|
Eendag lank, lank gelede (dog korter as wat ek altoos sou
glo, want die Nederlanders was al 10 jaar in die Kaap) sou
Louis XIV ‘n argitek nader roep.
“Ontwerp vir my ‘n kasteel hier oor die bult in Versailles.
Ek is dik vir
die politieke intriges van Parys. Gróóts moet die plek wees,
want ek wil nie net daar woon nie, maar ook die regering
verskuif,” sou hy opsommenderwys kon sê.
Voltooid, was die paleis die fisieke beliggaming
van ‘n absolute monargie en koninklike spandabelheid.
As een van die grootste ter wêreld is daar 2 000
vensters, 700 kamers, 1 250 vuurherte, 67 stelle trappe
en hektaars tuine.
Hier sou 25 000 werk vir hul brood – nie koek nie,
Marie-Antoinette!
G’n wonder die History Channel het drie jaar gelede só opgemerk:
“Versailles is ‘n kortbegrip van Franse klassisme
in sy poging om te verdeel, te balanseer en die natuurlike
omgewing te beheers.”
Dié uitspraak dan tydens die aanwysing deur hul van
Versailles as een van die tien “kuns- en argitektoniese
hoogtepunte” van die vorige millennium.
Jaarliks
raak ag miljoen plus besoekers verlief op hierdie argitektoniese
en kulturele meesterwerk wat ook ‘n wêrelderfenis-titel
dra. As elke
besoekers slegs R100 op toegangskaartjies spandeer, maak
die Franse regering bykans ‘n miljard rand uit dié kasteel.
Allermins ‘n slegte nalatenskap vir die Franse volk.
Tog sou ek niks anders verwag nie van die Sonkoning
of enige ander selfverheerlikte, absolute monarg met talentvolle
personeel en ‘n gesonde begroting.
Louis die 14de het koning geword op 5, maar sy moeder,
Anne d’Autriche, het aanvanklik as sy regent opgetree.
Met die dood van sy eersteminister, kardinaal Mazarin,
het Louis op 23 besluit dis tyd om die septer op te neem.
‘n Eersteminister sou nie weer aangestel word nie.
En die nuwe koning het geheers oor Frankryk soos
g’neen voor hom.
Alhoewel Louis le Grand hard gearbei het en die koninkryk
van voor tot agter sou herorganiseer was hy spandabelrig.
Die makieties in die tuine van Château de Versailles
word steeds onthou.
Nietemin was die skuld twee maal minder aan die einde
van sy heerskappy as vantevore.
Dit is grootliks toe te skryf aan sy knap sekretaris
van finansies, Colbert.
Dié was so invloedryk dat die woord “colbertisme”
steeds in Frankryk gebruik word as verwys word na ‘n gesentraliseerde
organisering van die staat.
Stap deur die dorpie Versailles wat die kasteel omring
en jy dink onwillekeurig aan die hoofstad van Brasilië.
Versailles is niks anders as ‘n XVIIde eeuse Brasilia
– ‘n hoofstad neergepen op papier volgens die wil en gril
van enkele grootkoppe, en in die geval van Versailles:
dié van Louis.
Van kleintyd het hy die nedersetting Versailles geken.
Dit was hier wat sy pa, koning Louis XIII reeds in
1623 ‘n jaghut gebou het.
Bouwerk aan die kasteel het in 1664 begin en soms
het daar tot 15 000 ambagslui hieraan gewerk.
Dit sou ‘n halfeeu neem om te voltooi – té lank vir
Louis XIV wat in 1682 maar sy intrek geneem het.
‘n Gids neem ons oor parketvloere verby klokke, krone
en trone, meters tapiserieë, fyn porselein, weerkaatsende
spieëls, ...
“Dis nogal ‘n werk om die duisende hangertjies van die boheemse
kristallugters skoon te hou,” merk sy op voordat ons die
Spieëlsaal ingaan.
Dié Galerie des Glaces
(73 m lank, 11 m wyd en 12 m hoog) kyk uit op die
paleistuine. Die
skilderye teen die gewelfde plafon beeld gebeure uit in
die lewe van Louis XIV.
Die koning sou daagliks hierdeur stap na die kasteel
se kapel asook na die wooneenheid van sy gesin.
Groot
okkasies soos koninklike troues was egter die hoofdoel van
die Spieëlsaal. Dis
hier waar vrede na die Tweede Wêreldoorlog gesluit is met
die Verdrag van Versailles.
Vandag nog vergader die Franse kongres soms hier
om veranderings aan die Franse grondwet aan te bring.
Op pad na die plaasgrootte tuine vertel die
gids in vlot Engels dat die koning lief was vir sy kos.
Só lief dat hy waarskynlik van vetsug ‘n opersie
moes ondergaan. Na
sy herstel het die nonne van Saint-Cyr hom na hul klooster
genooi. Die
moederowerste het ‘n lofsang aan hom toegedig.
“Dieu sauve le roi!” oftewel God save the King, het
sy dit genoem. ‘n
Engelse besoeker het blykbaar ‘n afskrif van die woorde
en liriek saam teruggeneem.
Jy kan sien hoe verlekker sy haar daarin dat die
Engelse volkslied blykbaar sulke sterk Franse wortels het.
“In 1694,
terwyl Frankryk gewag het op skepe om koring te bring ná
‘n swak oesjaar het oorlogsugtige Engelse en Duitse skepe
die hawe van Dunkerque, Frankryk, geblokkeer,” vertel sy
verder. “Ene
Jean Bart het egter daarin geslaag om hul te vedryf.
Om hom te vergoed het die Sonkoning vir Bart na die
paleis genooi. Teen
die tyd dat Louix XIV die kamer ingekom het, het Bart ontspanne
in ‘n stoel sit en rook.
Die koning het hom 1 000 goue munte gegee en gevra
om te gaan. “Het
ek dan iets verkeerds gedoen?” wou Bart weet.
Louis XIV het vriendelik, maar ferm geantwoord:
“Ek hou nie van rokers nie;
en geeneen rook in my huis nie!””
Frankryk se bekendste en grootste kasteel sou vir 117 jaar
diens doen. In
1789 is Louix XVI en Marie-Antoinette na Parys geneem om
‘n guillotine-dood te sterf tydens die rewolusie.
Die gesplete wêreld tussen die koningshuis en hul
onderdane het vir eens té groot geword.
En só was dit fluit-fluit vir die Franse konings,
maar hul koninkryk op Versailles bekoor voort.
sou
jy gaan
-
Bus
171 (R10) ry tussen die Pont de Sèvres-moltreinstasie
na place d’Armes reg voor die chateau.
Andersins kan die RER C5-trein geneem word vanaf
Parys se Garde d’Austerlitz.
-
Versailles
is rolstoelvriendelik.
-
Toere
van 60 minute kos R40.
Kaartjies hiervoor is te kry by Entrée C of D.
Daar word ook gereeld toere vir blindes en dowes
aangebied.
-
Toegang
tot die tuine (07:00 tot sononder daagliks) is pasella,
behalwe dié Sondae tussen Mei en begin- Oktober wanneer
daar spuitfonteinuitvoerings is.
Hierdie Grandes Eaux vind tussen 15:30 en 17:00
plaas en kos R40.
-
Behalwe
Maandae is die hoofgebou oop tussen 09:00 en 17:30,
en ‘n raps later in die somer. Toegang
is R60.
-
Omdat
Versailles op die meeste toeriste se moet-lyste verskyn
is die chateau gewoonlik gepak.
Kom daarom vroegoggend en vermy Sondae.
|