|
|
Villa
Scacciapensieri
... Maar dan kom swewend oor die dal
‘n dieper keelgeluid wat sing.
Dis Monseigneur se klok wat praat
in die verte uit die katedraal,
en aan Siëna sê dat God
weer opgestaan het met die son,
die boer gesien het in sy tuin,
die hasie in die dou, die slaai,
die jagter en sy koeël, álles;
en dat dit goed is met sy werk.
W.E.G.
Louw, Versamelde gedigte, 1988
|
|
|
Of
‘n verfmaker nie kon spel nie en of hy/sy nie die dorp se
naam mog gebruik het nie, weet ek nie.
Gewis is dit egter dat die dorp “Siena” met ‘n enkele
en gespel word, maar die verbleikte okerkleur (“Sienna”)
met twee.
Dis
dan ook dié kleur wat oorheers in hierdie Tuskaanse dorp
en veral die Piazza del Campo, die stadshart waar dit ‘n
uitsondering is as ‘n gebou afwyk van dié geel-bruin.
Só ‘n rol speel hierdie plein by sosiale omgang dat
Siënese nie sal sê:
“Ek het jou lanklaas gesien nie,” maar wel:
“Ek het jou nie in die piazza gewaar nie.” Dít sal
wees in Italiaans wat so suiwer is as kan kom, want anders
as Napolitane en Venesiërs gebruik Siënese nie hul eie dialek
naas standaard-Italiaans nie, maar slegs laasgenoemde.
Sonder
variasie herhaal hierdie éénvormigheidstema in Siena:
nét standaard-Italiaans, slégs geel-bruin geboue,
‘n sentrale stadsplein met ‘n buitengewoon kragtige samebindende
atmosfeer ...
Oor die voordele van verskeidenheid-binne-eenheid
is al veel gedebatteer.
Hieroor dus nie meer.
Wat wel vasstaan is dat dié eenheidsgees ‘n karakter
aan Siena gee - wat ek sou beskryf - as fel, gedissiplineerd,
byna rigied.
“Geleë
op drie heuwels wat in die middel afloop na die groot plein,
bekend as die Campo, het dit ‘n atmosfeer behou wat ‘n mens
nog duidelik aan sy verskriklike verlede herinner,” het
W.E.G. Louw geskryf in So ver as ‘n engel te perd kan
ry (1969).
“‘n Mens dink aan die rampe wat Siena oorval het:
die slagting van die Florentyne, die pes van 1348
(wat die bevolking van 100 000 tot 20 000 verminder het),
die gruwele van die beleg van 1554.
Die dinge het tog die “siel” van Siena aangetas.
Sy fanatieke gees voel ek altyd as die volmaakte
teenstelling met die wyse menslikheid van Florence.
Selfs die kuns van Siena het, in vergelyking met
dié van sê maar, Florence of Venesie, tot ‘n soort rituele
formalisme verstrak.”
Net so invloedryk as Florence was Siena tot die pes van
die 14de eeu. Met
die Renaissance het Florence die voortou geneem onder die
Medici-dinastie.
Anders as die bykans hedonistiese kreatiwiteit waarmee
Florence soms geassosieer word het die Pous sy septer sterk
bly swaai oor Siena.
Uit die 14de eeu staan Siena se katedraal daar almagtig
groot. By die
middelskip is daar nooit gekom nie, maar die onvoltooide
enkele sy-flank is enorm genoeg dat dit
katedraal heet.
Wat die middelskip moes wees word slegs aangedui
deur ‘n onvoltooide muur en ‘n klompie pilare.
Hoeveel groot dinge het nie as groot drome begin
nie? Maar Siena
se grootheidswaan – nes die Toring van Babel – het tot ‘n
val gekom. So
asof Siena anders as Florence of Rome te klein was om die
groot gebaar te verduur.
“Te groot gedroom, te groot geleef!” sou jy byna
wou sê soos D.J. Opperman in Vergelegen.
Nietemin is dit nie heeltemal ‘n geval van hoog vlieg en
laag draai nie. Met
‘n bevolking van 60 000 is Siena vandag wel veel stiller
as byvoorbeeld grootboet Florence (60 km noordwes).
In die skadu van Florence staan Siena egter g’n.
Die bene waarop dié bestemming rus is sterk.
Andersins sou dit geensins só hier gedy het nie van
toeriste -‘n uitsoekerige spesie.
Deur stegies wandel ons na die piazza – een van die imposantste
stadspleine wat ek nog gesien het.
Dit is groot, halfrond en omsoom met drie-/vierverdieping
geboue.
Die Italiaanse kleursin tref.
Feitlik al die mure is geverf in die verbleikte oker-kleur
oftewel Sienna soos die mengers van verf dit noem.
Dié stadshart is ‘n kortbegrip van hierdie ou stad
se geskiedenis.
Net voor die koue toeslaan in die Noordelike Halfrond is
dit jaarliks tyd vir die Il Palio-fees hier.
Vir die Siënese is die Palio perderesies om
die Piazza del Campo ‘n kwessie van lewe en dood.
Uittarting, bluf, venyn, kranksinnigheid, omkopery,
vergiftiging en doodsdreigemente het reeds ‘n rol gespeel
in dié jaarlikse gebeurtenis sedert 1310.
Aktiwiteite
in die piazza begin laat-oggend en die resies is in die
middag. Dis
pasella, maar jy moet jou staan ken as die menigtes hier
saamdring.
Die resies bestaan daaruit dat jokkies drie maal
om die plein bloots jaag.
Dit is iets verby binne 90 sekondes, maar word vooraf
gegaan deur akrobate wat vlae vir vyf ure deur die lug rondgooi.
Die
Palio is die banier met ‘n afdruk van die Maagd Maria daarop
wat oorhandig word aan die wenner.
Deelnemers kom van elk van die 17 contrade
(woonbuurte) van die stad.
Langs die reguit sy van die Piazza
del Campo staan die Palazzo Pubblico.
Dié stadsaal se slanke Torre di Mangia (101 m) is
die tweede hoogste toring wat in Middeleeuse-Italië gebou
is. Anders
as dié in Pisa en menige kloktorings staan dié stadsaal
se toring nog penorent.
Die staatskamers van die Palazzo Pubblico dien as
museum. Onder
die menigte muurskildery is ‘n “ontmoeting tussen Vittorio
Emanuele II en Garibaldi” (1886).
Politici en skrywers het vir eeue by die Palazzo
Ravizza oornag en met die Tweede Wêreldoorlog het Amerikaanse
en Britse offisiere dit hul blyplek gemaak.
Tydens die oorlog was dit dan ook die plek waar die
Duitse ambassadeur in Rome vertoef het totdat hy geïmpliseer
is in die komplot om Adolf Hitler te vermoor op 20 Julie
1944.
Buite dra tafels op sypaadjies swaar aan hemelse
kos én Chianti. Om
papdronk te word is egter uit – ‘n teken van barbarisme.
Siena is na aan die kern van die beste wat eeue-oue
tradisies kan bied.
In nabetragtiging is dit egter nie na die grootste
katedraal, die effekleurige piazza of die menigte straatkafees
wat my gedagtes teruggaan nie, maar na ‘n kleine swembad.
Die dag was hetig.
Die tyd min om by die stasie te kom.
So neem ons kortpad vanaf die gelateria by
Costarella dei Barbeiri en in dié haas klad die gestapelde
roomys waaraan ek nog skaars kon lek teen my hemp.
Hieroor kla ek egter vandag allermins, want ‘n leivoor
het ons gelei na ‘n swemsaal waar Romeine al geduik en geskater
het. Uit die
onkruid wat uit die swembad se plaveisel groei was dit klinkklaar
dat hier deesdae weinig siele kom.
Dalk net dan en wan as iemand die paar visse voer,
want toe my hand die watervlak breek om die hemp uit te
spoel swem dié gryses nader.
Ons kon net ‘n paar minute in daardie koel saal verwyl,
maar toe reeds het ek geweet dit sou een van die hoogtepunte
der hoogtepunte van my wekelange kuier in Europa wees.
Dalk was dit omdat dit iets heel onverwags was en/óf
omdat dit “ons” s’n was terwyl die skares ‘n klipgooi verder
verbygestroom het.
Ek weet nie.
Met die uitloopslag drup-drup die hemp nog in my
hand en ek snik toe ons buite kom, want die lig het oor
ons gebreek met ‘n intensiteit waaraan my oë nie meer gewoond
was nie. Siena
met sy skokkende direktheid was t’rug.
|