voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 
i | ii
nie-reis

slaapraad bekyk slaappatrone

   
jens friis
     


As dit rondom die noenuur tyd is om die skroeiwarm son met 'n hand uit jou oë te skerm, is dit tyd om 'n rukkie te gaan lê.
Só maak diegene langs die Mediterreense See nog altyd, maar nou het die British Sleep Council 'n beroep gedoen op base om nege-tot-vyf-dae te vervang met meer buigsame werktyd.
Dit volg ná 'n opname wat daarop dui dat die insluiting van 'n siësta by 'n werkdag goed is vir produktiwiteit. ``Daarom sal dit werkgewers loon om 'n middagslapie toe te staan,'' meen dr. Chris Idzikowski, 'n professor aan Surrey-universiteit wat twee jaar hieroor navorsing gedoen het.
Onder die 12 000 respondente was Europeërs, Amerikaners, Australiërs en Suid-Afrikaners. Altesame 41% het gesê hulle is die produktiefste soggens, terwyl 38% die meeste saans gedoen kry.
Hiervolgens was die Amerikaanse Navaho-Indiane beslis verkeerd deur dit pertinent te stel dat iemand wat bedags 'n uiltjie knip 'n luiaard is.
Voor industrialisering is daar meer stuk-stuk geslaap. Daar sou eerder byvoorbeeld smiddae, vroegaand en snags geslaap word as tydens 'n enkele lang nagrus.
Ook binne kulture verander slaappatrone. Vroeër het die Eskimo's veel meer geslaap in die lang, donker winters as in die somer. Weens veral elektriese lig is dit nie meer die geval nie.
Of 'n kind by 'n ouer slaap, hang af van die klimaat, beskikbaarheid van kamers, gesinsgrootte, teenwoordigheid van 'n pa, privaatheid, onafhanklikheid en die sterftesyfer onder pasgeborenes in die gemeenskap.
In die VSA het Spock en ander pediaters aanbeveel dat kinders afsonderlik van hul ouers moet slaap, maar hierdie gebruik, wat grootliks ontwikkel het gedurende die 20ste eeu, is ongewoon in baie ander kulture, waaronder Japan en Italië.
Ook nie alle Amerikaanse families slaap só apart nie. By Afro-Amerikaanse gesinne is dit algemeen dat ouers en jong kinders 'n bed deel.
Die British Sleep Council meen dat dit 'n fundamentele verskil in waardes weerspieël. Ouers in die VSA glo dat hul kinders so vroeg moontlik onafhanklik moet word, terwyl interafhanklikheid in Japan veel belangriker is.
Die sleepcouncil.org.uk het ook gekyk wie hoe, waarop en waaronder slaap.
Nie almal dra nagklere as hulle in droomland is nie. So dra die Effe van Za¨re nie 'n draad klere nie uit vrees dat die kampvuur dit aan die brand sal steek.
In Noord-Kenia slaap mans en vroue van die Gabra-stam in verskillende beddens, terwyl die ouers van die Lese-stam in Za¨re by hul kinders slaap. In Pakistan het die Swat Pathan aparte beddens vir almal, met verskillende slaapareas vir vroue en mans.
Almal stem nie saam dat 'n goeie matras die beste nagrus waarborg nie.
In nie-ge¨ndustrialiseerde gemeenskappe word dikwels op die grond geslaap soos die !Kung van Noordwes-Botswana.
Die Ache van Paraguay slaap op matte wat bedags opgerol word en die Hiwi van Suid-Venezuela in hangmatte. Vir die Effe van Za¨re is 'n lagie blare voldoende.

j f

nie-reis

arme mona lisa

   
jens friis
     

 
Kultusfiguur of kulturele argetipe, uitlokker of onskuldige ikon, Leonardo se misterieuse madonna bekoor na sowat 'n halfmillennium net meer, skryf Jens Friis. Min gesigte is meer bekend en bemind as dié Mona Lisa. In New York het ek haar op 'n stortgordyn uit Korea gesien. Op die sypaadjie voor die Keiser Wilhelm-gedenkkerk in Berlyn was 'n straatkunstenaar haar aan 't sketse. Op 'n vriendin se sitkamerbank in Johannesburg dien sy as 'n kussing.
As Mona Lisa nie 'n klarinet bespeel nie, verkoop sy rekenaars of sigare. Vele beroepe moet dié arme vrou beoefen! Die Chinese kan Mona Lisa Skin Oil aanskaf, en in Pole is sy 'n akrobaat op 'n sirkusplakkaat. En ja, die raarste van die lot is dalk in Amerika waar opblaasbare Mona Lisa-poppe van mensgrootte verkwansel word! Die variasies op die tema is verbysterend. Mona Lisa het deel geword van die mens se kollektiewe onbewuste. 'n Kruising tussen 'n kulturele argetipe en 'n ikon van kitsch.
Op 8 Februarie 1999 trek die tydskrif The New Yorker parallelle tussen Mona Lisa en Monica Lewinsky. In die artikel getitel ``Woman of the Year'' skryf David Remnick van Lewinsky: ``In Monica het ons alles en almal gesien wat ons wou . . . Sy pas in alle interpretasies . . . Sy is orals van regsjoernale tot pornotydskrifte . . . Maar Monica [anders as Mona Lisa] is 'n vrou wat nie meer geheime het nie. Haar oë is nie vensters nie, maar spieëls, en wat ons sien, is vreeslik. Nietemin bly ons staar.''
En met 'n oog wat 'n bars kan kyk, kyk ek in Los Angeles. Langs Sunset Boulevard stal 'n vyftigtal Mona Lisa-liefhebbers uit. Die een het 'n humorsin wat selfs Mona Lisa sou laat kraai. Só probeer sy my oortuig dat Michael Douglas al te veel lyk na 'n afstammeling van hierdie geliefde madonna. 'n Ander druk my dít in die hand: ``Mona-Lisa Cocktail: 3 oz. Vodka, 3 oz. Lemon Soda. Stir and pour into a highball glass. Drink while dancing to the song `Mona-Lisa'.''
Ek sien van telefoonkaarte en koekieblikke tot sokkies met slegs een gemene deler: Was daar al 'n bekender werk in die ganse geskiedenis van die beeldende kunste?
``Niemand wil hul tog nét deur mooi en funksionele goed omring nie,'' verklaar 'n Mona Lisa-fanatikus waarom hy drie identiese kaassnyers het waarop onse Lisa verskyn.
Onnodig om te meld, is dit ook sy wat pronk op Frank Zappa-plakkate, oorringe en porno-speelkaarte op sy uitstaltafel. Dit alles is nie te koop nie, maar wel die Mona Lisa-legkaart wat te kry is op CD-Roms vir Macworld, MacFormat en/of The Mac.
Het hy al die ware skildery in die Louvre gesien? vra ek.
``Nee,'' sê hy. ``In Amerika het ons alles net nie die egte Mona Lisa nie. Maar my ma het haar al gesien. Dit was in Januarie 1963 kort nadat Mona die Atlantiese Oseaan oorgesteek het en deur pres. en mev. Kennedy verwelkom is.''
``Dis eienaardig dat Mona so gewild is, want hierdie Florentynse edelvrou is omtrent die enigste artistieke voorwerp in die Louvre wat nie naak is nie,'' sê sy makker wat wel al in Parys was. ``Elke dag is die menigte wat nie op die Eiffel is nie, voor Mona Lisa, en sy kyk na hulle met daai enigmatiese uitdrukking van iemand wat wonder oor die tydlose vraag: Waarom bly hul foto's neem, hoewel dit uitdruklik verbied word?''
Die misterieuse manier waarop Mona Lisa se glimlag verander, afhangende hoe jy daarna kyk, kan moontlik toegeskryf word aan die fisiologie van menslike sig. ``What is it with Mona Lisa's Smile? It's You,'' kondig die New York Times dié moontlikheid onlangs aan.
Volgens Margaret Livingstone, 'n Harvardse neuro-wetenskaplike, het Mona Lisa sowel ``sentrale visie'' as ``periferiale visie''.
Die eerste fokus op detail en die laasgenoemde op skadu's.
``Hierdie skaduwees suggereer en versterk die booglyne van 'n glimlag. As die kyker se oë egter direk na Mona Lisa se mond gaan, word die skadu's weens sentrale visie nie gesien nie,'' verduidelik Livingstone. ``Gevolglik verskyn en verdwyn die glimlag voortdurend afhangend hoe jy na Mona Lisa se gesig kyk . . . Die aktrise Geena Davis vertoon ook hierdie Mona Lisa-effek.'' Met die skryf hiervan het seminare oor die skildery gedy. Wie behoort die Mona Lisa te besit? vra hulle. Hoe is Leonardo se Mona Lisa gebruik en vervorm deur die moderne wêreld en veral die handel? Wie het die volmaakte Mona Lisa?

j f

nie-reis

italiaanse filmformule -
'n stempel vir sukses

   
jens friis
     

     
Die mensdom kry nimmer genoeg van flieks uit die  land van La Dolce Vita.  
Of dit Bourn Identity of Hamlet is, jy kry net soveel meer uit ‘n film as jy reeds by die Eiffel in Parys was of die Guggenheim in New York.
Ditto met Florence of Rome.    Maar om met die kyk behaaglik te kan sê:  “Ek was al daar!” sal ek eers weer na ‘n paar Italiaanse gunstelinge moet kyk.  Ek het hul immers éérs gesien op die wyeskerm en toe gaan loer of bella Italia meer bellissima is.   Nie andersom nie.
Films is een van Italië se top-uitvoerprodukte.   Die land het skynbaar ‘n onuitputlike hoeveelheid ongemoderniseerde eiendom.  Alles ís outentiek.  Dure stelle is onnodig.
Weinig moes verander word aan die dorpie Montepulciano voor die verfilming van  A Midsummer Night’s Dream.  Vir Michelle Pfeiffer en Rupert Everett as Titania en Oberon het dié Tuskaanse heuweldorp soos ‘n handskoen gepas.  Dat dit dalk was wat Shakespeare in gedagte gehad het is g’n so onwaarskynlik nie.  Vele beweer hoeka dat dit in Italië was wat Shakespeare die een na die ander stuk geskryf het tydens sy “verlore jare”.  
In omringende Tuskaanse dorpies is menige treffer in die afgelope jare vervaardig. 
Dit was deur die strate van San Gimignano dat Kristin Scott Thomas gestap het in Up at the villa.
Vir The English Patient is Pienza se renaissance geboue en Tuskaanse heuwellandskap gekies.  Die oud-klooster van Sant’Anna in Camprena waar Juliette Binoche vir die sterwende Ralph Fiennes versorg het is deesdae ‘n gastehuis.
In dié geweste is ook Tea with Mussolini gemaak met Judy Dench en in die Chianti-area Stealing Beauty met die pragtige Liv Taylor.   Prins Charles se gunsteling Italiaanse stad, Lucca, was grootliks die keuse vir Portrait of a Lady.  Room with a view het wéér die Italiaanse formule vir sukses bevestig.  As Helena Bonham-Carter uitkyk oor die dakke en koepels van Florence is dit nie net sy wat daarop verlief raak nie, maar kykers die wêreld oor. 
En spoedig bespreek hul (soos miljoene ander) ‘n villa-vakansie – of dink minstens sterk daaraan. 
Mussolini het maar te goed besef watter kragtige medium films is om die gemeenskap se gedrag te beïnvloed.  Hy het lewensgetroue oorklankings aangemoedig sodat die burgers van die jong Fascistiese ryk moes voel dat die wêreld om Rome draai. 
Caput mundi oftewel die middelpunt van die wêreld was Rome dan ook drie jaar gelede weer in 2000.  Antieke Rome het nog nooit so goed gelyk as in Gladiator nie.  In dié rekenaar gemanipuleerde virtuele wêreld was elke Korintiese kolom jouwaarlikwaar penorent.  Op die Colusseum het wind en weer nog g’n houvas gekry.    Russel Crowe was in dieselfde liga as Kirk Douglas in Spartacus.  
Om nie eers te praat nie van die toga-en-sandale-films soos Quo Vadis en Ben Hur.   In Cleopatra het Elizabeth Taylor meer slawe gehad as die ware koningin.  Wie kan Fellini se La Dolce Vita vergeet met Anita Ekberg in ‘n swart aandrok binne in die Trevi-fontein?
Sjieker as Hollywood?  Gewis.   Boonop is hier keisteenstrate, paparazzi, sypaadjiekafees en alles – ook die akteurs – lyk net soveel beter in die Italiaanse goue lig.  Dit moes eenvoudig die paadjies help plavei het vir Sophia Loren, Marcello Mastroianni, Visconti, Gina Lollobrigida en Federico Fellini.  
G’n wonder die sterre is steeds dol oor Italië nie.  Niemand is ooit te besig om ‘n paar weke af te knyp en hier te kom films maak nie. 

nog onlangse flieks vervaardig in italië

  • Vir Matt Damon en Gwyneth Paltrow se The Talented Mr. Ripley het die keuse geval op die afgeleefde dorpie, Anzio, as ‘n periode-replika vir die gesofisitikeerde 50’s-oord, San Remo.  

  • Il Postino handel oor die Chileense digter, Pablo Neruda, se kuiertjie op Capri.

  • Roberto Benigni het verstommende sukses behaal met die Holocaust-film, La Vita è Bella (Life is Beautiful).

  • Vir byna drie maande kon die Florentyne aan weinig anders dink as die kanibaal met die maak van Hannibal, die opvolg van die kult-riller, The Silence of the Lambs.

j f

nie-reis

napoleon bonaparte - 
die stewels, knope en eau de cologne

   
jens friis
     

     
Napoleon het ‘n voorliefde gehad vir die fynere dinge in die lewe, maar aan belangriker sake soos of die stewels van sy soldate behoorlik gepas het, het hy skynbaar weinig sin gehad.

Die Franse N85 is gebou langs dieselfde pad as wat die Romeine reeds gebruik het.  Deesdae word dit bemark as die Pad van Napoleon Bonaparte, want “hy’t dit gestap, jy kan dit ry,” lees die pamflet voor my ‘n wyle gelede. 
Hiér vanaf die Mediterreense See verby die voetheuwels van die Franse Alpe in die rigting van Lyon was dit waar Napoleon en sy manskappe eens noord gemasjeer het om die mag in Parys oor te neem sonder om ‘n skoot te skiet. 
Dit is nou nadat hul Golfe Juan naby Cannes bereik het op 1 Maart 1816 na ‘n ontsnapping van die eiland Elba in die Middellandse See.
Op dié stadium was die Franse nie al te ingenome met die Bourbon-heerskappy nie.  Napoleon het hom teen die hiërargiese leer opgewerk net na die Franse Revolusie tot by die punt waar hy homself byna as keiser kon verklaar het. 
Nadat die Oostenrykers en Duitsers Frankryk egter suksesvol ingeval het, het hy geabdikeer en is na Elba gestuur.
Terwyl almal egter van mening was dat hy nog op dié klein eilandjie gesit het, het hy in die laaste sneeu van die winter na die vasteland gevlug.  By Golfe Juan en nie Marseille het hy voet aan wal gesit om die Koninklike weermag vry te spring en só onverwags was sy opwagting dat koninklike soldate in klein dorpies geen tyd gehad het om te reageer nie.  
Soos hy dan ook eens gesê het:  "The art of succeeding is the one of being sometimes daring and sometimes wise."
Menige manskap van Napoleon se voete was egter waarskynlik velaf tydens dié stappery na Parys, want Napoleon het slegs drie grootte skoene vir sy soldate gebied.  Dié skoene kon jy ook aan enige voet aantrek, want die grootte was om’t ewe.
Alhoewel Napoleon skynbaar weinig erg gehad het aan die stand van sy soldate se voete het dit hom g’n aangestaan dat hul die moue van hul baadjies as sakdoeke gebruik nie. 
Napoleon het sy kleremakers beveel om knope aan te werk aan al die baadjies van sy manskappe.  Sodoende is die soldate gedwing om hul sakdoeke te gebruik.  Deesdae word knope gewoonlik aan baadjies se moue gewerk vir dekoratiewe doeleindes, maar Napoleon is blykbaar die man agter dié gebruik.
Dié gesofistikeerde aanvoerder van vele troepe het blykbaar altyd in sy stewel ‘n flessie eau de cologne saamgedra.  Minstens ‘n botteltjie per dag moes gebruik word om sy hele liggaam mee in te vryf na ‘n warm bad. 
Van dié gebruik moes hy egter afsien nadat hy verslaan is en ‘n kluisenaarslewe op St. Helena moes deurbring.  Van korte duur was dit egter.  Deur staat te maak op die geheue van mede-gevangenis en ‘n oog te gooi in meerdere woordeboeke het hul ‘n nagemaakte eau de cologne saamgeflans.  Die olies van vrugte en aromatiese plante wat op die eiland groei het hul ingespan.
Jare der jare later is die resep vir dié lekkerruikgoed in die laai van ‘n studeertafel gevind en geneem na die Osmoteque, die Franse Museum vir Reukgoed (“Fragrances”) in Versailles.
En vanjaar ‘n dekade gelede kon die mensdom vir die eerste keer weer ruik hoe Napoleon Bonaparte se St. Helena-reukwater ruik nadat Jean Kerleo van die Franse Instituut vir Parfuum dit weer ‘n keer gemaak het. 

 


j f

i | ii
     
voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's