In
die vroeë ure van 2002 het miljoene kykers en luisteraars
ingeskakel vir die jaarlikse nuwejaarskonsert vanuit die
Weense Musikvereinsaal. Daar is gehou by die vertroude
formaat van walse en polkas wat Clemens Krauss en die
Weense Filharmoniese Orkes sewe dekades gelede gestel
het.
Die
blou Donau van Johann Strauss het voorlaaste aan die beurt
gekom en toe terwyl die gehoor ritmies handeklap sy pa
se Radetzky-mars.
Die
afgelope 150 jaar het waarskynlik nog geen dag verbygegaan
dat 'n Strauss-komposisie nie genot gebring het nie. Naas
die Bachs moet die Strausse die geniaalse musiekfamilie
tot nog toe wees.
Vir
die toeristebedryf is die Strausse 'n seën wat met ski
kan meeding as Oostenrykse lok-aas. Strauss-musiek klink
op uit Barokkerke.
Jy
hoor dit in die Weense Volksopera, oor gebak met slagroom,
tussen spieëls en engeltjies. Koetsiers fluit dit agter
skimmelperde. Blommeverkopers neurie só. Die Strausse
is oral meer as waarvoor die musiekhonger besoeker tyd
het. Omtrent net die Weense Seunskoor wals nie saam Sondae
in die Hofburg-kapel as die priesters die rites van die
mis voltrek nie.
Dalk
die bekendste Kaffeehaus in Wenen waar Strauss-musiek
uitgevoer word (dit gebeur Saterdae), is die Café Dommayer
naby die Schönbrunn-paleis. Saam met die Hofburg was die
Schönbrunn-paleis die Weense woning van die Habsburg-vorstehuis.
In die Barokpaleis se spieëlkamer het Mozart as seuntjie
voor die keiserlike gesin 'n uitvoering gegee.
Keiserin
Maria Theresia en later Napoleon het deur die uitgestrekte
tuine met hul lane kastaiings en lindebome gewandel. Kennedy
en Chroesjtsjof sou daar ontmoet.
Dit
is grond wat swaar dra aan die geskiedenis, want ook daar
digby het Johann Strauss jr. in 1844 sy walsloopbaan begin.
Johann
Strauss die Ouere het tipiese Oostenrykse volksdanse geneem
en dit omvorm tot sierlike werke wat elke balsaal sou
vul en die agting afdwing van Wagner, Brahms, Schoenberg
en Webern.
Teen
die wil van pa Johann het die jonger Johann musieklesse
geneem. Dit het nie lank geduur voordat hy selfs gewilder
as sy pa was nie. Die ander twee Strauss-seuns, die hoogs
talentvolle Josef (wat ook 'n meganiese straatskoonmaker
vir Wenen ontwerp het) en Eduard, moes bontstaan om te
help komponeer aan 'n eindelose stroom dansmusiek. Ook
moes die familie-orkes gedirigeer word.
J
ohann jr. het hom mettertyd op operettes toegespits. Dit
was lonender. Vir 'n gewilde wals soos Die blou Danau
is hy eenmalig betaal, maar 'n honorarium vir elke opvoering
van 'n operette.
Die
operette is nie net in sy Weense vorm gewild nie, maar
ook danksy die werk van Gilbert en Sullivan in Brittanje,
Offenbach in Frankryk en die Amerikaanse musiekblyspele.
Dit kry, soos destyds, meestal min aandag by die bestudering
van ernstige musiek.
Johann
Strauss se aandeel aan die bloei van die operette word
breedvoerig bespreek in 'n nuwe boek, Johann Strauss and
Vienna: Operetta and the Politics of Popular Culture deur
Camille Crittenden (Cambridge University Press, 2000,
323 blaaie, ISBN 0-521-77121-8).