voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 
i | ii
raad & neigings

kanadese wintersportvakansies
bied veel meer as ski

   
jens friis
     

 

Die somtotaal van 'n wintersportvakansie is nie meer net ski nie. Oorde bied deesdae vele ander moontlikhede om toeriste te midde van die sneeu en ys aangenaam besig te hou.
Kanada bly nie agter nie. As wintersportland is dit nouliks bekend aan Suid-Afrikaners. Tog is daar weens sy grootte selde té veel mense, bied dit 'n wyer verskeidenheid as Oostenryk en Switserland en boonop kan die seisoen so laat as Junie duur.
Ons is op pad na 'n "auberges de la forêt" oftewel 'n wildernis-herberg. Hierdie oorde het groot kamers, knetterende kaggels, spa's en binnenhuise swembaddens. Fynproewer maaltye word bedien in uitsoek porselein op wit linne.
Vanaf Quebecstad lyk die besneeude pad deur die bosse eindeloos. Die groen denne is gepoeier met wit water. 'n Uil ruis deur die lug. Ons gids moet telkens rem vir herte wat die pad wil oorsteek. G'n mens kom ons teë.
By die hotel staan die sneeubromponies ingeryg. Hul geraas is g'n probleem. Hier is die wêreld wyd en dié "scooters" is doeltreffende vervoermiddels. By ontvangs sien ek 'n roete vir dié bromponies van 2 000 km met talle vulstasies, slaapplek ensomeer daarop aangedui.
Die winter het die rivier voor ons hotel verhard tot die gladheid van 'n spieël. Die ys is blykbaar 1 m diep. Die middag gaan ons daarin visvang. Geduld en dik klere is noodsaaklik. 'n Mus oor die ore, 'n dikke jas, 'n wolserp, handskoene en 'n langonderbroek is nie luukshede nie.
Met 'n 4 x 4 ry ons tot in die middel van die rivier. 'n Hotelwerker maak met 'n elektriese boor blitsig vir elk 'n gat in die ys en daarin gooi ons 'n lyn met lood, 'n haak en aas. Die vis byt nie onmiddellik nie en met 'n spaan moet ys uit die gat geskep word anders vries dit toe. Opwindend was die visvang nie juis, maar die aand kon ons darem elk 'n gevangde forel eet.
Baie Kanadese het houthutte in dié geweste. Té lank kan jy nie buite visvang nie en na binne moet jy gereeld gaan. Tog kla die Kanadese nie juis oor die koue nie - anders as ons in Suid-Afrika oor warmte en droogte.
Die vroue van die vissers bly gewoonlik tuis in die houthutte om die kaggel te stook, maaltye te berei en warm sjokolademelk te voorsien.
Dis dan ook in só 'n hut wat ons die volgende aand eet. Vir voorgereg is daar Franse ertjiesop, terwyl die hoofgereg bestaan uit 'n kaas-fondue of poutine (aartappelskyfies bedek met 'n vleissous en gesmelte kaas). Nagereg bestaan uit wafels met die stroop van esdorings (maple).
Na die ete is daar nog tyd vir ski. Só gewild is dit in Kanada dat die hellings verlig word tot 22:30. Inwoners van Ottawa, Quebecstad en Montreal kan sodoende na 'n werksdag nog uitry vir 'n ski-sessie.
Ski in Noord-Oos-Amerika het dan ook hier in die Quebecse Laurentians begin. Die eerste meganiese hystoestel van Noord-Amerika was in Idaho, maar skaars 'n jaar later is een geïnstalleer in Quebec.
Ski ("downhill" en "cross-country") is lank reeds nie meer die enigste sportsoort wat hier beoefen word nie. Yshokkie, wandeltogte, skaats en om teen ysrotswande uit te klouter is ook gewild.
Besoekers maak dikwels ook 'n draai in die dorpie L'Annonciation. Dis hier waar die skrywer Antoine de Saint-Exupéry van Die Klein Prinsie-faam gewoon het.
Dis in dié geweste wat ons sien hoe daar in 'n rubberboot teen ski-hellings afgegly word. "Rafting" noem hul dit. Jy moet self na bo klim, maar die sware bote word op getrek deur perde.
Tyd hiervoor is daar nie, maar die volgende dag klim ek alleen op 'n slee getrek deur Eskimo-honde.Opwindend? Ja. Moeilik? Nee. Die goed geleerde honde ken die roete al te goed wat hul moet volg.
In Wes-Kanada is wintersportvakansies net so gewild. Veral die Rocky-gebergtes is ideaal hiervoor. Calgary het reeds die Winter Olimpiese Spele aangebied en Whistler is menigmaal aangewys as Noord-Amerika se top ski-area.
 

j f

raad & neigings

boeremarkte floreer in kaliforniese stede

   
jens friis
     
"As jy nie 'n bobaas restaurant kan bedryf met dié nie, sal jy nooit kan nie," sê my reisgenoot terwyl ons deur die stalletjies vleg van die plaasmark in Santa Monica.
Hy't reg. Daar lê hul ingeryg: songeel Albertas tot bessierooi radyse ... Die hele boksemdais. Eersteklas. Douvars. Algar was voordag nog op die verkoper se land - 'n klipgooi ver.
"Die mens sloof hom af vir kos, maar sy honger woord nooit gestil nie," sê die filosofiese Prediker. Tog voel ek soos Riana Scheepers: "'n Mens moet bepaal wat vir jou 'n luukse is en dan sorg dat dit deel van jou lewe is." En as dit iets te ete is, waarom nie? Min bly so lekker as kos knap berei.
Skynbaar voel die Kaliforniërs dieselfde. Plaasmarkte gedy. Dit laat selfs Noord-Amerikaanse stadsharte herleef soos in San Luis Obispo, twee uur noord van Los Angeles.
Dié aandmark langs Higuerastraat is die kern van 'n stedelike herlewingsverhaal. In die 1970s het besighede verskuif vanaf die middestad na reuse, voorstedelike inkopiesentrums. Donderdagaande was die middestad grafstil. Vlugbal-aande het nie lewe gebring, maar ná 'n vleisbraai gereel in Higuerastraat het die middestad begint kook.
Sedert 1983 (dus reeds 20 jaar) speel vlamvlekke elke Donderdag oor boere se groente en vrugte. Die reuk van gerookte vark hang in die lug. Daar word appelsap gedrink. Geproe aan 'n tros kristalle. Orkeste probeer die kuierende kopers se aandag trek: "Vul jou spens by ons!", raai hul aan. G'n wonder nie San Luis Obispo is deur die National Trust for Historic Preservation vereer vir een van die vyf beste hoofstrate in die VSA.
Die Woendagmark in sonnige Santa Monica is die grootste in Kalifornië. En gróót is dit. Jou bene is later tam gestap, maar wat verwag jy ook? Hul sê as Kalifornië 'n onafhanklike land was, sou dié staat kon spog met die vyfde sterkste ekonomie ter wêreld.
Plaasmarkte het 'n manier geword vir kleinboere om te oorleef. Deesdae is daar 350 gelystes in Kalifornië teenoor 'n handvol in die 1970's. Ongetwyfeld voorsien dit in 'n aanvraag. Boere doen flink sake met professionele sjefs en hul huishoudelike eweknieë wat net die beste, varsste produkte verwag. Die tradisionele skakel tussen landbouer en dorpenaar word herstel. "Soms gaan dit selfs so ver dat 'n koper vir my onbekende sade bring wat ek plant en die produk dan 'n maand of wat later aan hul verkoop."
Die plaasmark word opelug terapie vir die maag én siel. Dit gaan oor die vrugte, groente en blomme, ja, maar ook oor die sosiale kontak en vermaak.
Dié markte gee altoos vir my 'n indruk van tydelikheid, 'n spartaanse bestaan in transito. Dis gedeeltelik reg, want mores verrys die mark en saans word dit afgebreek asof daar niks was nie. Tog is dit ook misleidend, want party van dié bewegende feeste bestaan reeds vir jare. Die piekseisoen is tussen April en Oktober, maar heelwat gaan voort selfs as dit ys-yskoud is soos Jack London Square in Oakland en Ferry Plaza in San Francisco.
Wat ek onthou van laasgenoemde is hoe 'n vrou met vlymskerpe lemme wierts-warts woerts-warts die lobbe van bosse wortels laat waai het. Dit alleenl was al genoeg rede vir 'n besoek.
* Wat Kalifornië se "Certified Farmers Markets" (CFM's) onderskei van supermarkte is dat boere by plaasmarkte net goedere mag verkoop wat hul self verbou of gemaak het. Dit beteken nie dat alles organies verbou is nie, alhoewel baie markte soos dié by Berkeley hul daarop prys dat hul oorgrote meerderheid goedere wel organies verbou is. Gebruik van die term "organies" word deur Kaliforniese reg beperk tot slegs daardie produkte wat verbou is op lande waar g'n sintetiese plaagdoders of kunsmis gebruik is in die afgelope drie jaar.

j f

raad & neigings

die suur en soet van rodeo drive

   
jens friis
     

Los Angeles. ``Hel'', het die Franse filosoof Jean-Paul Sartre gesê, ``is ander mense''. Nêrens is dié stelling straks meer waar as langs Rodeo Drive oor naweke nie.
Dis dan wanneer 'n mensemassa mekaar verdring langs Amerika se duurste inkopiestraat.
Veral Saterdae en Sondae krioel dit hier van sterbespieders. Hul stroom na Rodeo Drive, want dis dié plek in die Stad van Engele waar bekendes inkopies doen en gaan uiteet.
Een van die heel spoggerigste plekke is The Regent waar Richard Gere en Julia Roberts liefde gevind het in Pretty Woman. In die Lobby Lounge Restaurant word high tea bedien. Maar as jou begroting knap is, is Two Rodeo Drive die aangewese plek. Dis hier waar
McCormick & Schmick's Fish House hamburgers voorsit teen $1,95 dalk die grootste winskopie in Beverly Hills.
Vir sy grootte is die ware Rodeo Drive selfs eksklusiewer as New York se Fifth Avenue. By die winkel Bijan kan jy nie eens ingaan sonder 'n afspraak nie. Tog is dit die uitsondering. Jy's welkom by Chanel, Fendi, Christian Dior en Armani, selfs al bestee jy nie 'n duit nie. So ook by die winkels in Anderton Court een van die bekende argitek Frank Lloyd Wright se enigste voorbeelde van kleinhandel-argitektuur.
Buiten van die wêreld se duurste winkels, hotels en elegante huise, spog die straat ook met twee lushowe, Beverly Gardens en die Will Rogers Memorial.

j f

raad & neigings

rare parys-museums

   
jens friis
     

 
Ek't 'n vriendin wat reeds 13 maande in Parys woon te kort om 'n Parisiènne genoem te word nie, maar gelukkig lank genoeg om reeds omgangsmens te wees en die stad se nie-toeristekant te ken.
Wat is immers 'n groter seën in 'n vreemde stad as om 'n inwoner te ken wat jou belangstellings deel?
Só kan jy in 'n breukdeel sien wat vir jou dae sou neem kaart-in-die-hand. Om nie eens te praat nie van dit wat die toets van plaaslike inwoners deurstaan het, maar nie op die algemene paaie is nie.
Die Louvre, d'Orsay, Picasso, Rodin en Pompidou sal jy nie in jare uitkuier nie, maar as dié reuse jou 'n hol kol op die maag gee deurdat jy nie weet watter deel om eerste te besoek nie, is 'n kleiner museum dalk net die oplossing.
Hier is twee handevol museums wat nie in elke reisgidsboek te vinde is nie. Die goeters daarin uit vanmeleë se tyd mag ietwat raar klink, maar die gehalte uitstallings verhoed absurditeit.
Ná die gekrioelery in die moltreingange van Metro Opéra is Musée de la Parfumerie Fragonard 'n serene oase. Hierdie versameling vertel die verhaal van reukwater deur die eeue. Pragtige laventelvase, smuktassies en 'n uitstalling wat verduidelik hoe olies van plante onttrek word, maak hiervan deel uit.
Adem die aromas van Frankryk se wyne by die Museé du Vin (Square Charles Dickens, 5; Metro: Passy).
Of dit nou parfuum of wyn is, namaaksels het nog altyd gedy. By die Musée de la Contrefa€on (Rue de la Faisanderie 16, Metro: Porte Dauphine) word vervalsings tot selfs ná die Romeinse Ryk teruggespeur. Ruik hoe Chanel in Parys verskil van Sanel in Istanboel.
Die Museé de la Serrure (Rue de la Perle, 1, Metro: Chemin-Vert) en Musée des Lunettes et Lorgnettes (Av. Mozart 2, Metro: La Muette) is gespesialiseerd.
Eersgenoemde fokus op die ontwikkeling van die slot. Die ander is 'n private versameling bestaande uit duisende leesbrille, vergrootglase en verkykers.
'n Versameling uit Hongkong fokus op aspekte van die teater in Asië deur middel van maskers, marionette, kostuums, dokumente en musiekinstrumente. Die Musée Kwok-On (Rue des Francs-Bourgeois 41, Metro: Saint-Paul) sal jou aangenaam verras.
Só ook die Musée de Cinéma Henri-Langlois (Palais de Chaillot, Metro: Trocadéro) wat die ontwikkeling van flieks sedert 1895 uitbeeld. Vele kostuums en plakkate van onder meer Greta Garbo en John Wayne is te sien.
Maison de Victor Hugo is op sigself genoeg rede om aan te doen by dié skrywer se woning tussen 1832 tot 1848. Sy skakelhuis is een van vele wat die pragtige plein Place des Vosges in die Marais-woonbuurt omsoom.
Na dié skrywer is Av. Victor Hugo genoem. Straatnommer 50 huisves die Musée Dapper. In dié privaathuis word gefokus op kuns uit pre-koloniale Afrika.
Grootliks uit Afrika is ook die opgestopte trofeewild in die Musée de la Chasse et de la Nature (Rue des Archives, 60, Metro: Rambuteau). Gewere en kunswerke vereer die jagkuns daar.
As ek iewers heen gaan, hoop ek dat dit anders sal wees as die vertroude. Watter rede is daar om te reis as alle plekke dieselfde was? As jy hiermee saamstem sal bogenoemde museums jou soos 'n handskoen pas.
Die meeste kos nie 'n duit nie, terwyl geeneen meer as R35 vra nie.

j f

raad & neigings

hoe suid-afrikaans is maputo?

   
jens friis
     
 
Dit was Karel Schoeman wat eens in Onderweg geskryf het: "Jy kan 'n vreemde land nooit heeltemal onbevange besoek nie: jou aangebore vooroordele vergesel jou en jy meet alle dinge bewus of onbewus met die maatstawwe wat jy in jou bagasie saamdra."
En in hierdie bagasie staan jou tuisland voor-op. Suid-Afrika bly my verwysingspunt. Goed of sleg. Jy trek onbewustelik ooreenkomste en verskille soos jy ervaar en leer.
Opvallend is dat die Mosambiekiers jou nie teister met vra nie. Hulle wéét van Suid-Afrika. Baie werk by ons. Hul geboorteland herinner dikwels aan 'n veraf provinsie. Só eenders. Só anders.
By die lughawe is daar 'n SASOL-advertensie in Portugees. 'n Nando's en Steers flits verby. Koerantopskrifte langs die straat het dit oor bekende onderwerpe soos grondeise, privatisering en kinderprositusie.
Ons ry verby die plek waar Albie Sachs, die konstitusionele hofregter, sy regterarm verloor het in 'n bom deur Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte.
Voor elke behoorlike huis is daar 'n wag - voor Nelson en Graca se kasteel 'n paar. Langs kaias en konkavure staan eenderse meenthuise omring deur hoë mure.
Die taxi-bestuurder waarsku teen sakkerollers, maar vertroos: "As jy van Johannesburg kom is mens darem voorbereid hierop."
Tog is daar nie in Maputo die soort onderliggende aggressie van sommige Afrika-state nie. Die kanse dat jy vermoor of verkrag gaan word is skraler as in Suid-Afrika. Bedelaars teister jou nie voortdurend nie. Oraloor hoor jy die vriendelike "bom dia" (goeiedag in Portugees).
"Esta avariado" verskyn op vele borde in Mosambiek. Dit beteken "buitewerking" en was jammerlik vir jare verteenwoordigend van dié land. Nie dat dit altyd só was nie. Maputo het ek leer ken sonder om dit ooit te sien, want vir my ouers was Lourenço Marques in dieselfde geselskap as Rio of Kaapstad. Intussen het veel water egter gevloei in daardie Delagoabaai wat Louis Trichardt vir die Boere as hawe wou bekom.
In die parkeerterrein by die Polana-hotel staan die VN-geregistreerde 4x4's ingeryg en oor naweke het die helfte van die motors GP- en MP-nommerplate. Ook g'n wonder nie, want met die N4 voltooi, is Maputo nader aan Gauteng as Durban.
'n Vrou vertel later dat sy eerder inkopies doen in Nelspruit as Maputo. "Dis goedkoper daar en jy't 'n wyer keuse. Nelspruit is net twee uur met die hoofweg ver. Die Ressano Garcia-grenspos by Komatipoort gee ook al hoe minder probleme."
By die hotelwinkeltjie is onder meer Getaway, The Star en Business Day te koop. In ons kamer kan jy kyk na M-Net en SABC2.
En so word Maputo vir die Suid-Afrikaanse oog verbasend vertroud. Hier waar Afrika en Suid-Amerika ontmoet ís 'n verstommende sterk Suid-Afrikaanse inslag.
Op pad na die baixa of middestad verkoop 'n Mosambiekse man met 'n Springbok-pet Castle Lagers. By die sentrale mark is die galinha piri-piri (sterk gekruide hoender), matapas (kassawe-blaar-bredie) en bacalhau (gedroogde kabeljou) onbekend, maar die groente en vrugte is grootliks uit Suid-Afrika. Vir kasjoeneute kan ons betaal in Amerikaanse dollar, meticais (die plaaslike geldeenheid) en soos te wagte teen hierdie tyd ... ook die rand.
Nes Lesotho, Swaziland, Botswana, Namibië en Zimbabwe is dit duidelik watter buurland vir Mosambiek die meeste beïnvloed. Suid-Afrika is die spil waarom hierdie lande se ekonomieë grootliks wentel.
Daar word toenemend geglo dat die werklike toekoms van saketransaksies met Afrika nie slegs in handel lê nie, maar ook in betrokkenheid by gesamentlike ondernemings om die kontinent se ontsaglike natuurlike hulpbronne te ontwikkel. Beleggers van ontwikkelde lande is ontnugter deur investering in onproduktiewe skemas en vrugtelose ontwikkelingshulp.
Regerings, sakelui en hulpverleningsondernemings belê hul vaardighede en kapitaal in toenemende mate in lewensvatbare skemas soos die Lesotho-Hooglandwaterprojek, diamant- en soda-asmyne in Botswana en reuse-plantasies in Swaziland en die Gaza-Kruger-Gonarezhou-wildtuin tussen Suid-Afrika, Zimbabwe en Mosambiek.

j f

raad & neigings

suide van frankryk word aromaland

   
jens friis
     
 
foto's - elle decoration, anthony johnson

 
Olywe, appelkose, nougat, bougainvilleas, truffels, verbleikte pastelkleurige huisies, goudgeel sonneblomme . . . Dis waarvoor La Drôme Provencale in Suid-Frankryk geprys word. Aromaterapietoere begin nou ook in die gebied gedy. Hoe dan ook anders as tiemie, saffraan en kamille in dié geweste groei soos kosmos in die Noordoos-Vrystaat. Besoek die plek in die somer, Mei en Junie, wanneer die veldblomme reeds oop is, maar die Europeërs nog nie op hul somervakansie is nie. Die temperatuur is ideaal. Die hele jaar is die meeste tuine en distilleerderye oop in dorpies soos Laborel, La Motte Chalancon, Sainte-Eurphémie en Nyons. In Beaufort-sur-Gervanne en Maison des Arômes is groot uitstallings van kruie uit die gebied. Op plaasstalletjies is olies, kruiegerwe, kruie en produkte soos heuning teen 'n paar frank te kry. Deskundiges in aromaterapie, parfumerie, plantuitkenning en distillering is gewillig om oor die geheime van hul kuns uit te wei. Die meeste kan in Engels oor die weg kom. So vertel hulle dat 'n aromaterapie-velafskilferingsbehandeling baie doeltreffend is. Dit bestaan uit 'n velskoonmaakproses en 'n aromatiese behandeling wat die vel gloeiend en syglad maak. Aromaterapie is die geesteskind van die Franse chemikus René Maurice Gattefossé wat dié genesende metode per toeval ontdek het. Hy het sy hand verbrand en dit in laventelolie gedoop om af te koel. Die vinnige selvernuwing ná die ongeluk was verstommend. Terapeute glo al hoe meer dat 'n herbewuswording van jou sintuie allerhande kwinte en kwale, denkbeeldig of andersins, kan genees. Aromaterapie help om spanning te verlig, die liggaam te reinig, die liggaam se natuurlike, genesende kragte te aktiveer en homeostase te bevorder. Homeostase verwys na die balans in die liggaam tussen die werking van organe en oordragstowwe sodat die liggaam 'n gesonde ewewig behou. Franse toerismekantore bied brosjures en kaarte oor aromatiese tuine, oliedistilleerders, tradisionele seepfabrieke en organiese wynmakerye.

j f

 

raad & neigings

land só vars en slaggereed

   
jens friis
     
 

"Ek is só bang vir vlieg dat ek nie eintlik konsentreer op enigiets of werklik ontspan voor ek nie weer veilig met my voete op die grond staan nie," antwoord Koos Kombuis. My vervarsingsprosesse hou ek maar vir die eerste hotelkamer waar ek my daarna bevind."
Vir menige vliegliefhebber is dit egter 'n uitdaging om futloosheid op 'n lang vlug soos dié na Sydney of San Fransisco teë te werk. Die rede? Party wil dadelik rondkarjakker, terwyl besigheidslui dikwels so koel soos 'n komkommer die aankomsvertrek moet binnestap.
Wat neem Peter Veldsman saam aan boord?
"'n Suurlemoen," sê dié vermaarde koskenner. "Druk die sap uit en voeg by dié wat die lugdiens voorsit vir ontbyt. Dis ryk aan vitamien C, laat jou verfris en verbeter die geestestoestand. Vir natuurlike parfuum vryf die suurlemoenskil oor jou voorkop."
Vir befoeterdes in eerste- en besigheidsklas is yskoue, goeie sjampanje net die ding, meen hy. "Die alkohol gaan blitsig na die brein en jy ontspan vinnig. Dring aan op ekstra ys vir die houer om die bottel werklik koud te kry. As jy cattle-klas vlieg, drink so min alkohol as moontlik."
Hiermee stem Karin Hougaard saam. "'n Ou wyntjie of so help darem om al die lugramprolprente effens te vergeet, maar hou magtigheid voor oë. Drink baie water. Dit verminder vliegvoosheid."
"Om te kan kies waar ek wil sit, meld ek altyd vroeg aan," sê sy. "'n Sitplek langs die paadjie halfpad van die toilette is die beste. As jy té naby sit word jy dag en nag gesteur deur knypende wagtendes, maar té ver deug ook nie. Jy moet darem kan sien of daar 'n tou is! Ek bly maar lugtig vir etes. Soveel kan verkeerd gaan! Daarom eet ek net dit wat min kans het om eienaardige uitwerkings te hê.""
As daar 'n enkele filmskerm is bespreek Karin haar plek twee rye daarvandaan. "So sien jy goed sonder om nekpyn te kry."
Sy hou altyd 'n notaboekie en skryfding in haar handbagasie. So ook 'n reisgids van haar bestemming om verder te beplan aan ekskursies.
"Dis sinvol om 'n prioriteitslys op te stel - plekke wat gesien móét word en dit wat jy graag sou wou sien. Die res laat ek aan toeval oor. Min uitstappies is so opwindend as om op 'n voorstedelike trein of bus te klim, sommer by enige halte af te klim en van daar die omgewing te verken nie.
"Hoe korter die lengte van jou verblyf hoe deegliker moet jou tydsbesting beplan word."
Vir Brümilda van Rensburg is dit baie belangrik om te weet waar sy haar kop in die vreemde gaan neerlê, "maar verblyf is 'n probleem." Onder 3-sterre wil sy nie en met onse wisselkoers kos dit 'n fortuin. Sy vind dat webblaaie help, maar dat die meeste glad nie bied waarna sy soek nie.
"Maak afskrifte van jou reisdokumente," sê Karin. "Hou 'n stel in jou bagasie, laat afskrifte tuis en hou die oorspronklikes by jou. Sinvol is ook 'n paar reisigerstjeks in jou bagasie as nood-kitty," raai sy aan.
"Beperk handbagasie vir oornagvlugte tot net die noodsaaklikste. Dis moeilik as jy ekonomiese klas vlieg om by die bagasie uit te te kom. Die ideaal is dat jou bagasie kompak genoeg is om onder die stoel voor jou te pas."
"Die volgende wenk is werklik sinvol, maar sal beslis nie in modekringe waardeer word nie," sê Karin. "Deesdae is daar stapskoene in sandaalvorm. Dis perfek as jy baie gaan stap. Die grootste voordeel tydens die vlug is egter dat jy sokkies kan aantrek na gelang van die temperatuurverskille by jou vertrek en aankoms.
"As jou voete en hande baie swel tydens 'n vlug is dié sandale net die ding, want die bandjies kan verstel word. Die sokkies bly ook vars en van stapskoenvrot is daar nie sprake nie."

vliegwenke wat werk
  • Doen vroegtydig aansoek vir visums. Dit kan veel moeite en geld spaar as jy nie op die nippertjie nog moet rond en bont fakse stuur en koeriers inspan nie.
  • Vlugte word dikwels vertraag. Bel vanaf die huis om te hoor of joune nie ure laat is nie.
  • Sitplekke in die ry waar die nooduitgang is het gewoonlik meer beenspasie.
  • Dui met bespreking aan wat jy nie mag eet nie.
  • Dit loon om met dieselfde lugredery te vlieg. Só het jy voorkeur by die kies van sitplekke, word soms opgegradeer na besigheidsklas en kry ekstra myle as jy deel is van 'n frequent flyer-program.
  • Sluit tasse en sakke deeglik wat ingeweeg word, om 'n gestelery van jou goed te verminder.
  • Sorg dat daar 'n duidelike kontaknommer op jou bagasie verskyn. Dit is verkieslik bo 'n straatadres, want só kan skelms nie agterkom waar om te gaan inbreek terwyl jy elders is nie.
  • Kyk twee maal dat die korrekte bestemming aangebring word op die plakker op jou bagasie.
  • Maak seker dat jou tasse sterk is en hardhandig hanteer kan word. 'n Sterk seilband om daarom te bind is altyd 'n goeie belegging. Hoe meer onderskeidend hoe beter. Dit vergemaklik uitkenning. 'n Lughawe is een van die enigste plekke waar tasse onbewaak op 'n vervoerband beland. Omdat tasse dikwels dieselfde lyk is dit maklik vir 'n dief om dit weg te dra. As hy dalk by die kontrolepunt voorgekeer word kan die persoon bloot voorgee dat dit 'n glips was en dit verwar het my sy bagasie.
  • Sorg dat die nodigste (tandeborsel, medikasie ...) in jou handbagasie is, sou die ander bagasie verlore raak.
  • Bevestig 'n hotelbespreking voor vertrek - veral as jy laat gaan opdaag.
  • Maak seker dat daar genoeg skoon blaaie in jou paspoort is.
  • Vermy spitsuur vliegtye wat volgens die International Air Passengers Association tussen 08:30-10:00 en 16:30-18:30 is. Vlieg eerder vroeër in die dag as later sodat jy jou kan vergewis van jou bestemming.
  • Neem eetgoed en iets te lese saam. Vlugte word soms lank vertraag. Al bring jy net 'n appel en 'n Huisgenoot te voorskyn, sal jou honger en verveelde mede-passasiers jou beny.
  • Reis superlig. Dit kan egter makliker gesê as gedaan wees as jy nie 'n magdom kreukelvrye klere het nie.
  • Iemand het eens gesê dat bombastiese mense die wêreld besit - en is dit nie waar wat betref vliegtuigsitplekke nie. Jou buurman voor jou gaan waarskynlik sy stoel 'n paar grade agteroor tilt voordat hy probeer slaap. Moenie jammer wees dat jy van die ruimte agter jóú gaan opeis deur dieselfde te doen nie.
  • 'n Hoefvormige, opblaasbare kussing kan keer dat jou kop knik as jy lekker dut.
  • Smeer genoeg room aan jou vel. Die lugverkoeling droog dit uit. Heelwat water help ook.
  • Trek gerus jou skoene uit, maar maak seker dat jy heel, skoon sokkies dra.
  • Diep-aar trombose het die bynaam "ekonomiese klas sindroom" gekry omdat die klein ruimte waarin passasiers in vliegtuie sit, glo die vorming van bloedklonte in die been veroorsaak. Dit kan teëgewerk word deur gereeld op te staan en rond te stap. Masseer jou voete en bene. Drink aspirien wat die bloed verdun.
  • Moenie vergeet dat vliegtuigtoilette altyd druk besoek word net ná ontbyt en voor landing nie.
  • X-straalmasjiene op sommige lughawens is geneig om spookbeelde op films te veroorsaak. Vra dat jou films buitenom aangegee word. Rolletjies met 'n ontwikkelingsindeks van 400 of laer is egter relatief bestand hierteen.
  • Hou 'n kaart van die stad waar jy land byderhand.
  • Kyk na die kleingeld wat aan jou gegee word in 'n vreemde land. Dit is maklik om kleingeld uit te keer deur te maak asof jy met 'n $10 betaal het waar jy inderdaad 'n $20 gegee het.

 


j f

i | ii
     
voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's