voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


die strausse heers steeds oor wenen

   
jens friis
     

In die vroeë ure van 2002 het miljoene kykers en luisteraars ingeskakel vir die jaarlikse nuwejaarskonsert vanuit die Weense Musikvereinsaal.  Daar is gehou by die vertroude formaat van walse en polkas wat Clemens Krauss en die Weense Filharmoniese Orkes sewe dekades gelede gestel het.

Die blou Donau van Johann Strauss het voorlaaste aan die beurt gekom en toe terwyl die gehoor ritmies handeklap sy pa se Radetzky-mars.

Die afgelope 150 jaar het waarskynlik nog geen dag verbygegaan dat 'n Strauss-komposisie nie genot gebring het nie. Naas die Bachs moet die Strausse die geniaalse musiekfamilie tot nog toe wees.

Vir die toeristebedryf is die Strausse 'n seën wat met ski kan meeding as Oostenrykse lok-aas. Strauss-musiek klink op uit Barokkerke.

Jy hoor dit in die Weense Volksopera, oor gebak met slagroom, tussen spieëls en engeltjies. Koetsiers fluit dit agter skimmelperde. Blommeverkopers neurie só. Die Strausse is oral meer as waarvoor die musiekhonger besoeker tyd het. Omtrent net die Weense Seunskoor wals nie saam Sondae in die Hofburg-kapel as die priesters die rites van die mis voltrek nie.

Dalk die bekendste Kaffeehaus in Wenen waar Strauss-musiek uitgevoer word (dit gebeur Saterdae), is die Café Dommayer naby die Schönbrunn-paleis. Saam met die Hofburg was die Schönbrunn-paleis die Weense woning van die Habsburg-vorstehuis. In die Barokpaleis se spieëlkamer het Mozart as seuntjie voor die keiserlike gesin 'n uitvoering gegee.

Keiserin Maria Theresia en later Napoleon het deur die uitgestrekte tuine met hul lane kastaiings en lindebome gewandel. Kennedy en Chroesjtsjof sou daar ontmoet.

Dit is grond wat swaar dra aan die geskiedenis, want ook daar digby het Johann Strauss jr. in 1844 sy walsloopbaan begin.

Johann Strauss die Ouere het tipiese Oostenrykse volksdanse geneem en dit omvorm tot sierlike werke wat elke balsaal sou vul en die agting afdwing van Wagner, Brahms, Schoenberg en Webern.

Teen die wil van pa Johann het die jonger Johann musieklesse geneem. Dit het nie lank geduur voordat hy selfs gewilder as sy pa was nie. Die ander twee Strauss-seuns, die hoogs talentvolle Josef (wat ook 'n meganiese straatskoonmaker vir Wenen ontwerp het) en Eduard, moes bontstaan om te help komponeer aan 'n eindelose stroom dansmusiek. Ook moes die familie-orkes gedirigeer word.

J ohann jr. het hom mettertyd op operettes toegespits. Dit was lonender. Vir 'n gewilde wals soos Die blou Danau is hy eenmalig betaal, maar 'n honorarium vir elke opvoering van 'n operette.

Die operette is nie net in sy Weense vorm gewild nie, maar ook danksy die werk van Gilbert en Sullivan in Brittanje, Offenbach in Frankryk en die Amerikaanse musiekblyspele. Dit kry, soos destyds, meestal min aandag by die bestudering van ernstige musiek.

Johann Strauss se aandeel aan die bloei van die operette word breedvoerig bespreek in 'n nuwe boek, Johann Strauss and Vienna: Operetta and the Politics of Popular Culture deur Camille Crittenden (Cambridge University Press, 2000, 323 blaaie, ISBN 0-521-77121-8). 


j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's