|
``You drive yourself too hard,'' betig 'n doktersvriendin
se Engelse man haar onlangs. ``You really must learn to
take time to stop and smell the profit.''
``Hy het reg,'' erken sy later teenoor my. ``My praktyk
is deesdae net té besig . . . G'n wonder dit voel
ná alles asof iets steeds kortkom nie.''
Menigeen spook só om die tientalle uiteenlopende
aspekte van 'n Westerse lewe te integreer dat dit vrek
moeilik word om dit wat regtig vir jou belangrik is, vanselfsprekend
na te streef en uit te leef.
Dis dan ook g'n wonder dat al hoe meer stedelinge vir
hulle huise aanskaf van Dullstroom, Darling, Smithfield
en Clarens tot Prins Albert nie.
Ek wou altyd die ritteltits kry as meerderwaardige stedelinge
na my pragtige tuisdorp, Philippolis, as Fillehopeloos
verwys. Dié holrug geryde snert hoor jy egter deesdae
bloedweinig.
'n Plattelandse lewe beteken allermins 'n sorgvrye bestaan
van niks doen, maar die moontlikheid is groter om te leef
volgens wat jou lewenstyl behoort te wees.
Minder is eenvoudig net soveel meer. En as die minder
net soms om meer vra, is afstand geensins 'n probleem
nie. Gelukkig is daar deesdae al iets soos satellietskottels,
die internet en blitsige rygoed.
Ná kuiers op Rosendal (wat 'n spanperd is van bogenoemde
dorpies) kan ek maar net aan die meerderwaardiges sê:
``Salig is ons dan maar wat `arm' van gees is, want daar
word gesê dat aan hulle die koninkryk behoort.''
Middel September kuier ek die eerste keer op Rosendal.
Dit is bibberend koud. Ten spyte van die varsgroen wilgers
lê die sneeu wit op die blougrysberge. Die radionuus
sê paaie in die Oos-Vrystaat word gesluit.
``Die teerpad tussen Senekal en Ficksburg loop verby Rosendal,''
verduidelik my vriende wat van Johannesburg kom.
``Maar kyk mooi, die aanwysingsbord daarheen is klein.''
(Dit was dan ook wel die geval. As jy nie mooi kyk nie,
sal jy wraggies verby die pad net anderkant Senekal ry.)
Ons spreek af om mekaar by die kerk, ``die imposantste
gebou op die dorp'', te ontmoet.
Vir my lyk die sandsteen-Godswoning met sy toring al te
veel na 'n Middeleeuse kasteel. Op 'n standbeeld daarbuite
is gegraveer: ``Uit Afrikaner-rou is gebore Afrikaner-trou.''
Ook anders as in Europa is die kerk nie omring deur huise
nie. Nee, op Rosendal is die wonings ver van mekaar. Erwe
lê oop. Die verwagte ontwikkeling het nooit gekom
nie. Die strate het elk 'n naam en een is selfs in die
vorm van 'n boulevard met 'n middelmannetjie en bome,
de lot.
``Dit is soet,'' sou my doktersvriend se Engelse man later
sê én dit goed bedoel.
Soos baie ander plekke langs die trekroete het Rosendal
sy naam te danke aan die Voortrekkers. Die dorp is in
1911 aangelê, maar reeds op 18 Oktober 1837 het
die Voortrekker-prediker Erasmus Smit dit aangedui as
Roderozendal of Bloemendal.
Hy skryf in sy dagboek dat van die trekkers wild gaan
skiet het en pragtige blomme uit 'n ``bloemrijk oord''
saamgebring het. ``Vele door onze ogen nog nooit geziene
bloemen, . . . zodat ik proponeerde de plaats, waar we
nu met's Gouverneurskamp gekampeerd liggen, Bloemendal
of Roderozendal te noemen; overwegende de uitnemend grote
rozenrode bloemen de hier in grote menigte gevonden worden:
Men behoeft nie eens naar't veld uit te gaan, om de bloemen
te zoeken; maar de aangename geur der bloemen wandelt
of komt ons hier in 't leger als vanzelf te gemoet.''
Die huis waar ons die naweek bly, het nie elektrisiteit
nie. Die aande voel lank. Daar is g'n televisie nie. Die
battery van die skootrekenaar is ná 'n ruk pap.
Tog voel dit nie ondraaglik nie.
Ons berei almal saam 'n maal in kers- en lamplig voor.
Die Aga hou die koue buite terwyl daar aangesit word vir
witte-aspersiesop met broccoli en croutons. Wilde seebaars
(aangery uit Johannesburg) gebak in olyfolie vorm die
hoofgereg.
Ons kuier tot laatnag.
Die volgende môre vertel my vriendin: ``Terwyl die
wind die huis laat kraak het, was ek lanklaas so bewus
van my eie bestaan as deur die nag onder die snoesige
duvet.''
Sy wil nog verder vertel, maar haar selfoon lui. Ja, Rosendal
het wel (ongelukkig?) selfoonontvangs.
'n Maand en 'n half later is ons terug. Dit voel snaaks
om 'n kortbroek te dra, terwyl ysblokkies aanloklik klingel
ná die bibberweer die vorige keer.
Die laatmiddag se hitte is onweerstaanbaar. Die landerye
staan geil en die irisse blom in die tuin. Ons eet waatlemoen.
Die kinders bou dammetjies en dorpies langs die huis.
Ons lê op die gras, sluit ons oë en luister:
die geruis van blare in die wind, voëls in die bome,
die stille gezoem om ons heen . . . Kinders verdwaal in
'n spel, 'n aansteeklike gelag, spattende water, die vrolike
geblaf van 'n hond . . .
``May you live as long as you want, and never want as
long as you live,'' merk my doktersvriendin se wederhelf
op.
`` Die landerye staan geil en die irisse blom in die tuin.
Ons eet waatlemoen. Die kinders bou dammetjies en dorpies
langs die huis. ''
|