|
Oor
ons kuier in Prince Edward Island (P.E.I.) het ek maar ambivalente
gevoelens gehad. Dis immers nou nie juis óórbekend
as toeristebestemming nie en die vraag bly: waarom
nie?
Daar’s altyd veel daarvoor te sê om afdraaipaadjies te neem,
want dit is dikwels dié “onontdekte” plekke wat jou ewig
bybly. Aan die ander kant is die risiko net so groot
dat dit vrek goor kan wees. Dalk is dit glad nie so
“onontdek” as wat jy gehoop het nie. Of moontlik
is daar só weinig te ervaar dat diegene voor jou maar
eerder verbygehou en gevolglik nooit ‘n woord hieroor gerep
het nie.
Vir my is dit baie soos om op die aandelebeurs te speel.
Waag en jy wen dalk gróót. Speel veilig en wees verseker
van ‘n klein, maar tog versekerde opbrengs.
Alhoewel dié teorie gewoonlik betroubaar is vir reise, is
ek nie so seker dat dit water gehou het wat Prince Edward
Island betref nie. Dié afgeleë stuk vasteland
wat afgebreek het en nou in die see staan was nóg goor nóg
voortreflik genoeg om op my uitsonderlike lysie te plaas.
Ek is maar kieskeurig en het al geleer dat dit weinig
beteken as ‘n oorsese stuk kus ‘n gunsteling vakansiebestemming
in daardie geweste is. Wat skoonheid betref
is dit selde in dieselfde klas as Suid-Afrika
s’n.
Nietemin was Prince Edward Island gewis die geld en tyd
werd – alhoewel ek veel ander plekke nog eers wil beproef
voordat ek sal teruggaan.
As Kanada se kleinste provinsie lê dit aan die ooskus in
die diep blou waters van die Atlantiese Oseaan. Saam
met Nova Scotia en New Brunswick is dit een van die Maritieme
Provinsies.
Soos te wagte word die klimaat gedomineer deur die omringende
oseaan waar drie seestrome ineenvloei. Vanaf die Karibiese
Eilande vloei die matige Golfstroom noord, in die Labradorstroom
dryf ysberge suid, terwyl die magtige St. Lawrencerivier
varswater hierheen bring.
Die eiland bied daarom ‘n ryk, gedivisersifiseerde maritieme
habitat. Bottelneusdolfyne word gereeld gesien en
dit wemel van otters tot seevoëls. Blou walvisse van
tot 30 m is nie ‘n ongewone gesig nie en sulke besigtigingstoere
ontaard in ‘n groot eko-toerisme-besigheid.
Krewe word daagliks vars gevang, maar streng wetgewing geld
om die afname daarvan te beperk.
P.E.I. het menige lang, wye sandstrande. ‘n Aardigheid
is dat die sand aan die oostelike punt soos dié by Red Point
Beach misterieus knars as daaroor gestap word. Dit
verskaf groot vreugde vir kinders.
Weens die goeie strande en aanvaarbare somerweer is P.E.I.
gewild onder sonaanbidders. Dat vissermanne
dol sal wees oor die eiland spreek vanself. P.E.I.
is ook gewild onder stappers en fietsryers, want dit is
plat en elke paar kilo’s is daar klein, historiese dorpies
wat tuistes is vir elegante “country inns” en menige kunsgallery.
Van die provinsiale parke waarvan daar menige oraloor die
eiland is, is die P.E.I. National Park die bekendste.
Hier kom die bewer, die nasionale soogdier van Kanada, voor
in die moerasagtige bosse langs die kus.
Die eiland se bekendste skrywer, Lucy Maud Montgomery, is
gebore op die dorpie Cavendish in 1874. Die nabygeleë
Green Gables House het die plek geword waar haar internasionaal
gewilde novelle, Anne of Green Gables (1908) afspeel.
Hierdie manuskrip is eers aanvaar na ‘n sesde voorlegging
aan ‘n uitgewer. Miljoene kopieë van Anne is sedertdien
verkoop in sestien tale.
In 1911, is Lucy getroud en het na Ontario getrek waar sy
twee seuns groot gemaak het. Sy het bly skryf en sewentien
verdere boeke geskryf waarvan almal, behalwe een, in P.E.I.
afspeel. In tien hiervan het Anne haar verskyning
gemaak. Lucy is in 1942 oorlede en begrawe op die
plaas wat uitkyk oor haar geliefde Cavendish, die Avonlea
waarvan sy so dikwels geskryf het. In Cavendish is
die Lucy Maud Montomery’s Cavendish Home.
In Charlottetown, die kleinste van Kanada se provinsiale
hoofstede, is daar op die konfederasie van Kanada besluit
in 1867. Dié geboorteplek van Kanada is sentraal geleë
op hierdie eiland van 250 km lank en 70 km wyd.
Charlottetown is kleinerig, maar groot genoeg om feitlik
alles te bied wat jy nodig mag hê vir ‘n behoorlike uitrusslag.
Plaaslike lugdienste bied daagliks vlugte na Charlottetown
vanaf Quebecstad en Montreal. Die nuwe Confederation
Bridge verbind P.E.I. met Cape Tormentine in New Brunswick.
|