voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


quebecstad hou franse kultuur brandend

   
jens friis
     

``To awaken alone in a strange town is one of the pleasantest sensations in the world,'' is gesê deur die Engelse reisskrywer-dame Freya Stark (1893 - 1993). Dit is des te meer waar wanneer 'n stad deur iedereen opgehemel is en die verwagting hoog is dat die dag baie kan oplewer.
Die stadsentrums van Granada, Kaïro, Quito, Rome en Versailles word deur mure beskerm, maar "Quebecstad" is die enigste in Noord-Amerika noord van Mexiko wat só omring word. Die muur van 4,6 km het in 1985 Unesco-wêrelderfenisstatus aan die stad besorg. Dit laat Vieux-Quebec voel soos 'n afsonderlike dorpie in die hart van dié metropolitaanse streek.
Vanweë die ou dorp se kompaktheid loop ek sonder kaart die eerste dag in die belangrikste besienswaardighede vas. Die groot histo-riese bakens soos die basilika, die katedraal en kerke, die stadsaal en die provinsiale parlement is indrukwekkend, maar nie uitspattig groot nie. Dit is alles op 'n menslike skaal, iets wat alte veel moderne geboue kortkom.
Daar is egter een uitsondering. Soos Athene die Akropolis, Rio de Janeiro die kruis op die Suikerbroodberg en Kaapstad die kabelspoorhalte op Tafelberg het, het "Quebecstad" die Château Frontenac. Dit is 'n paleis van 'n hotel uit 1893 op 'n berg in die middel van die ou dorp.
Met sy groen koperdak, versierde plafonne, houtwerk teen die mure en geometriese bouwerk herinner dit aan 'n reuse-afdruk van die kastele (``châteaus'') aan die Loirerivier in Frankryk.
Twee historiese konferensies wat in 1943 en 1944 hier gehou is, is bygewoon deur Winston Churchill en Franklin Rooseveldt op uitnodiging van die Kanadese eerste minister, Mackenzie King.
In spitsseisoen is die goedkoopste kamers R1 350 per nag, maar vir R27 kan jy die hotel besigtig.
Langs die Château op die rand van die krans bo die rivier is 'n promenade genaamd die Terrasse Dufferin. Wanneer die mis smôrens oprol oor die St. Lawrencerivier raak dit duidelik waarom die eerste Franse koloniste "Quebecstad" hier gebou het.
Die Golf van St. Lawrence vernou hier tot 'n rivier. Daarom het Samuel de Champlain in 1608 gedink indien hy 'n nedersetting by dié krans aanlê, sou hulle die hele nuwe wêreld, Nuwe Frankryk, kon beheer.
'n Stervormige fort is opgerig, die Citadelle wat herinner aan die kasteel in Kaapstad.
Die Kanadese moederstad speel gasvrou vir die Royal 22nd Regiment - die enigste eksklusiewe Franssprekende eenheid in die Kanadese weermag.
Digby is die Plains of Abraham waar Brittanje Kanada van Frankryk verower het en die Grande Allée waar die Nasionale Vergadering op Parliament Hill in die Hôtel du Parlement sit.
Die Changing of the Guard is militêr-historiese teater - kleurryke, marsjerende soldate met groot beervelhoede en 'n bok aan die sy wat afkomstig is van koningin Victoria se koninklike kudde.
Onder die Château kronkel trappe langs die krans af na Quartier Petit-Champlain wat gerestoureer is tot die 18de- en 19de-eeuse oewerdorpie wat dit was.
Die Petit-Champlain-buurt huisves talle restaurants, boetieks en kunsgalerye waarheen die mensdom stroom.
Op buitelugverhoë, in parke en sale, maar veral in die stegies en pleine naby die hawe, weerklink note uit vreemde wêrelddele. Straatmusikante hou sy-aan-sy konsert. Verbygangers luister, gooi munte en beweeg aan asof hulle nie 'n bestemming het nie.
Só word in parke, bistro's en museums gedraal om net weer in 'n straat vol mense aan te stap asof jy die wêreld se tyd het. So asof almal hier nog nie die kuns verloor het om te draal nie. Selfs gure karakters sal gewoonlik ``excusez moi'' sê pleks van jou vreemd aan te kyk sou jy per ongeluk teen hul stamp.
Hier drink jy koffie terwyl jy kyk hoe ander verystap. Hulle gesels, maar nie oor selfone en ook nie oor besigheid soos in Toronto of Vancouver nie.
Dit is beslis dié Kanadese stad waar dit die in-ding is om sommer net ``rond te hang''. omdat dit die moeite werd is.
Fransheid in Kanada bereik 'n hoogtepunt in "Quebecstad". Dit is die administratiewe setel van die enigste Franssprekende Kanadese provinsie.
Politieke onafhanklikheid lyk dikwels frustrerend onprakties. Om Frans te wees beteken om die Franse kultuur kerngesond te hou - veel meer intens as in die ander provinsies met hul Brits-Amerikaanse kultuur.
So word CD's deur plaaslike kunstenaars in toonvensters saam met dié van sangers uit Frankryk vertoon en daarna kom jy eers op Amerikaanse popmusiek af.
Die Amerikaners is dol op Quebec. Dis 'n klipgooi ver, maar kon net sowel in Europa gewees het. Hier is hul dollars ook meer werd.
Die winkelassistente is vriendelik en gewoond aan toeriste. Almal is Franssprekend, maar verstaan Engels. Net een keer het iemand nie verstaan nie en dadelik was iemand byderhand om te vertaal. Spyskaarte is egter dikwels net in Frans.
Buiter "Quebecstad" stort 'n massa water oor die Mongomorency-waterval. Op 74 m is dit hoër as Niagara. Vier voetgangerbrüe oorspan dié rivier.
Twintigduisend jaar gelede was Quebec bedek deur twee tot driekilometer ys. Daarna was die provinsie deel van die meerbodem van die Champlainsee. Moet dus nie sê niks verander hier nie.
Dikwels is die werklikheid teleurstellend wanneer 'n mens gewilde bestemming besoek. "Quebecstad" het nie teleurgestel nie.
'n Rit per taxi van die Lughawe Jean-Lesage kos sowat R115 en per bus R40. Gerieflike busse vertrek op die uur van Montreal om die 170 minute na "Quebecstad" af te lê. Dit loop daagliks van 06:00 tot 24:00. - Kanada
 

j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's