Van Villefranche-sur-Mer het ek vantevore nog nooit
gehoor. Dis nou tot die dag dat ek 'n bus geneem het
vir 'n heen-en-weertjie na Monaco vanaf Nice.
Buiten Monaco, is daar twee dinge wat my bybly van dié
trippie oor 25 km.
Die een was twee Noord-Vrystaatse boervrouens behoorlik
opge-dollie met nie 'n perm-krul uit plek. Kliphard
het hul gekwetter. Oor iedereen. "Ons is mos ver
van die huis," sou hul dink. "Wat's die kans
dat iemand hier langs die verre Franse Riviera enige
Afrikaans sal verstaan?"
Maak sulke tyd of ook jy g'n woord verstaan. Kyk anderpad.
Spits jou ore. Verlustig of verknies jou (afgehangend
van die verleentheidsvlak) in hoe hul die pot mis sit.
Só hou die lekker langer en jy gaan dalkies in
elk geval net 'n klap in die gesig kry as jy wil reghelp.
En dan onthou ek ook Villefranche-sur-Mer. Terwyl dié
twee die wêreld om hul in die bus bespreek, het
ons op die kronkelpaadjie hoog bo dié dorpie
verbygeglip. Later met die trein terug vanaf Monaco
moes ek net daar afklim: sonder om te weet of my kaartjie
op 'n volgende trein geldig sou wees en wanneer die
volgende een kom.
Dis die stasie met die mooiste uitsig wat ek nog ooit
gesien het. Dis terwyl ek 'n kiekie hiervan wou neem
dat kinders my byna met 'n bottel raak gegooi het per
ongeluk terwyl hul aan't speel was.
Vanweë 'n soortgelyke uitsig het Jean Cocteau in
1925 sy intrek geneem tot kamer 11 van die oker-en-mint
Welcome Hotel. "Dit was die beste sewe jaar van
my lewe," het hy gesê - 'n entoesiasme skynbaar
gedeel deur gaste soos sir Winston Churchil, Erroll
Flynn en Elizabeth Taylor. 'n Dubbelkamer kos rondom
R1 000 per nag.
Na croissants in die sonnige ontbytkamer, kruis die
straat na die 17de-eeuse Chapelle Sainte-Pierre versier.
Na jare waartydens visnette hier gestoor is, het Cocteau
dit in 1957 gerestoureer en versier met fresko's uit
die lewe van Petrus en die kleurvolle dorpsgeskiedenis.
Op elke 15 Augustus word die Hemelvaart van Maria gevier
in die hawe deur 'n flottielje seilbote - almal verlig.
My Eyewitness Guide to France (verseker die beste reisgidsreeks
op die mark) beskryf Villefranche as een van die bes
geleë dorpies langs die Franse Riviera. Die dorpie
lê aan die voet van kranse wat 'n ganse amifeater
daarom vorm.
Aan die oorkant kyk Villefranche uit op natuurlike hawe
wat diep genoeg is om as vlootbasis te kon dien. Naas
Nice, St. Tropez, Cannes en Monte Carlo is Villefranche
'n gunsteling onder toerskepe (of is dit iemand se Uber-jag?)
om anker te gooi.
Die waterfrontpromenade word omsoom met Italiaanse fasades
van kroeë en kafees. Ek't een van daai veel besonge
Italiaanse roomyse gekoop. Gekyk hoe gaan 'n vliegtuig
verby - dalk van Kaïro na Parys. 'n Klompie foto's
geneem en toe na die ruïne van 'n kasteel gestap.
Dis in dié kasteelomgewing dat die straatjies
(eerder stegies) smal, steil en kronkelend is. Dikwels
hang geboue grootliks hieroor. Die gewelfde rue Obscure
het vanaf die 13de eeu tot selfs die Tweede Wêreldoorlog
beskerming gebied teen aanvalle.
En toe was dit tyd om die hoge berg uit te stap na die
stasie - net betyds om 'n trein te neem na Nice.