|
Ons bus hou spesiaal stil met die eerste sien van San Gimignano.
Hiér, 10 km ver, troon die torings waarvoor hierdie
dorpie bekend is daaroor soos wolkekrabbers.
Van die oorspronklike 72 is net 13 oor.
Vir die adellike families wat dit in die 12de en
13de eeu gebou het was dit beide ‘n statussimbool en uitkykpos.
Blykbaar het menige Middeleeuse heuwelstad in Italië
sulke torings gehad, maar hier is weinig oor en nêrens so
‘n groot gros tesame nie.
San Gimignano se hoogste, die Torre Groasse, word
bereik deur die Palazzo del Popolo wat die museo civico
huisves. Ons
betaal en klouter.
Die merke van aardbewings deur die eeue het hul merk
gelaat. Jy
moet mooi trap om jou nie disnis te val nie.
Van bo is die mense doer op die Piazza del Duomo
stippeltjies. Bo-op teeldakke pronk televisie-antennas.
Die oeroue huise is van bruin en wit stene.
Ongeverf. Hier
en daar bring ‘n klimop ‘n bietjie groen. Die
Tuskaanse heuwels rol tot teen die horison.
Daar is nogal baie te sien in San Gimignano.
‘n Katedraal is San Gimignano se collegiata nie,
maar met sy swart-en-wit kolomme, nisse en sterbesaaide
plafon sal dit vir geen biskop noodsaak om sy hoof in skaamte
te laat sak nie. Kleurvolle
fresco’s met Noag se diere en die folteringe van Job versier
die mure.
Die Museo Civico berg ‘n skatkis werke van Florentynse
en Siënese skilders.
Op trappies langs die mooie Piazza della Cisterna
eet ons gelatto saam met honderde ander.
Dis vinnig eet, want die son speel nie.
Jy hoor verskillende tale orals.
‘n Japanese vrou staan op.
Haar kamera op haar skoot vergete en dit spat aan
flarde.
In die middel van dié dorpsplein is ‘n fontein waar
inwoners water kom skep het in die ou dae.
Byna in die middel ‘n plataanboom.
‘n Paar duiwe pronk waaierstert in die son.
Buiten vir sy grootte word ook g’n motors in San
Gimignano toegelaat wat dit uiters voetgangervriendelik
maak.
Met die skaduwees wat rek haal ons die bus terug
na Florence (40 km).
Soortgelyke mense as die oggend ry saam:
menige toeris en ‘n Italianer of twee.
‘n Seun wat van skool af kom lees toevallig ‘n artikel
oor Johannesburg, terwyl ek terugloer vir ‘n laaste blik
op San Gimignano.
|