voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


washington d.c. - stad van wêreldgehalte

   
jens friis
     

  

In Washington D.C. is dit moeilik om te vergeet dat jy in die VSA se hóófstad is.
Washington is in 'n wêreldklas as die maatstaf van gehalte en die aantal museums. Soos te wagte is elkeen reusagtig, toegang is gratis, dit is digby mekaar en die verskeidenheid is verstommend: van ruimtepakke wat op die maan gedra is tot 'n halwe rugbyveld vol skoene van Nazi-slagoffers.
Die Amerikaners besef watter skat dit is, want hulle stroom daarheen en anders as in talle hoofstede is hier veel meer binnelandse toeriste as buitelanders.
Met die besluitnemingslag in 1788 oor waar die hoofstad van die VSA aangelê sou word, wou elk van die 13 Amerikaanse state hierop aanspraak maak. Om verdeeldheid te voorkom, het die Amerikaanse kongres besluit dat dit nie aan 'n spesifieke staat moet behoort nie.
Grond hiervoor is langs die Potomacrivier aangewys, sowat 150 km van die mond in die Atlantiese Oseaan af. Sowel Maryland as Virginië sou hul eiendomsreg hieroor opgee. Die staat sou bekend staan as die Distrik van Colombia en dit is waarom daar verwys word na die hoofstad as ``Washington, D.C.''. Sodoende word verwarring voorkom met een van die hedendaagse 50 Amerikaanse state wat ook Washington heet.
Die stad is genoem na George Washington, eerste Amerikaanse president. Hy het 'n Fransman, maj. Pierre Charles L'Enfant, wat ook in die Amerikaanse vryheidsoorlog geveg het, aangestel om die stad te beplan.
L'Enfant het 'n grootse plan gehad. Die hart van die stad sou die Capitol, die Amerikaanse parlementsgebou, wees. Breë strate loop van daar af uit soos speke in alle windrigtings.
Bouwerk aan die Wit Huis, amptelike woning van die parlement, is in 1792 begin en aan die Capitol die volgende jaar.
Die Capitol dien as die kruispunt van twee lyne waardeur die stad in vier dele verdeel word. Hierdeur word adresaanduidings baie vergemaklik, aangesien jy kan sê dat jy byvoorbeeld in Noordoos, 73ste Straat nommer 3, woon. Alle strate word deur syfers aangedui.
Dit is moontlik om die Capitol te besoek, maar dit is aan te beveel om dit naweke te vermy aangesien dit dan uiters besig kan wees. Dieselfde kan gesê word van die ruimte-museum, wat die gewildste van al die museums hier is.
Washington is vandag 'n pragtige stad met breë strate en mooi parke. In Potomacpark langs die rivier is die kersiebome in die lente pragtig met hul pienkpers blomme. Nie te ver daarvandaan nie is die monumente van George Washington, Thomas Jefferson en Abraham Lincoln.
Die moordsyfer in Washington is van die hoogste in die ganse VSA en daar word gesê jy moet wegbly uit sekere dele. Daar is talle arm woonbuurte en van die dele waar toeriste nie gereeld kom nie lyk maar sleg.
Die Capitol kan as vertrekpunt dien vir feitlik enige museumtoer. Die Amerikaanse hooggeregshof in sy klassieke Korintiese argitektuurstyl is in harmonie met die Kongresgebou oorkant die straat. Die alombekende Equal Justice Under Law is uitgebeitel in die bindbalk bokant 16 reusagtige marmerpilare. Die hooggeregshof is die hoogste hof vir onder meer alle grondwetverwante sake. Interessant genoeg is die hof eers in sy 146ste jaar in 1935 hier gesetel.
Reg langs die hooggeregshof is die enorme Library of Congress. Hier is talle onvervangbare boeke, maar wat 'n mens die meeste be¨ndruk, is die hoofleessaal. Dit is moontlik om verdiepings ver af te kyk op biblioteekpersoneellede, politici en akademici wat na inligting soek. Dit is 'n absolute móét op 'n besoek aan die VSA.
Die meeste museums is daagliks oop. Dit is feitlik deur die bank toeganklik vir diegene in rolstoele en daar is alles wat jy sal nodig hê, van telefone en geskenkwinkels tot toilette.


j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's