|
In ‘n era waar te véél data die probleem is, gee Google
toe ‘n verstommend skrale oes.
‘n Advertensie hier en ‘n regeringsblad daar, maar
weinig meer. Ons
gaan Lesotho toe, maar al wat ek werklik wysraak, is dat
dié land se webagtervoegsel .ls
is.
Kennis was nog altyd ‘n welkome bondgenoot op reise.
Daarom skaf ek ‘n Lonely
Planet of Southern Africa aan.
Meer moet daar immers wees as my voorstelling
van kleurryke wolkomberse, berge, Maseru ...
Ek vra rond. “Wat
wil jy dáár gaan maak?” wil die een gros weet asof dit ‘n
geldmorsery na Donker Afrika is. Die
ander meen: “Gaan verseker! (Ek wou nog altyd.)” Van politieke oortuigings leer dit my min, maar as flatervrye
toets om die ruimheid van lewensuitkyke te bepaal is dié
mededeling van onskatbare waarde.
Uit laerskooldae onthou ek ‘n skamele pidi-pidi
(eend), metsi (water)
en ntja (hond)
- ‘n tragiese scenario in ‘n nou ook nie meer so Nuwe Suid-Afrika
nie. Selfs
my neef se tweejarige dogtertjie wat soggens by hul huishulp
bly is vaardiger in Suid-Sotho!
Die hol kol op my maag wyk nie ten spyte van die kennis
wat ek inwin. In al my omswerwinge het my binnegoed nog
nóóit sulke bokspronge gemaak nie.
Is dit ‘n sesde sintuig wat waarsku teen die tog?
As jy nie more beter voel nie, gaan jy nêrens, besluit ek
– onseker of dit nie eerder ‘n troos is om weer piekfyn
te voel én wel te kan gaan nie.
Ry wil ek bittergraag, maar só kan dit nie.
Dink net as die olike ek op die agterste sitplek
van daai 4x4 sit terwyl dit woes deur driwwe en draaie swaai.
“Ek voel net so goor,” merk my ma die aand op oor die foon.
“Daar doen blykbaar ‘n maagvirus die ronde.”
Dit het ek nou daarvan om self sorge te wil besweer en sielkundige
te probeer speel!
TWEE dae later klim ek en my vriend, Hugh Fraser, in Rick
Grantham se Land Rover.
‘n Kanadese vriendin van hom, Larisa Kopach, is die
vierde ekspedisielid. Soos dit wou, het elkeen ‘n kaart
gebring. Die
gedetailleerdste só fyn gekarteer dat die lyntjies jou skoon
verwar.
Tog verdwaal ons nie.
Alles loop vlot.
Die spreuk kon nie waarder wees: Met
die voorbereidings agter die rug is, is die slegste deel
van ‘n rit verby.
Van Maseru ry ons op teer tot in die hart van Lesotho. Asof
in die Alpe lei ingenieurswonders oor berge van 3 000 m.
Die Hooglandwaterskema lê Lesotho bloot.
Die BBC se webweervoorspelling was in die kol:
g’n reën, effens bewolk, mid-20’s.
Dis hoogsomer.
Sommer langs die pad word tente opgeslaan.
Ons eet. Drink.
Gesels. Kyk
na die sterre. Luister
na die stilte. Daar
kom niks van my vrees dat ‘n dronkaard ‘n mes deur ons tentseil
gaan steek hier digby Kersfees nie.
Die mense groet en wuif orals.
Ek is aangenaam verras.
Wat het tog nie alles in Suid-Afrika verkeerd geloop
nie!
Ook anders as te wagte dra niemand meer die kenmerkende,
spitsvormige grashoede nie.
Dit is vervang deur helms - die invloed onmiskenbaar
van pa’s op Vrystaatse en Gautengse myne.
Dieselfde met gumboots
wat seuntjies so graag dra as hul vee oppas.
Hul moeders bewerk elke duim vrugbare grond.
As daar ‘n gelykte is word dit gebruik. Net jammer dat daarop male sonder tal ‘n powere lappie
vaal-geel mielies groei. Word verbeterde mieliepitte en
kunsmis ooit gebruik? As ons koning van Lesotho was en met
min geld veel wou doen, sou dit wees om verbeterde landboumetodes
hier te vestig. Só
besluit ons ry-ry.
As kinders die Land Rover gewaar nael hul bakhand na die
pad. “Sweets!”
roep hulle onophoudelik. Keer
op keer hol hul só.
Hoeveel keer stop verbygangers dan om lekkers
uit te deel?
“It’s not the last flight out of Saigon!” merk iemand geïrriteerd
op toe die heuwels vir die hoeveelste keer skielik weer
krioel van kinders wat platlê pad toe.
‘n Knap vorm van entrepreneurskap beloon ons wel. ‘n Seuntjie
van seker sewe vul vore in die grondpad op met klippies.
Hy word ‘n handvol pepermente ryker, alhoewel ‘n pen of
potlood dalk ‘n beter geskenk sou wees.
By ‘n aansluiting stop twee polisiemanne ons. Hul teken
die registrasienommer aan en vra na ons bestemming.
Die doel? Om
die vrye beweging van kriminele te beperk. Suksesvol kan
dit moontlik wees.
In Lesotho is nie ‘n magdom paaie nie.
Die landskap het ‘n sagte barheid en my berese reisgenote
trek assosiasies met Pakistan tot Patagonië.
In Thaba Tseka kry ek waarlik ‘n rolletjie film.
Die Taiwanese-eienaars praat Sotho met hul klante.
Ons ry verby hutte met beddings helder afrikaners,
‘n streep nonnetjies vanaf ‘n kerk, ‘n menigte vigsadvertensies
...
Larisa lees ‘n bladsy of wat uit Chocolat,
maar die pad kronkel te veel.
Die landskap verander in ‘n droë bergwêreld. Loodreg
is die afgronde. As
jy ‘n klippe los sal dit der honderde meters later in die
bo-lope van die Oranje plons.
Alles gaan voor die wind tot by Sehonghong.
Dis by hierdie nedersettinkie waarvan die naam netsowel
kon tuishoort in China dat ek dog ons het nou die pad skoon
byster geraak. Skielik
is daar weinig meer as ‘n voetpad oor waarop ‘n bobbejaan
skaars met ‘n kierie sou kon loop.
“Het die pad nie iewers gespalk nie?”
“Nee,” sê ‘n verbyganger.
“Dit ís die grootpad van noord tot suid deur Lesotho
na Sehlabathebe.”
Talle brûe is weggespoel. Net ‘n geluk dit het nie straf
gereën onlangs nie.
Blankes word ‘n rariteit. Voertuie min.
As ‘n kar verbykom kýk die inwoners.
Ons stop sodat ‘n span osse met ‘n eg kan verbygaan. Dieselfde
toe vroue by ‘n inisiasie-skool oor die pad stap. “Het ons
nie brood nie?” wil hul weet en beduie hoe honger hul is.
Ons oorhandig
enkele suurdeegbeskuite.
Op die derde oggend dui die satelliet-aanduidertjie aan
dat ons 40 km vanaf Sehlabathebe is, maar tussen-in wag
die moeilike Matabeng-pas. Die ganse Lesotho is hoër as
1 000 m bo seespieël wat dit die land met die hoogste laagtepunt
ter wêreld maak. Weens die afgronde is jy altyd naby aan
jou dood. Die
paadjie is smal en ná reën wil ek nie eers dink hoe dit
lyk nie. Aan 18 km ry ons 3 ure.
PER toeval kry ons die hoof van Sehlabathebe langs die enigste
parkpaadjie. Hy stel hom voor as Augustinus en is op pad
kamp toe. Die
4x4 is vol gelaai, maar Larisa kom sit agter tussen my en
Hugh, terwyl Augustinus langs Rick inskuif.
Augustinus vertel dat die afgeleë Sehlabathebe in 1970 ‘n
nasionale park geword het en steeds die enigste is in Lesotho.
Op die kleinerige 65 km2 is verskeie voëls
waaronder die rare lammergeyer.
Daar’s min diere, maar soms ‘n eland, bobbejaan of
wildekat.
“Daar’s egter baie te doen.
Rotsklim. Stap.
Perderitte. Boesmantekeninge ...,” rammel hy dit
af. “Reënboogforelle
kan uitgetrek word.
Die water is bilharzia-vry en julle kan selfs swem
in die koue bergstrome.”
Hy werk reeds 20 jaar in die park, vertel Augustinus wie
se “dekgras reeds yl word,” aldus die Basotho’s as iemand
ouer word.
“Wat dink ons?” vra hy.
“Moet die pad weier gemaak word?”
Sonder om op ‘n antwoord te wag, vervat hy egter:
“Party sê ons moet, want dan kan meer mense hierheen
kom. Ander
sê “nee” – dan bly die plek net dieselfde soos nog altyd.”
Ons stop om ‘n foto te neem.
Dis mooi wêreld dié.
“Hoe ver nog?” wil ek weet.
Agter sit ons soos sardientjies met knieë byna teen
ore.
“Nog so bietjie,” sê Augustinus.
“Tydsaamheid kan ‘n bees opeet, maar haastigheid
eet net ‘n bok.”
Hier haas jy jou nie.
Spoed word inderdaad afgekeur.
Die kamp bestaan uit ‘n ontuise, reghoekige asbeshuis op
‘n rare gelykte. Drie
ander 4x4’s het reeds kamp opgeslaan.
Vir middagete maak ons mieliepap - so reg in die kraal van
die Basotho. Nie slap nie, maar stywe putu.
Die vuur is ‘n primusstofie, want hout is hier min.
Na ete gaan lê ons, maar my slaap wil nie kom nie. Uit die tentvenster lyk die berg almagtig groot.
So hoog is dit dat die haelwit somerwolke sommer
so blitsig verbyrol.
Soms kom die son stralend deur en gooi ‘n strepie
lig oor ‘n donker vou in die Drakensberg.
Toe Hugh wakker word gaan stap ons.
Sy digitale kamera se battery is al pap van al die
fotonemery, maar ek neem myne saam.
Gelukkig, want ‘n klipgooi vanaf die kamp verander
die wêreld in ‘n sandsteenwonderwêreld, poele waterblomme,
digte matte gras ... Die
meegaande foto’s vertel die verhaal.
In antwoord op my brief oor ons Lesotho-ervaring
skryf ‘n vriend uit die Franse hoofstad:
“Jul tog deur Lesotho klink wonderlik, maar jou opmerkings
oor die vriendelike en ongerepte omgewing laat my glimlag.
In vergelyking met Europa en die VSA is dít juis wat so
spesiaal is aan Suid-Afrika.”
|