``Portofino,''
het hy gesê en ek't geweet: Na dié poskaartmooie plek
met die Italiaanse roomysnaam móés ek. Op die tafel was
'n paar gestorte wyndruppels. ``As hierdie Genua is,''
het ek na een gewys, ``waar's Portofino?''
``Sowat
45 km suidoos langs die A12-snelweg,'' het hy verduidelik
en met sy voorvinger die noordwestelike kus van Italië
met die druppels getrek.
``Gaan
vir seker. Hoogsomer is verby; dus sal dit stiller wees.
Parkeerplek bly net altyd 'n probleem,'' het hy raad gegee
in foutiewe Engels.
Ons
laaste-minuut-besluit om nie regstreeks na Florence te
gaan nie, het ek byna verwens, want die laaste 10 km na
Portofino is weinig meer as 'n enkelbaan. Langs die paadjie
met sy talle slap draaie ry jy binne-in die berg in deur
baie groene met die suggestie van 'n verborge dierelewe.
Portofino
is soos die kelner dit geskilder het en ons gehoop het
dit sou wees.
In
'n gebied geseën met skoonheid is Portofino straks die
kroonjuweel. Dit lê gekoester in 'n vallei beskerm teen
die mistral wat werklik woes kan waai. Selfs suurlemoene
en palms groei teen die steil hellings bokant die huise.
As
een van die mees fotogeniese dorpies langs die Middellandse
See het dit wonderbaarlik die atmosfeer van 'n vissersdorpie
behou.
So
peperduur is dit oor die algemeen hier dat daar weinig
plek vir toeriste-kitsch is.
In
sommige hotelle kan gaste la dolce vita leef teen drie
nagte vir 1 100 pond. As tuiste van die eksklusiewe Hotel
Splendido was dit dekades lank 'n trekpleister vir van
Elizabeth Taylor tot Rex Harrison.
Die
Portofino-hawe trek jagte van die Hamptons en Kaaimans
tot Kaapstad. Dit sal my nie verbaas as daar in Julie
en Augustus meer mense op die koningsblou waters van die
piepkleine hawe slaap as in Portofino nie.
Dis
van hier waar 'n mens sekerlik die beste blik op die waterfronthuise
het. Die Italianers se kleursin is opvallend grysgeel,
oker, ertjiegroen en warm skakerings van waatlemoen.
By
die hawe is die kos die beste. Water klots by jou voete.
Ys rinkel in 'n glas. Duiwe pronk waaierstert in die son.
'n Duo speel 'n stuk deur Donizetti vir fluit en klavier
terwyl jy wag vir jou lasagna in pesto corto (klassieke
pesto met 'n bietjie tamatie) by Da Puny. Hul vis, nes
die seekos by die gesellige Taverna del Marinaio, is voortreflik.
Ongewoon is eersgenoemde op Donderdae gesluit en die ander
op Dinsdae.
Skuins
onder ons kamervenster het die water windstil gelê, die
uitsig geraam deur 'n klimop en pienk malvas.
Ons
kon sien hoe vroue verby boetiekwinkels stap op hoë hakke
g'n maklike taak op die keistene nie. Weens dié plaveisel
was die gekletter van tasse met wieletjies duidelik hoorbaar.
Sommige
reisigers kom, terwyl ander gaan. Maar dit was die inwoners
se daaglikse doen en late wat my gefassineer het.
Deur
die oop vensters oorkant ons s'n het die lewe agter die
brosjure-fasades afgespeel. 'n Seun wat blokfluit oefen
terwyl sy ma aandete berei.
'n
Juwelier wat sy dogter op die boonste verdieping roep
om te sê die pos het 'n brief vir haar opgelewer. 'n Visser
dalk die laaste in Portofino wat gaan sit ná 'n dag se
arbeid.
'n
Vrou wat haar sondeurdrenkte wasgoed afhaal van 'n draad
bokant die stegie. 'n Ander wat hare kunstiger ophang.
Fragmente gesprekke in Italiaans . . .
Saans
was dit warm genoeg om die venster oop te laat en die
trek van die Middellandse See te voel.
Ek
kon net instemmend knik met die Amerikaanse vrou in die
kamer langs ons s'n wat aan haar geliefde gesê het: ``Today
was a ten, dear, a ten!''