voorblad
| bestemmings | raad
& neigings | reisnuus | nie-reis
| foto's
|
| i
| ii
|
|
|
nie-reis
slaapraad
bekyk slaappatrone
|
|
jens
friis
|
|
As dit rondom die noenuur tyd is om die skroeiwarm son met 'n hand uit
jou oë te skerm, is dit tyd om 'n rukkie te gaan lê.
Só maak diegene langs die Mediterreense See nog altyd, maar nou
het die British Sleep Council 'n beroep gedoen op base om nege-tot-vyf-dae
te vervang met meer buigsame werktyd.
Dit volg ná 'n opname wat daarop dui dat die insluiting van 'n
siësta by 'n werkdag goed is vir produktiwiteit. ``Daarom sal dit
werkgewers loon om 'n middagslapie toe te staan,'' meen dr. Chris Idzikowski,
'n professor aan Surrey-universiteit wat twee jaar hieroor navorsing gedoen
het.
Onder die 12 000 respondente was Europeërs, Amerikaners, Australiërs
en Suid-Afrikaners. Altesame 41% het gesê hulle is die produktiefste
soggens, terwyl 38% die meeste saans gedoen kry.
Hiervolgens was die Amerikaanse Navaho-Indiane beslis verkeerd deur dit
pertinent te stel dat iemand wat bedags 'n uiltjie knip 'n luiaard is.
Voor industrialisering is daar meer stuk-stuk geslaap. Daar sou eerder
byvoorbeeld smiddae, vroegaand en snags geslaap word as tydens 'n enkele
lang nagrus.
Ook binne kulture verander slaappatrone. Vroeër het die Eskimo's
veel meer geslaap in die lang, donker winters as in die somer. Weens veral
elektriese lig is dit nie meer die geval nie.
Of 'n kind by 'n ouer slaap, hang af van die klimaat, beskikbaarheid van
kamers, gesinsgrootte, teenwoordigheid van 'n pa, privaatheid, onafhanklikheid
en die sterftesyfer onder pasgeborenes in die gemeenskap.
In die VSA het Spock en ander pediaters aanbeveel dat kinders afsonderlik
van hul ouers moet slaap, maar hierdie gebruik, wat grootliks ontwikkel
het gedurende die 20ste eeu, is ongewoon in baie ander kulture, waaronder
Japan en Italië.
Ook nie alle Amerikaanse families slaap só apart nie. By Afro-Amerikaanse
gesinne is dit algemeen dat ouers en jong kinders 'n bed deel.
Die British Sleep Council meen dat dit 'n fundamentele verskil in waardes
weerspieël. Ouers in die VSA glo dat hul kinders so vroeg moontlik
onafhanklik moet word, terwyl interafhanklikheid in Japan veel belangriker
is.
Die sleepcouncil.org.uk het ook gekyk wie hoe, waarop en waaronder slaap.
Nie almal dra nagklere as hulle in droomland is nie. So dra die Effe van
Za¨re nie 'n draad klere nie uit vrees dat die kampvuur dit aan die
brand sal steek.
In Noord-Kenia slaap mans en vroue van die Gabra-stam in verskillende
beddens, terwyl die ouers van die Lese-stam in Za¨re by hul kinders
slaap. In Pakistan het die Swat Pathan aparte beddens vir almal, met verskillende
slaapareas vir vroue en mans.
Almal stem nie saam dat 'n goeie matras die beste nagrus waarborg nie.
In nie-ge¨ndustrialiseerde gemeenskappe word dikwels op die grond
geslaap soos die !Kung van Noordwes-Botswana.
Die Ache van Paraguay slaap op matte wat bedags opgerol word en die Hiwi
van Suid-Venezuela in hangmatte. Vir die Effe van Za¨re is 'n lagie
blare voldoende.
j
f
|
|
|
jens
friis
|
|
|
Kultusfiguur of kulturele argetipe, uitlokker of onskuldige
ikon, Leonardo se misterieuse madonna bekoor na sowat 'n halfmillennium
net meer, skryf Jens Friis. Min gesigte is meer bekend en bemind
as dié Mona Lisa. In New York het ek haar op 'n stortgordyn
uit Korea gesien. Op die sypaadjie voor die Keiser Wilhelm-gedenkkerk
in Berlyn was 'n straatkunstenaar haar aan 't sketse. Op 'n
vriendin se sitkamerbank in Johannesburg dien sy as 'n kussing.
As Mona Lisa nie 'n klarinet bespeel nie, verkoop sy rekenaars
of sigare. Vele beroepe moet dié arme vrou beoefen! Die
Chinese kan Mona Lisa Skin Oil aanskaf, en in Pole is sy 'n
akrobaat op 'n sirkusplakkaat. En ja, die raarste van die lot
is dalk in Amerika waar opblaasbare Mona Lisa-poppe van mensgrootte
verkwansel word! Die variasies op die tema is verbysterend.
Mona Lisa het deel geword van die mens se kollektiewe onbewuste.
'n Kruising tussen 'n kulturele argetipe en 'n ikon van kitsch.
Op 8 Februarie 1999 trek die tydskrif The New Yorker parallelle
tussen Mona Lisa en Monica Lewinsky. In die artikel getitel
``Woman of the Year'' skryf David Remnick van Lewinsky: ``In
Monica het ons alles en almal gesien wat ons wou . . . Sy pas
in alle interpretasies . . . Sy is orals van regsjoernale tot
pornotydskrifte . . . Maar Monica [anders as Mona Lisa] is 'n
vrou wat nie meer geheime het nie. Haar oë is nie vensters
nie, maar spieëls, en wat ons sien, is vreeslik. Nietemin
bly ons staar.''
En met 'n oog wat 'n bars kan kyk, kyk ek in Los Angeles. Langs
Sunset Boulevard stal 'n vyftigtal Mona Lisa-liefhebbers uit.
Die een het 'n humorsin wat selfs Mona Lisa sou laat kraai.
Só probeer sy my oortuig dat Michael Douglas al te veel
lyk na 'n afstammeling van hierdie geliefde madonna. 'n Ander
druk my dít in die hand: ``Mona-Lisa Cocktail: 3 oz.
Vodka, 3 oz. Lemon Soda. Stir and pour into a highball glass.
Drink while dancing to the song `Mona-Lisa'.''
Ek sien van telefoonkaarte en koekieblikke tot sokkies met slegs
een gemene deler: Was daar al 'n bekender werk in die ganse
geskiedenis van die beeldende kunste?
``Niemand wil hul tog nét deur mooi en funksionele goed
omring nie,'' verklaar 'n Mona Lisa-fanatikus waarom hy drie
identiese kaassnyers het waarop onse Lisa verskyn.
Onnodig om te meld, is dit ook sy wat pronk op Frank Zappa-plakkate,
oorringe en porno-speelkaarte op sy uitstaltafel. Dit alles
is nie te koop nie, maar wel die Mona Lisa-legkaart wat te kry
is op CD-Roms vir Macworld, MacFormat en/of The Mac.
Het hy al die ware skildery in die Louvre gesien? vra ek.
``Nee,'' sê hy. ``In Amerika het ons alles net nie die
egte Mona Lisa nie. Maar my ma het haar al gesien. Dit was in
Januarie 1963 kort nadat Mona die Atlantiese Oseaan oorgesteek
het en deur pres. en mev. Kennedy verwelkom is.''
``Dis eienaardig dat Mona so gewild is, want hierdie Florentynse
edelvrou is omtrent die enigste artistieke voorwerp in die Louvre
wat nie naak is nie,'' sê sy makker wat wel al in Parys
was. ``Elke dag is die menigte wat nie op die Eiffel is nie,
voor Mona Lisa, en sy kyk na hulle met daai enigmatiese uitdrukking
van iemand wat wonder oor die tydlose vraag: Waarom bly hul
foto's neem, hoewel dit uitdruklik verbied word?''
Die misterieuse manier waarop Mona Lisa se glimlag verander,
afhangende hoe jy daarna kyk, kan moontlik toegeskryf word aan
die fisiologie van menslike sig. ``What is it with Mona Lisa's
Smile? It's You,'' kondig die New York Times dié moontlikheid
onlangs aan.
Volgens Margaret Livingstone, 'n Harvardse neuro-wetenskaplike,
het Mona Lisa sowel ``sentrale visie'' as ``periferiale visie''.
Die eerste fokus op detail en die laasgenoemde op skadu's.
``Hierdie skaduwees suggereer en versterk die booglyne van 'n
glimlag. As die kyker se oë egter direk na Mona Lisa se
mond gaan, word die skadu's weens sentrale visie nie gesien
nie,'' verduidelik Livingstone. ``Gevolglik verskyn en verdwyn
die glimlag voortdurend afhangend hoe jy na Mona Lisa se gesig
kyk . . . Die aktrise Geena Davis vertoon ook hierdie Mona Lisa-effek.''
Met die skryf hiervan het seminare oor die skildery gedy. Wie
behoort die Mona Lisa te besit? vra hulle. Hoe is Leonardo se
Mona Lisa gebruik en vervorm deur die moderne wêreld en
veral die handel? Wie het die volmaakte Mona Lisa?
j
f
|
|
|
|
nie-reis
italiaanse
filmformule -
'n stempel vir sukses
|
|
jens
friis
|
|
|
Die mensdom kry nimmer genoeg van flieks uit die
land van La Dolce Vita.
Of dit Bourn Identity of Hamlet is, jy kry net soveel meer uit
‘n film as jy reeds by die Eiffel in Parys was of die Guggenheim in
New York.
Ditto met Florence of Rome.
Maar om met die kyk behaaglik te kan sê:
“Ek was al daar!” sal ek eers weer na ‘n paar Italiaanse gunstelinge
moet kyk.
Ek het hul immers éérs gesien op die wyeskerm en toe gaan loer
of bella Italia meer bellissima is.
Nie andersom nie.
Films is een van Italië se top-uitvoerprodukte.
Die land het skynbaar ‘n onuitputlike hoeveelheid ongemoderniseerde
eiendom.
Alles ís outentiek.
Dure stelle is onnodig.
Weinig moes verander word aan die dorpie Montepulciano voor die verfilming
van A
Midsummer Night’s Dream.
Vir Michelle Pfeiffer en Rupert Everett as Titania en Oberon
het dié Tuskaanse heuweldorp soos ‘n handskoen gepas.
Dat dit dalk was wat Shakespeare in gedagte gehad het is g’n
so onwaarskynlik nie.
Vele beweer hoeka dat dit in Italië was wat Shakespeare die een
na die ander stuk geskryf het tydens sy “verlore jare”.
In omringende Tuskaanse dorpies is menige treffer in die afgelope
jare vervaardig.
Dit was deur die strate van San Gimignano dat Kristin Scott Thomas gestap
het in Up at the villa.
Vir The English Patient is Pienza se renaissance geboue en Tuskaanse
heuwellandskap gekies.
Die oud-klooster van Sant’Anna in Camprena waar Juliette Binoche
vir die sterwende Ralph Fiennes versorg het is deesdae ‘n gastehuis.
In dié geweste is ook Tea with Mussolini gemaak met Judy Dench en in
die Chianti-area Stealing Beauty met die pragtige Liv Taylor.
Prins Charles se gunsteling Italiaanse stad, Lucca, was grootliks
die keuse vir Portrait of a Lady.
Room with a view het wéér die Italiaanse formule vir sukses bevestig.
As Helena Bonham-Carter uitkyk oor die dakke en koepels van Florence
is dit nie net sy wat daarop verlief raak nie, maar kykers die wêreld
oor.
En spoedig bespreek hul (soos miljoene ander) ‘n villa-vakansie
– of dink minstens sterk daaraan.
Mussolini het maar te goed besef watter kragtige medium films
is om die gemeenskap se gedrag te beïnvloed.
Hy het lewensgetroue oorklankings aangemoedig sodat die burgers
van die jong Fascistiese ryk moes voel dat die wêreld om Rome draai.
Caput mundi oftewel die middelpunt van die wêreld was
Rome dan ook drie jaar gelede weer in 2000.
Antieke Rome het nog nooit so goed gelyk as in Gladiator nie.
In dié rekenaar gemanipuleerde virtuele wêreld was elke Korintiese
kolom jouwaarlikwaar penorent.
Op die Colusseum het wind en weer nog g’n houvas gekry.
Russel Crowe was in dieselfde liga as Kirk Douglas in Spartacus.
Om nie eers te praat nie van die toga-en-sandale-films soos Quo
Vadis en Ben Hur. In
Cleopatra het Elizabeth Taylor meer slawe gehad as die ware koningin.
Wie kan Fellini se La Dolce Vita vergeet met Anita Ekberg in
‘n swart aandrok binne in die Trevi-fontein?
Sjieker as Hollywood?
Gewis.
Boonop is hier keisteenstrate, paparazzi, sypaadjiekafees en
alles – ook die akteurs – lyk net soveel beter in die Italiaanse goue
lig.
Dit moes eenvoudig die paadjies help plavei het vir Sophia Loren,
Marcello Mastroianni, Visconti, Gina Lollobrigida en Federico Fellini.
G’n wonder die sterre is steeds dol oor Italië nie.
Niemand is ooit te besig om ‘n paar weke af te knyp en hier te
kom films maak nie.
nog
onlangse flieks vervaardig in italië
-
Vir Matt Damon en Gwyneth
Paltrow se The Talented Mr. Ripley het die keuse geval op
die afgeleefde dorpie, Anzio, as ‘n periode-replika vir die gesofisitikeerde
50’s-oord, San Remo.
-
Il Postino handel oor die Chileense digter, Pablo Neruda, se kuiertjie
op Capri.
-
Roberto Benigni het verstommende
sukses behaal met die Holocaust-film, La Vita è Bella (Life is
Beautiful).
-
Vir byna drie maande kon die Florentyne aan weinig
anders dink as die kanibaal met die maak van Hannibal, die
opvolg van die kult-riller, The Silence of the Lambs.
j
f
|
|
|
nie-reis
napoleon
bonaparte -
die stewels, knope en eau de cologne
|
|
jens
friis
|
 |
|
Napoleon het ‘n voorliefde gehad vir die fynere dinge in die lewe, maar
aan belangriker sake soos of die stewels van sy soldate behoorlik gepas
het, het hy skynbaar weinig sin gehad.
Die
Franse N85 is gebou langs dieselfde pad as wat die Romeine reeds gebruik
het. Deesdae word dit bemark
as die Pad van Napoleon Bonaparte, want “hy’t dit gestap, jy kan dit ry,”
lees die pamflet voor my ‘n wyle gelede.
Hiér vanaf die Mediterreense See verby die voetheuwels van die
Franse Alpe in die rigting van Lyon was dit waar Napoleon en sy manskappe
eens noord gemasjeer het om die mag in Parys oor te neem sonder om ‘n
skoot te skiet.
Dit is nou nadat hul Golfe Juan naby Cannes bereik het op 1 Maart
1816 na ‘n ontsnapping van die eiland Elba in die Middellandse See.
Op dié stadium was die Franse nie al te ingenome met die Bourbon-heerskappy
nie. Napoleon het hom teen
die hiërargiese leer opgewerk net na die Franse Revolusie tot by die punt
waar hy homself byna as keiser kon verklaar het.
Nadat die Oostenrykers en Duitsers Frankryk egter suksesvol ingeval
het, het hy geabdikeer en is na Elba gestuur.
Terwyl almal egter van mening was dat hy nog op dié klein eilandjie gesit
het, het hy in die laaste sneeu van die winter na die vasteland gevlug.
By Golfe Juan en nie Marseille het hy voet aan wal gesit om die
Koninklike weermag vry te spring en só onverwags was sy opwagting dat
koninklike soldate in klein dorpies geen tyd gehad het om te reageer nie.
Soos hy dan ook eens gesê het:
"The art of succeeding is the one of being sometimes daring
and sometimes wise."
Menige manskap van Napoleon se voete was egter waarskynlik velaf tydens
dié stappery na Parys, want Napoleon het slegs drie grootte skoene vir
sy soldate gebied. Dié skoene
kon jy ook aan enige voet aantrek, want die grootte was om’t ewe.
Alhoewel Napoleon skynbaar weinig erg gehad het aan die stand van sy soldate
se voete het dit hom g’n aangestaan dat hul die moue van hul baadjies
as sakdoeke gebruik nie.
Napoleon het sy kleremakers beveel om knope aan te werk aan al
die baadjies van sy manskappe. Sodoende
is die soldate gedwing om hul sakdoeke te gebruik.
Deesdae word knope gewoonlik aan baadjies se moue gewerk vir dekoratiewe
doeleindes, maar Napoleon is blykbaar die man agter dié gebruik.
Dié gesofistikeerde aanvoerder van vele troepe het blykbaar altyd in sy
stewel ‘n flessie eau de cologne saamgedra.
Minstens ‘n botteltjie per dag moes gebruik word om sy hele liggaam
mee in te vryf na ‘n warm bad.
Van dié gebruik moes hy egter afsien nadat hy verslaan is en ‘n
kluisenaarslewe op St. Helena moes deurbring.
Van korte duur was dit egter.
Deur staat te maak op die geheue van mede-gevangenis en ‘n oog
te gooi in meerdere woordeboeke het hul ‘n nagemaakte eau de cologne
saamgeflans. Die olies
van vrugte en aromatiese plante wat op die eiland groei het hul ingespan.
Jare der jare later is die resep vir dié lekkerruikgoed in die laai van
‘n studeertafel gevind en geneem na die Osmoteque, die Franse Museum vir
Reukgoed (“Fragrances”) in Versailles.
En vanjaar ‘n dekade gelede kon die mensdom vir die eerste keer weer ruik
hoe Napoleon Bonaparte se St. Helena-reukwater ruik nadat Jean Kerleo
van die Franse Instituut vir Parfuum dit weer ‘n keer gemaak het.
j
f
|
| i
| ii
|
voorblad
| bestemmings | raad
& neigings | reisnuus | nie-reis
| foto's |