Vir 'n oomblik word stegies en mure agter vensters verlig.
Fasades en balkonne flikker as strale op water weerkaats.
Balmaskers getuig ook van 'n misterieuse feesspel. Hulle
is verfraai met vere, blomme en simbole soos die son vir
lewe en die maan vir die see en getye.
Oral
word dié maskers vir 'n paar duisend lira verkwansel.
Die
afgelope naweek is dit ingespan om die jaarlikse maskerkarnaval
te vier. Dit is 'n groot makietie met die een bal ná die
ander, uitstallings en vuurwerkvertonings. Talle buitelanders
en Italianers stroom hierheen.
Nóg
die lig, nóg die kleure in Venesië is in die aardse skakerings
van Florence of Rome. Die vloeibare boulevards is 'n verbleikte
groen en die geboue is in die kleure van sorbets soos
vaalbleek, appelkoos en pepermentgroen.
Die
Venesiaanse geskiedenis het ook weinig gemeen met Italië.
'n Hertog
(doge)
onder 'n republikeinse regeringstelsel het oor Venesië
geregeer.
Handel
het hier gefloreer, wat dit 'n glorieryke stadstaat in
'n gevaarlike Europa gemaak het. Van 697 tot 1797 nadat
Napoleon dit ingeneem het, sou dié maritieme stad die
gebied van die Adriatiese en die oostelike Middellandse
See oorheers.
Venesië
is aangelê op 117 klein eilandjies wat per pad en treinspoor
met Mestre op die vasteland verbind is. Dié moddervlaktes
was 'n toevlugsoord vir vlugtelinge. Die Hunne, Wes-Gote
en ander stamme het nie veel sin daarin gehad om deur
die modder te sloeg om die Venesiërs aan te val nie.
Die
post-Napoleontiese Italiaanse era is in die 19de eeu gekenmerk
deur die strewe tot unifikasie deur leiers soos Garibaldi
en Cavour. Die koninkryk van Italië is in 1861 verklaar,
maar Oostenryk het eers in 1866 Venesië aan Italië oorhandig
en pouslike aansprake het tot 1870 'n kwessie gebly.
Dit
wat vandag te sien is, is 'n oorblyfsel van dit wat tot
stand kom as rykdom, onafhanklikheid en mag gekombineer
word.
Die
elegante St. Markus-plein (Piazza San Marco) word omring
deur uiteenlopende boustyle, soos die speelse 15de-eeuse
kloktoring, lang arkades van die procuratie (regeringsgeboue
van die republiek) en 'n reuse-plein waaroor 'n swerm
duiwe waaier.
Port
Elizabeth spog met 'n kloktoring, die campanile (van die
Italiaans campana, wat klok beteken) wat regstreeks na
die historiese Venesië verwys.
Drink
'n ombra (wit wyn) by 'n kafee wat uitloop uit die arkades.
Kyk hoe jong Venesiërs 'n sokkerbal heen en weer skop
waar eens grootse geestelike optogte gehou is. Hou paartjies
dop wat op hul passeggiata (aandwandeling) is.
In
Invisible Cities, 'n bundel verbeeldingsvlug-verhale deur
Italo Calvino, wys die Kublai Khan Marco Polo daarop dat
hy nooit na Venesië, sy tuisstad, verwys nie.
Hierop
antwoord Polo: ``Elke keer as ek 'n stad beskryf, sê ek
iets van Venesië.''
Venesië
was eeue lank die hoofstad van 'n magtige ryk waar uiteenlopende
invloede vermeng is. Hier is die nalatenskap van handelaars
wat die Bisantynse Ryk geplunder het en skatte van tot
by Alexandrië nog lewend.
Die
Basilica di San Marco (St. Markus-kerk) met sy loodkleurige
seepbelkoepels herinner aan 'n Midde-Oosterse basaar van
vervloë jare.
Langsaan
is die hertog se paleis, magsetel van die eertydse republiek.
Die Venesiaanse doge, in pragtige togas geklee, het imposant
gelyk, maar is in werklikheid mag ontsê deur Venesië se
ingewikkelde strukture om korrupsie, magsmisbruik en ander
misdaad te voorkom. Die gewilde Brug van Sugte verbind
die paleis met die ou tronk.
Onlangs
het Matt Damon en Gwyneth Paltrow in The talented Mr Ripley
Venesië se romantiese sy herbelig. Linus Roache en ander
het dieselfde gedoen in The wings of the dove.
Dit
is allesbehalwe wat party Venesiërs meen hulle nodig gehad
het. ``Ons verdrink al tussen die toeriste (en veral Amerikaners).
Bly weg! Bestee jul geld elders!'' is hul noodkreet.
Vermy
die stad as die Noordelike Halfrond sy somervakansie het,
met die karnaval voor Paasfees en die historiese regatta
in September.
Vroegoggend,
as almal nog in die vere is, is altyd 'n goeie tyd om
op uitstappies te gaan. Die winters is selfs 'n moontlikheid.
Die
Academia-brug lei na 'n rustiger Venesië en die Galleria
dell'Academia met 'n versameling van die Venesiese meesters.
Digby is die Peggy Guggenheim-kunslokaal met gekeurde
20ste-eeuse werke.
Die
lekker is nie verby na dié bekende bakens nie. Die straatjies
is nie gewoonweg genommer nie. Omdat party kort is, loop
die nommers dikwels aan van een na 'n ander. Oral staan
ysterbankies en houtblaaie byderhand om só gepak te word
dat dit die paadjies vorm as Venesië met werklike hoogwater
oorstroom. Met die opdroog stink die strate in die drukkende
somermaande.
In
stegies van dié sinkende stad hang inwoners by vensters
uit en kuier só oor en weer. Stap onderdeur drade behang
met wasgoed en kom af op allerhande vondse soos mooi kerke
en restaurants op onverwagte plekke. Op 'n wandeling na
'n straatkafee is daar gewoonlik iets moois of interessants
om af te neem. Die cappucino's is ook glad nie sleg nie.
In
die noorde is die kos ryker en romeriger as die skerp
gekruide spesialiteite van Suid-Italië.
Verorber
in Venesië eersteklas spaghetti-bolognaise, lasagne, tortellini,
seekos, songedroogde tamaties en foccacia-brood. Of dalk
val die keuse op eksotiese vleis soos padda-rissotto of
donkie-kruisskyf. Cassata vir nagereg is heerlik.
Of
dit 'n gebreekte pilaar is wat deur 'n linoleumvloer steek,
of 'n Barokkerk, geskiedenis en kultuur omring jou in
Venesië. Kan jy immuun raak teen dié prag? Venesië is
nie te blameer as jy nie 'n buon giorno (goeie dag) het
nie.