voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


(riet)dans deur swaziland

   
jens friis
     

  
Dis weer tyd vir die ``Umhlanga'' oftewel rietdans - een van die twee vernaamste kulturele seremonies op Swaziland se jaarlikse kalender.
Swaziland is die kleinste landjie in die suidelike halfrond. Die afskaffing van apartheid was vir die Swazi-ekonomie 'n donker dag. Dit het onnodig geword om ondernemings hiér te hê ten einde sanksies vry te spring. Die trek terug na Suid-Afrika het begin en Swaziland se gewildheid was aan 't taan.
Sprekend daarvan was dat dit nie meer nodig was om vir dobbel hierheen of na enige ander van Sol se casino-state te ry nie. Eers was daar die onwettige casino's in Gauteng en in die jare negentig oraloor groot, gelisensieerde casino's in Suid-Afrika. Tog kon Swaziland selfs in die magtigste NP-jare meer bied as 'n verbode rolprent, boek of dobbelspel.
Dit sal my dan ook nie verbaas nie as dié koninkryk al hoe meer besoekers gaan lok deur sy praglandskap, 'n gevestigde (dog klein) toeriste-infrastruktuur uit die ekonomies goeie apartheidsjare, en beter politieke stabiliteit as vele ander lande in die streek.
Dis nou as dié stabiliteit gaan hou, want nie almal is in hul noppies met hul beperkte vryhede en regte in hierdie monargie nie. Veral studente-oproer en vakbondbedrywighede het sedert 1995 die totalitêre magte van die koning ingeperk, maar van daadwerklike demokratisering en werklike politieke hervorming is hier weinig sprake. Koning Mswati en 'n groepie raadgewers heers steeds met 'n ysere vuis.
Ondanks dié onmin bring gewyde kulturele feeste die Swazi's jaarliks nader aan mekaar en wys op hul verbintenis met die koningshuis.
'n Grootse kulturele seremonie is die ``Umhlanga'' elke Augustus/September. Dis vir dié rietdans dat troubare, jong Swazi-vroue stroom om die koninginmoeder se huis in Lobamba te herstel. As hulle ná afloop daarvan ritmies in oker, pienk en rooi rokke dans, kry die koning ook 'n kans om rond te kyk vir nóg potensiële vroue.
By Lobamba is die bekendste toeriste-attraksies. Digby die koninklike kraal is die Embo-staatspaleis, King Sobhuza II Memorial, asook die parlement wat soms oop is vir die publiek. Die nasionale museum bied 'n blik op die Swazi-kultuur en word gehuisves in 'n dorpie van byekorfhutte.
Lobamba lê sowat 15 km suid van Mbabane in die 20 km lange Ezulwinivallei. Wees gewaarsku: die teerpad van Mbabane na die Ezulwinivallei is die ene s-draaie. Die Mlilwane-wildtuin is die oudste in Swaziland en die tuiste van renosters en tot 200 voëlspesies. Die Mantenga-waterval is 'n besoek werd.
Sou jy nie nou 'n draai by die kleurvolle ``Umhlanga'' kan maak nie, is daar nog die Incwala-seremonie rondom Nuwejaarsdag. Om die hitte vry te spring, is die winter egter die aanbevole tyd. Dan is die dae heerlik, hoewel die nagte in die oostelike laagliggende streke kan koud word.
Die Incwala (ook genoem Ncwala) is die fees van die ``eerste vrugte''. Groepe bemanti (opgeleide mans) bring van heinde en ver plante, rivierwater en skuim van die Indiese Oseaan in Mosambiek na die koninklike kraal in Lobamba. Die koning dans voor die skare waarna hy 'n pampoen eet as teken dat die Swazi's die oes van die nuwe jaar mag eet.
Hoewel inheemse godsdienste nie meer algemeen beoefen word nie, het vername seremonies soos die Incwala en Umhlanga nog sterk ondertone daarvan. Rituele en gebruike word gehandhaaf en speel steeds 'n belangrike rol in vele lewens. Voorouers word gerespekteer en hul geeste speel 'n kernrol in familiesake. Lobola word nog betaal. 'n Jong bruid neem die jongste kind van haar man se familie aan totdat sy self kinders het. Die koning se oudste kind is nie outomaties die een wat die troon erf nie. Tradisie bepaal dat die koninklike raad 'n nuwe heerser sal aanwys.
Die Swazi-gebied is van die Steentydperk af bewoon eers deur nomadiese Boesmans en daarna deur Sotho's en Nguni's.

   


j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's