voorblad
| bestemmings | raad
& neigings | reisnuus | nie-reis
| foto's
|
| i
| ii |
|
|
raad
& neigings
kanadese
wintersportvakansies
bied veel meer as ski
|
|
jens
friis
|
|
|
Die
somtotaal van 'n wintersportvakansie is nie meer net ski nie.
Oorde bied deesdae vele ander moontlikhede om toeriste te midde
van die sneeu en ys aangenaam besig te hou.
Kanada bly nie agter nie. As wintersportland is dit nouliks
bekend aan Suid-Afrikaners. Tog is daar weens sy grootte selde
té veel mense, bied dit 'n wyer verskeidenheid as Oostenryk
en Switserland en boonop kan die seisoen so laat as Junie duur.
Ons is op pad na 'n "auberges de la forêt" oftewel
'n wildernis-herberg. Hierdie oorde het groot kamers, knetterende
kaggels, spa's en binnenhuise swembaddens. Fynproewer maaltye
word bedien in uitsoek porselein op wit linne.
Vanaf Quebecstad lyk die besneeude pad deur die bosse eindeloos.
Die groen denne is gepoeier met wit water. 'n Uil ruis deur
die lug. Ons gids moet telkens rem vir herte wat die pad wil
oorsteek. G'n mens kom ons teë.
By die hotel staan die sneeubromponies ingeryg. Hul geraas is
g'n probleem. Hier is die wêreld wyd en dié "scooters"
is doeltreffende vervoermiddels. By ontvangs sien ek 'n roete
vir dié bromponies van 2 000 km met talle vulstasies,
slaapplek ensomeer daarop aangedui.
Die winter het die rivier voor ons hotel verhard tot die gladheid
van 'n spieël. Die ys is blykbaar 1 m diep. Die middag
gaan ons daarin visvang. Geduld en dik klere is noodsaaklik.
'n Mus oor die ore, 'n dikke jas, 'n wolserp, handskoene en
'n langonderbroek is nie luukshede nie.
Met 'n 4 x 4 ry ons tot in die middel van die rivier. 'n Hotelwerker
maak met 'n elektriese boor blitsig vir elk 'n gat in die ys
en daarin gooi ons 'n lyn met lood, 'n haak en aas. Die vis
byt nie onmiddellik nie en met 'n spaan moet ys uit die gat
geskep word anders vries dit toe. Opwindend was die visvang
nie juis, maar die aand kon ons darem elk 'n gevangde forel
eet.
Baie Kanadese het houthutte in dié geweste. Té
lank kan jy nie buite visvang nie en na binne moet jy gereeld
gaan. Tog kla die Kanadese nie juis oor die koue nie - anders
as ons in Suid-Afrika oor warmte en droogte.
Die vroue van die vissers bly gewoonlik tuis in die houthutte
om die kaggel te stook, maaltye te berei en warm sjokolademelk
te voorsien.
Dis dan ook in só 'n hut wat ons die volgende aand eet.
Vir voorgereg is daar Franse ertjiesop, terwyl die hoofgereg
bestaan uit 'n kaas-fondue of poutine (aartappelskyfies bedek
met 'n vleissous en gesmelte kaas). Nagereg bestaan uit wafels
met die stroop van esdorings (maple).
Na die ete is daar nog tyd vir ski. Só gewild is dit
in Kanada dat die hellings verlig word tot 22:30. Inwoners van
Ottawa, Quebecstad en Montreal kan sodoende na 'n werksdag nog
uitry vir 'n ski-sessie.
Ski in Noord-Oos-Amerika het dan ook hier in die Quebecse Laurentians
begin. Die eerste meganiese hystoestel van Noord-Amerika was
in Idaho, maar skaars 'n jaar later is een geïnstalleer
in Quebec.
Ski ("downhill" en "cross-country") is lank
reeds nie meer die enigste sportsoort wat hier beoefen word
nie. Yshokkie, wandeltogte, skaats en om teen ysrotswande uit
te klouter is ook gewild.
Besoekers maak dikwels ook 'n draai in die dorpie L'Annonciation.
Dis hier waar die skrywer Antoine de Saint-Exupéry van
Die Klein Prinsie-faam gewoon het.
Dis in dié geweste wat ons sien hoe daar in 'n rubberboot
teen ski-hellings afgegly word. "Rafting" noem hul
dit. Jy moet self na bo klim, maar die sware bote word op getrek
deur perde.
Tyd hiervoor is daar nie, maar die volgende dag klim ek alleen
op 'n slee getrek deur Eskimo-honde.Opwindend? Ja. Moeilik?
Nee. Die goed geleerde honde ken die roete al te goed wat hul
moet volg.
In Wes-Kanada is wintersportvakansies net so gewild. Veral die
Rocky-gebergtes is ideaal hiervoor. Calgary het reeds die Winter
Olimpiese Spele aangebied en Whistler is menigmaal aangewys
as Noord-Amerika se top ski-area.
|

j
f
|
|
|
|
raad
& neigings
boeremarkte
floreer in kaliforniese stede
|
|
jens
friis
|
|
"As
jy nie 'n bobaas restaurant kan bedryf met dié nie, sal jy nooit
kan nie," sê my reisgenoot terwyl ons deur die stalletjies
vleg van die plaasmark in Santa Monica.
Hy't reg. Daar lê hul ingeryg: songeel Albertas tot bessierooi radyse
... Die hele boksemdais. Eersteklas. Douvars. Algar was voordag nog op
die verkoper se land - 'n klipgooi ver.
"Die mens sloof hom af vir kos, maar sy honger woord nooit gestil
nie," sê die filosofiese Prediker. Tog voel ek soos Riana Scheepers:
"'n Mens moet bepaal wat vir jou 'n luukse is en dan sorg dat dit
deel van jou lewe is." En as dit iets te ete is, waarom nie? Min
bly so lekker as kos knap berei.
Skynbaar voel die Kaliforniërs dieselfde. Plaasmarkte gedy. Dit laat
selfs Noord-Amerikaanse stadsharte herleef soos in San Luis Obispo, twee
uur noord van Los Angeles.
Dié aandmark langs Higuerastraat is die kern van 'n stedelike herlewingsverhaal.
In die 1970s het besighede verskuif vanaf die middestad na reuse, voorstedelike
inkopiesentrums. Donderdagaande was die middestad grafstil. Vlugbal-aande
het nie lewe gebring, maar ná 'n vleisbraai gereel in Higuerastraat
het die middestad begint kook.
Sedert 1983 (dus reeds 20 jaar) speel vlamvlekke elke Donderdag oor boere
se groente en vrugte. Die reuk van gerookte vark hang in die lug. Daar
word appelsap gedrink. Geproe aan 'n tros kristalle. Orkeste probeer die
kuierende kopers se aandag trek: "Vul jou spens by ons!", raai
hul aan. G'n wonder nie San Luis Obispo is deur die National Trust for
Historic Preservation vereer vir een van die vyf beste hoofstrate in die
VSA.
Die Woendagmark in sonnige Santa Monica is die grootste in Kalifornië.
En gróót is dit. Jou bene is later tam gestap, maar wat
verwag jy ook? Hul sê as Kalifornië 'n onafhanklike land was,
sou dié staat kon spog met die vyfde sterkste ekonomie ter wêreld.
Plaasmarkte het 'n manier geword vir kleinboere om te oorleef. Deesdae
is daar 350 gelystes in Kalifornië teenoor 'n handvol in die 1970's.
Ongetwyfeld voorsien dit in 'n aanvraag. Boere doen flink sake met professionele
sjefs en hul huishoudelike eweknieë wat net die beste, varsste produkte
verwag. Die tradisionele skakel tussen landbouer en dorpenaar word herstel.
"Soms gaan dit selfs so ver dat 'n koper vir my onbekende sade bring
wat ek plant en die produk dan 'n maand of wat later aan hul verkoop."
Die plaasmark word opelug terapie vir die maag én siel. Dit gaan
oor die vrugte, groente en blomme, ja, maar ook oor die sosiale kontak
en vermaak.
Dié markte gee altoos vir my 'n indruk van tydelikheid, 'n spartaanse
bestaan in transito. Dis gedeeltelik reg, want mores verrys die mark en
saans word dit afgebreek asof daar niks was nie. Tog is dit ook misleidend,
want party van dié bewegende feeste bestaan reeds vir jare. Die
piekseisoen is tussen April en Oktober, maar heelwat gaan voort selfs
as dit ys-yskoud is soos Jack London Square in Oakland en Ferry Plaza
in San Francisco.
Wat ek onthou van laasgenoemde is hoe 'n vrou met vlymskerpe lemme wierts-warts
woerts-warts die lobbe van bosse wortels laat waai het. Dit alleenl was
al genoeg rede vir 'n besoek.
* Wat Kalifornië se "Certified Farmers Markets" (CFM's)
onderskei van supermarkte is dat boere by plaasmarkte net goedere mag
verkoop wat hul self verbou of gemaak het. Dit beteken nie dat alles organies
verbou is nie, alhoewel baie markte soos dié by Berkeley hul daarop
prys dat hul oorgrote meerderheid goedere wel organies verbou is. Gebruik
van die term "organies" word deur Kaliforniese reg beperk tot
slegs daardie produkte wat verbou is op lande waar g'n sintetiese plaagdoders
of kunsmis gebruik is in die afgelope drie jaar.
j
f
|
|
|
raad
& neigings
die
suur en soet van rodeo drive
|
|
jens
friis
|
|
Los Angeles.
``Hel'', het die Franse filosoof Jean-Paul Sartre gesê, ``is ander
mense''. Nêrens is dié stelling straks meer waar as langs
Rodeo Drive oor naweke nie.
Dis dan wanneer 'n mensemassa mekaar verdring langs Amerika se duurste
inkopiestraat.
Veral Saterdae en Sondae krioel dit hier van sterbespieders. Hul stroom
na Rodeo Drive, want dis dié plek in die Stad van Engele waar bekendes
inkopies doen en gaan uiteet.
Een van die heel spoggerigste plekke is The Regent waar Richard Gere en
Julia Roberts liefde gevind het in Pretty Woman. In die Lobby Lounge Restaurant
word high tea bedien. Maar as jou begroting knap is, is Two Rodeo Drive
die aangewese plek. Dis hier waar
McCormick & Schmick's Fish House hamburgers voorsit teen $1,95 dalk
die grootste winskopie in Beverly Hills.
Vir sy grootte is die ware Rodeo Drive selfs eksklusiewer as New York
se Fifth Avenue. By die winkel Bijan kan jy nie eens ingaan sonder 'n
afspraak nie. Tog is dit die uitsondering. Jy's welkom by Chanel, Fendi,
Christian Dior en Armani, selfs al bestee jy nie 'n duit nie. So ook by
die winkels in Anderton Court een van die bekende argitek Frank Lloyd
Wright se enigste voorbeelde van kleinhandel-argitektuur.
Buiten van die wêreld se duurste winkels, hotels en elegante huise,
spog die straat ook met twee lushowe, Beverly Gardens en die Will Rogers
Memorial.
j
f
|
|
|
raad
& neigings
rare
parys-museums
|
|
jens
friis
|
|
|
Ek't 'n vriendin
wat reeds 13 maande in Parys woon te kort om 'n Parisiènne
genoem te word nie, maar gelukkig lank genoeg om reeds omgangsmens
te wees en die stad se nie-toeristekant te ken.
Wat is immers 'n groter seën in 'n vreemde stad as om 'n
inwoner te ken wat jou belangstellings deel?
Só kan jy in 'n breukdeel sien wat vir jou dae sou neem
kaart-in-die-hand. Om nie eens te praat nie van dit wat die
toets van plaaslike inwoners deurstaan het, maar nie op die
algemene paaie is nie.
Die Louvre, d'Orsay, Picasso, Rodin en Pompidou sal jy nie in
jare uitkuier nie, maar as dié reuse jou 'n hol kol op
die maag gee deurdat jy nie weet watter deel om eerste te besoek
nie, is 'n kleiner museum dalk net die oplossing.
Hier is twee handevol museums wat nie in elke reisgidsboek te
vinde is nie. Die goeters daarin uit vanmeleë se tyd mag
ietwat raar klink, maar die gehalte uitstallings verhoed absurditeit.
Ná die gekrioelery in die moltreingange van Metro Opéra
is Musée de la Parfumerie Fragonard 'n serene oase. Hierdie
versameling vertel die verhaal van reukwater deur die eeue.
Pragtige laventelvase, smuktassies en 'n uitstalling wat verduidelik
hoe olies van plante onttrek word, maak hiervan deel uit.
Adem die aromas van Frankryk se wyne by die Museé du
Vin (Square Charles Dickens, 5; Metro: Passy).
Of dit nou parfuum of wyn is, namaaksels het nog altyd gedy.
By die Musée de la Contrefa€on (Rue de la Faisanderie
16, Metro: Porte Dauphine) word vervalsings tot selfs ná
die Romeinse Ryk teruggespeur. Ruik hoe Chanel in Parys verskil
van Sanel in Istanboel.
Die Museé de la Serrure (Rue de la Perle, 1, Metro: Chemin-Vert)
en Musée des Lunettes et Lorgnettes (Av. Mozart 2, Metro:
La Muette) is gespesialiseerd.
Eersgenoemde fokus op die ontwikkeling van die slot. Die ander
is 'n private versameling bestaande uit duisende leesbrille,
vergrootglase en verkykers.
'n Versameling uit Hongkong fokus op aspekte van die teater
in Asië deur middel van maskers, marionette, kostuums,
dokumente en musiekinstrumente. Die Musée Kwok-On (Rue
des Francs-Bourgeois 41, Metro: Saint-Paul) sal jou aangenaam
verras.
Só ook die Musée de Cinéma Henri-Langlois
(Palais de Chaillot, Metro: Trocadéro) wat die ontwikkeling
van flieks sedert 1895 uitbeeld. Vele kostuums en plakkate van
onder meer Greta Garbo en John Wayne is te sien.
Maison de Victor Hugo is op sigself genoeg rede om aan te doen
by dié skrywer se woning tussen 1832 tot 1848. Sy skakelhuis
is een van vele wat die pragtige plein Place des Vosges in die
Marais-woonbuurt omsoom.
Na dié skrywer is Av. Victor Hugo genoem. Straatnommer
50 huisves die Musée Dapper. In dié privaathuis
word gefokus op kuns uit pre-koloniale Afrika.
Grootliks uit Afrika is ook die opgestopte trofeewild in die
Musée de la Chasse et de la Nature (Rue des Archives,
60, Metro: Rambuteau). Gewere en kunswerke vereer die jagkuns
daar.
As ek iewers heen gaan, hoop ek dat dit anders sal wees as die
vertroude. Watter rede is daar om te reis as alle plekke dieselfde
was? As jy hiermee saamstem sal bogenoemde museums jou soos
'n handskoen pas.
Die meeste kos nie 'n duit nie, terwyl geeneen meer as R35 vra
nie.
j
f
|
|
|
|
raad
& neigings
hoe
suid-afrikaans is maputo?
|
|
jens
friis
|
|
|
Dit was Karel Schoeman wat eens in Onderweg geskryf het: "Jy
kan 'n vreemde land nooit heeltemal onbevange besoek nie: jou
aangebore vooroordele vergesel jou en jy meet alle dinge bewus
of onbewus met die maatstawwe wat jy in jou bagasie saamdra."
En in hierdie bagasie staan jou tuisland voor-op. Suid-Afrika
bly my verwysingspunt. Goed of sleg. Jy trek onbewustelik ooreenkomste
en verskille soos jy ervaar en leer.
Opvallend is dat die Mosambiekiers jou nie teister met vra nie.
Hulle wéét van Suid-Afrika. Baie werk by ons.
Hul geboorteland herinner dikwels aan 'n veraf provinsie. Só
eenders. Só anders.
By die lughawe is daar 'n SASOL-advertensie in Portugees. 'n
Nando's en Steers flits verby. Koerantopskrifte langs die straat
het dit oor bekende onderwerpe soos grondeise, privatisering
en kinderprositusie.
Ons ry verby die plek waar Albie Sachs, die konstitusionele
hofregter, sy regterarm verloor het in 'n bom deur Suid-Afrikaanse
veiligheidsmagte.
Voor elke behoorlike huis is daar 'n wag - voor Nelson en Graca
se kasteel 'n paar. Langs kaias en konkavure staan eenderse
meenthuise omring deur hoë mure.
Die taxi-bestuurder waarsku teen sakkerollers, maar vertroos:
"As jy van Johannesburg kom is mens darem voorbereid hierop."
Tog is daar nie in Maputo die soort onderliggende aggressie
van sommige Afrika-state nie. Die kanse dat jy vermoor of verkrag
gaan word is skraler as in Suid-Afrika. Bedelaars teister jou
nie voortdurend nie. Oraloor hoor jy die vriendelike "bom
dia" (goeiedag in Portugees).
"Esta avariado" verskyn op vele borde in Mosambiek.
Dit beteken "buitewerking" en was jammerlik vir jare
verteenwoordigend van dié land. Nie dat dit altyd só
was nie. Maputo het ek leer ken sonder om dit ooit te sien,
want vir my ouers was Lourenço Marques in dieselfde geselskap
as Rio of Kaapstad. Intussen het veel water egter gevloei in
daardie Delagoabaai wat Louis Trichardt vir die Boere as hawe
wou bekom.
In die parkeerterrein by die Polana-hotel staan die VN-geregistreerde
4x4's ingeryg en oor naweke het die helfte van die motors GP-
en MP-nommerplate. Ook g'n wonder nie, want met die N4 voltooi,
is Maputo nader aan Gauteng as Durban.
'n Vrou vertel later dat sy eerder inkopies doen in Nelspruit
as Maputo. "Dis goedkoper daar en jy't 'n wyer keuse. Nelspruit
is net twee uur met die hoofweg ver. Die Ressano Garcia-grenspos
by Komatipoort gee ook al hoe minder probleme."
By die hotelwinkeltjie is onder meer Getaway, The Star en Business
Day te koop. In ons kamer kan jy kyk na M-Net en SABC2.
En so word Maputo vir die Suid-Afrikaanse oog verbasend vertroud.
Hier waar Afrika en Suid-Amerika ontmoet ís 'n verstommende
sterk Suid-Afrikaanse inslag.
Op pad na die baixa of middestad verkoop 'n Mosambiekse man
met 'n Springbok-pet Castle Lagers. By die sentrale mark is
die galinha piri-piri (sterk gekruide hoender), matapas (kassawe-blaar-bredie)
en bacalhau (gedroogde kabeljou) onbekend, maar die groente
en vrugte is grootliks uit Suid-Afrika. Vir kasjoeneute kan
ons betaal in Amerikaanse dollar, meticais (die plaaslike geldeenheid)
en soos te wagte teen hierdie tyd ... ook die rand.
Nes Lesotho, Swaziland, Botswana, Namibië en Zimbabwe is
dit duidelik watter buurland vir Mosambiek die meeste beïnvloed.
Suid-Afrika is die spil waarom hierdie lande se ekonomieë
grootliks wentel.
Daar word toenemend geglo dat die werklike toekoms van saketransaksies
met Afrika nie slegs in handel lê nie, maar ook in betrokkenheid
by gesamentlike ondernemings om die kontinent se ontsaglike
natuurlike hulpbronne te ontwikkel. Beleggers van ontwikkelde
lande is ontnugter deur investering in onproduktiewe skemas
en vrugtelose ontwikkelingshulp.
Regerings, sakelui en hulpverleningsondernemings belê
hul vaardighede en kapitaal in toenemende mate in lewensvatbare
skemas soos die Lesotho-Hooglandwaterprojek, diamant- en soda-asmyne
in Botswana en reuse-plantasies in Swaziland en die Gaza-Kruger-Gonarezhou-wildtuin
tussen Suid-Afrika, Zimbabwe en Mosambiek.
j
f
|
|
|
|
raad
& neigings
suide
van frankryk word aromaland
|
|
jens
friis
|
|
|
|
|
|
foto's
- elle decoration, anthony johnson
|
Olywe, appelkose,
nougat, bougainvilleas, truffels, verbleikte pastelkleurige
huisies, goudgeel sonneblomme . . . Dis waarvoor La Drôme
Provencale in Suid-Frankryk geprys word. Aromaterapietoere begin
nou ook in die gebied gedy. Hoe dan ook anders as tiemie, saffraan
en kamille in dié geweste groei soos kosmos in die Noordoos-Vrystaat.
Besoek die plek in die somer, Mei en Junie, wanneer die veldblomme
reeds oop is, maar die Europeërs nog nie op hul somervakansie
is nie. Die temperatuur is ideaal. Die hele jaar is die meeste
tuine en distilleerderye oop in dorpies soos Laborel, La Motte
Chalancon, Sainte-Eurphémie en Nyons. In Beaufort-sur-Gervanne
en Maison des Arômes is groot uitstallings van kruie uit
die gebied. Op plaasstalletjies is olies, kruiegerwe, kruie
en produkte soos heuning teen 'n paar frank te kry. Deskundiges
in aromaterapie, parfumerie, plantuitkenning en distillering
is gewillig om oor die geheime van hul kuns uit te wei. Die
meeste kan in Engels oor die weg kom. So vertel hulle dat 'n
aromaterapie-velafskilferingsbehandeling baie doeltreffend is.
Dit bestaan uit 'n velskoonmaakproses en 'n aromatiese behandeling
wat die vel gloeiend en syglad maak. Aromaterapie is die geesteskind
van die Franse chemikus René Maurice Gattefossé
wat dié genesende metode per toeval ontdek het. Hy het
sy hand verbrand en dit in laventelolie gedoop om af te koel.
Die vinnige selvernuwing ná die ongeluk was verstommend.
Terapeute glo al hoe meer dat 'n herbewuswording van jou sintuie
allerhande kwinte en kwale, denkbeeldig of andersins, kan genees.
Aromaterapie help om spanning te verlig, die liggaam te reinig,
die liggaam se natuurlike, genesende kragte te aktiveer en homeostase
te bevorder. Homeostase verwys na die balans in die liggaam
tussen die werking van organe en oordragstowwe sodat die liggaam
'n gesonde ewewig behou. Franse toerismekantore bied brosjures
en kaarte oor aromatiese tuine, oliedistilleerders, tradisionele
seepfabrieke en organiese wynmakerye.
j
f
|
|
|
|
raad
& neigings
land
só vars en slaggereed
|
|
jens
friis
|
| |
|
|
"Ek is só bang vir vlieg dat ek nie eintlik konsentreer op
enigiets of werklik ontspan voor ek nie weer veilig met my voete
op die grond staan nie," antwoord Koos Kombuis. My vervarsingsprosesse
hou ek maar vir die eerste hotelkamer waar ek my daarna bevind."
Vir menige vliegliefhebber is dit egter 'n uitdaging om futloosheid
op 'n lang vlug soos dié na Sydney of San Fransisco teë te werk.
Die rede? Party wil dadelik rondkarjakker, terwyl besigheidslui
dikwels so koel soos 'n komkommer die aankomsvertrek moet binnestap.
Wat neem Peter Veldsman saam aan boord?
"'n Suurlemoen," sê dié vermaarde koskenner. "Druk
die sap uit en voeg by dié wat die lugdiens voorsit vir ontbyt.
Dis ryk aan vitamien C, laat jou verfris en verbeter die geestestoestand.
Vir natuurlike parfuum vryf die suurlemoenskil oor jou voorkop."
Vir befoeterdes in eerste- en besigheidsklas is yskoue, goeie
sjampanje net die ding, meen hy. "Die alkohol gaan blitsig
na die brein en jy ontspan vinnig. Dring aan op ekstra ys vir
die houer om die bottel werklik koud te kry. As jy cattle-klas
vlieg, drink so min alkohol as moontlik."
Hiermee stem Karin Hougaard saam. "'n Ou wyntjie of so help
darem om al die lugramprolprente effens te vergeet, maar hou magtigheid
voor oë. Drink baie water. Dit verminder vliegvoosheid."
"Om te kan kies waar ek wil sit, meld ek altyd vroeg aan,"
sê sy. "'n Sitplek langs die paadjie halfpad van die toilette
is die beste. As jy té naby sit word jy dag en nag gesteur deur
knypende wagtendes, maar té ver deug ook nie. Jy moet darem kan
sien of daar 'n tou is! Ek bly maar lugtig vir etes. Soveel kan
verkeerd gaan! Daarom eet ek net dit wat min kans het om eienaardige
uitwerkings te hê.""
As daar 'n enkele filmskerm is bespreek Karin haar plek twee rye
daarvandaan. "So sien jy goed sonder om nekpyn te kry."
Sy hou altyd 'n notaboekie en skryfding in haar handbagasie. So
ook 'n reisgids van haar bestemming om verder te beplan aan ekskursies.
"Dis sinvol om 'n prioriteitslys op te stel - plekke wat
gesien móét word en dit wat jy graag sou wou sien. Die res laat
ek aan toeval oor. Min uitstappies is so opwindend as om op 'n
voorstedelike trein of bus te klim, sommer by enige halte af te
klim en van daar die omgewing te verken nie.
"Hoe korter die lengte van jou verblyf hoe deegliker moet
jou tydsbesting beplan word."
Vir Brümilda van Rensburg is dit baie belangrik om te weet waar
sy haar kop in die vreemde gaan neerlê, "maar verblyf is
'n probleem." Onder 3-sterre wil sy nie en met onse wisselkoers
kos dit 'n fortuin. Sy vind dat webblaaie help, maar dat die meeste
glad nie bied waarna sy soek nie.
"Maak afskrifte van jou reisdokumente," sê Karin. "Hou
'n stel in jou bagasie, laat afskrifte tuis en hou die oorspronklikes
by jou. Sinvol is ook 'n paar reisigerstjeks in jou bagasie as
nood-kitty," raai sy aan.
"Beperk handbagasie vir oornagvlugte tot net die noodsaaklikste.
Dis moeilik as jy ekonomiese klas vlieg om by die bagasie uit
te te kom. Die ideaal is dat jou bagasie kompak genoeg is om onder
die stoel voor jou te pas."
"Die volgende wenk is werklik sinvol, maar sal beslis nie
in modekringe waardeer word nie," sê Karin. "Deesdae
is daar stapskoene in sandaalvorm. Dis perfek as jy baie gaan
stap. Die grootste voordeel tydens die vlug is egter dat jy sokkies
kan aantrek na gelang van die temperatuurverskille by jou vertrek
en aankoms.
"As jou voete en hande baie swel tydens 'n vlug is dié sandale
net die ding, want die bandjies kan verstel word. Die sokkies
bly ook vars en van stapskoenvrot is daar nie sprake nie."
|
vliegwenke
wat werk
|
|
|
- Neem
eetgoed en iets te lese saam. Vlugte word soms lank vertraag.
Al bring jy net 'n appel en 'n Huisgenoot te voorskyn, sal
jou honger en verveelde mede-passasiers jou beny.
- Reis
superlig. Dit kan egter makliker gesê as gedaan wees as jy
nie 'n magdom kreukelvrye klere het nie.
- Iemand
het eens gesê dat bombastiese mense die wêreld besit - en
is dit nie waar wat betref vliegtuigsitplekke nie. Jou buurman
voor jou gaan waarskynlik sy stoel 'n paar grade agteroor
tilt voordat hy probeer slaap. Moenie jammer wees dat jy van
die ruimte agter jóú gaan opeis deur dieselfde te doen nie.
- 'n
Hoefvormige, opblaasbare kussing kan keer dat jou kop knik
as jy lekker dut.
- Smeer
genoeg room aan jou vel. Die lugverkoeling droog dit uit.
Heelwat water help ook.
- Trek
gerus jou skoene uit, maar maak seker dat jy heel, skoon sokkies
dra.
- Diep-aar
trombose het die bynaam "ekonomiese klas sindroom"
gekry omdat die klein ruimte waarin passasiers in vliegtuie
sit, glo die vorming van bloedklonte in die been veroorsaak.
Dit kan teëgewerk word deur gereeld op te staan en rond te
stap. Masseer jou voete en bene. Drink aspirien wat die bloed
verdun.
- Moenie
vergeet dat vliegtuigtoilette altyd druk besoek word net ná
ontbyt en voor landing nie.
- X-straalmasjiene
op sommige lughawens is geneig om spookbeelde op films te
veroorsaak. Vra dat jou films buitenom aangegee word. Rolletjies
met 'n ontwikkelingsindeks van 400 of laer is egter relatief
bestand hierteen.
- Hou
'n kaart van die stad waar jy land byderhand.
- Kyk
na die kleingeld wat aan jou gegee word in 'n vreemde land.
Dit is maklik om kleingeld uit te keer deur te maak asof jy
met 'n $10 betaal het waar jy inderdaad 'n $20 gegee het.
|
|
j
f
|
| i
| ii |
voorblad
| bestemmings | raad
& neigings | reisnuus | nie-reis
| foto's |