voorblad
| bestemmings | raad
& neigings | reisnuus | nie-reis
| foto's
|
| i
| ii |
|
|
raad
& neigings
dijon
in 'n potjie mosterd
|
|
jens
friis
|
|
By
‘n vleistoonbank in Dijon lê langs lamtjops en salami’s ander Galliese
rykdom.
Só is daar stringe wit ingewande, beesbeenmurg en vleis gepreserveer met
eendvet.
“Om
soos steak te braai,” lees ‘n aanwysing by die orgaan wat meestal met
liefde geassosieer word. Buiten hierdie hart van die vark lê sy voete,
keel, ore en tepels gereed vir verkoop.
Die brein van ‘n bees lyk soos ‘n anatomiemodel.
Die snoet van ‘n os is deel van ‘n kouevleisslaai.
“Dít is Dijon,” het M.F.K. Fisher geskryf, “wat die Boergondiërs versekerd
en met veel teëstribbeling “die gastronomiese hoofstad van die wêreld”
noem.”
Nietemin is die kos (wat soms beter is om nie te weet wat dit is nie)
sonder twyfel elke sent werd. Selfs ‘n doodgewone toebroodjie of koue
hoenderboudjie is ‘n feesmaal.
Waarom? Ek wens ek
weet, maar bydraende faktore is verseker die liefde waarmee die kos gemaak
word en dat die produkte direk van die landerye kom.
Die lewe in Boergondië kom rustig voor. Anders as te verwagte.
Dis immers van hier wat magtige hertogte die septer geswaai het
oor groot dele van Wes-Europa. Dan
is daar ook die naam Bourgogne (in Frans) wat oraloor geassosieer word
met duur, gekoesterde wyn.
‘n Vinniger lewenspas sou jy verwag, maar soos ons kelner opmerk:
“Hier verwys life in the
fast lane uitsluitend na die A6-snelweg. Nét hierop word daar gejaag
na Parys noordwes van hier.”
Ons eet by die Restaurant de la Porte Guillaume in die Hotel du Nord.
Vir tipiese Boergondiese kos het gidsboeke en inwoners ons keer
op keer daarheen verwys.
Geen botter word met die brood bedien nie.
In plek daarvan is daar ‘n piepkleine potjie mosterd op die tafel.
Sedert die 14de eeu is Dijon, die hoofstad van Boergondië, die
mosterdstad van die wêreld.
Ons drink cassis, ‘n gewilde aptytsnapsie van swartbessie-likeur wat dikwels
gemeng word met witwyn.
Terwyl reuse slakke aan ons bedien word, sit ‘n man met ‘n Engelse reisgids
oor Frankryk langs ons aan.
Die kelner is skynbaar geïrriteerd met dié vent wat – anders as wat hier
verwag word –onintelligent oor die spyskaart uitvra.
Met
sy bestelling geplaas neem hy ‘n stuk brood en raap die potjie mosterd
nader. Met mildelike hale
smeer hy daarvan op die brood.
Hy
neem ‘n hap.
Vir ‘n oomblik sit hy doodstil asof hy moet proe of sy smaakkliere hom
nie kul nie.
Die arme man se mond brand dat dit bars!
En met betraande oë vra hy kortasem die kelner om tog blitsig vir hom
net ‘n glas water te bring.
j
f
|
|
|
raad
& neigings
vakansies
tart die noodlot
|
|
jens
friis
|
|
Ek
lê op die naat van my rug wagtend dat die son die nodig brons bring.
‘n Swembad is byderhand om die hitte af te was.
Die water is blinkblou.
My vriend se maag gedefinieerd.
Hier in die agterplaas begin die vye lyf kry.
‘n Swerm voëls gaan sit asof in harmonie op die takke van ‘n peperboom.
Dis drie-uur se koers. ‘n
Loom Saterdagmiddag wag.
Iewers kraai ‘n haan. Die
kerkklok lui. ‘n Motor ry
verby.
Wat in die volgende breukdele van ‘n sekond gebeur het, kan ek jou vandag
– drie maande later en by die R20 000 verder – steeds tot die einste detail
vertel.
My vriend verskuif die kampstoeltjie met die x-pote waarop hy sit.
Die een poot glip uit die gleuf wat dit stut.
Die stoel vou inmekaar.
Hy daarop.
Sy vinger daarin.
Vasgeklem. Soos ‘n guillotinelem
wat geval het. Gekerf soos
biltong.
“Dis erg, Jens!” onthou ek hom paniekerig uitroep.
“Dit ís erg!”
Die vingerafdruk van sy regterhandse wysvinger is heeltemal losgeruk.
Dit hang net aan ‘n stukkie vel.
Daar’s bloed. Die
pappery dril soos ‘n oester.
Leuenend teen die muur probeer hy staande bly.
Hy wieg. Sy wêreld
tol. Ek gryp toe hy val.
Té veel. Té vinnig. ‘n Kortsluiting
in die brein, besef ek nou. Om sin te maak het die liggaam ‘n ekstra asemteug
nodig. Maar my eerste gedagte
tóé: Haal hy nog asem?
Klop sy hart?
Die baas van die plaas is nie tuis, maar die huishoudster hoor my roep.
Om te verduidelik is nie nodig nie.
Met die sien, snap die arme Sotho-vrou die erns.
Sy soek verbouereerd, gillend na die dokter se nommer, maar vind dit genadiglik
gou.
Die dokter sal ons by die hospitaaltjie ontmoet.
Die verpleegsters verroer nie ‘n vinger toe hul ons sien.
Die bloed kol op die vloer, maar hul is min geskeel.
Om hulle koffiebreuk te ontwrig duld hul nie.
Dis eers toe ek hard vra: “Waar
kan hy lê totdat die dokter kom?”, dat een ons na ‘n bed neem.
Om ‘n lang storie kort te maak: sewentien steke later, ‘n operasie in
Johannesburg deur ‘n plastiese chirurg, en ‘n weefseloorplanting vanaf
sy heup hoop ons dat my argiteksvriend nie die gebruik van sy vinger sal
verloor nie.
Só ernstig is dit gelukkig nie dat genesing in amputasie lê nie.
Tog wil die gevoel nie terugkom nie en om de dood wil die vinger
buig. Om ‘n potlood normaal
vas te hou is ‘n onbegonne taak – vir ‘n argitek uiteraard ‘n erge las.
As daar ‘n les is wat ek geleer het uit hierdie petalje is dit om áltyd
te weet waar jy ‘n dokter kan vind as jy iewers uitspan.
‘n Goeie mediese fonds is ook ‘n móét.
Net dwase steek landsgrense oor sonder behoorlike mediese versekering.
As jy baie reis is jy net gelukkig as jy dit nié nodig kry nie.
Maar dit is ook omtrent nou maar die voorsorg wat jy kan tref.
Iemand het eens gesê dis een van die grootste seëninge van menswees dat
ons nie weet wat die toekoms inhou nie.
Dié wete sou ons van ons koppe kon dryf.
Nietemin bly dit ironies vir my dat ons blymoedig moet bly lééf
terwyl die sekondes tik ...
Tik todat jou lewe eensklaps grou word.
Enige plek. Enige
tyd. Maar veral op vakansies.
j
f
|
|
|
raad
& neigings
kruger
wildtuin gewis nie net
winter-bestemming
|
|
jens
friis
|
|
|
|
Enigeen wat al winters
probeer plek kry het in die Kruger-wildtuin sal getuig: maklik is dit
nie. Vir die res van die jaar is die kanse beter, want baie wil dan glad
nie hierheen gaan nie. Té warm, sê hulle.
In die lente, herfs en selfs somer hoef ‘n ongemaklike hitte egter nie
te veel te pla nie. Lugverkoeling in rondawels is algemeen. As jou motor
nie ‘n lugverkoeler het nie is dit altyd moontlik om met dagbreek en laatmiddag
draaie te ry, eerder as wanneer die skaduwees regop staan.
Oktober tot Maart is die kamphekke reeds teen 05:30 oop. As die son begin
steek teen 11:00 kan jy al menige rooibok, buffel en dalk selfs renoster
gesien het. Dieselfde geld laatmiddag, want die hekke sluit eers om 18:30
– teenoor die 17:30 winters.
Om die hitte af te was is daar onder meer swembaddens in Shingwedzi, Berg-en-Dal,
Mopani en Pretoriuskop.
‘n Voordeel in die nie-winter is dat die paaie nie so stowwerig is nie,
want reën is dan algemener. Ongelukkig is malaria ‘n groter probleem en
wild moeiliker te sien, want hul hoef nie te drink by die groot watergate
nie.
Nietemin loon dit om die Wildtuin in ‘n ander seisoen te besoek en te
aanskou hoe dit dan ‘n gans ander baadjie dra as die valerige een in die
winter.
Bosveld-seisoene - ‘n Riglyn vir die Seisoene in die Nasionale Krugerwildtuin
(Jacana-uitgewers) gee ‘n blik op hoe seisoene die Nasionale Kruger Wildtuin
raak.
Dit verdeel die jaar in ses “mini-seisoene”. Watter rol veral reënval
en temperatuur speel in hierdie veranderinge word beskryf en uitgebeeld.
Die opvallendste seisoenale verandering by soorgdiere in die Wildtuin,
is die geboorte van hul kleintjies. Sommige diere soos rooibokke, lam
oor ‘n baie kort periode – heel klein rooibokkies is gewoonlik net tussen
Desember en Januarie in die wildtuin te sien. Die jong diere word in Bosveld-seisoene
uitgebeeld in die maande wat hul waarskynlik te sien is.
Bosveld-seisoene kan help om voëls uit te ken aan hul seisoenale aktiwiteite.
Die Diederikkie is byvoorbeeld tussen Oktober en Maart in die Wildtuin.
“Soos die meeste koekoeke word hulle meer dikwels gehoor as gesien. Hulle
lê eiers in die swartkeelgeelvink en bontrugwewer se nes.”
Die opvallendste seisonale veranderinge is volgens die skrywers in die
plantegroei te sien.
So blom die Sekelbos net tussen Oktober en Januarie. Dis dan wanneer hierdie
struik uitgeken kan word aan die pers en geel blomme wat soos Chinese
lanterns lyk. Die sambokpeulbome is baie opvallend rondom September wanneer
hul blomme nog voor die blare verskyn.
Die Peulmahonie blom ietwat vroeër – tussen Julie en November. “Die wortels
van hierdie boom wat algemeen in die noorde voorkom, is gebruik om bilharzia
te behandel en is as ‘n gelukbringerdoepa voor ‘n jagtog gebruik.”
Sulke agtergrond feite word oor meerdere plante gegee. Van die maroela
leer jy byvoorbeeld dat ‘n swanger vrou volgens oorlewering die geslag
van haar baba kon bepaal deur die verpoeierde bas van ‘n maroela te eet.
Die baba se geslag sou dieselfde wees as dié van die boom. (Meerdere arme
moeder sou mettertyd ontnugter wees!)
Oktober en November is dit blomtyd vir die tjienkerientjee en ook die
kremetart. Laasgenoemde se wit blomme word deur vlermuise snags bestuif.
Interessant is dat die stam holtes vorm wat in die reënseisoen tot 400
liter water kan opvang.
Die kanse is sterk om springende boomsade elke lente in die Wildtuin te
sien. Dis die werk van die springboontjiemot wat haar eiers in groen tambotiesade
lê. “Wanneer die ryp saad val, probeer die larwe binne-in om die saad
uit die son te beweeg en veroorsaak soms dat saad tot 3 cm hoog spring.”
En so is daar ‘n horde brokkies inligting oor wat om in watter seisoene
te verwag ongeag of jy belangstel in die vingerhoedblom, gloeiwurm, rooiborsbyvreter
of die groot grys boompadda.
Terloops, die Roman/Jagspinnekop is blykbaar glad nie só gevaarlik as
wat ek altyd geleer is nie. Hulle het blykbaar kragtige kake waarmee insekte
gevang word, maar g’n gifkliere nie “en hou ook geen gevaar vir mense
in nie.”
j
f
|
|
|
raad
& neigings
kos is 'n godsdiens in
boergondië
|
|
jens
friis
|
Toe
ons oplaas welgedaan opstaan, sê my metgesel wat redelik funksioneel
is oor kos: ``Jô, hier eet jy nie nét om jou honger te stil nie,
nè!''
Gewis nie. Vir die Boergondiërs is éét 'n estetiese belewenis.
Dis 'n simbool van die goeie in die lewe.
Die okkasie om daardie dag weer eens die mae boordensvol te vul?
'n Jagtersete wat 'n hele Saterdag duur. Elke jaar as die eerste
blomme verskyn, kom die jagters byeen op dorpies soos dié van
Juliette Binoche en Johnny Depp in die rolprent Chocolat.
In April is die lente voor die deur. Die inwoners verlang na die
son, die warmte wat wag. Daar word gekook, maar ook gelag, geproe,
geëet, geniet en gesels.
Dis hoe dit nou maar eenmaal gedoen word. Maak nie saak of dit
op Vézelay, St. Bris le Vineux of in Auxerre is nie.
Die middagete begin om twaalfuur. Ons word vriendelik maar sonder
fieterjasies ontvang en skuif langs lang tafels in. Die atmosfeer
is gesellig warm, lekker luid. Beslis nie 'n sotto voce-arlour
nie.
'n Stewige porsie gegeurde hoenderpensies word met soutigheidjies
voorgesit. Warm kommetjies witaspersiesop met broccoli en croutons
volg. Die borde is nie klein nie en dis vól.
Tussendeur berei 'n paar gekonfyte vroue die volgende gang terwyl
kinders in die kombuis om hulle kloek.
Daar word vreeslik gekuier totdat twee groot skywe tuisgemaakte
wildspatee verskyn en ná 'n ruk nog 'n porsie.
Dit word gevolg deur 'n wildevark-glansboud wat op 'n spit gebraai
is, én ná 'n ruk ja, natuurlik 'n help-weer.
Daarna kom beespotbraaistuk met romerige amandelsous en groenslaai.
Dis uit die boonste rakke. Met die tweede omstuur help ek my natuurlik
weer. 'n Kleiner happie, want my smaakkliere wíl nog, maar my
maag kan nie meer nie.
Ons eet groenslaai voor die kaas. Die verskeidenheid is 'n versoeking.
Nog is dit het einde niet, want volgende is sjokolademousse-koek
in brandewyn. Hierby word sjampanje gedrink.
En uiteindelik die koffie. Die ganse maaltyd word afgerond met
schnapps.
Die honderdtal gaste het by die 200 bottels wyn gedrink. Tog het
elke Fransman hom gedra. Jy merk skaars dat daar soveel van die
spreekwoordelike ``nektar van die gode'' in kele verdwyn. Elke
gang word dan ook met sy eie wêreldgehalte-wyn voorgesit. Soos
Leonardo da Vinci immers gesê het: ``Wyn is die hemelse drank
van die druif.''
Die maaltyd hou eers so agtuur op. Die volgende Sondag sou die
ganse kommune vir nog 'n sosiale geleentheid byeenkom die jaarlikse
``varkete''. Gelukkig sou ek dan al elders wees. Hierdie mense
eet darem al te verskriklik.
j
f
|
|
|
|
|
raad
& neigings
afrika-vlegwerk
vind nis
|
|
jens
friis
|
|
Me.
Sophie Lampetje se hande is deesdae weinig stil. Sy's aan 't vlegte, van
blindings en besems tot plekmatjies. En daar is beslis 'n mark daarvoor.
Onlangs het 'n Johannesburger 'n blinding by Lampetje gekoop. Dié fotograaf
gaan dit nie voor sy venster hang nie, maar as agtergrond vir portretfoto's
gebruik.
Ook in die onlangs geopende kunstenaarshuis in die dorp het die keuse
van die ontwerper nie op gordyne of hortjies geval nie. Nee, me. Alida
Stewart, ouddosent in argitektuur aan die Universiteit van die Vrystaat,
het besluit dat eenvoudige, aardse blindings van vleitjiesriet die felle
sonlig en hitte sal uitweer.
Lampetje, wat op die plaas Grootfontein van mnr. John Kolver woon, het
onlangs vir hul lapa plekmatjies gemaak. ``Dit lyk goed en deug uitstekend
as jy buite eet,'' sê me. Marelize Kolver.
|
|
|
|
|
raad
& neigings
bier
uit seewater wen flink veld in europa
|
|
jens
friis
|
|
Theix,
Frankryk. "Bring vir my seewater saam," het ons bediende vir
my gevra voordat ons Hartenbos toe is.
Maar ek as agtjarige het eers weer daaraan gedink met die terugry deur
Meiringspoort - hopeloos te laat. Nogtans het ek verleë gewonder:
Waarom sal kraanwater met 'n dessertlepel tafelsout dan nou nie doen nie?
Dit het nie. Arme Maria was vir twee dae nadat ek haar die water-maaksel
gegee het nie by die werk nie. "Dit was haar maag," het sy later
gesê.
Na al die jare weet ek dus steeds nie of seewater die bose verdryf nie.
Of net miskien het Maria met "bose" nie "geeste" bedoel
nie, maar juis kieme. Só sal ek my graag wil troos, want dan het
my konkoksie immers in elk geval sy doel gedien. Iets soos "deur
pyniging kom heling." Of minder filosofies: 'n maag moet soms spoel
om van die slegte ontslae te raak.
In Frankryk was ek maar skrikkerig om te hoor dat Mor Braz-bier uit seewater
gemaak is. Sê nou net my eens goedbedoelde daad uit kinderlike onskuld
boemerang lelik! Veral hiér, want op die Franse platteland is daar
nie orals toilette soos ons dit ken nie. O-nee, al te dikwels is daar
net sulke gate wat in die donker verdwyn. Oor veral hoe oumense met rumantiek
só hurk hang 'n vraagteken.
In ieder geval, vir my was dit - dank de Vader - nie nodig om ná
'n glas Mor Braz hierdie rondtes van Vader Cloete te volg nie.
Ene Goulven en Loïck Cras het enkele jare gelede besluit om hul eie
bier te brou omdat hul g'n na hul sin kon vind. Op daardie stadium het
die twee biermakers nie van mekaar geweet nie. Dié van Goulven
was 'n donker bier, terwyl Loïck s'n, geïnspireer deur 'n resep
van haar ouma, lig van kleur was.
In 1988 het Loïck in Metz aan 'n kompetisie deelgeneem om te sien
hoe lyk die biere van die Ooste. Buiten 'n prys wat sy gewen het was sy
ook verlief op die enigste ander persoon van Bretagne, Goulven.
Dié twee het saam teruggekeer en mettertyd op aandrang van hul
vriende voltyds begin bier maak.
In 1999 het hul vir die eerste keer hul seewaterbier, Mor Braz, verkoop.
Drinkers was eers skepties, maar het na 'n paar slukke hul stem van goedkeuring
gegee. Om banke te oortuig was moeiliker en op die ou end het 'n paar
vriende hul finansieel gehelp om die seewaterbier wyer te bemark.
Dié amberkleurige bier het 'n milde aroma - beide matig en lewendig,
maar nie bitter nie. Mor Braz is 'n bier wat die verhemelte streel, soos
Loïck sê: "Dit het 'n aanvanklike biersmaak gevolg deur
die varsheid van die oseaan."
Dit word drie maal gefermenteer en is pure mout - onbesmet van genetiese
wysigings.
Die seewater word met 'n spesiale boot 7 seemyl vanaf die kus gaan haal
op 'n diepte van 20 m. Die water is van kardinale belang omdat dit die
hoofbestanddeel is.
Oraloor gebruik sjefs deesdae Mor Braz in hul cuisine. Twee jaar gelede
het dit die eerste prys verower in die "Cristal de l'innovation"-kompetisie.
Mor Braz is wyd te koop in Frankryk en Noord-Europa.
Vanaf verlede jaar bied Goulven en Loïck toere aan van hul mikrobrouery.
Ander spesialiteite van die brouers is bierlym en -konfyt.
* Brasserie Mor Braz, Zone St.Léonard Nord 56450 Theix, Frankryk.
Tel. 33/02 97 42 53 53
j
f
|
|
|
raad
& neigings
die
sieraad in die kroon van onafhanklikheid
|
|
jens
friis
|
|
|
|
Jens Friis is
tuis na ‘n jaar se regsnavorsing in Montreal, Kanada. Tussendeur
het hy gereis en was vryskut-joernalis. ‘n Paar lyne uit sy dagboek
die aand voor sy vertrek van Kanada na Europa:
"Montreal,
Donderdag, 22 Maart 2001, 23:37
Waarom
is die laaste dag of wat van 'n besoek altyd die lekkerste? Dis
soos lemoensap wat nie behoorlik geskud is nie. Om by die pulp
uit te kom moet die bottel leeg gedrink word.
Met
die wegvlieg vanaf Bloemfontein op 31 Maart 2000 het ek gedog:
oor 'n maand of vier - hoogstens ses - is ek terug.
Wys
sou dit wees om toe eerder my motor te verkoop en lekker selfoonnomer
prys te gee. My omwandelinge in Noord-Amerika en Europa gaan nou
by ver meer as 'n jaar draai. As ek klere verwissel in die gim
is dit duidelik dat my vel die witste ooit is. Dan wonder ek of
Rex nog sy stert sal swaai by die agterplaas-hek op Philippolis.
Die
gedagte dat ek more op 'n vlug na Amsterdam klim (mits die sneeu
ophou en vlieg moontlik is), krap my om.
Net
na my aankoms woon ek tydelik in 'n woonbuurt wat sy gebruikswaarde
oorleef het. Ek slaap laat om gewoond te raak aan die tydsverskil.
Doen navorsing by die universiteit. Lees in 'n gunsteling koffiewinkel.
Verken die stad.
Ek
ontmoet talle mede-studente. Mense met die gawe van kommunikasie
en helder intellekte. Ek dryf op 'n see van kennisse, maar ken
niemand nie. Die afwesigheid van biltong en blatjang pla min.
Ek mis 'n ondersteuningstruktuur. 'n Internet-naelstring strek
ook net so ver.
Tog
maak mens vinniger vriende as wat jy ooit sou dink.
Soos
die samestelling van die Kanadese bevolking sou diegene by wie
ek werklik aanklank vind heel uiteenlopend wees. Die een 'n Engelse
vertaler oorspronklik van Vancouver. 'n Franse patoloog wat hierheen
gekom het weens werksgeleenthede. 'n Romeense prokureur wat net
voor die val van Kommunisme Kanada bo Suid-Afrika verkies het
weens die geweldsituasie.
Ek
sien 'n blerts blou van die St. Lawrence vanuit my woonstelvenster
en besef dit is dalk die laaste keer.
Ook
sal ek die kenmerkende "Merci-Bye!" mis waarmee Frans-Kanadese
winkeliers groet as jy uitstap - die Engelse invloed onmisbaar.
Blinkskoon,
veilige moltreinstasies waar treine elke vyf minute stop. Nie-luiddrigte
passasiers wat soms so stil is in die metrogange dat die geskuifel
van hul dikke wintersklere gehoor word as hul stap.
Professionele
musici wat in wandelhalle oefen.
Dat
daar aan die regterkant van rolrappe gestaan word sodat diegene
wat haastig is aan die linkerkant kan verbystap.
Vars
sneeu wat soos bakpoeier onder jou voete kraak.
Polisie
wat orals sigbaar is, alhoewel geweld en misdaad seldsaam is.
Buitengewone
verdraagsaamheid ongeag of dit op grond is van ras, seksuele orientasie,
geslag, godsdiens ...
Boonop
kan die armests ‘n sinvolle bestaan hier voer. Kanada beklee reeds
vir jare die nommer 1-posisie op die VN se Ontwikkelingsindeks.
As
die nuus wat dan hier uitkom hoofsaaklik donker is oor Afrika
laat dit jou maar tweekeer dink. Dis immers veel makliker om nou
my goedjies te pak op die drumpel van 'n loopbaan as oor 10 jaar
op 37. Vir eers gaan ek egter terug na Suid-Afrika - na my taal,
my land en my familie.
Iemand
het eenmaal tereg opgemerk dat hy reis om dieselfde rede as om
te studeer – om nuwe dinge te beleef. Jy kan dieselfde boeke lees
of anders nuwes en jouself uitdaag. Dit gaan oor grensoorskreiding
wat makliker is in die vreemde. Jy beklee 'n buitestanderstatus
en sien (hopelik) dieper - verby sosiale konvensies, konstruksies
en etiket.
Soos
Hennie Aucamp sê: jy lê jouself 'n soort ballingskap op as jy
reis. "Om dit te oorleef, raak jy waaksaam; registreer jy
skerper as gewoonlik, word jy een en al sintuig, wat 'n groot
hulp is by waarneming."
Dit
is verrykend, maar vermoeiend. Jy is aangewese op jouself. As
die geld boonop min is verg dit deeglike, vindingryke beplanning.
Nogtans is dit sekerlik die sieraad in die kroon van onafhanklikheid."
j
f
|
|
|
|
raad
& neigings
la
scala sluit tot skuins voor 2005
|
|
jens
friis
|
Die
bekende Teatro alla Scala in die Milaanse middestad is gesluit.
En nie vir ‘n wyle nie, maar tot einde-2004.
Só
lank sal uitgebreide opknappingswerk van $50 milj. duur aan
hierdie bekende operahuis. Voorbereidings het reeds in 1996
begin nadat die munisipaliteit die ja-woord gegee het vir opknapping
en restourasie.
Voorop
staan die modernisering van La Scala wat in 1778 geopen is en
grootliks herbou moes word in 1946 ná die Oorlog. Die verhoog,
store, kantore, aantrek- en repetisielokale sal grootliks herbou
word. Hierteenoor sal die imponerende perdeskoen ouditorium
feitlik onveranderd bly.
‘n
Gebrek aan stoorplek beperk opvoerings aansienlik – ballet 40
en opera 90 per jaar. Dit sal drasties vermeerder ná 2005. Daar
word geglo dat tot 160 opera-uitvoerings dan gebied sal kan
word. Huidiglik kan hoogstens drie opera-produksies op dieselfde
tyd loop. Die Italianers hou van groot stelle. ‘n Enkele stoel
in die middel van die verhoog vir Lohengrin deug net nie hier
nie.
Intussen
vind La Scala ‘n tydelike tuiste in die Teatro degli Arcimboldi,
‘n ouditorium opgerig deur die Pirelli-bandmaatskappy ‘n halfuur
buite Milaan se middestad. Dit bied 2 400 sitplekke teenoor
die 1 800 van La Scala. Die verhoog is dieselfde grootte.
Enkele
vertonings van La Traviata moes einde-Januarie in die Archimboldi-teater
afgestel word na ‘n potensiele gevaarlike ongeluk. Niemand is
beseer toe 'n groot glaspaneel wat akoestiek verbeter,
6 m laer op leë sitplekke neergestort het nie.
Sedertdien is al die panele nagegaan in die teater wat binne
27 maande opgerig is.
Om
teatergangers aan te moedig om na die Archimboldi-teater te
ry het die keuse geval op bekende werke van Verdi, Gluck en
Mozart. ‘n Paar maande gelede het die wenkbroue gelig nadat
12 opvoerings van "West Side Story" in La Scala aangebied
is.
Die
operahuis het groter vryheid om aan te bied wat hul wil nadat
dit verander is van ‘n munispalitêre departement na ‘n stigting
in 1997. Die Milaanse munisipaliteit besit dit steeds en verskaf
45 % van die jaarlikse begroting van $100 milj. Nietemin funksioneer
La Scala onafhanklik en word aangemoedig om private borgskappe
te vind.
Met
Plácido Domingo vir die laaste keer in die titelrol van Otello,
is die 2001/2-seisoen geopen op 7 Desember – 24 dae voor die
sluiting.
La
Scala se operaseisoen begin altyd met ‘n gala-geleentheid op
7 Desember. Dié dag is ter ere aan St. Ambrose, Milaan se beskermheilige.
Gevolglik kan jy net raai op watter dag die groot heropening
in 2004 sal plaasvind.
As
die gordyn ooptrek sal dit wees vir "L'Europa Riconosciuta",
‘n lang vergete opera van Antonio Salieri wat hy geskryf het
vir die inwyding van La Scala op 3 Augustus 1778.
*
La Scala se amptelike webblad is by www.teatroallascala.org
j
f
|
|
|
|
|
raad
& neigings
spaar
heelwat met internasionale studentekaart
|
|
jens
friis
|
| Met 'n internasionale
studentekaart kan van kosbare dollars en ponde tot gulde en frank bespaar
word.
Die Internasionale
Studente-identiteitskaart (ISIC) word in 93 lande erken, waaronder Italië,
Indonesië, Indië, Israel en die Ivoorkus. ISIC kaarthouers geniet
sedert 1968 voordele soos afslag op vliegtuig-, bus- en treinkaartjies,
verblyf, restaurante, intekening op koerante, besienswaardighede en vermaak.
Soms kan tot 70 % bespaar word. In Suid-Afrika bied die Playhouse
Company in Durban byvoorbeeld 50 % afslag en sekere toergroepe na die
Krugerwildtuin 20 %. Deur jou studentekaart te toon met die aankoop van
'n Kanadese treinkaartjie kan 40 % bespaar word. Dis baie indien
in ag geneem word dat sowat R6 'n enkele Kanadese dollar koop.
Skaf die
ISIC kaart aan deur na 'n reisagent te gaan of by die internasionale kantoor
van 'n universiteit. Satoer kan ook geskakel word by 012 3470600.
Buiten dienstegeld
word een ID-foto en 'n bewys dat jy 'n voltydse student wat ouer as 12
jaar is benodig. Die kaart word dadelik uitgereik.
Dit sal jou deel maak van 'n netwerk van meer as twee miljoen studente.
In 1993 het
Unesco die ISIC as die enigste outentieke internasionale studentekaart
erken.
j
f
|
|
|
raad
& neigings
werk
met g'n betaling oorsee
|
|
jens
friis
|
| Om vir 'n vakansie
te betaal waar jy werk en g'n vergoeding ontvang nie klink na teenstelling
op teenstelling. Tog is dit nie so raar as wat dit mag klink nie.
As jy dit
haat om in die son te verbrand terwyl taai seesand aan jou vasklou, is
só 'n wegkomkans net die ding. Op die koop toe kan jy 'n vaardigheid aanleer
in 'n vreemde omgewing tussen mense wat jou belangstelling deel.
Omgewings-
en bewaringsgroepe het dikwels hulp nodig des te meer as die werk arbeidsintensief
is. Die werksure per dag wissel, maar daar is gewoonlik genoeg vrye tyd
om die omgewing te verken en genoeg te rus.
Die meeste
organisasies is ook heel inskiklik oor die lengte van jou besoek, hoewel
dit verkieslik is dat jy minstens 'n week bly om in die pas te kom met
hoe dinge gedoen word.
Pryse wissel
van R120 per jaar by Willing Workers On Organic Farms (WWOOF) tot R13
000 vir twee weke by Earthwatch in Europa (vlugte uitgesluit).
Earthwatch
(www.earthwatch.org)
bied egter die kans om nou saam te werk met vooraanstaande veldwetenskaplikes
in sewe gebiede, waaronder kulturele diversiteit, bedreigde ekosisteme,
biodiversiteit en wêreldgesondheid.
Hierdie nie-winsgewende
internasionale organisasie bied 140 projekte waaronder die opneem van
voëlklanke in Italië, die monitering van dolfyne aan die Spaanse kus en
impakstudies in verband met toerisme op seeskilpaaie in Turkse waters.
Die National
Trust (www.nationaltrust.org.uk)
bied meer as 400 bewaringsvakansies per jaar by kastele, Hadrianus se
Muur tot country houses. Hieronder tel die inwin van inligting oor die
gewoontes van paddas en die opknapping van tipiese Engelse tuine. Die
moeilikheidsgraad wissel sodat selfs bejaardes kan meedoen. Om 'n week
te bly sal mens sowat R700 uit die sak jaag.
j
f
|
|
|
raad
& neigings
toeriste
het lang vingers
|
|
jens
friis
|
| Buiten dat
toeriste swem, in die son sit, rondkyk en eet, steel hulle ook.
Aan die anderkant
laat hulle 'n bisarre klomp goed in hul kamers agter. Volgens die
tydskrif Where is al 'n wasbak (Crown Plaza, New York), kluis (Essex House,
New York), ketel en teepot (Marriot County Hall, Londen) tot 'n palmboom
van 2 m (Sahara, Las Vegas) weggedra.
Jy mag nie
steel nie, sê die Bybel, maar selfs dié boek se dun papier is net die
ding om 'n rookdingetjie mee te rol. Volgens
Where is badmatjies, asbakke, gloeilampe, hangers, telefone, radio's en
kunswerke teen mure gewild. Skynbaar gedra die mensdom hom in 'n oornagplek
net totaal anders as tuis.
Die meeste
eienaars konfronteer nie gaste as klein goedjies wegraak nie. Slegte openbare
verhoudings doen besigheid nie goed nie, sê hulle. As
dit egter iets kosbaars is, draai oornagplekke nie die ander wang nie.
j
f
|
|
|
raad
& neigings
chartres
- as kerke toeristemekkas word
|
|
jens
friis
|
|
Die
Cathédral Notre Dame ís groot(s) - in ooreenstemming met
die oprigters se geloof dat God só almagtig is dat Hy feitlik
onbereikbaar en onkenbaar is. As hierdie die oortuiging
destyds was, het die bouers meer as ooit in hul doel geslaag.
So
gewild is die katedraal deesdae dat dit glad nie meer
na kerk voel nie. Eerder na 'n museum: ‘n argitektoniese wonder
op skou.
Die
History Channel wys dit aan as een van die top tien argitektoniese
wonders van die vorige millennium. Dit dra 'n Wêrelderfenistitel.
Dis een van dié verwysingspunte vir die Frans-Gotiese kuns.
Daarbinne
was ek óórbewus van die (on?)oorbrugbare afstandelikheid tussen
mens en God. Hierheen kom die massas vanaf alle uithoek eerstens
om die reuse suilegang, vensters en grafkelder te aanskou. Vir
stilword is daar té veel skuifelende voete, blitsende kameraflitse,
fluisterings agter bakhande ... Byna niks voel nog h/veilig nie.
Nes in Chartres se katedraal word daar ook in Florence se Duomo,
Parys se Notre Dame, Londen se Westminister ... min gebid, maar
hope foto’s geneem.
En
ek en jy is daarvoor mede-aanspreeklik. Met Nikons en gidsboeke
kom ons om hierdie menslike groot gebaar te ervaar.
Hoe
kon die mens só ‘n meesterstuk op tekenborde vaspen en sonder
hyskrane bou 800 jaar gelede? Jy wonder wie moes meer as
‘n tiende opsysit. Tot watter mate was dit ‘n verheerliking van
mag, wêreldlike rykdom, uiterlike prag en praal? Hoeveel
Middeleeuers het toe Chartres ‘n uiters gewilde pelgrimsbestemming
was hierheen gestroom juis om die "halsband" te sien
– en nie die "hondjie" nie?
Nes destyds
verrys die katedraal steeds uit die geil koringvelde rondom die
nedersetting – 88 km suidwes van Parys. Gekroon deur twee torings
– die een Goties, die ander Romaans - is die katedraal steeds
die indrukwekkendste gebou in die dorp. In die Middeleeue het
Chartres langs die bank van die Eurerivier ontstaan. Vele steenbrûe,
(was)huise en kerke is nog uit dié tydperk te sien.
Die
katedraal, wat van feitlik orals in die dorp sigbaar is, is gebou
om ‘n vroeëre struktuur te vervang wat verwoes is deur ‘n brand
in 1194. Die oprigting van hierdie Gotiese meesterwerk het slegs
25 jaar geduur – daarom dat die katedraal ‘n hoë mate van argitektoniese
eenheid het.
Met
oorfone op (25 / 70 min., R15 / R30) leer jy dat die 105 m hoë
Clocher Vieux (ou kloktoring) die allerhoogste Romaanse-toring
is wat nog staan. Dit is die een regs as jy na die Romanesque
Portail Royal (hoofingang) kyk. Die Clocher Neuf (nuwe
kloktoring) het ‘n Gotiese toring uit 1513 en kan daagliks, behalwe
Sondagmores, besoek word teen R25.
Die
katedraal is oop van 07:30 tot 19:15.
Met
die uitstap blitsem die weerlig kettingstrale. So hard is dit
dat die godswoning se eeuoue fondamente skud. Dit reën gelukkig
nie en ons stap saam met maklik 200 ander na die stasie 500 m
wes. Langs dieselfde spoor as vanoggend neem ons een van drie
dosyn treine wat daagliks na Parys se Gare Montparnasse (R75,
60 minute) draf.
Die
dagreis was sy sout werd.
j
f
|
 |
|
|
|
raad
& neigings
treinry
al hoe gewilder
|
|
jens
friis
|
| As die moderne
tjoek-tjoek goedkoper, omgewingsvriendeliker en bowenal vinniger is as 'n
vlug, is dit g'n te versmaai nie. En Europese reisigers besef dit wat rede
tot kommer vir menige lugredery behoort te wees.
In Frankryk
lê die helfte van alle hoogsnelheidslyne ter wêreld - 1286 km. Twintig
jaar ná die koms van die eerste Train à Grande Vitesse (tussen Parys en
Lyon) het die Franse hul voorloperstatus op dié gebied bevestig nadat
pres. Jacques Chirac die TGV Med geopen het.
Daar word
verwag dat 'n verdere 6 miljoen reisigers per woematrein na die Middellandse
See sal reis binne die volgende drie jaar. Altesame 18 miljoen pak reeds
jaarliks dié reis aan per trein.
Tussen Air
France en die Franse Spoorweë, SNCF, maak 60% van reisigers gebruik van
dié lugredery en die res (40%) ry trein. Die SNCF raam egter dat 60% eersdaags
gaan trein ry as die huidige tendens voortduur.
Die hoofrede
hiervoor is dat hoogsnelheidstreine die spore skeur. Die landskap skuif
teen 300 km/h by die nuwe TGV Med verby - 30 km/h vinniger as gebruiklik
op ander hoogsnelheidspore in Frankryk. 'n Rit duur nou 80 minute
minder tussen Parys en Marseilles. Dié afstand word kafgedraf in slegs
3 uur.
Die belangstelling
is groot en sal net toeneem as 22 nuwe, luukse dubbeldekkertrokke eersdaags
ingebruik geneem word. Om
die 250 km ekstra spoorlyn vir die nog ontbrekende Valence-Marseille-trajek
aan te lê was 12 jaar se arbeid nodig. By
Avignon, Valence en Aix-en-Provence moes nuwe stasies gebou word. Dié
by Avignon lyk soos 'n omgekeerde boot wat presies so lank is as die TGV-trein
Dié TGV-lyn
kon nie dwarsdeur die groot stede aangelê word nie. Daarom is die stasies
in die randstad gebou. Die SNCF glo dat die 6 tot 10 km na die stadskern
nie passasiers sal afskrik nie. Die
meeste sal hul motors gebruik of op busse staatmaak. Hierdie stasies is
steeds aansienlik nader as om na lughawens heen-en-weer te reis.
Die koste
van bouwerk aan die TGV Med is 20% hoër as aanvanklik geraam nadat gehoor
gegee is aan die protes van milieubewustes.
Deur 13 km
ekstra tonnels aan te lê, brûe te bou en die oorspronklike roete aan te
pas, is die bedreigde haviksarend en talle bewers gespaar, skryf Mariette
Cuvelier in haar protesboek, Le TGV Prince, wat onlangs verskyn het. Cuvelier
se huis is gesloop om plek te maak vir die spoor.
Toulouse is
die enigste groot Franse stad waar die vliegtuig nog heer en meester bly.
Met die trein is dié Suid-Franse stad vyf uur verwyderd van Parys. Die
vele vlugte daarheen duur slegs 'n uur.
Soos 'n bloedvatstelsel
verbind hoogsnelheidstreine reeds Brussels, Parys, Cologne en binne 15
jaar sal dié spoorlyne verdubbel. Komende
TGV-ontwikkelings is die TGV Oos (Parys-Strasbourg). Daar word beplan
dat dit in 2006 voltooi sal wees. 'n Spoor na Barcelona is ook in die
pyplyn. Dit sal later deurgetrek word na Madrid.
Die lyn tussen
Lyon en Turyn sal verreweg die meeste arbeid verg, want tussen-in lê die
Alpe. Daarvoor is 'n tonnel van 52 km nodig. Die
voltooingsdatum is 2016 en die koste word geraam op R132 miljard. Oor
dié lyn sal 'n trein teen nie minder as 360 km/h blits.
j
f
|
|
|
raad
& neigings
roei-vakansies
kry nuwe kleur
|
|
jens
friis
|
| Onthou
jy nog daardie wiskundeprobleme? 'n Vliegtuig vertrek van New York
na Boston (480 km) en vlieg teen gemiddeld 800 km/h. Sowat 20 minute
later vertrek 'n soortgelyke vliegtuig van Boston na New York.
Na hoeveel minute en hoe ver van Boston sal hulle by mekaar verbygaan?
Daar
was natuurlik altyd 'n formule waarin al die data netjies sou
pas om by die regte antwoord uit te kom. As dit nie 'n windstil
dag is nie en hul boonop nie dieselfde spoed vlieg nie, was dinge
bietjie ingewikkelder.
Neem
nou die volgende gegewens:
Jy
gaan op 'n vyfdag-roeitog. Met al die kos, water, slaapsakke en
tente wat saamgepiekel moet word, is die seekajakke so swaar dat
jou asem later van die roei jaag. Boonop lek jou tent ná 'n reënbui
wat ook die vuur blus en daar is nie gebraaide skelvis vir aandete
nie.
Hoe
gemaak as dit nie jou idee van plesier is nie, maar jy tog graag
elke nag elders wil oorslaap ná 'n dag se roei?
Dan
reël jy sito-sito dat jou bagasie soggens opgelaai word en wag
by 'n gastehuis (met 'n stort en aandete). Sulke avontuurgevulde
dae in die natuur gevolg deur nagte op verebeddens word 'n gewilde
keuse vir buitelug-geesdriftiges.
Fietsryers
was die eerste om aan die idee te byt, maar dit het nou uitgebrei
na voetslaners, skiërs wat deur honde getrek word en inn-to-inn
sea-kayaking trips.
Gewilde
roeiroetes waar gastehuise hoogstens 10 km van mekaar geleë is,
is langs die kus van Maine, Kanada se Prince Edward-eiland, British
Columbia se Gulf-eilande en Portugal se portwynstreek.
'n
Instrukteur met aansteeklike geesdrif help baie as jy 'n groentjie
met 'n hol kol op die maag is. Só leer jy toe dat 'n ``propeller''-beweging
effektiewer is op 'n kajak as die gewone druk teen die water uit
'n kano.
Jy
leer ook hoe om uit die kajak te kom as dit omslaan en om die
getye te lees om te voorkom dat jy daarteen roei.
Al
nadeel van dié ekspedisies is dat dit aanloklik mag wees om nie
te roei nie. Veral as daar kreef vir aandete is en jy onder 'n
boom, waarvan die appels 'n blos op die wang het, kan sit en kyk
hoe die mis soggens oor die Atlantiese Oseaan verdwyn.
|
|
|
|
j
f
|
| i
| ii |
voorblad
| bestemmings | raad
& neigings | reisnuus | nie-reis
| foto's |