voorblad  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 
i | ii
nie-reis

wie betaal vir reën op die stel en fliekskares wat nie opdaag

   
jens friis
     

Die jaar 2001 het gekom en ruimtewesens is steeds nie gevind nie. Tog is daar met die verfilming van 2001: Space Odyssey versekering uitgeneem teen die risiko dat sulke wesens wel gevind sou word voordat produksie afgehandel is.  Versekeringsmaatskappye beskerm jare lank reeds filmproduksies en sterre soos Fred Astaire se voete en Elvis se tande.

Rolprente en versekering het een gemene deler: risiko. Die regisseur wil skiet as die son skyn op Tafelberg.
Tog reën dit onverwags vir dae aaneen in Desember.
Dít terwyl die hoofakteur hom oorgee aan dwelms en onkapabel is om voor die kameras te verskyn.
Die versekeringsmaatskappy hoop dat dit wat verkeerd kan loop, nie sal nie deur talle voorwaardes te stel.
In die stilprent-era was 'n brand wat die houtstelle kon verwoes 'n enorme probleem, maar spoedig sou beroemdheid ook die prentjie vul.
In 1934 is reeds versekering vir Douglas Fairbanks Jnr. uitgeneem, want daar is gevrees dat sy gesig geskend kon word in 'n swaardgevegtoneel.
Betty Grable se ``million dollar legs''-versekering is gevolg deur Fred Astaire se voete.
Tyrone Power (44), die Mel Gibson van sy geslag, het tydens 'n swaardgeveg in Solomon & Sheba inmekaar gestort.
Dit het egter nie die einde van die film beteken nie.
Die Amerikaanse versekeraar Fireman's Fund, het geskiedenis gemaak deur 'n rekordbedrag van $1,2 miljoen uit te betaal.
Yul Brynner is in Power se plek gekies en tonele is oorgeskiet.
In 1993 is River Phoenix dood ná 'n dwelmoordosis.
C.N.A. International en American Casualty het $5,7 miljoen betaal aan die vervaardigers van twee films waaraan Phoenix gewerk het.
Dark Blood is geskrap - vervaardiging was te ver om Phoenix te vervang.
Christian Slater het Phoenix egter vervang in Interview With The Vampire en die film is voltooi.
Dan was daar ook Brandon Lee wat dood is ná 'n skietongeluk in The Crow. Natalie Wood het verdrink met die maak van Brain Storm. Oliver Reed se dood tydens die vervaardiging van Gladiator is weggekonkel deur rekenaarmanipulasie.
In elk van bogenoemde het versekeringsmaatskappye opgedok vir herproduksie.
Meestal loop dinge darem nie so erg skeef nie.
Kameras breek byvoorbeeld of 'n afleweringsdiens is stadiger as wat beloof is en vertraag vervaardiging.
Só was daar Elvis met Jailhouse Rock in 1957 wat so hard rock dat sy kroon uitval, in sy keel beland en produksie vir ses dae vertraag.
Deesdae beloop die vertraging van 'n groot Hollywood-produksie maklik R1,5 miljoen per dag.
Uitsaaiers is traag om 'n film of program te koop, tensy dit verseker is teen foute of weglatings (``errors and omissions'').
E & O, soos daarna verwys word in die praktyk, is een van die grootste risikokategorieë - veral in die VSA waar skadevergoeding reusagtig kan wees.
E & O hou nie verband met 'n produksie se begroting nie, maar die aantal mense wat gekrenk mag voel hierdeur.
So is 'n dokumêntere drama met 'n lae begroting gegrond op ware gebeure dikwels 'n veel groter risiko as byvoorbeeld Waterworld of Titanic.
Een van die grootste dobbelspeletjies is egter: Gaan die skares opdaag?
Die hordes het nie gekom om Barbra Streisand se The mirror has two faces te sien nie.
Dit is so verseker dat die bank wat 'n lening toestaan vir vervaardiging 'n eis teen die versekeraars kon instel, sou die vervaardigers nie die nodige geld maak by die loket nie.
Die kans dat onafhanklike films nie veel gaan maak nie, is goed. Geld vir promosiedoeleindes is daar meestal omtrent nie.
Dit is vrugbare grond vir versekeraars.
Weens die gewildheid van films soos The piano en The English patient word baie sulke films deesdae gemaak en nog meer filmversekering word benodig.

j f

nie-reis

kanadese belastingbetalers moet opdok as merke die gees beskadig

   
jens friis
     
QUEBEC - Die mens is die enigste lewende wese wat kan kies hoe hy of sy wil lyk. Nóg die sebra kan van streep verander nóg die luiperd van kol.
Selfs nie eers die verkleurmannetjie kan hieroor wilsbesluite neem nie.
Dis maklik om jou voorkoms te verander deur jou hare te laat sny, 'n baard te kweek of te gaan vir 'n haarsny. Minder maklik en veel duurder is dit om van 'n tatoeërmerk waarvan jy nie hou nie, ontslae te raak. Wat dan gemaak?
Die hooggeregshof van die Franssprekende provinsie Quebec het pas beslis dat die Kanadese belastingbetaler sal moet opdok indien 'n klaer kan toon dat 'n tatoeërmerk sy geestesgesondheid beïnvloed.
Alain Desbiens, die klaer, het as tiener 'n tatoeërmerk laat aanbring wat feitlik oor sy hele regter bo-arm strek. Hy het aangevoer dat hy dit in opstand teen sy ouers gedoen het.
Die dwelmverslaafde amateur wat dit aangebring het, het volgens Desbiens hom glad nie goed van sy taak gekwyt nie.
Om die merk te verwyder deur plastiese of lasersnykunde sal tussen R13 000 en R24 000 kos.
'n Paar jaar gelede het Desbiens se lewe 'n keerpunt bereik. Hy het opgehou dwelms gebruik en ook 'n sielkundige gaan spreek. Die sielkundige het aanbeveel dat hy van die tatoeërmerk, 'n groot blou en grys karikatuur van 'n kopbeen, ontslae raak ten einde met die verlede te breek.
In die uitspraak is daar gesê dat die merk volgens die redelike man geen estetiese waarde het nie.
Oor die artistieke waarde alleen gaan dit egter nie, maar wel daaroor dat die teken daartoe lei dat Desbiens ge¨soleer voel omdat dit mense afstoot.
Dit dra nie daartoe by om ontslae te raak van die aggressie en angstigheid van sy jeug nie.
Hoewel die Desbiens-saak 'n presedent skep dat talle daarop sal aanspraak maak om van hul tatoeërmerke ontslae te raak, het die Quebecse gesondheidsversekeringsraad aangedui dat hul nie teen die uitspraak gaan appelleer nie.
Hul meen dat die uitspraak nie tot 'n stortvloed suksesvolle aansoeke sal lei nie. Daar moet bewys word dat die verwydering van die merk 'n mediese ingreep is en nie 'n blote kosmetiese prosedure nie.
Permanente vorme van liggaamskuns strek wêreldwyd ver terug.
Tatoeërmerke word hoofsaaklik gevind onder diegene met ligte velkleure.
Gaatjies word in die vel geprik en pigment tussen die vellae ingevoeg.
Daar word vermoed dat die woord ``tattoo'' gevorm is deur klanknabootsing.
In die Stille Oseaanse Polinesië is dit vroeg verfyn tot kunsvorm. Skerp dierbene is geheg aan 'n houtstok. Hierteen is dan geklop met 'n ander stok.
Die ``tat- tat- tat''-klank is moontlik waarvan die woord ``tattoo'' kom, word daar in literatuur gesê.
Hierdie merke kan status of lidmaatskap aandui, terwyl ander glo dit dien as beskerming teen siektes en ongeluk.
Dekoratiewe redes is egter die vernaamste beweegrede hiertoe.
In die jare 50 het dit 'n opbloei beleef.
Daar is soms godsdienstige besware hierteen, soos Levitikus 19:28 wat die aanbring van merke op jouself verbied. Gesondheidsgevare is allergiese reaksies weens die pigment, asook die verspreiding van virusinfeksies soos hepatitis B en HIV onder nie-steriele omstandighede.
Anders as tatoeëring, verf op lywe onder sekere stamme of die aanbring van ringe op soms vreemde plekke aan die lyf, is die doel van hedendaagse kosmetiese snykunde juis nie-dekoratief. Daar word gestreef na natuurlike volmaaktheid deur kunsmatige, onsigbare middele.
Dit is 'n ope vraag of 'n geregshof eendag sal redeneer dat só 'n operasie neerkom op 'n mediese ingreep as dit die geestesgesondheid van 'n burger nadelig raak.

j f

nie-reis

young oor sy (gay) roman

   
jens friis
     

Robert Young is bekend as radiopersoonlikheid en het reeds talle pryse ingeoes vir die 115 dramas wat hy opgevoer, vertaal en verwerk het. Onlangs het hy gedebuteer met, En toe kom die reën, ‘n roman met gay hoofkarakters.  

Alhoewel daar seksuele spanning in Reën is, is die seks daarin nie eksplisiet nie. Is dit juis só geskryf dat ‘n breër mark sin daarin sal hê?
Ek sien Reën as 'n roman met 'n gay tema, en nie as 'n gay-roman nie.  ‘n Gay roman haal die gay persoon uit die gemeenskap en skep ‘n gay-wêreld waarin daar nouliks ander mense bestaan.  Gays is net so deel van die gemeenskap as enigeen anders.  My teikengroep was beide gays en nie-gays. Straight mense kan in die roman sien watter stryd Dawid voer ... van naïewe plaasseun wat hopeloos verlief raak op 'n onsensitiewe Wim; hoe hy skuiling soek in 'n huwelik, en uiteindelik besef: "Ek is deel van hierdie gemeenskap - ek kan saam met hulle loop, maar... my eie ritme volg.”
 
Is 'n gebrek aan eksplisiete seks nie dikwels juis 'n doodsteek vir ‘n roman met ‘n gay tema nie?
Dit is so dat dit gay mense is wat só 'n boek sal koop. Maar moet 'n roman met 'n gay tema nie dalk meer verbruikersvriendelik oftewel toeganklik wees nie? So kan ander lesers kennis neem en deernis ontwikkel vir gay mense Volgens my is suggestie baie sterker as eksplisiete uitbeelding. In enige roman behoort die skrywer gate vir sy/haar leser te laat om self in te vul.
   
Wat is onmisbare bestanddele vir 'n goeie gay roman?

Jy vra my vas. Dieselfde beginsels wat vir 'n sogenaamde "straight" roman geld, geld vir 'n gay roman. Dit moet 'n spanningslyn hê wat die leser dwing om dit tot aan die einde te (wil) lees. Lesers val ook in verskillende groepe: die wat hou van boekklub-liefdesverhale, ander van aksieverhale, en 'n groep wat hoë letterkunde verkies.. Elke groep gaan 'n boek as "goed" of "swak" beskou afhangend of dit in hul smaak val.
 
Wat is jou gunsteling gay romans?
Maurice deur E.M. Forster en Forbidden Colours van Yukio Mishima.  Deesdae lees ek veral (outo)biografiese werke. Ek is een van die min mense wat ek ken wat daarvan hou om 'n dramateks te lees. Weens my werk lees ek minstens tien tekste per maand wat voorgelê word vir keuring, maar dan lees jy nie (noodwendig) vir plesier nie.  My gunsteling novelle is "A River Runs Throught It".
 
Reën wys onder meer op die ooreenstemmings tussen hetero- en homoseksuele verhoudings.  Tog verskil dit ook.  Wat sou jy meen is die slaggate waarvoor gays moet uitkyk in hul verhoudings?
Niemand moet ooit om die verkeerde rede(s) 'n verhouding aangaan nie As die een nie die ander kan aanvul nie; as hulle nie geestelik/emosioneel kan kommunikeer nie, is fisiese kommunikasie baie dun ys om op te loop. Dawid sê aan Phillip dat liefde nie genoeg rede is om 'n verhouding aan knoop nie - dat jy ook moet weet dat jy met die ander oor die weg kan kom; goeie vriende wees. Baie gay mense raak verlief op 'n beeldskone maar leë dop; ontwikkel 'n obsessie daaroor en sien niks anders raak nie. Ek is die laaste wat ‘n ander raad sal probeer gee, want niemand soek raad nie: net iemand wat met jou saamstem. Al waarsku ek jou teen die oorhangende klip waarteen ek my kop gestamp het, gaan jy dit tog een of ander tyd toets - nie om die klip te toets nie, maar om te besluit of dit nie dalk my kop is wat te sag is nie.
 
'n Groot deel van die hoofkarakter Dawid se bestaan draai om 'n soeke na aanvaarding. Die boek eindig só dat 'n opvolg hieroor selfs van "Reën"geskryf sou kon word.
Ek hou van stories met 'n oop einde, sodat ek self voorstellings in my verbeelding kan maak. Gewoonlik val 'n opvolg plat.
 
Was jy skrikkerig om die boek te publiseer?
Ja, want jy stel jou  uiteraard bloot aan kritiek, maar vreemd genoeg het ek nog net goeie terugvoer gekry …  veral van heteroseksuele vroue wat meen dat die boek 'n baie wyer lesersgehoor verdien as net gay mense.
 
Tot watter mate is Reën biografies?
Niks wat daarin gebeur het op dieselfde manier met my my gebeur nie. Tog is daar baie van myself in Dawid wat van baie naief vorder tot uiteindelik by sy eie staanplek.
 
Beplan jy vooraf die storielyn?
Reën het nie maklik gekom nie. Ek het die idee 20 jaar saam met my gedra tot ek op'n dag gaan sit en besluit het wát ek wil doen. My probleem was dat ek nie geweet het hóé skryf jy 'n roman nie. Maar ek het goeie raad gekry van 'n uitgewer na die eerste poging, en dit eers 'n jaar later voltooi. Wat belangrik is: jy moet 'n raamwerk hê, met 'n begin, verloop en einde. 'n Beroemde Afrikaanse skryfster het vir my gesê: "As jy nie jou storie in een paragraaf kan opsom nie, is dit nie die moeite werd om dit te probeer skryf nie."
 
Waar skryf jy?
In my study. Altans, dis wat ek dit noem. Studeerkamer klink verskriklik pretensieus. En terwyl ek werk, speel Bruckner of 'n volledige Verdi-opera in die agtergrond. Ek kan nooit lank konsentreer nie, staan kort-kort op en gaan loop in die tuin, spuit plante nat of trek bossies uit.
 
Waarom skryf jy?
Ek wens ek het geweet. Dis soms frustrerend en dit raak 'n obsessie, maar jy raak só betrokke by jou denkbeeldige speelmaatjies, dat jy hulle nie wil (kan) los nie.
 
Wat doen jy as jy 'n dag vry het?
Soms kry ek dit reg om soos 'n groot luiaard totaal NIKS te doen nie. Maar ek hou van rolprente en kuier en uiteet. Stimulerende geselskap is soos medisyne.
 
Is daar enige dramas met gay karakters wat in die pyplyn is by radiosondergrense waar jy program-bestuurder is?
Nee, maar ons het al die onderwerp in verhale gehad - ook in 'n boekvoorlesing (Op 'n Eiland van Karel Schoeman). In die vorige sepie, Stralerjakkers was daar 'n gay karakter; ook iemand wat aan VIGS dood is, en die mense het snot en trane gehuil.
 
Die luisteraars van dié reuse stasie bestaan uit 'n wye spektrum.  Tog sou 'n groot gros beskryf kon word as behoudende Afrikaanssprekendes.  Verskil jul luisters van byvoorbeeld die kykers van Egoli met sy gay-intriges?
Behoudend, ja. Maar nie altyd sonder begrip nie. Ek sou nooit droom om "reën" te laat voorlees nie.
 
Jy het 'n tweede roman wat nou by Lapa-uitgewers is.
Ja, die hooftema is bi-seksualiteit. Die hoofkarakter (29) is gelukkig getroud en het 2 kleuters in die huis. Hy was altyd bewus van sy dubbelbegeerte, maar het sy “ander” kant onderdruk. Hy raak dan betrokke by 'n 21-jarige gay man …
 
*  En toe kom die reën, Robert Young, 2001, Homeros, ISBN 0-624-03960-9

j f

nie-reis

globalisering & seks

   
jens friis
     

Die "globale village" is ‘n realiteit. Óraloor beïnvloed ons krimpende wêreld denke en lewens, en uiteraard loop seks en idees hieroor ook deur. Op dié nuwe wêreld van seks fokus Dennis Altman in sy boek, Global Sex (Univ. of Chicago, 2001).
Volgens onderwerp bespreek hy standaarde van seksuele aantreklikhede en vroueregte tot Vigs en die gevolge daarvan op veral Afrika. "Maar," soos die Library Journal skryf, "wys Altman veral dat seks en seksualieit nie slegs private aangeleenthede is nie, maar ook internasionale politiek en handel sterk beïnvloed."
As die eerste deurgevorste werk van sy soort, aldus Midwest Book Reviews, wys dié Australiese sosioloog op die gesamentlike invloed wat telekommunikasie, menseregte, vrye handel en grootskaalse lugvervoer op seksualiteit het.
Só skryf Altman dan ‘n tot nog toe grootliks verborge sy van globalisering oop.
Waarskynlik die mees waarneembare aspek van globalisering is blitssnelle kommunikasie. Talle bestemmings word nou vir die eerste keer werklik op die wêreldkaart geplaas. Monaco tot Malawi kan gelyk meeding. Altman haal ‘n skrywer aan wat globalisering omskryf as "the chronic intensification of patterns of interconnectedness." Outoritêre regimes in Afghanistan en Iran tot China en Zimbabwe kan nie álle webblaaie sensor of satellietskottels doeltreffend verbied nie. Mense wat gevoel het hul is enig in hul soort weens hul (seksuele) oortuiging maak vriende en vorm groepe via die internet. Ook bring dit pornografiese materiaal na die binnehuis sodat pornografie vandag ‘n $4,2 biljoen-mark geword het per jaar.
Samehangend hiermee is die bewuswording van persoonlike vryheid en outonomiteit, aanvaarding van konsepte rakende menseregte en die reg tot individuele self-uitdrukking. Internasionale organisasies soos die VN benadruk dit, maar die grootste stukrag kom van programme soos MTV, Oprah en Hollywood-films. In veral tradisionele kulture word hierteen gewaarsku as die "wêreldimperialisme van die VSA". Waar is dit tot ‘n mate, maar gewilde Amerikaanse kultuur het wel die heilsame effek dat menige onderdruktes bewus word in watter klemgreep hul vasgepen word deur regerings, sosiale gebruike en godsdiensgroepe. Dit lei daartoe dat mense met ander (seksuele) identiteite ook makliker ‘n leefruimte gegun word.
‘n Derde aspek van globalisasie is die uitbreiding van vrye-handel en die mark-ekonomie. Weens industrialisasie en ongekende ekonomiese ontwikkeling voed dit ‘n middelklas wat beskik oor ‘n wyer verskeidenheid leefstylkeuses. Jongmense ontdek hul seksualiteit vrylik sonder familie- en gemeenskapsdruk om te trou of te voldoen aan sosiale verwagtings.
Vierdens benadruk Altman die toenemende vrye beweging van die mensdom. "Moet nooit die impak van die 747 onderskat nie," merk hy op. Tog verwys hy nie net na toeriste en sake-reisigers nie, maar ook na die migrasie van gaswerkers en vlugteling. Laasgenoemde groepe hou kontak met hul mense "tuis" en neem wat hul sien en hoor terug na minder-geïndustraliseerde lande. Alhoewel die verspreiding van Vigs juis deur hierdie flinke mensevloei versnel word, bevorder dit ook ‘n vryer bespreking van seks. Uit noodsaak om hierdie virus te beveg moet daar openlik oor seks-aangeleenthede gepraat word.
Soms is die materiaal in Global Sex ietwat onverteerd en is daar net té veel aanhalings oor post-moderne teorieë. Dat Altman egter put uit nie-tradisionele bronne soos Sharon Stone se bekende beenkruising in Basic Instinct, Playboy, La Cage aux Folles en Herbert Marcuse se teorieë maak dié boek veel meer leesbaar.
Altman is op sy beste as hy spesifiek is soos wanneer hy Bangkok se reputasie vergelyk met die van Wenen as die "global brothel" van 1900. Ook as hy toon hoe Reagan en Thatcher "morele paniek" gebruik het om hul agendas te bevorder.
Vir nadink is hier baie pitkos: Wat is die verband tussen buitelandse beleggings en kapitalisme teenoor die toename van Vigs en prostitusie? Waarom word seksualiteit en publieke gesondheid gewoonlik bespreek in terme van moraliteit, maar selde in die politiese en ekonomiese sfere? En dies meer.
Deurdat Altman die verweefdheid ("interconnectedness") van die hedendaagse wêreld verwoord as beide ‘n bedreiging én uitdaging, behou hy ‘n globale perspektief.
Diegene wat Global Sex interessant vind, sal ook sin hê in Talk of Love: How Culture Matters deur Ann Swidler.

j f

nie-reis

is daar 'n eksie-perfeksie vir 'gade' in 'n veranderende wêreld?

 

   
jens friis
     
'n Britse homoseksuele paartjie het met behulp van 'n eierselskenker en 'n surrogaatma die ouers van 'n tweeling geword. Maar die gemeenskap sukkel met die regte terme: het die tweeling nou twee ``pa's'', of kan of moet 'n mens een van die mans ``ma'' noem? Adv. Jens Friis, wat werk aan 'n doktorale studie in die regte oor die erkenning van homoseksuele verhoudings in die Suid-Afrikaanse reg, skryf oor dié woord-turksvy.

Dis die tyd van die jaar vir werkgesellighede, jaareind- feestelikhede en ander algemene vrolikhede. Die e-pos by die werk bring die uitnodiging: ``U en u gade word vriendelik genooi na die departement se afsluitingsfunksie. Kan u asseblief laat weet of u en u gade dit gaan bywoon?''

Vir my as enkelman is die verwysing na ``gade'' 'n turksvy.

``Jammer, dit het vinnig gegaan vandag en in die haas het 'n politiek meer korrekte term nie by my opgekom nie,'' verduidelik die sekretaresse. ``Maar ek is oortuig daarvan die baas sal wil hê dat jy enigiemand saambring sodat almal die aand kan geniet.''

Aan 'n klinkklare term om gade te vervang kan ook ek nie dadelik dink nie, maar ek doen ``metgesel'' of ``vriend'' aan die hand.

Só begin ons die geskiktheid oorweeg van woorde soos maat (partner), deelgenoot, eggenoot (spouse) en lewensmaat (longtime companion). Wat sou die geskikste naam wees vir ``gade'' in ons veranderende samelewing?

Woorde is immers nie onskuldig nie. Woordkeuse is 'n morele, politieke en doeldienende handeling wat persoonlike en sosiale implikasies inhou.

'n Taal maak kommunikasie moontlik, maar terselfdertyd is dit 'n weerspieëling van die werklikheid. Die afwesigheid van beskikbare terme om 'n bepaalde saak te benoem ontken die bestaan daarvan en verleen nie-kommunikeerbare status daaraan.

Die gevolge is verreikend, want die nie-erkenning van verhoudings raak die mens se identiteit: self-identifikasie, die interpretasie van gesamentlike ervaring, sosiale en emosionele binding, optrede, leefwyse . . .

Feitlik niemand (ook nie gay- of heteroseksuele pare wat saamwoon nie) is bedag op die ontkennende wyse waarop hul verhoudings in Afrikaans weergegee word nie. Die gevolg is dat hul relatiewe onsigbaarheid in gebruikstaal neerkom op 'n implisiete kondonering van taaldiskriminasie.

'n Feministiese kernbegrip is dat taal nie net 'n weerspieëling is van die sosiale werklikheid nie, maar ook 'n bydrae lewer tot die behoud van 'n denkklimaat en toestande. Feministe meen dus dat seksistiese taalgebruik 'n doeltreffende metode is om 'n bepaalde geslagshiërargie in stand te hou.

Richard Rive skryf in sy werk Writing Black: But gradually, as I learnt to understand my own position better, I realized that when the Scarlet Pimpernel confounded the poor of the French Revolution, he confounded me; when Tarzan subdued savage Black tribesmen, he was subduing me . . . that because the literature I read was a glorifying of the White image, I was denied empathy with it as effectively as if it were done by decree . . .

As dit nie net ras nie, maar ook seksuele oriëntasie geld, kan gelukkig gesê word dat waardestelsels en statusreëlings gunstig verander teenoor gays. Daar is 'n soeke na woorde wat dié verhoudings beskryf en dit hou nou verband daarmee dat die kerngesin in 'n proses van aanpassing is wat nie bloot van verbygaande aard is nie.

'n Vriend vertel dat sy broer se aanstaande vrou net nie kon aanvaar dat hy gay is nie. Hy word toe wel na die troue genooi, maar nie die man met wie hy sy lewe, hart en huis deel nie. Tot sy verbasing het sy pa met insig die sakie opgelos: ``As jou ma nie welkom is op 'n troue nie, sal ék beslis ook nie gaan nie.''

'n Soortgelyke storie word vertel deur twee vriende wat reeds sewe jaar betrokke is in 'n standvastige verhouding: Steve, 'n mooi man, moes kort-kort by die werk deurloop onder voorstelle vir bruide wat eendag aan sy sy kan staan.

Te regstreeks wou hy darem nie die bul by die horings pak nie. Hy is te taktvol daarvoor. Boonop vier seksuele diskriminasie en sosiale stigmatisering nog hoogty, hoewel sodomie afgeskaf is, gay-pare in mekaar se pensioenskemas kan deel en die een verblyfreg kan kry as die ander 'n Suid-Afrikaner is.

By die teetrollie het Steve gereeld iets laat val soos dat hy en Deon verlede naweek saam by sy ouers se strandhuis was of dat hulle saam 'n nuwe broodrooster vir die huis gekoop het. Dit was egter te subtiel vir sy kollegas om te besef dat nie net heteroseksuele mense die planeet bewoon nie.

Steve plaas toe 'n foto van hom en Deon op sy lessenaar, maar ook dit het nie die nodige vrugte gedra nie; inteendeel, sy sekretaresse wou met die eerste kykslag weet wie die vriend van hom is, want sy sal hom baie graag wil ontmoet.

Die kwessie is op die spits gedryf met sy werkplek se jaareindgeselligheid langs die Eersterivier in Stellenbosch. Nadat artisjokke, kaas en dies meer verorber is, is daar op komberse gesit-lê in die koelte van die wilgers. Steve het op sy rug gaan lê en sy kop ongeërg op Deon se bobene laat rus.

Sommige mense het skeef opgekyk oor wat vir hulle 'n onpaar paar was, maar ``ek is ten minste nie weer gevra wanneer ek gaan trou nie'', sê Steve. ``En hoewel baie mense nie meer hiermee ('n gay-paartjie) 'n probleem het nie, is dit steeds so dat mense maar net nie hul oë van die nuwe en onbekende kan afhou nie.''

Wat nog te sê van die ``regte'' terme te vind om na hulle te verwys.

Mense met voorstelle vir 'n oplossing vir die ``gade''-woordprobleem kan dit per e-pos stuur na jejofr@hotmail.com .

j f

nie-reis

voëlsang word mens-musiek

 

   
jens friis
     
'n Rede vir die sukses van Beethoven, Mozart en ander groot komponiste is dat hulle die verband tussen sekere voëlgeluide en die Westerse agtnoot-toonleer gesnap het, glo navorsers.

Dit sluit nou aan by een van die drie oerteorieë oor die ontstaan van musiek. Die Italiaanse filosoof Vico het beweer die mens maak musiek omdat ons poëtiese wesens is wat van nature simbole en metafore vorm. Dit is in ons gene.

Ander teorieë is dat die mens getref is deur 'n lucidum intervallum ('n helder oomblik soos 'n weerligstraal), of dat musiek voortvloei uit hartstogtelike spraak.

Sommige taalkundiges meen voëlgeluide kan nie as taal geklassifiseer word nie. Dr. Luis Baptista van die departement van ornitologie en dierkunde aan die Kaliforniese akademie vir wetenskap in San Francisco sê egter in sy veld word voëlgeluide wel as taal beskou, want dit dra boodskappe oor.

As 'n muishond gewaar word, kekkel 'n hoender ``baak-buk-buk-buk''. As die gevaar uit die lug kom, verander dit in ``baaaawk''. Speel 'n opname van die ``buk-buk'' en hoenders sal links en regs na 'n roofdier op die grond soek. ``Baaaawk'' sal hulle opwaarts laat kyk en laat spaander.

Hoenders kommunikeer met nie minder nie as 24 klanke.

Baptista bestudeer die klankvorming en -funksie van die Noord-Amerikaanse witkuifkopmossie (zonotrichia leucophrys) sedert die jare sestig. Dié mossies ``praat'' met minstens tien klanke.

Só raak wyfies uitlokkende klanke kwyt in paartyd en bly groepe in kontak deur 'n gekwetter. As sy die nes verlaat, maak die wyfie 'n

``seeep''-geluid. Die mannetjie volg dit op deur opgewonde ``tjip''-klanke. Hy sal 'n meter of wat agter haar vlieg of op 'n wagpos gaan sit. Klaar gevreet sal sy weer ``seeep'' roep 'n teken dat die mannetjie van sy waghoupligte onthef is.

Uit verskillende klanke kan voëls se gedrag dus akkuraat voorspel word.

Voëlgeluide kan deur 'n spektograaf in grafiekvorm omgesit word. Só kan die toonhoogte, lengte, ritme en geraasvlak objektief bestudeer word deurdat individue, spesies en groepe vergelyk word.

Ornitoloë groepeer die klanke van voëls in twee groepe: sang en roep. Uitroepe is kort en dui op kontak of gevaar. Sang is langer, ingewikkelder en word in 'n gebieds- of seksuele konteks gebruik.

Sommige voëls uiter verskillende klanke teenoor die teenoorgestelde geslag. Só sal 'n mannetjie wat by 'n mannetjie in 'n kou geplaas word, skel geluide maak, maar teenoor 'n wyfie fluitagtige tone.

Aggressiewe klank is meestal skel, terwyl vriendskaplike geluide soeter en suiwerder is. Meer en jonger wyfies word gelok deur mannetjies wat ingewikkelder wysies kan komponeer as die minder vokaal-begaafdes. As 'n mannetjie se wyfie tydelik weggeneem word, sal die graswewenaar soms binne 'n dag reeds meer sing.

Die testikels en eierstokke van voëls word groter in die broeiseisoen. As ``broeigeluide'' buite die seisoen aan hulle voorgespeel word, vergroot dit ook. Klanke dien dus ook as seksuele stimulasie, sê Baptista.

Voëlgeluide verskil van streek tot streek. By voëls wat nie migreer nie, kan ``dialekte'' in hul geluide reeds buite 'n radius van 2 km ontstaan. Baptista sê hy kan onderskei tussen die witkuifkopmossies van Alaska, Washington en Oregon.

``Sommige voëls is `tweetalig' deurdat hulle in twee dialekte kan sing,'' sê Baptista. ``Ander sing hibriede liedere deur kenmerke van albei dialekte te vermeng.'' Die dialekte verander mettertyd weens kulturele veranderings in die ``uitspraak'' van sillabes as gevolg van die invloed van immigrantevoëls.

Kleintjies wat in klankdigte kamers grootgemaak word, herken nogtans die geluide van hul eie spesie en leer dit baie goed aan. 'n Swak ``weergawe'' van die eie spesie se geluide word egter aangeleer as die voëltjies net opnames van ander spesies se geluide hoor. Deur sosiale interaksie met 'n lewende leermeester leer hulle die klanke die perfekste aan.

Voëls leer klanke die vinnigste aan binne hul eerste vyftig dae.

``Daar is dus verstommende ooreenkomste tussen menslike taal en die aanleer, struktuur en betekenis van voëlgeluide,'' sê Baptista. ``Dit is vrugbare studiegrond vir taalkundiges, waaruit hulle veel kan leer soos komponiste reeds lankal doen.''

Musiek is ouer as taal of kuns, skryf Yehudi Menuhin en Curtis Davis in The Music of Man. ``Dit gaan oor ons oorweldigende behoefte om na mekaar uit te reik. Musiek is baie meer deel van die mens as woorde, want woorde is abstrakte simbole wat feitelike betekenis oordra.''

Moet ook nie die bespiegelings dat komponiste soos Beethoven en Mozart en inheemse groepe van Alaska tot Costa Rica baie by voëls geleer het, summier afmaak nie.

Sommige voëls gebruik agtnoot-toonlere soos in Westerse musiek, terwyl sommige vyf note gebruik soos in die Chinese musiek. ``Net soos komponiste gebruik voëls dikwels dieselfde ritmiese variasies, toonhoogteverhoudings, permutasies en kombinasies van note. Hulle wissel temas op baie dieselfde wyse as die mens,'' het Baptista en sy kollega Robin Keister van die Universiteit van Kalifornië op 'n onlangse byeenkoms van die Amerikaanse vereniging vir die bevordering van die wetenskap gesê.

Elemente van die koekoek is duidelik herkenbaar in Beethoven se Pastoraal en Respighi se Die Voëls. Olivier Messiaen en George Crub se musiektaal is duidelik en opsetlik gegrond op die toonlere en ritmes van voëlsang. So ook Vivaldi se Il Gardellino.

Navorsers is daarvan oortuig dat Beethoven die openingsfrases van sy rondo in sy Vioolkonsert by die Europese swartvoël geleen het.

Mozart het in 1784 'n blinkvlerkspreeu gekoop. Dié voëls boots klank briljant na. Mozart het ná die voël se dood 'n Musikale Grap (K. 522) gekomponeer wat baie herinner aan die klanke van sy troeteldier.

j f

nie-reis

blad vir eensames in tronk kry groot aftrek

   
jens friis
     
Ken Kleine het per toeval langs 'n vrou aan tafel gesit wat pas uit die tronk vrygelaat is.  Hy het vir haar gevra wat die grootste probleem vir vroue-gevangenes is.  ``Eensaamheid,'' het sy geantwoord.

Met hierdie inligting het Kleine vorendag gekom met die konsep vir 'n webblad waardeur vroue in die tronk voorgestel word aan minnaarsdaar buite.  Hy het weer kontak gemaak met die vrou wat langs hom gesit het en haar gevra of sy vir haar voormalige selmaats van die idee sal vertel.  Die vroue-gevangenes was gek daarna en het aansoeke aan Kleine gestuur om op sy elektroniese ``hoekie vir eensames'' te verskyn.

Sedert jailbabes.com in 1997 op die been gebring is, het meer as 3 500 vroue uit 28 Amerikaanse tronke reeds op die webblad gepronk.

Besonderhede sluit in die vrou se ouderdom, huwelikstatus, of sy kinders het, haar beroep, onderwyspeil, of sy drink of rook, soms 'n foto, watter geslag sy wil ontmoet, haar mates en natuurlik haar vrylatingsdatum.

Ook moet hul vermeld waarvoor hulle in die tronk is, maar dié inligting verskyn nie op die webblad nie.  Dit is vir die belangstellendes om uit te vind.  Sodoende is reeksmoordenaars se kans om iemand te ontmoet dieselfde as 'n witboordjiemisdadiger s'n.

Een vrou sê dat sy van reis hou wat nogal moeilik moet wees as jy agter die tralies sit.

'n Ander vra om weggevoer te word van haar verlede na 'n beter toekoms.

Dit blyk dat baie van die vroue prettig is.

Een hou daarvan om te dans, veerpyltjies te speel, te swem, na ruk-en-rol te luister en 'n Harley Davidson te ry.

Hierdie ``bad girl''-beeld het sekerlik iets te doen met die mistiek en nuuskierigheid van sekere mans met vroue in die tronk.

Verder is dit ook 'n splinternuwe groep Amerikaanse meisies wat blootgelê word. Anders as Russiese en Filippynse meisies wat op die internet gevind kan word, deel hierdie vroue 'n kultuur van worsbroodjies en basketbal.

Belangstellendes betaal $7 (sowat R60) aan Kleine plus $5 (sowat R45) pos- en hanteringsgeld.  As jy meer adresse koop, word dit goedkoper.

Tussen 40 en 50 huwelike het al uit hierdie webblad gespruit. 'n Mens wonder hoe entoesiasties die Amerikaanse tronke self oor die webblad is.

As dit só suksesvol is, sal hul eersdaags meer wagte moet aanstel vir al die besoekers wat gaan opdaag om by hul toekomstige bruide te kom kuier.

Volgens 'n opname van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram is 38% van vroue wat die internet gebruik Amerikaners.  Dié land het die wêreld se grootste groep vroue-internetgebruikers, gevolg deur Brasilië (25% ), Japan (17%) en Suid-Afrika (17%).

j f

nie-reis

kuber-begrafnisse verander bedryf

   
jens friis
     
As jy nie van beter geweet het nie, sou jy kon glo dat Choral Miller beroemd was. Meer as 2000 mense het immers na dié ouma se begrafnisdiens in Ontario, Kanada gekyk sommige so ver as Australië.

Dit danksy die dienste van Funeral-Cast (www.funeral-cast.com) wat die begrafnisdiens op video opneem en dit binne ure op die internet geplaas.  Deur op dié webblad te kliek kan 'n video afgelaai word. Vriende, familie en selfs mense wat haar nie geken het nie, kan dan na die begrafnis kyk.

Dienste soos die van funeralcast.com kan die konserwatiewe aansien van die begrafnisbedryf laat inplof. Talle webblaaie verkoop reeds van kiste tot kranse. Funeral-Cast roem hom egter daarop dat hy die eerste is om begrafnisvideo's oor die internet te vertoon.

Die internet is om verskeie redes geskik vir die begrafnisbedryf.  Internetgeletterdes kan dié inligtingsbron naderskraap as hulle wil besluit watter begrafnisondernemer se dienste hulle wil gebruik.

Dit is gewoonlik dan ook die jonger garde wat vertroud is met die internet wat van die video-diens gebruik maak. Agtergeblewenes hou daarvan om hul geliefde se nagedagtenis lewendig te hou. 'n Goedkoop manier is kuber-video-opnames.

'n Voordeel van dié internet-video's bo gewone video-opnames is dat dit maklik toeganklik is. Diegene wat nie die begrafnis kan bywoon nie weens afstand, siekte of werk kan hierna kyk wanneer hulle wil. Die funeral-cast-webblad maak dit selfs moontlik dat meegevoel via e-pos van daar gestuur kan word.

Die kuberbegrafnisopnames word gedoen sonder om in te meng met die verloop van die teraardebestelling. 'n Digitale video-kamera word ingespan en só geplaas dat dit nie te opsigtelik is nie.

Indien die familie dit verkies kan 'n kodewoord gebruik word om die vertoon van die video te beperk.

Greenwood Caskets Co. Ltd. wou sy omset vermeerder. Deesdae is byna 10 persent van sy omset te danke aan die verkoop van verassingsvase en goedkoper kiste deur sy webblad www.freefuneralhelp.com. Raad word ook gegee oor hoe om geld te spaar by begrafnisse.

Soortgelyk is die webblad van Funeral Exchange Inc. (www.funeralexchange.com) waar van Kleenex tot kiste te koop is.

Begrafnisondernemers sal in die komende jare aansienlik vermeerder in Suid-Afrika waar die hoeveelheid vigsverwante sterftes drastiese afmetings aanneem. Daar kan sekerlik verwag word dat dié begrafnisbedryf ook hier deur die internet be¨nvloed sal word.

Van die groot rolspelers in die Suid-Afrikaanse begrafnisondernemingsbedryf soos Avbob (www.avbob.co.za) het reeds basiese webblaaie.

j f

nie-reis

ludwig se hemel-hel

 

   
jens friis
     
Deur forensiese toetse op 'n haarlok van Beethoven te doen het die FBI pas ontsluit waarom dié komponis doof geword het. Boonop blyk dit nou dat die pyn wat hy weens siekte ervaar het, later in sy lewe 'n bedekte seën was, skryf Jens Friis.

Wat ná die première van Beethoven se Negende Simfonie in 1824 gebeur het, is een van daardie vlietende oomblikke in die heelal se bestaan wat 'n mens bitter graag sou wou beleef.

Die komponis het met sy rug na die gehoor gesit. 'n Orkeslid het beduie dat hy moet omdraai Beethoven was reeds stokdoof in daardie stadium van sy lewe.

Waaiende sakdoeke en klappende hande het getuig van die applous wat hy nie kon hoor nie.  Die staande gehoor was intens ontroer. Een van die grootste stukke musiek ooit is pas uitgevoer.

Dit is steeds só groot dat Suid-Afrika die Negende Simfonie 168 jaar later by die Olimpiese Spele in Barcelona as volkslied sou gebruik. In die Jeugsangbundel is dit die melodie van ``Al praat ek Engeletale''.

Ondanks talle soortgelyke suksesse was dié virtuoos 'n moeilike man.

Op 32 rig Beethoven 'n brief aan sy broers in 'n dorpie buite Wenen, maar stuur dit nooit nie.

In wat vandag as 'n selfmoordbriefie beskou word, skryf hy oor sy gebrek aan goeie gesondheid en ook oor die onbeantwoorde liefde vir 'n heelwat jonger contessa en oor sy verlies aan gehoor ``die een sintuig wat veronderstel is om volmaakter by my te wees as by ander''.

Die komponis pleit dat dokters sy liggaam eendag bestudeer en aan die wêreld verklaar waarom hy altyd siek gevoel het en doof was. Hopelik sal die mensdom dan sy ``moeilike'' karakter as 'n uitvloeisel beskou van slegte gesondheid, meen hy.

Byna 200 jaar sou dié pleidooi weerklink voordat dit beantwoord word. In 'n nuwe boek, Beethoven's Hair, vertel Russel Martin hoe 'n haarlok van Beethoven se boskaas afgesny is nadat hy toe 56 jaar oud reeds in die kis was.

Ferdinand Hiller het die knipwerk gedoen. Hy sou self later 'n komponis en vriend word van die komponiste Berlioz, Chopin en Mendelssohn.

Dié haarlok het in die Hiller-familie gebly tot ná die Tweede Wêreldoorlog toe 'n Deense fisikus dit bekom het.  In 1995, byna 175 jaar ná Beethoven se dood, is die 422 hare deur die afslaer Sotheby in Londen opgeveil. Dit is teen sowat R50 000 deur vier Beethoven-verslaafdes opgeraap.  Hulle het die FBI gevra om forensiese toetse hierop te doen om die rede vir die komponis se chroniese siekte en doofheid te bepaal.

Meer as 40 keer die normale hoeveelheid lood is gevind 'n bevinding wat Beethoven-navorsers oortuig dat hy geleidelik afgetakel is deur loodvergiftiging.  Dit het dalk gekom van die wyn waarvoor hy so lief was. Lood is dikwels bygevoeg om die bitter smaak te temper. 'n Ander moontlikheid is loodversierde porselein of ander eetgerei soos 'n pan.

Beethoven se chroniese ingewandspyn, koors, verlies aan gehoor en dalk selfs sy dood kan alles simptome wees van loodvergiftiging. Geen bewyse van maagmedisyne van die dag is in Beethoven se hare gevind nie.

Martin spekuleer dat Beethoven raadop was omdat hy altyd geglo het hy is siek. Daarom wou hy nie verder sy gedagtegang vertroebel nie en het nie hierdie medisyne geneem nie.

Hierdie voorliefde vir orde is ook te bespeur in die dissipline wat hy toegepas het om nie saans sjampanje te drink nie, hoewel hy lief daarvoor was. Hy het geglo dat dit sy konsentrasie soggens verswak.

Dit laat navorsers wonder of Beethoven se genialiteit nie dalk deur pyn verhoog is nie.

Mimi Coetze het op 'n keer gesê: `` 'n Kunstenaar is soos 'n stoel. Daar is vier bene ambisie, deursettingsvermoë, intelligensie en dan eers kom talent. As een van die vier nie daar is nie, staan die stoel nie.''

Beethoven het sekerlik al dié eienskappe gehad veral buitengewone musiektalent. Martin meen egter dat ``the alchemical agent of his music was the extraordinary pain and longing. That imbued it with a great profundity''.

``Dit is moontlik dat Beethoven in só 'n mate musiek in sy kop gekomponeer het, dat hy liggaamspyne weggedink het. Hierdie vermoë was sy redding nadat hy stokdoof geword het,'' sê Ronald Melzack, 'n emeritus-professor aan die McGill-universiteit in Montreal se departement van sielkunde.

Melzack is 'n skrywer van die gate-control-teorie. Hiervolgens kan die brein senu-impulse wat pyn oordra van ander liggaamsdele blokkeer deur voor te gee dat die brein besig is en hom nie met die pyn kan ophou nie.

Sommige rugbyspelers doen dit van nature. Hul is só gefokus dat hul eers ná die wedstryd bewus word van 'n besering. Dieselfde gebeur dikwels as iemand in lewensgevaar verkeer. Job 2:4 sê immers: `` 'n Man sal mos alles gee wat hy het, as hy net kan bly lewe.''

Tog is nie almal met hierdie gawe geseën om pyn weg te dink nie, hoewel pynbeheerspesialiste wel sukses hiermee het. Beethoven het hom moontlik só gewy aan sy werk dat dit sy aandag van die pyn afgelei het, meen kenners.

Soos telkens die geval is, kan die hemel nie bestaan sonder die hel nie.

Die liggaamspyne wat Beethoven moes verduur, was dalk 'n bedekte seën. Anders sou hy nooit die vermoë bemeester het om só uitstekend in sy kop te komponeer voordat sy wêreld stil geword het nie.

j f

nie-reis

siek ape beslis nie swape, sê navorsers

 

   
jens friis
  
Die groter aapsoorte is g'n swape as hul olik voel nie. Hul weet wat se vrug, blaar, bas of blom hul beter sal laat voel.

Anekdotes gedy oor die self-heling van diere (zoopharmacognosy) en veral die groter aapsoorte. Om afdoenbare bewyse te vind is moeiliker.

Hierdie ape swaai meters bo die bespieders rond wat nie slegs wil sien wat hulle eet nie, maar ook moet kan oplet as die diere olik voel. Dan is reënwoude ook nog nat, bedompig en vol byterige muskiete.

Nogtans volg navorsers van onder meer Earthwatch sjimpansees, gorillas en orangoetangs deur oerwoude met die hoop om meer van reënwoudmedisynes te leer. Hulle glo dit sal tot 'n nuwe geneeskundige filosofie lei waarby mens en dier kan baat vind.

Dr. Michael Huffman van die Universiteit van Kioto in Japan glo hy het 'n kykie gehad in die evolusionêre oorsprong van menslike geneeskunde. Hy het gesien hoe 'n siek sjimpansee haarself bewustelik en met welslae genees het.

Chausiku, 'n siek sjimpansee in die Mahale-berge van Wes-Tanzanië, het bas afgeskil van 'n boom wat deur sjimpansees vermy word, en dit geëet. Dit proe sleg, het geen voedingswaarde nie en groot hoeveelhede daarvan is giftig. Kort nadat sy daaraan gepeusel het, was haar olikheid oor.

Navorsing toon dat die bas van dié boom (Vernonia amygdalina) bestanddele bevat wat malaria en diarree beveg. Afrikane dwarsoor die vasteland gebruik dit om dieselfde redes.

Jane Goodall (www.janegoodall.ca), 'n veteraansjimpanseespesialis, het in die jare sestig waargeneem hoe sjimpansees die blare van sekere bome heel insluk. Dit word later onverteer in konsertinavorm uitgeskei.

Die blaarslukkery bereik 'n hoogtepunt sowat twee maande ná die begin van die reënseisoen. Dit val saam met die ergste infeksie deur die parasiet Oe. stephanostomum.

Huffman het gevind dat net siek sjimpansees blare só sluk. Dié gekose blare het ook deurgaans 'n growwe onderkant. Sy Velcro-teorie is dat growwe blare wurms en ander ongewenste parasiete saam met hulle uit die ingewande neem.

Daar word geglo dat die kleinerige witgesig-Kapusyne van Suid-Amerika insekte afskrik deur ná 'n reënbui die stamme van sekere sitrusbome te skud. As dié sitruswaterdruppels op hul pelse land, vlug die goggas.

Hierdie kennis word deur aapmoeders aan hul kleingoed oorgedra. Omdat gedragstradisies gevolg word is die gevaar van eksperimentering met giftige plante min.

j f

nie-reis

perspektief op eeu wat verby is
2002 ... 1977... 1952 ... 1927 ... 1902

 

   
jens friis
  
``Dis net in storieboeke wat alles so mooi netjies gebeur met 'n begin, middel en einde. In die gewone lewe is dit altyd 'n bietjie ingewikkelder.''  (Uit - Die Storie van Klare Viljee, deur Chris Barnard)

Perspektief impliseer dat voorwerpe kleiner word namate hulle verder terugbeweeg in ruimte en tyd. Gepaardgaande hiermee word dit meer hanteerbaar vir ons skepsels. Met 2001 reeds 'n maand verby weet geeneen waarheen ons in 2002 werklik onderweg is nie, alhoewel môre tot groot mate reeds gebore is deur dit wat was. Die kanse is goed dat jy die komende jaar sal lees van die volgende deurbrake, geboortes, oorloë, films . . . Dit het immers algar plaasgevind op rigtinggewende datums kwarteeugewys oor die afgelope 100 jaar, skryf Jens Friis

1902

Die Franse motorpionier Georges Chapart lê die eerste motorrit van Durban na Amanzimtoti af. Van 'n kragstuur en loodvrye petrol is nie sprake nie. Teen bulte word sy ingevoerde Benz gestoot.

Cecil John Rhodes (49) sterf in Muizenberg. Sy oorskot word vervoer langs die ellelange Kaap-na-Ka¨ro-spoorlyn waarvan hy gedroom het. Oor die Limpopo neem 'n trein hom tot in Rhodesië wat sy naam dra.

Berg Pelée in Martinique bars uit en 40 000 sterf. Net een maal het meer mense gesterf weens 'n vulkaan. Dit was in 1815 toe 92 000 gesterf het aan die voet van Berg Tambora in Indonesië.

Australië word die tweede land ter wêreld om stemreg aan vroue te gee. Die eerste was Nieu-Seeland in 1893.

In Egipte word die eerste Aswan-dam geopen.

Koning Eduard VII word in Engeland gekroon en die London School of Economics open sy deure. Die voorsiening van sekondêre onderwys word vir die eerste keer as 'n staatsplig beskou.

Ná 'n uitmergelende oorlog word die Verdrag van Vereeniging in Melrose-huis, Pretoria, onderteken. Gnls. Christiaan de Wet, Koos de la Rey en Louis Botha samel geld in op 'n Europese toer. Hulle word in Buckingham-paleis die ridderskap aangebied, maar wys dit van die hand as oortuigde republikeine.

Dis die geboortejaar van skrywer C.M. van den Heever.

'n Briljante Thomas Edison ontwerp die elektriese akkumlator-battery, terwyl die muntoutomaat sy buiging maak in die VSA.

Die Amerikaanse fotograwe Alfred Stieglitz en Edward Steichen organiseer Photo Secession en lewer 'n enorme bydrae om fotografie as kunsvorm te vestig.

1927

Die mensdom is ge¨mponeer met die eenvoudige slimheid van 'n nuwe haarstyl. Die ``bob'' is die modewoord.

Planne vir 'n sokker-wêreldbekerkompetisie word bekend gemaak deur die Fransman Jules Rimet.

'n Aarbewing skud Nan-Shan in China en 200 000 kom om.

Die Amerikaner Charles Lindbergh stel 'n solo-rekord op deur ononderbroke te vlieg vanaf New York na Parys met The Spirit of St. Louis. Die vlug oor 5 800 km duur 33 uur 30 minute.

Die eerste trans-Atlantiese telefoonoproep kos 'n allemintige $75.

Die Academy of Motion Picture Arts and Sciences word in Hollywood gestig. Die eerste Oscars sal twee jaar later oorhandig word.

Show Boat van Florenz Ziegfeld, geskryf deur Jerome Kern en Oscar Hammerstein II word opgevoer.

Fidel Castro word gebore. So ook Gé Korsten.

Volgens die Ontugwet word geslagsomgang tussen rasse onwettig, hoewel huwelike oor die kleurskeidslyn vir die hede wettig bly.

Die eerste praatfilms word in Johannesburg vertoon. Kort hierna word die eerste vollengte-praatfilm, The Jazz Singer, ingevoer.

OK Bazaars stoot hul deure oop in Eloffstraat, Johannesburg. Die menigtes stroom daarheen.

1952

Volgens die Schumann-plan moet gepoog word om Wes-Europese ekonomieë te integreer.

Argentinië se eerste vrou, Eva Peron sterf.

Die Olimpiese Spele in Helsinki se held is Emil Zatopek (29), 'n Tsjeggiese atleet wat drie Olimpiese rekords oortref. Sy vrou Dana doen dieselfde in spiesgooi.

Koningin Elizabeth volg haar pa op. Sy hoor van sy dood by haar man, Philip, terwyl hulle in Kenia is. Met haar terugkeer na Londen word sy by die lughawe ontmoet deur Churchill, die eerste minister en die leier van die opposisie, Attlee.

Antjie Krog word gebore. Karperde is die tennisspeler Jimmy Connors, politikus en digter Mathews Phosa, swemmer Karen Muir en rolprentmaker Leon Schuster.

Kwame Nkrumah word die eerste swart premier van 'n kolonie in oorgang toe hy verkies word tot eerste minister van die Goudkus (later Ghana).

'n Noodtoestand word in Kenia afgekondig nadat veral blanke setlaars deur die Mau Mau, 'n ondergrondse beweging, vermoor word.

Terwyl die 300ste herdenking van Jan van Riebeeck se aankoms gevier word, reël die ANC en bondgenote 'n versetveldtog met massaoptrede. Dit is gebaseeer op Mahatma Gandhi se lydelike verset-beweging.

Die Nobelprys vir vrede word toegeken aan Albert Schweitzer, die Franse medikus wat bekend was vir sy werk in Afrika.

In Singin' in the Rain speel Gene Kelly en die wêreld maak kennis met die wondermooie Marilyn Monroe.

'n Vredesverdrag word gesluit tussen Japan en die VSA. Japan word onafhanklik.

Die eerste geskeduleerde passasiersvlug in 'n straler vind plaas tussen Londen en Johannesburg.

Motors word toegerus met die eerste veiligheidsgordels in die VSA.

Die eerste waterstofbom word suksesvol getoets op Eniwetok-atol in die Suidelike Stille Oseaan. Die hele eiland verdwyn nadat 'n helder inferno vir 'n hele paar uur duur.

Volgens 'n opname het een uit drie Britse huishoudings nie 'n bad nie.

1977

Charlie Chaplin, regisseur Roberto Rossellini, sanger Bing Crosby, diva Maria Callas, skrywer Wladimir Nabokof en rugbyspeler Hennie Muller sterf.

In Parys open die Pompidou-kultuursentrum.

Die eerste supersoniese vlugte met Concorde tussen Parys, Londen en New York ingestel. Twee Boeing 747's bots op die grond en 583 mense sterf op die Kanariese eiland die ergste enkele lugvaartramp nog.

Die VSA kondig die vervaardiging van 'n neutronbom aan.

Steve Biko word aangehou en sterf.

Bophuthatswana, 'n groep van sewe aparte gebiede versprei oor Wes-Transvaal, Noord-Kaap en die Oranje-Vrystaat, kry die status van 'n onafhanklike republiek.

Die Veiligheidsraad van die VN plaas 'n verbod op die verskaffing van wapens aan Suid-Afrika.

Die Punk-modegier met geskeurde klere, helder gekleurde regop hare is uiters gewild.

Die branderplankryer Shaun Thompson van Suid-Afrika word wêreldkampioen in Hawaii.

Die eerste massavervaardigde rekenaar, Apple 11, word bekend gestel.

'n Russiese kernaangedrewe ysbreker word die eerste skip wat die Noordpool oor water bereik.

Sri Lanka se Sirimavo Bandaranaike, wat die eerste vrou was om eerste minister te word, tree uit haar amp.

Die Progressiewe Federale Party (PFP) word gestig met Helen Suzman as die bekendste parlementslid. Die Nasionale Party wen die algemene verkiesing.

Wetenskapfiksie en spesiale effekte in Star Wars en Close Encounter of the Third Kind laat fliekkaartjies vlieg. Ook uit dié jaar is Saturday Night Fever met John Travolta. Die Waltons is een van dié gewildste op TV.

Meer as 80 000 bewys hul laaste eer aan Elvis Presley by sy spogwoning, Graceland.

2002

Watter heerser gaan eerskomende jaar besef dat geweld niks oplos nie, maar net die oplossing uitstel? Wie of wat sal in die volgende jaar verander van onaantasbaar tot wondbaar? Sal iemand jou lewe inloop sonder om te vra? Waar gaan 'n natuurramp toeslaan? Of wie gaan hul deur 'n ideësisteem laat verlei?

Ons weet nie.

Net so min as wat Ferdi Rabie, die Loerbroerwenner, geweet het wat in die buitewêreld aangegaan het. Die voorlaaste aand is hy gevra wat dalk kon gebeur het terwyl hy binne was.

Skouerophalend het hy (in meer as die volgende woorde) gesê: ``Hopelik het die Rand verstewig, is die krisis in Zimbabwe ontlont en het petrolprys en misdaad gedaal.''

Buiten vir petrol wat 'n raps - nie noemenswaardig nie goedkoper is, sal Ferdinand egter teleurgesteld wees.

Hopelik is die volgende twaalf maand g'n annus horribilis.

Op die ou end moet jy immers maar die beste maak wat aan jou gegee word.

Soos André P. Brink geskryf het in 'n Droë wit seisoen: ``Van kleins af dink mens: Eendag - eendag - eendag . . . Jy hoor van `die lewe'. Jy praat daarvan. Jy wag daarvoor. En dan? Dan besef jy skielik: Dis nóú daardie eendag. `Eendag' is elke dag. En dit gaan nooit regtig anders wees nie.''

Bronne: Twentieth Century World (K. Keylor), Suid-Afrika in die 20ste eeu (Peter Joyce), Standard Dictionary, The Top 10 of Everything (Russell Ash), RSA Jaarboeke, Volksblad, Die Burger, Beeld, Groot Verseboek (André P. Brink), An Encyclopedia of World History (W. Langer).

j f

nie-reis

al meer gays op amerikaanse platteland tuis en uit die kas

 

   
jens friis
 
Tot onlangs het Amerikaanse gays net hul stem laat hoor in metropole soos San Francisco en New York, maar deesdae kom die politieke oorwinnings vir dié groep in Amerika uit kleiner stede en die platteland.

Die vooraanstaande publikasie The Advocate bestempel dit as 'n tweede golf van gay aktivisme.

``Ons sien die vrugte van 'n generasie gay aktiviste wat in die jare tagtig uit die kas gekom het en nou leierposisies beklee in hul plaaslike gemeenskappe. Toenemend word gevoel dat daar plaaslik op gelyke behandeling aangedring moet word,'' sê me. Sue Hyde, 'n organiseerder van die National Gay and Lesbian Task Force in Amerika.

Hierdeur betree die gayregte-debat nuwe grondgebied, want gaybewegings se invloed word nou buite die tradisioneel stedelike enklawes merkbaar. Die hartland van die Amerikaanse platteland word geraak.

Dié uitbreiding van nasionale na plaaslike vlak is onder meer te sien in die staat Vermont, waar die hooggeregshof verlede jaar beslis het dat gaypare geregtig is op feitlik dieselfde voordele en regte as getroude pare.

Mnr. John Wilkinson, 'n medestigter van die Legal Marriage Alliance of Washington, sê dit is glad nie meer 'n vreemde gesig dat gays openlik aan plaaslike politiek in groter Seattle, sy tuisdorp, deelneem nie.

Die besluit om ``tuis'' te bly, is 'n ommekeer van die groot gaymigrasie in die tweede helfte van die twintigste eeu.

Destyds was dit vir gays die enigste uitweg om na groter, meer diverse gemeenskappe te trek om in gayvriendeliker omgewings te leef.

Skrywers soos Dan Savage meen dat die Amerikaanse gaybeweging die punt bereik het waar dié mense se energie beter aangewend kan word in breër gemeenskappe.

``Dis onmoontlik om te bepaal hoeveel gays in Amerikaanse landelike gebiede woon, maar dit is baie.

``Van lesbiese boere tot gay jagters, eko-aktiviste, kunstenaars en lorriebestuurders is onder die 2 500 mense wat daagliks my webblad ruralgay.com besoek,'' sê mnr. David Knudsen.

Gaybewegings in die platteland steun egter nog sterk op heteroseksuele vriende, familie en ondersteuners, aangesien daar nie genoeg openlike gays is nie. In sommige dele vier diskriminasie ook nog hoogty en loop gays selfs onder geweld deur, soos die student Matthew Shepard, wat vermoor is in Laramie, Wyoming.

Shepard is van 'n kroeg weggelok, beroof, aan 'n heining op 'n vlakte vasgebind, herhaaldelik teen die kop geslaan en vir dood agtergelaat. Hy is vyf dae later in die hospitaal dood. Sy moordenaars is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Dié moord het dwarsoor Amerika gelei tot saamtrekke om wetgewing teen haatmisdade te bepleit, maar dit het nog tot geen daadwerklike resultate gelei nie.

Mnr. Ken Rudolf, 'n bibliotekaris in New Haven, Connecticut 'n dorpie so groot soos Bethlehem in die Vrystaat meen die sentrale fokus van gays se identiteit in stede is dikwels hul homoseksualiteit. ``Gays op die platteland sien dit oor die algemeen eerder as een van talle faktore wat deel is van hul identiteit.

``Hoewel stigmatisering steeds hier voorkom, is dit tog moontlik om 'n sinvolle, gelukkige bestaan te voer solank jy nie in die oë van die gemeenskap té eksentriek optree nie.''

Gays word wêreldwyd in toenemende mate toegelaat om in harmonie te leef met hul bure.

Tog is daar nog maar min plekke in Suid-Afrika waar daar nie vooroordeel teen gays is nie. Vir talle Suid-Afrikaanse gays is woonbuurte soos Groenpunt en Seepunt in Kaapstad en Melville en Hillbrow in Johannesburg 'n veilige hawe waar hulle nie voortdurend gekonfronteer hoef te word met heteroseksisme nie.

Suid-Afrika se gay-subkultuur het nog nie die wasdom bereik om 'n doeltreffende en koherente politieke minderheid te vorm nie. 'n Gemeenskaplike politieke identiteit ontbreek nog feitlik algeheel. Gaygroepe groei, maar is afhanklik van 'n handjievol wat werklik stukrag aan dié bewegings gee.

Die National Coalition for Gay and Lesbian Equality (NCGLE) het hom beywer vir die insluiting van seksuele oriëntasie in die gelykheidsbepaling in die Grondwet, die afskaffing van sodomie, en dat 'n gay deelgenoot immigrasieregte in Suid-Afrika het soos 'n getroude gade.

In werklikheid is gayregte in Amerika ver agter in vergelyking met Suid-Afrika. Daar is sodomie selfs nog 'n misdaad in talle state.

Daarom is dit ironies dat die groter invloed van gays op plaaslike vlak reeds in Amerika vlam gevat het, maar nog nie werklik in Suid-Afrika nie.
      


j f

i | ii
     
voorblad  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's