|
``To awaken alone in a strange town is one of the pleasantest
sensations in the world,'' is gesê deur die Engelse
reisskrywer-dame Freya Stark (1893 - 1993). Dit is des te
meer waar wanneer 'n stad deur iedereen opgehemel is en
die verwagting hoog is dat die dag baie kan oplewer.
Die stadsentrums van Granada, Kaïro, Quito, Rome en
Versailles word deur mure beskerm, maar "Quebecstad"
is die enigste in Noord-Amerika noord van Mexiko wat só
omring word. Die muur van 4,6 km het in 1985 Unesco-wêrelderfenisstatus
aan die stad besorg. Dit laat Vieux-Quebec voel soos 'n
afsonderlike dorpie in die hart van dié metropolitaanse
streek.
Vanweë die ou dorp se kompaktheid loop ek sonder kaart
die eerste dag in die belangrikste besienswaardighede vas.
Die groot histo-riese bakens soos die basilika, die katedraal
en kerke, die stadsaal en die provinsiale parlement is indrukwekkend,
maar nie uitspattig groot nie. Dit is alles op 'n menslike
skaal, iets wat alte veel moderne geboue kortkom.
Daar is egter een uitsondering. Soos Athene die Akropolis,
Rio de Janeiro die kruis op die Suikerbroodberg en Kaapstad
die kabelspoorhalte op Tafelberg het, het "Quebecstad"
die Château Frontenac. Dit is 'n paleis van 'n hotel
uit 1893 op 'n berg in die middel van die ou dorp.
Met sy groen koperdak, versierde plafonne, houtwerk teen
die mure en geometriese bouwerk herinner dit aan 'n reuse-afdruk
van die kastele (``châteaus'') aan die Loirerivier
in Frankryk.
Twee historiese konferensies wat in 1943 en 1944 hier gehou
is, is bygewoon deur Winston Churchill en Franklin Rooseveldt
op uitnodiging van die Kanadese eerste minister, Mackenzie
King.
In spitsseisoen is die goedkoopste kamers R1 350 per nag,
maar vir R27 kan jy die hotel besigtig.
Langs die Château op die rand van die krans bo die
rivier is 'n promenade genaamd die Terrasse Dufferin. Wanneer
die mis smôrens oprol oor die St. Lawrencerivier raak
dit duidelik waarom die eerste Franse koloniste "Quebecstad"
hier gebou het.
Die Golf van St. Lawrence vernou hier tot 'n rivier. Daarom
het Samuel de Champlain in 1608 gedink indien hy 'n nedersetting
by dié krans aanlê, sou hulle die hele nuwe
wêreld, Nuwe Frankryk, kon beheer.
'n Stervormige fort is opgerig, die Citadelle wat herinner
aan die kasteel in Kaapstad.
Die Kanadese moederstad speel gasvrou vir die Royal 22nd
Regiment - die enigste eksklusiewe Franssprekende eenheid
in die Kanadese weermag.
Digby is die Plains of Abraham waar Brittanje Kanada van
Frankryk verower het en die Grande Allée waar die
Nasionale Vergadering op Parliament Hill in die Hôtel
du Parlement sit.
Die Changing of the Guard is militêr-historiese teater
- kleurryke, marsjerende soldate met groot beervelhoede
en 'n bok aan die sy wat afkomstig is van koningin Victoria
se koninklike kudde.
Onder die Château kronkel trappe langs die krans af
na Quartier Petit-Champlain wat gerestoureer is tot die
18de- en 19de-eeuse oewerdorpie wat dit was.
Die Petit-Champlain-buurt huisves talle restaurants, boetieks
en kunsgalerye waarheen die mensdom stroom.
Op buitelugverhoë, in parke en sale, maar veral in
die stegies en pleine naby die hawe, weerklink note uit
vreemde wêrelddele. Straatmusikante hou sy-aan-sy
konsert. Verbygangers luister, gooi munte en beweeg aan
asof hulle nie 'n bestemming het nie.
Só word in parke, bistro's en museums gedraal om
net weer in 'n straat vol mense aan te stap asof jy die
wêreld se tyd het. So asof almal hier nog nie die
kuns verloor het om te draal nie. Selfs gure karakters sal
gewoonlik ``excusez moi'' sê pleks van jou vreemd
aan te kyk sou jy per ongeluk teen hul stamp.
Hier drink jy koffie terwyl jy kyk hoe ander verystap. Hulle
gesels, maar nie oor selfone en ook nie oor besigheid soos
in Toronto of Vancouver nie.
Dit is beslis dié Kanadese stad waar dit die in-ding
is om sommer net ``rond te hang''. omdat dit die moeite
werd is.
Fransheid in Kanada bereik 'n hoogtepunt in "Quebecstad".
Dit is die administratiewe setel van die enigste Franssprekende
Kanadese provinsie.
Politieke onafhanklikheid lyk dikwels frustrerend onprakties.
Om Frans te wees beteken om die Franse kultuur kerngesond
te hou - veel meer intens as in die ander provinsies met
hul Brits-Amerikaanse kultuur.
So word CD's deur plaaslike kunstenaars in toonvensters
saam met dié van sangers uit Frankryk vertoon en
daarna kom jy eers op Amerikaanse popmusiek af.
Die Amerikaners is dol op Quebec. Dis 'n klipgooi ver, maar
kon net sowel in Europa gewees het. Hier is hul dollars
ook meer werd.
Die winkelassistente is vriendelik en gewoond aan toeriste.
Almal is Franssprekend, maar verstaan Engels. Net een keer
het iemand nie verstaan nie en dadelik was iemand byderhand
om te vertaal. Spyskaarte is egter dikwels net in Frans.
Buiter "Quebecstad" stort 'n massa water oor die
Mongomorency-waterval. Op 74 m is dit hoër as Niagara.
Vier voetgangerbrüe oorspan dié rivier.
Twintigduisend jaar gelede was Quebec bedek deur twee tot
driekilometer ys. Daarna was die provinsie deel van die
meerbodem van die Champlainsee. Moet dus nie sê niks
verander hier nie.
Dikwels is die werklikheid teleurstellend wanneer 'n mens
gewilde bestemming besoek. "Quebecstad" het nie
teleurgestel nie.
'n Rit per taxi van die Lughawe Jean-Lesage kos sowat R115
en per bus R40. Gerieflike busse vertrek op die uur van
Montreal om die 170 minute na "Quebecstad" af
te lê. Dit loop daagliks van 06:00 tot 24:00. - Kanada
|