Naas my in die treintrok sit ‘n klong.
Heelpad sê hy nie boe of ba, maar toe hy hoor ek
kom van Suid-Afrika, vra hy:
“Was jy al op Jeffreysbaai?”
En ek dink - jete,
wat se plek is dié?
Mandela is dan jouwaarlikwaar nie sy eerste assosiasie
nie.
Soos te wagte is ons geliefde oud-president se
aandele ook hoog hier. In San Francisco, ‘n 120 km noord,
heet ‘n verkeersaar dan selfs Mandela Avenue.
Maar dis branderplankry wat in Kalifornië voor-op
staan.
“Kyk net die kaliber ouens wat hier rond uithang,”
sê ‘n gids by die Santa Cruz Surfing Museum.
“Dis ‘n respektabele tydverdryf.
Steeds is daar die student wat opskop en langs
die strand kom afsaal met sy Beetle, maar daar is tien
maal meer doktors en argitekte, ambagsmanne en webmeesters.
Jaarin en jaaruit kom hul.”
Dit kan ek sien.
Dié golfryers het sonbruin lywe.
Hul kuiwe is sandwit.
Die son skitter verblindend op die Stille Oseaan.
Der duisende myl wes is niemand.
Dis windstil, maar óm Lighthousepoint span gety
en wind kragte saam.
Stukke skuim vlieg van kollosale golwe waar ‘n
ry ruwe swart rotse die see binne stippel.
‘n Klipgooi verder rus surfers op deinings.
Swel
‘n golf net reg sal hul dit vat en sy kruin bloots ry.
Die plesier duur nie ewig nie, want selfs hier
breek branders heel op die strand. Tog is die genot langer
as ‘n vinger by Steamer Lane, want die golwe is gróót.
Jy kan dit rý ... en daarom bly hul kom.
As prototipiese Kaliforniese stranddorp het Santa Cruze
trosse vakansiehuise, ‘n oormaat gesondheidswinkels, strandwagte
in Speedo’s, sondeurdrenkte dae, ‘n kommervrye leefstyl
en ‘n boardwalk die see in. Tog bly die hoofattraksie
die branders waarop ryers so graag baljaar.
Dié dat ‘n vuurtoring ter ere hiervan omskep is
tot museum.
Dit lok jaarliks rondom 50 000 besoekers en vertel
die verhaal van branderplankry sedert die vroeë dae in
Tahiti tot waar dit vandag ‘n kernbestanddeel is van die
Kaliforniese leefstyl.
Die munisipaliteit is verantwoordelik om die museum
in stand te hou, maar dit word beman deur plaaslike inwoners
– hoofsaaklik oud branderplankryers in hul 60’s.
“My spiere is nie meer so ferm as vroeër nie en
my borshare kwyn, maar dit laat my oë steeds glinster
om te sien hoe ‘n mens op ‘n golf ry wat drie verdiepings
hoog is,” verduidelik een.
-
Die
Santa Cruz Surfing Museum is langs West Cliff Drive,
Lighthouse Point, Santa Cruz.
Dinsdae is dit altyd gesluit en so ook Woensdae
tussen Oktober en April.
Andersins is dit daagliks oop tussen 12 en
4. Die
gebou is rystoelvriendelik.
Vir navrae skakel (091) 831-420-6289.