voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


le chateau de versailles -
kern van die sonkoning se heelal

   
jens friis
     

     
Eendag lank, lank gelede (dog korter as wat ek altoos sou glo, want die Nederlanders was al 10 jaar in die Kaap) sou  Louis XIV ‘n argitek nader roep. 
“Ontwerp vir my ‘n kasteel hier oor die bult in Versailles.  Ek is dik vir die politieke intriges van Parys. Gróóts moet die plek wees, want ek wil nie net daar woon nie, maar ook die regering verskuif,” sou hy opsommenderwys kon sê. 
Voltooid, was die paleis die fisieke beliggaming van ‘n absolute monargie en koninklike spandabelheid.  As een van die grootste ter wêreld is daar 2 000 vensters, 700 kamers, 1 250 vuurherte, 67 stelle trappe en hektaars tuine.  Hier sou 25 000 werk vir hul brood – nie koek nie, Marie-Antoinette!
G’n wonder die History Channel het drie jaar gelede só opgemerk:  “Versailles is ‘n kortbegrip van Franse klassisme in sy poging om te verdeel, te balanseer en die natuurlike omgewing te beheers.”  Dié uitspraak dan tydens die aanwysing deur hul van Versailles as een van die tien “kuns- en argitektoniese hoogtepunte” van die vorige millennium. 
Jaarliks raak ag miljoen plus besoekers verlief op hierdie argitektoniese en kulturele meesterwerk wat ook ‘n wêrelderfenis-titel dra.  As elke besoekers slegs R100 op toegangskaartjies spandeer, maak die Franse regering bykans ‘n miljard rand uit dié kasteel. 
Allermins ‘n slegte nalatenskap vir die Franse volk.  Tog sou ek niks anders verwag nie van die Sonkoning of enige ander selfverheerlikte, absolute monarg met talentvolle personeel en ‘n gesonde begroting. 
Louis die 14de het koning geword op 5, maar sy moeder, Anne d’Autriche, het aanvanklik as sy regent opgetree.  Met die dood van sy eersteminister, kardinaal Mazarin, het Louis op 23 besluit dis tyd om die septer op te neem.  ‘n Eersteminister sou nie weer aangestel word nie.   En die nuwe koning het geheers oor Frankryk soos g’neen voor hom. 
Alhoewel Louis le Grand hard gearbei het en die koninkryk van voor tot agter sou herorganiseer was hy spandabelrig.   Die makieties in die tuine van Château de Versailles word steeds onthou.  Nietemin was die skuld twee maal minder aan die einde van sy heerskappy as vantevore. 
Dit is grootliks toe te skryf aan sy knap sekretaris van finansies, Colbert.  Dié was so invloedryk dat die woord “colbertisme” steeds in Frankryk gebruik word as verwys word na ‘n gesentraliseerde organisering van die staat. 
Stap deur die dorpie Versailles wat die kasteel omring en jy dink onwillekeurig aan die hoofstad van Brasilië.  Versailles is niks anders as ‘n XVIIde eeuse Brasilia – ‘n hoofstad neergepen op papier volgens die wil en gril van enkele grootkoppe, en in die geval van Versailles:  dié van Louis. 
Van kleintyd het hy die nedersetting Versailles geken.  Dit was hier wat sy pa, koning Louis XIII reeds in 1623 ‘n jaghut gebou het. 
Bouwerk aan die kasteel het in 1664 begin en soms het daar tot 15 000 ambagslui hieraan gewerk.  Dit sou ‘n halfeeu neem om te voltooi – té lank vir Louis XIV wat in 1682 maar sy intrek geneem het.  
‘n Gids neem ons oor parketvloere verby klokke, krone en trone, meters tapiserieë, fyn porselein, weerkaatsende spieëls,  ... “Dis nogal ‘n werk om die duisende hangertjies van die boheemse kristallugters skoon te hou,” merk sy op voordat ons die Spieëlsaal ingaan. 
Dié Galerie des Glaces  (73 m lank, 11 m wyd en 12 m hoog) kyk uit op die paleistuine.  Die skilderye teen die gewelfde plafon beeld gebeure uit in die lewe van Louis XIV.  Die koning sou daagliks hierdeur stap na die kasteel se kapel asook na die wooneenheid van sy gesin. 
Groot okkasies soos koninklike troues was egter die hoofdoel van die Spieëlsaal.  Dis hier waar vrede na die Tweede Wêreldoorlog gesluit is met die Verdrag van Versailles.  Vandag nog vergader die Franse kongres soms hier om veranderings aan die Franse grondwet aan te bring. 
Op pad na die plaasgrootte tuine vertel die gids in vlot Engels dat die koning lief was vir sy kos.  Só lief dat hy waarskynlik van vetsug ‘n opersie moes ondergaan.  Na sy herstel het die nonne van Saint-Cyr hom na hul klooster genooi.  Die moederowerste het ‘n lofsang aan hom toegedig.   “Dieu sauve le roi!” oftewel God save the King, het sy dit genoem.  ‘n Engelse besoeker het blykbaar ‘n afskrif van die woorde en liriek saam teruggeneem.  Jy kan sien hoe verlekker sy haar daarin dat die Engelse volkslied blykbaar sulke sterk Franse wortels het. 
“In 1694, terwyl Frankryk gewag het op skepe om koring te bring ná ‘n swak oesjaar het oorlogsugtige Engelse en Duitse skepe die hawe van Dunkerque, Frankryk, geblokkeer,” vertel sy verder.   “Ene Jean Bart het egter daarin geslaag om hul te vedryf.  Om hom te vergoed het die Sonkoning vir Bart na die paleis genooi.  Teen die tyd dat Louix XIV die kamer ingekom het, het Bart ontspanne in ‘n stoel sit en rook.  Die koning het hom 1 000 goue munte gegee en gevra om te gaan.  “Het ek dan iets verkeerds gedoen?” wou Bart weet.  Louis XIV het vriendelik, maar ferm geantwoord:  “Ek hou nie van rokers nie;  en geeneen rook in my huis nie!””
Frankryk se bekendste en grootste kasteel sou vir 117 jaar diens doen.  In 1789 is Louix XVI en Marie-Antoinette na Parys geneem om ‘n guillotine-dood te sterf tydens die rewolusie.  
Die gesplete wêreld tussen die koningshuis en hul onderdane het vir eens té groot geword.  
En só was dit fluit-fluit vir die Franse konings, maar hul koninkryk op Versailles bekoor voort. 

 

sou jy gaan

  • Bus 171 (R10) ry tussen die Pont de Sèvres-moltreinstasie na place d’Armes reg voor die chateau.  Andersins kan die RER C5-trein geneem word vanaf Parys se Garde d’Austerlitz. 

  • Versailles is rolstoelvriendelik.

  • Toere van 60 minute kos R40.  Kaartjies hiervoor is te kry by Entrée C of D.   Daar word ook gereeld toere vir blindes en dowes aangebied. 

  • Toegang tot die tuine (07:00 tot sononder daagliks) is pasella, behalwe dié Sondae tussen Mei en begin- Oktober wanneer daar spuitfonteinuitvoerings is.  Hierdie Grandes Eaux vind tussen 15:30 en 17:00 plaas en kos R40.

  • Behalwe Maandae is die hoofgebou oop tussen 09:00 en 17:30, en ‘n raps later in die somer.  Toegang is R60. 

  • Omdat Versailles op die meeste toeriste se moet-lyste verskyn is die chateau gewoonlik gepak.  Kom daarom vroegoggend en vermy Sondae. 


j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's