voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


lig en kleur in 'waterstad' bekoor

   
jens friis
     

Mag dit met sononder wees dat jy met 'n vaporetta (waterbus) op Venesië se Groot Kanaal vaar. Dit is dan wanneer `` 'n laaste swaard van lig in 'n laataand water vlam'', volgens Sheila Cussons

(``Verlief in Venesië'')

 
Vir 'n oomblik word stegies en mure agter vensters verlig. Fasades en balkonne flikker as strale op water weerkaats. Balmaskers getuig ook van 'n misterieuse feesspel. Hulle is verfraai met vere, blomme en simbole soos die son vir lewe en die maan vir die see en getye.

Oral word dié maskers vir 'n paar duisend lira verkwansel.

Die afgelope naweek is dit ingespan om die jaarlikse maskerkarnaval te vier. Dit is 'n groot makietie met die een bal ná die ander, uitstallings en vuurwerkvertonings. Talle buitelanders en Italianers stroom hierheen.

Nóg die lig, nóg die kleure in Venesië is in die aardse skakerings van Florence of Rome. Die vloeibare boulevards is 'n verbleikte groen en die geboue is in die kleure van sorbets soos vaalbleek, appelkoos en pepermentgroen.

Die Venesiaanse geskiedenis het ook weinig gemeen met Italië. 'n Hertog

(doge) onder 'n republikeinse regeringstelsel het oor Venesië geregeer.

Handel het hier gefloreer, wat dit 'n glorieryke stadstaat in 'n gevaarlike Europa gemaak het. Van 697 tot 1797 nadat Napoleon dit ingeneem het, sou dié maritieme stad die gebied van die Adriatiese en die oostelike Middellandse See oorheers.

Venesië is aangelê op 117 klein eilandjies wat per pad en treinspoor met Mestre op die vasteland verbind is. Dié moddervlaktes was 'n toevlugsoord vir vlugtelinge. Die Hunne, Wes-Gote en ander stamme het nie veel sin daarin gehad om deur die modder te sloeg om die Venesiërs aan te val nie.

Die post-Napoleontiese Italiaanse era is in die 19de eeu gekenmerk deur die strewe tot unifikasie deur leiers soos Garibaldi en Cavour. Die koninkryk van Italië is in 1861 verklaar, maar Oostenryk het eers in 1866 Venesië aan Italië oorhandig en pouslike aansprake het tot 1870 'n kwessie gebly.

Dit wat vandag te sien is, is 'n oorblyfsel van dit wat tot stand kom as rykdom, onafhanklikheid en mag gekombineer word.

Die elegante St. Markus-plein (Piazza San Marco) word omring deur uiteenlopende boustyle, soos die speelse 15de-eeuse kloktoring, lang arkades van die procuratie (regeringsgeboue van die republiek) en 'n reuse-plein waaroor 'n swerm duiwe waaier.

Port Elizabeth spog met 'n kloktoring, die campanile (van die Italiaans campana, wat klok beteken) wat regstreeks na die historiese Venesië verwys.

Drink 'n ombra (wit wyn) by 'n kafee wat uitloop uit die arkades. Kyk hoe jong Venesiërs 'n sokkerbal heen en weer skop waar eens grootse geestelike optogte gehou is. Hou paartjies dop wat op hul passeggiata (aandwandeling) is.

In Invisible Cities, 'n bundel verbeeldingsvlug-verhale deur Italo Calvino, wys die Kublai Khan Marco Polo daarop dat hy nooit na Venesië, sy tuisstad, verwys nie.

Hierop antwoord Polo: ``Elke keer as ek 'n stad beskryf, sê ek iets van Venesië.''

Venesië was eeue lank die hoofstad van 'n magtige ryk waar uiteenlopende invloede vermeng is. Hier is die nalatenskap van handelaars wat die Bisantynse Ryk geplunder het en skatte van tot by Alexandrië nog lewend.

Die Basilica di San Marco (St. Markus-kerk) met sy loodkleurige seepbelkoepels herinner aan 'n Midde-Oosterse basaar van vervloë jare.

Langsaan is die hertog se paleis, magsetel van die eertydse republiek. Die Venesiaanse doge, in pragtige togas geklee, het imposant gelyk, maar is in werklikheid mag ontsê deur Venesië se ingewikkelde strukture om korrupsie, magsmisbruik en ander misdaad te voorkom. Die gewilde Brug van Sugte verbind die paleis met die ou tronk.

Onlangs het Matt Damon en Gwyneth Paltrow in The talented Mr Ripley Venesië se romantiese sy herbelig. Linus Roache en ander het dieselfde gedoen in The wings of the dove.

Dit is allesbehalwe wat party Venesiërs meen hulle nodig gehad het. ``Ons verdrink al tussen die toeriste (en veral Amerikaners). Bly weg! Bestee jul geld elders!'' is hul noodkreet.

Vermy die stad as die Noordelike Halfrond sy somervakansie het, met die karnaval voor Paasfees en die historiese regatta in September.

Vroegoggend, as almal nog in die vere is, is altyd 'n goeie tyd om op uitstappies te gaan. Die winters is selfs 'n moontlikheid.

Die Academia-brug lei na 'n rustiger Venesië en die Galleria dell'Academia met 'n versameling van die Venesiese meesters. Digby is die Peggy Guggenheim-kunslokaal met gekeurde 20ste-eeuse werke.

Die lekker is nie verby na dié bekende bakens nie. Die straatjies is nie gewoonweg genommer nie. Omdat party kort is, loop die nommers dikwels aan van een na 'n ander. Oral staan ysterbankies en houtblaaie byderhand om só gepak te word dat dit die paadjies vorm as Venesië met werklike hoogwater oorstroom. Met die opdroog stink die strate in die drukkende somermaande.

In stegies van dié sinkende stad hang inwoners by vensters uit en kuier só oor en weer. Stap onderdeur drade behang met wasgoed en kom af op allerhande vondse soos mooi kerke en restaurants op onverwagte plekke. Op 'n wandeling na 'n straatkafee is daar gewoonlik iets moois of interessants om af te neem. Die cappucino's is ook glad nie sleg nie.

In die noorde is die kos ryker en romeriger as die skerp gekruide spesialiteite van Suid-Italië.

Verorber in Venesië eersteklas spaghetti-bolognaise, lasagne, tortellini, seekos, songedroogde tamaties en foccacia-brood. Of dalk val die keuse op eksotiese vleis soos padda-rissotto of donkie-kruisskyf. Cassata vir nagereg is heerlik.

Of dit 'n gebreekte pilaar is wat deur 'n linoleumvloer steek, of 'n Barokkerk, geskiedenis en kultuur omring jou in Venesië. Kan jy immuun raak teen dié prag? Venesië is nie te blameer as jy nie 'n buon giorno (goeie dag) het nie.


j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's