"What kind of sausage would it be?" vra
die vrou en wys met 'n vinger: "Polish, Italian,
vegetarian ...,"
Dis ironies dat dié worsbroodjietrollie juis
in Union Station was, want vir my ontbreek 'n éénheidsgevoel
in Toronto. Die stad is soekend na 'n identiteit.
Behalwe dat almal Engels praat, vorder assimilasie
stadig. Multikulturalisme floreer. Byna twee-derdes
van die 3,2 miljoen inwoners is elders gebore. Die
stadstigters kon nie op 'n meer gepaste naam besluit
as "Toronto" oftewel "bymekaarkomplek"
vir die Indiane.
Groter Toronto is nie soseer 'n stad nie as 'n versameling
etniese gemeenskappe. Dis blyplek vir 'n halfmiljoen
Italianers asook die meeste Portugese in Noord-Amerika.
Talle woonbuurte is toeristetrekpleisters waaronder
Indian Bazaar, Koreatown, Spadina (Viëtnam),
Cabbagetown (Ierland) en Greektown. Verdere genot
word verskaf deur jaarlikse makieties soos die Italiaanse
Voedselfees, du Marier Jazz-fees en Chinese draakbootresies.
Kensington Mark is 'n kleurvolle voorbeeld hoe kraampie-eienaars
van orals lekkernye na hul nuwe tuiste gebring het.
"Kanadese kos" is daar weinig van, behalwe
pannekoeke met esdoringstroop.
Ook vir duisende Suid-Afrikaners is Toronto deesdae
huis. Hier's iets van die naglewe van New York, die
geordenheid van Geneve en die natuurlike skoonheid
van Sydney. Op die koop toe word Engels gepraat in
hierdie veilige stad met die sterke ekonomie.
Alhoewel rassekonflik nie ongekend is nie, is Ontario
lank reeds 'n liberale, verdraagsame hawe. In die
Amerikaanse dae van slawerny het swart slawe reeds
vryheid en werk in hierdie Kanadese provinsie gevind.
Golf na golf immigrante sou mettertyd 'n hartlike
welkom ontvang.
Die stad se identiteitsvraagstuk word nie juis vergemaklik
deurdat die VSA slegs 45 km ver is nie. Toronto is
in Kanada, maar skalks ook dié land se mees
Amerikaanse stad. Nes daar is hier hoge toringblokke,
gewoontes stem ooreen, en voordat Toronto die 2008-Olimpiese
Bod verloor het was daar sprake van 'n snelspoorlyn
na New York.
Naas die Groot Appel, het Toronto die meeste Engelstalige
teaters in Noord-Amerika. Ook floreer opera en ballet.
Langs King Street, die vermaaklikheidstraat, staan
die Royal Alexandria Theatre (1906) in skerp kontras
oorkant die moderne Roy Thomson Hall.
Toronto het die bynaam "Hollywood North"
verwerf omdat soveel films in die afgelope 15 jaar
hier gemaak is. Die uitgawes is laer as in die VSA
en dan lyk Toronto ook op 'n haar soos vele Amerikaanse
stede. Dié belangstelling het verdere lewe
gekry na die sukses van inwoner Michael Ondatjee se
The English Patient.
om
ook nie te mis in toronto