Dis weer tyd vir die ``Umhlanga'' oftewel rietdans - een
van die twee vernaamste kulturele seremonies op Swaziland
se jaarlikse kalender.
Swaziland is die kleinste landjie in die suidelike halfrond.
Die afskaffing van apartheid was vir die Swazi-ekonomie
'n donker dag. Dit het onnodig geword om ondernemings
hiér te hê ten einde sanksies vry te spring.
Die trek terug na Suid-Afrika het begin en Swaziland se
gewildheid was aan 't taan.
Sprekend daarvan was dat dit nie meer nodig was om vir
dobbel hierheen of na enige ander van Sol se casino-state
te ry nie. Eers was daar die onwettige casino's in Gauteng
en in die jare negentig oraloor groot, gelisensieerde
casino's in Suid-Afrika. Tog kon Swaziland selfs in die
magtigste NP-jare meer bied as 'n verbode rolprent, boek
of dobbelspel.
Dit sal my dan ook nie verbaas nie as dié koninkryk
al hoe meer besoekers gaan lok deur sy praglandskap, 'n
gevestigde (dog klein) toeriste-infrastruktuur uit die
ekonomies goeie apartheidsjare, en beter politieke stabiliteit
as vele ander lande in die streek.
Dis nou as dié stabiliteit gaan hou, want nie almal
is in hul noppies met hul beperkte vryhede en regte in
hierdie monargie nie. Veral studente-oproer en vakbondbedrywighede
het sedert 1995 die totalitêre magte van die koning
ingeperk, maar van daadwerklike demokratisering en werklike
politieke hervorming is hier weinig sprake. Koning Mswati
en 'n groepie raadgewers heers steeds met 'n ysere vuis.
Ondanks dié onmin bring gewyde kulturele feeste
die Swazi's jaarliks nader aan mekaar en wys op hul verbintenis
met die koningshuis.
'n Grootse kulturele seremonie is die ``Umhlanga'' elke
Augustus/September. Dis vir dié rietdans dat troubare,
jong Swazi-vroue stroom om die koninginmoeder se huis
in Lobamba te herstel. As hulle ná afloop daarvan
ritmies in oker, pienk en rooi rokke dans, kry die koning
ook 'n kans om rond te kyk vir nóg potensiële
vroue.
By Lobamba is die bekendste toeriste-attraksies. Digby
die koninklike kraal is die Embo-staatspaleis, King Sobhuza
II Memorial, asook die parlement wat soms oop is vir die
publiek. Die nasionale museum bied 'n blik op die Swazi-kultuur
en word gehuisves in 'n dorpie van byekorfhutte.
Lobamba lê sowat 15 km suid van Mbabane in die 20
km lange Ezulwinivallei. Wees gewaarsku: die teerpad van
Mbabane na die Ezulwinivallei is die ene s-draaie. Die
Mlilwane-wildtuin is die oudste in Swaziland en die tuiste
van renosters en tot 200 voëlspesies. Die Mantenga-waterval
is 'n besoek werd.
Sou jy nie nou 'n draai by die kleurvolle ``Umhlanga''
kan maak nie, is daar nog die Incwala-seremonie rondom
Nuwejaarsdag. Om die hitte vry te spring, is die winter
egter die aanbevole tyd. Dan is die dae heerlik, hoewel
die nagte in die oostelike laagliggende streke kan koud
word.
Die Incwala (ook genoem Ncwala) is die fees van die ``eerste
vrugte''. Groepe bemanti (opgeleide mans) bring van heinde
en ver plante, rivierwater en skuim van die Indiese Oseaan
in Mosambiek na die koninklike kraal in Lobamba. Die koning
dans voor die skare waarna hy 'n pampoen eet as teken
dat die Swazi's die oes van die nuwe jaar mag eet.
Hoewel inheemse godsdienste nie meer algemeen beoefen
word nie, het vername seremonies soos die Incwala en Umhlanga
nog sterk ondertone daarvan. Rituele en gebruike word
gehandhaaf en speel steeds 'n belangrike rol in vele lewens.
Voorouers word gerespekteer en hul geeste speel 'n kernrol
in familiesake. Lobola word nog betaal. 'n Jong bruid
neem die jongste kind van haar man se familie aan totdat
sy self kinders het. Die koning se oudste kind is nie
outomaties die een wat die troon erf nie. Tradisie bepaal
dat die koninklike raad 'n nuwe heerser sal aanwys.
Die Swazi-gebied is van die Steentydperk af bewoon eers
deur nomadiese Boesmans en daarna deur Sotho's en Nguni's.