In Washington D.C.
is dit moeilik om te vergeet dat jy in die VSA se hóófstad
is.
Washington is in 'n wêreldklas as die maatstaf
van gehalte en die aantal museums. Soos te wagte is
elkeen reusagtig, toegang is gratis, dit is digby mekaar
en die verskeidenheid is verstommend: van ruimtepakke
wat op die maan gedra is tot 'n halwe rugbyveld vol
skoene van Nazi-slagoffers.
Die Amerikaners besef watter skat dit is, want hulle
stroom daarheen en anders as in talle hoofstede is hier
veel meer binnelandse toeriste as buitelanders.
Met die besluitnemingslag in 1788 oor waar die hoofstad
van die VSA aangelê sou word, wou elk van die
13 Amerikaanse state hierop aanspraak maak. Om verdeeldheid
te voorkom, het die Amerikaanse kongres besluit dat
dit nie aan 'n spesifieke staat moet behoort nie.
Grond hiervoor is langs die Potomacrivier aangewys,
sowat 150 km van die mond in die Atlantiese Oseaan af.
Sowel Maryland as Virginië sou hul eiendomsreg
hieroor opgee. Die staat sou bekend staan as die Distrik
van Colombia en dit is waarom daar verwys word na die
hoofstad as ``Washington, D.C.''. Sodoende word verwarring
voorkom met een van die hedendaagse 50 Amerikaanse state
wat ook Washington heet.
Die stad is genoem na George Washington, eerste Amerikaanse
president. Hy het 'n Fransman, maj. Pierre Charles L'Enfant,
wat ook in die Amerikaanse vryheidsoorlog geveg het,
aangestel om die stad te beplan.
L'Enfant het 'n grootse plan gehad. Die hart van die
stad sou die Capitol, die Amerikaanse parlementsgebou,
wees. Breë strate loop van daar af uit soos speke
in alle windrigtings.
Bouwerk aan die Wit Huis, amptelike woning van die parlement,
is in 1792 begin en aan die Capitol die volgende jaar.
Die Capitol dien as die kruispunt van twee lyne waardeur
die stad in vier dele verdeel word. Hierdeur word adresaanduidings
baie vergemaklik, aangesien jy kan sê dat jy byvoorbeeld
in Noordoos, 73ste Straat nommer 3, woon. Alle strate
word deur syfers aangedui.
Dit is moontlik om die Capitol te besoek, maar dit is
aan te beveel om dit naweke te vermy aangesien dit dan
uiters besig kan wees. Dieselfde kan gesê word
van die ruimte-museum, wat die gewildste van al die
museums hier is.
Washington is vandag 'n pragtige stad met breë
strate en mooi parke. In Potomacpark langs die rivier
is die kersiebome in die lente pragtig met hul pienkpers
blomme. Nie te ver daarvandaan nie is die monumente
van George Washington, Thomas Jefferson en Abraham Lincoln.
Die moordsyfer in Washington is van die hoogste in die
ganse VSA en daar word gesê jy moet wegbly uit
sekere dele. Daar is talle arm woonbuurte en van die
dele waar toeriste nie gereeld kom nie lyk maar sleg.
Die Capitol kan as vertrekpunt dien vir feitlik enige
museumtoer. Die Amerikaanse hooggeregshof in sy klassieke
Korintiese argitektuurstyl is in harmonie met die Kongresgebou
oorkant die straat. Die alombekende Equal Justice Under
Law is uitgebeitel in die bindbalk bokant 16 reusagtige
marmerpilare. Die hooggeregshof is die hoogste hof vir
onder meer alle grondwetverwante sake. Interessant genoeg
is die hof eers in sy 146ste jaar in 1935 hier gesetel.
Reg langs die hooggeregshof is die enorme Library of
Congress. Hier is talle onvervangbare boeke, maar wat
'n mens die meeste be¨ndruk, is die hoofleessaal.
Dit is moontlik om verdiepings ver af te kyk op biblioteekpersoneellede,
politici en akademici wat na inligting soek. Dit is
'n absolute móét op 'n besoek aan die
VSA.
Die meeste museums is daagliks oop. Dit is feitlik deur
die bank toeganklik vir diegene in rolstoele en daar
is alles wat jy sal nodig hê, van telefone en
geskenkwinkels tot toilette.