan.
Nietemin bied
die klowe vir jou die ideale stapplek tussendeur mandjieswilg, witstinkhout
en populier. Gooi 'n oog by die Boesmantekeninge en dan óp met 'n
paddastoelsandsteenkoppie vir 'n uitsig oor die Maluti's.
Daar is veel
te sien in die land van kersies, sagtegroen graslande en beeswagtertjies
wat waak by koringlande se wei-akkers.
As jy lus
het om in 'n ossewa te slaap, bel (051) 933 3915.
j
f
|
|
|
reisnuus
van
tronk tot seldsame heenkome vir toeriste
|
|
jens
friis
|
| Gerieflik
halfpad tussen die Wes-Kaap en Gauteng bedryf 'n egpaar deesdae in
Philippolis 'n tronkherberg.
Die
ou tronk op Philippolis het vir jare leeg gestaan. Ná 'n te koop-advertensie
het Harry During en sy vrou, Annatjie, dit aangeskaf en in die ou
sandsteentronk in 'n gastehuis verander.
Om dié
plek wat in 1872 gebou is te restoureer, was egter g'n geringe taak
nie. In die vroeë jare sewentig is die tronk se deure finaal
gesluit nadat dit vir 'n aantal jare as 'n polisiekantoor gedien
het.
Dan
en wan het dit as basis gedien vir die plaaslike Voortrekkers, weermag
en brandweerbrigade wat uit weinig meer bestaan as 'n waterpomp
op 'n bakkie.
Terwyl
die selfsorg-oornaggeriewe ingerig is, het die Durings gepoog om
die tronk so na moontlik aan sy oorspronklike vorm te restoureer
en vandag is dit moontlik om in byvoorbeeld (nie Kamer 4 nie), maar
Sel 4 te oornag.
Die
vyf selle is 2 m x 3 m groot. Die buitemure is 'n allemingtige 45
cm dik, wat beteken dat dit warm is in die winter en koel in die
somer. Die wapenkluis is nou 'n boekrak. Vir meer besonderhede besoek
www.wheretostayco.za/oldjail of bel 082 550 4421.
|
|
|
Die
tronkherberg op Philippolis
j
f
|
|
|
|
jens
friis
|
| Landbou in
gebiede waar die kwik tot -50 grade Celsius kan daal en die ysvrye periode
in die somer so kort as 20 dae kan wees? Aikôna?
Groot was
my verbasing om kwekerye, pluimvee-, lewendehawe- en selfs graanplase
in Kanada se sub-arktiese streek te gewaar. Hoewel
landboubedrywighede in Yukon, die noordwestelike en Nunavut-gebiede steeds
klein in vergelyking met die res van Kanada is, word ongekende groei ervaar.
So het die hoeveelheid plase net in Yukon se sub-arktiese
gebied tussen 1986 en 1996 met bykans 400% vermeerder van 38 tot 160.
Die waarde van produkte wat verkoop is, het tot bykans
R20 miljoen aangesterk groei van 600%. Landerye
het met 300% vermeerder. Lang ure van daglig wat groei van plante bevorder,
vergoed vir die koue weer.
Omdat dit
so ver van die ewenaar is (anderkant 60-noorderbreedte), is die somersnagte
net enkele ure lank en bly dit skemer in die verre noorde.
Boere in die
Kanadese sub-arktiese gebiede spits hulle toe op verbruikers wat vra na
produkte van hoë gehalte en wat in feitlik ongerepte, onbesoedelde dele
verbou word.
Gevolglik word baie aandag bestee om so min as moontlik
inbreuk op die natuur te maak as landerye aangelê word.
Die aanvraag
onder omgewingbewustes na organiese, vars, plaaslike produkte groei steeds
'n neiging waarby die Kanadese sub-arktiese landbousektor sekerlik verder
sal baat vind.
j
f
|
|
|
reisnuus
pomp,
nie cook, ontdek antartika
|
|
jens
friis
|
| Vroeër is gemeen
dat Antarktika in 1773 deur die ontdekkingsreisger James Cook ontdek is.
Die Brit Bransfield sou in Januarie 1820 by Antarktika aandoen en die Amerikaner
Palmer en die Rus Bellinghausen enkele maande ná hom.
Nou word daar
gemeen dat 'n Nederlandse seeman, Dirck Gerritsz Pomp, reeds in 1599 daar
aangedoen het.
Só skryf dr. Wim Ligtendag in sy pas gepubliseerde boek,
The Discovery of the Far South.
Pomp was reeds
in 1599 by die Suid-Shetlande. Dié eilandgroep op 62 grade suiderbreedte
lê naas wat nou die Antarktiese Skiereiland heet. Sommige van die eilande
lê vlak teen die skiereiland.
Pomp moes
'n konvooi na Indië lei rondom die Kaap van Goeie Hoop, maar hy het besluit
om eerder na Kalifornië te vaar waar goud ontdek is.
Die vyf skepe
het egter heel van koers af geraak voordat Kaap Hoorn bereik is en die
bemanning is gevange geneem deur die vyandiggesinde Spanjaarde.
Om die Spanjaarde
op 'n dwaalspoor te bring het Pomp 'n dagboek gefabriseer wat tot onlangs
gemeen is die ware Jakob is. Uit 'n 1622-beskrywing blyk dit dat Pomp-hulle
verby 'n ``bergagtige land vol sneeu'' gevaar het. Daar is talle aanduidings
dat dit wel die Suidpoolkontinent was.
Hierdie
joernaal is eers onlangs uit die vergetelheid ontruk. Pomp se ontdekking
het waarskynlik ongesiens verbygegaan, omdat die Nederlanders geen ekonomiese
voordeel hierin gesien het nie.
j
f
|
|
|
reisnuus
nagmerrierit
in sneeustorm
|
|
jens friis
|
|
|
Tydens
'n Europese kuier het ek en my kleinneef, Jesper Friis van München,
Innsbruck besoek om dié Oostenrykse dorp te sien wat reeds twee
keer die Olimpiese Winterspele aangebied het.
Vroegmiddag
het ons daar klaar ons draaie geloop en op pad terug was dit
besluittyd in die Italiaanse dorp Merano: 'n bergpas of die
vinnige, maar minder mooi Autostrada-hoofweg oor Bolzano.
``Ons
het op die pas besluit, maar min het ons geweet dit sou langer
as vyf uur duur om die Jaufenpas van net 37 km oor te steek.''
Waar
die pas begin, is 'n bord dat die Jaufen saans gesluit is. Dit
was omstreeks vieruur die middag met minstens drie uur daglig
oor.
Spoedig
was dit duidelik dat dié paadjie nie aan te beveel is vir diegene
wat maklik karsiek word of hoogtevrees het nie. Aan talle van
die S-draaie is daar afgronde honderde meters hoog. Tog is daar
telkens geen muurtjie of reling langs die pad nie.
So
1 000 m bo seevlak het die wind onweerswolke die berg af geblaas
en gou was daar niks meer te sien van die onvergeetlike uitsigte
langs die loodregte hellings af nie.
Die
pad het skaatsglad geword nadat sneeu begin val het. Om nie
bergaf te ski nie, moes ons voortkruie met 'n slakkegang. Omdraai
was moeilik. Die pad is so smal dat motors skaars kan verbysteek.
Omdat
geen motor van voor af gekom het nie, het ons besluit om om
te draai. Waar ons nog enkele minute gelede verbygery het, het
die wind intussen 'n duin sneeu van 'n hang af geblaas nes die
wind duine in die Namib verskuif.
Die
enigste uitweg was om weer om te draai. Die teervlak was nie
meer sigbaar nie. Dit was deur 'n vasgeperste yslaag bedek.
Aan albei kante van die pad was mure sneeu by die 3 m hoog.
Maande se sneeulae het in wit, bruin en blou weerkaats.
'n
Paar keer moes ons spoed vermeerder, anders sit jy vas in die
sneeu, wat deur die wind op die pad gewaai is. Sou ons vassit,
sou dit 'n hele nag op Europa se hoogste bergreeks beteken,
en dit in 'n yskoue kar.
Boonop
kon Jesper nie sy selfoon die oggend voor ons vertrek laai nie.
Sy sellaaier was in sy kantoor. Dus was die battery reeds pap.
En
toe was die kruin (2 094 m) daar byna twee keer so hoog soos
Tafelberg!
Af
was geensins kinderspeletjies nie, maar minstens was die wete
daar dat ons oor die helfte is. Aan hierdie kant van die
berg was die wind minder woes. Onder gekom, sou dit blyk
dat die pas wel aan hierdie kant gesluit was daarom dat daar
geen motors van voor af gekom het nie.
Gelukkig
dat Jesper 'n sterk motor gehad het en dat hy 'n vaardige bestuurder
is. Ook het die motor nog bande aangehad vir winterweer en ons
is net betyds deur die pas voordat meer sneeu sou rondwaai.
Die
verligting was groot toe ons laatnag in Sterzing in 'n gastehuis
aansit vir 'n regte, egte bord Italiaanse spaghetti bolognaise.
j
f
|
|
|
|
reisnuus
rijksmuseum
word ná eeu goed afgestof
|
|
jens
friis
|
|
|
In die jaar
wat die bekende Rijksmuseum in Amsterdam sy 200ste verjaardag
vier, staan dit op die drumpel van 'n omvangryke verbouing- en
restourasieprojek. Die Rijksmuseun, geopen as die Nasionale
Kunsgalerij, is sedert 1885 in die huidige gebou wat bekend is
om sy dekoratiewe werk, sale en tuine.
Deur
die jare het miljoene mense, jonk en oud, afkomstig uit die
ganse wêreld, die gebou, ontwerp deur Pierre Cuypers, besoek,
maar ná 115 jaar is modernisering en opknappingswerk dringend
nodig. Die museum het tans heelwat tekortkomings.
Weens
'n ruimtegebrek is binnehowe oor die jare toegebou. Die gevolg:
'n doolhof waaruit lig en lug geweer is. Cuypers se plan is
in sy wese aangetas. Die huidige gebou is nie ontwerp vir die
enorme stroom besoekers wat deur twee nou ingange toegang verkry
nie.
Ook
wil die museumbesoeker nie slegs 'n pragtige kunsversameling
bekyk nie, maar in 'n goeie restaurant eet en in 'n moderne
winkel koop.
Die
museum voldoen ook nie aan die wetlike vereistes ten opsigte
van toeganklikheid vir gestremdes, brandveiligheid en klimaatbeheer
nie.
Die
vernaamste vertrekpunte van die opknappingsprojek is ``verder
met Cuypers'' en dat besoekers beter diens moet kry. Cuypers
se oorspronklike argitektoniese konsep sal so ver moontlik in
ere herstel word. Tegelykertyd word die gebou aangepas by die
eise van die 21ste eeu.
Die
koste van die Nieuwe Rijksmuseum-projek word op sowat 445 miljoen
gulde (R1,6 miljard) geraam. Selfs in Nederlandse terme is dit
'n ongewoon groot kultuurprojek.
Die
agitekte Cruz & Ortiz van Sevilla is aangewys as die hoofargitekte.
Volgens die Rijksmuseum se amptelike webblad, www.rijksmuseum.nl,
weet dié Spaanse maatskappy ``soos geen ander hoe om ou geboue
'n nuwe taal te laat praat''. Cruz & Ortiz was onder meer
verantwoordelik vir talle projekte in die ou staddeel van Sevilla.
Onlangse opdragte was byvoorbeeld die Spaanse paviljoen op verlede
jaar se Wêreldtentoonstelling in Hannover, Duitsland, en die
Maritieme Museum van Cadiz.
Die
verbouing- en restourasiewerk sal einde 2003 begin en twee en
'n half jaar duur. In hierdie periode sal die bekendste stukke
van die museum, waaronder Rembrandt se Nagwag, in die suidvleuel
te sien wees.
j
f
|
|
|
|
reisnuus
swaard
hang oor münchen se kenmerkende olimpiese stadion
|
|
jens
friis
|
Weinige
stad het daarin geslaag het om só ‘n onderskeidende Olimpiese-kompleks
te bou as München by die drie dekades gelede. Tog is die
toekoms van dié stadion wat vir die 20ste Olimpiade gebou is allesbehalwe
seker.
So
het FIFA ‘n voorstel ingedien om dit te verander van atletiek-
na sokkerstadion wat baie veranderings inhou waaronder ‘n hangdak
en die afbreek van pawiljoene.
“‘n
Uitgebreide herbouing van die stadion sal die outentieke karakter
van die stadion verwoes”, lees die Heritage & Risk-verslag
van die International Council on Monuments and Sites (ICOMOS)
– ‘n adviesliggaam van UNESCO. Volgens die verslag kan
veranderings om dit meer multifunksioneel te maak nie uitgesluit
word nie, maar so min as moontlik moet dan vanuit ‘n erfenisbeskermingsperspektief
aan die stadion verander word.
Tydens
‘n onlangse besoek aan München was dit duidelik dat die inwoners
verdeel is oor die kwessie.
Dure
opknappingswerk is tans aan die dak nodig. Slytasie maak dit
noodsaaklik dat alle neopreenverbindings op die lange duur vervang
moet word. Diegene wat nog nooit vat kon kry aan die buitengewone
stadion nie, meen dit is nou net die tyd om dit te herbou.
Hierteenoor
word gewys dat die stadion reeds vir verskeie doeleindes gebruik
word. So het die Pous al die Katolieke van Wes-Duitsland
hier geseën, Tina Turner het gesing, Aïda is opgevoer en Davis
Cup-wedstryde beslis. In die Olimpiese Saal met plek vir
14 000 kan op een dag ‘n hondetentoonstelling plaasvind en die
volgende ‘n motorwedren. Dit word steeds gereeld
gebruik na die terroriste-aanval teen Israeliese atlete tydens
die 1972-Spele.
Volgens
ICOMOS is die stadion een van slegs enkele voorbeelde van moderne
argitektuur in die Federale Republiek van Duitsland “waarin
die identiteit van ‘n vrye en demokratiese na-oorlogse Duitsland
uitdrukking vind.” En gewis is die stadion uniek.
Die
dak lyk na ‘n bedoeïenetent. Die 58 maste waaraan dit
hang is so geplaas dat die krag wat uitgeoefen word op die akrielglas
en die rame mekaar ophef.
Die
glas moes selfreinigend wees. Reën, sneeu en ys hou dit
stof- en vuilvry. Elke plaat is met stukke rubbers vas
in een ligte metaalraam. Hierdeur is die konstruksie nie
alleen waterdig nie, maar staan ook beweging toe tydens temperatuurskommelings
en storms.
Die
Olimpiese Stadion het 52 448 sitplekke en 20 608 staanplekke.
Die twee reusagtige telborde bevat 48 000 gloeilampe.
Die
voetbalveld word verwarm deur ‘n plastiek pypstelsel van byna
20 km wat dit heeljaar speelbaar maak.
Die
twee hysers in die televisietoring pendel op en neer teen ‘n
snelheid van 6,6 m per sekonde. Aan die bo-punt is ‘n
restaurant wat binne 36 minute in die rondte kan draai.
Van hier is ‘n uistekende uitsig oor die Olimpiese Park, München
en die Alpe.
Die
Olimpiese Park was nie vir die stad München ‘n windeier nie.
Ses jaar na die bou daarvan het die stad die deel wat hul verskuldig
was afbetaal en was hul eienaar van ‘n sportkompleks wat hul
deur vele andere stede met jaloesie bejeën sou word.
Of
dit egter nog gaan lyk oor 'n paar jaar soos ons dit nou ken
hang 'n vraagteken
|
 |
Die
spinnekopwebdak van die Olimpiese Stadion gesien vanaf die Olimpiese-toring
(287 m). Danksy die daksisteem word grotere en kleinere stadions
met mekaar verbind waardeur ‘n samehangende geheel tot stand
kom.
j
f
|
|
| i
| ii |
voorblad
| bestemmings | raad
& neigings | reisnuus | nie-reis
| foto's
|