|
|
|
fotograaf-
reinier brönn
|
Daar word gehoop dat ‘n kunstenaarshuis op Philippolis
tuiste sal word vir ‘n geïnspireerde stortvloed kreatiwiteit.
Tot watter mate beïnvloed konteks sienswyses?
"ALLE
beskawings het sy vlermuise nodig - nie net tortels en
poue nie," merk Pieter Fourie op met die opening
van die Laurens van der Post-kunstenaarshuis en –museum
op Philippolis. Vir hom is Van der Post dié "oer-vlermuis
van Afrika".
"Die bat is die ware kunstenaar – die ruggraat
van die gemeenskap," sê hy. "Dis nie mooi om
na te kyk nie, maar wel essensieel in elke samelewing.
Dit beweeg met ‘n sensitiewe radarstelsel – ‘n nie-lekker
geluid om na te luister, maar gee nogtans die rigting
aan wanneer om uit te swaai. Die vlermuis – nes die kokkerot
– sal altyd wees."
"Maar," vra Fourie pyp in die hand, "waarom
lewer die platteland so ‘n ryke, magdom vlermuise?"
Hy wys op ‘n "driehoek van skeppende gees" in
die suidwes-Vrystaat, sy "wortelwêreld". Van
hier is ook Laurens van der Post (Philippolis), Etienne
le Roux (Koffiefontein), Karel Schoeman (Trompsburg),
Dolf van Niekerk (Edenburg), Taubie Kushlick (Luckhoff),
André Huguenet (Petrusburg) ...
Wat vorm die magic binne hierdie Bermuda-driehoek?
"Lewe op sulke klein dorpies is die mees geïntensifiseerde
vorm van lewe," antwoord hy. "As iemand in Johannesburg
doodgery word, voel jy sleg, maar vergeet dit. As dit
hiér gebeur ken jy sy verlede én toekoms. Dit maak dinge
los in ‘n sensitiewe, maar ook gewone gees – ook in dié
van die onderdorpers. Goddank dat dit só is en met jou
gebeur. Jy word gevorm. Omvorm. Mettertyd ontvorm jy jouself
deur jou los te maak van die kudde. Dis ‘n alleenpad om
só te delf – ook wég van wat baie na aan jou is totdat
jy later onderstebo na die wêreld kyk nes die bat."
Van der Post sou waarskynlik sy kop instemmend geknik
het. In Flamingo Feather skryf hy dat eindpunteh
blote wegspringplekke word.
Dit gaan nóg oor ‘n reis per voet nóg per trein, opper
hy in The Dark Eye in Africa, maar "from one
state of being to another, a journey of becoming
..." Dit is oor die verre reis waarvan Yu Ching gesê
het: "The land that is nowhere, that is the true
home." Hierop brei hy uit in The
Hunter and the Whale: "I had not yet learnt the
futility of trying to get rid of my problems by changing
the location in which they were inflicted on me."
Sy dogter, Lucia Crichton-Miller, stel dit só: "Ons
is almal op pad. Die hele lewe is maar ‘n reis om die
perfekte vraag te beantwoord."
"En selfs kleivoete tráp ‘n spoor," sê Fourie.
Crichton-Miller meen dit maak nie saak dat al die feite
wat haar pa opgeteken het blykbaar nie klop nie. "Hy
sal voortleef in sy werke solank as wat die mens kan lees,
want dit gaan oor blywende waarhede ..."
Net so ken ek menige een wat hul bedenkinge het oor Bybelverhale,
maar dié Boek steeds as lewensriglyn inspan. Nietemin
is dit nie ‘n regverdiging dat ‘n antropoloog tot reisskrywer
feitefoute rond en bont mag maak nie.
Dit was Pablo Picasso wat eens gesê het: "Ons weet
dat kuns nie die waarheid is nie. Kuns is ‘n leuen wat
ons help om die waarheid bloot te lê – of ten minste die
waarheid wat vir ons gegee word om te verstaan."
Crichton-Miller ontvang nog daagliks briewe van oor die
wêreld heen waarin dankbares getuig hoe haar pa die groot
waardes van menswees vir hul as moderne wesens ontsluit
het.
Wáár het wat gebeur dat Van der Post die bekendste boorling
sou word van my geboortedorp, Philippolis? Dié katalisator-vraag
stel Fanie Olivier in sy gedig, "oor drome"
so: "het hy op die kop met die kanonne as kind /
daarvan kon droom? of in die kerk se skaduwee? / en oor
die baie jare, hoeveel naelstringe / moes hy knip om los
te kom tot hiertoe, hiervandaan?"
LAURENS se geboortehuis in Philippolis is nie meer ‘n
gastehuis soos enkele jare gelede nie. Nietemin wys Mark
Ingle en Doreen Atkinson nog graag hul huis en tuin vir
diegene wat geïnteresseerd is.
Na sy geboorteplek het Laurens nostalgies verwys as "the
Interior of Africa, a thousand miles from anywhere."
"Ek het vir die eerste keer met Philippolis kennis
gemaak in sy boeke," sê Crichton-Miller. "Venture
to the Interior was ‘n gunsteling. As stadskind het
ek gesmag om ook te woon in ‘n groot, koel huis met hoë
plafonne, ou Hollandse olieskilderye en ‘n skaduryke tuin
met vrugtebome en ‘n dam om in te swem."
Vader Van der Post was die plaaslike prokureur in die
dae nadat Philippolis sy sendelingstatus afgeskud het
en die Griekwas pad gegee het na Kokstad.
Op die Van der Posts se erf was die dorp se eerste tennisbaan;
in hul huis die eerste biljartkamer. As daar saans nie
om die klavier bymekaar gekom is nie, is hier ‘n bal gehou
of ‘n debataand. Die West End-stukke, afgerig deur Laurens
se moeder, is selfs in buurdorpe opgevoer. Die dokter
langsaan het Charles Dickens-manuskripte versamel.
Nee, Laurens het nie grootgeword as ‘n kaalvoet skaapboerkind
nie, maar so ook nie sy vyftien broers en susters. Hul
was uit dieselfde huis en het nogtans nie dieselfde aansien
verwerf nie. Het die mantel bloot net eenvoudig gunstig
vir Laurens, die uitverkorene, geval?
Of dalk gaan dit daaroor dat jy nie met modder of roet
moet speel nie . Jy word aan jou vriende (Margaret Thatcher,
prins Charles ...) geken. Iets van dié gedagtegang is
ook te vind in feng shui – die studie van die effek van
ons omgewing op die onderbewussyn.
Pieter Fourie vertel dat daar destyds Italianers trappe
vir die skoolsaal gebou het. "Met ‘n troffel in die
hand het hul opera-arias gesing. "Nes ‘n spul hotnots
op ‘n Vrydagaand!" was sy Afrikaans-onderwyser se
geïrriteerde reaksie. Maar in die Skeinat-klas het oom
Jan Luther gesê: "Sit jul pipette neer. Luister!
Dis kultuur." En hy het vir ons vertel van Milaan
en La Scala ...
"Dis dan wanneer dit begin spoel en beweeg in jou
...
Soos hul sê: groot geeste bespreek idees, normale mense
dinge en ordinêre wesens ander siele. Net so waar: ‘n
Enkele vlammetjie kan baie lig gee as dit kerse aansteek.
Tog kan samehang ook lewensuitkyke negatief beïnvloed.
Dekonstruktief is dit as ‘n tiener moet swig onder groepsdruk.
Tot watter mate beïnvloed konteks ons soeke na God? Is
omgewingsfaktore ‘n vername rede vir hoë misdaadsyfers?
Die vrae is meer as die antwoorde.
Waaroor nie ‘n vraagteken hang nie is dat die verband
tussen ons denke en omgewing nié ‘n statiese verhouding
is nie. Dit is ‘n dinamiese proses waardeur ons voortdurend
deur die omgewing beïnvloed word en vice versa.
Wat van belang is, is of ons ‘n positiewe uitwerking op
die omgewing uitoefen en ook só reageer op invloede daarvan?
In Buddisme word hierna verwys as die "eenheid van
lewe en die omgewing".
Dis soos Jan Rabie in sy Paryse Dagboek geskryf het: "Vir
alles is nodig, siel en liggaam. (Inhoud en Vorm) ...
Vorm is diep roerend omdat dit die begin van die onkenbare,
ewige moet wees, maar byna altyd haatlik omdat dit staties
is, ‘n einde, ‘n dood. ... Vorm as geboorte of as verdowingsmiddel
..."
Dit bly ‘n ewige dualisme.
|
|
só
het philippolis-argitektuur ontwerp van kunstenaarshuis
geraak
"EK
het ‘n wrewel in namaaksels," sê Alida Stewart ontwerper
van die Van der Post-gedenksentrum en dosent in argitektuur
aan die Universiteit van Port Elizabeth. "Soos in Prediker
staan: Alles het sy tyd en plek. Vir argitektuur is dit
ewe waar. In die kunstenaarshuis wou ek die essensie van
Philippolis-argitektuur probeer vasvang, sonder om die prentjie
te kopieër."
Iets nuuts wou sy skep. Nietemin moes almal wat hierheen
kom intuïtief weet dat die kunstenaarshuis op Philippolis
hoort.
Voordat Stewart aan die werk gespring het, het sy gedelf
in ‘n M.Arch-verhandeling oor Philippolis deur Jan Daniël
Smit aan die Vrystaatse Universiteit.
"Opvallend is die verhouding van die hemelruim tot
die grond. Alhoewel nie so direk soos in die woestyn nie,
is die dominante van die twee, die hemelruim," het
hy geskryf in die vaktydskrif Architecture.
Sy kom hierheen om "die sterre te pluk", het
Anna Pohl nie verniet gesê na haar intrek op Philippolis.
"Bedags skýn die son pal in die Karoo. Nes in Van der
Post se geliefde Kalahari is dit raar as die lug met helder
wolke vul. Jy is voortdurend bewus van die eindelose spel
van lug," sê Stewart. "Des te meer omdat die aarde
so bar is."
Om die gang van die son aan te dui het sy skadulyne teen
die kunstenaarshuismure ontwerp. Ingebed in die pleister
lê die streng lyne. Strak nes die piramides. As die son
wegraak verdonker die holtes.
Die dorpsbeeld van Philippolis herinner aan die karakter
van ‘n Middeleeuse Europese dorp, maar anders as daar skep
die mens ‘n geometriese orde wat manifesteer in die roosterplanuitleg
van die strate. Só groots is die omgewing dat die mens ‘n
mikro-kosmos skep om betekenis daaraan te gee.
Die kerktoring (oase) dien as saambindende faktor in die
landskap (woestyn). Selfs vanuit die systrate is dit die
sterkste oriënteringselement en skrywers kyk daarop uit
as hul arbei in die kunstenaarshuis.
"Selfs as ‘n ontwerp simplisties is, bly daar reëls.
Daar is ritme in argitektuur nes in poësie en musiek."
Aan die kenmerke van die vroegste argitektuur op Philippolis,
wat vandag nog bestaan, is die kunstenaarshuis getrou. Dis
geskoei op ‘n reghoekvormige plan. Daar’s min vertrekke
– twee of drie, afhangend hoe jy tel. Dis nie breed nie,
want hout was vanmeleë skaars in dié droë area.
En dan is die kunstenaarshuisie ook klein – nie om outentiek
te wees nie, maar omdat geld min was. Kloustrofobies voel
jy egter allermins. Die dubbelvolume doen wondere. Om ruimte
te spaar is die huis ontwerp dat deure oorbodig is. Die
kookgeriewe is só geplaas dat ‘n gang as kombuis dien. "Dit
was eers later jare wat ‘n behoefte ontstaan het om ‘n kosmaakplek
binne die huise te hê. Vroeër was kombuise apart van die
huis."
Dit was ‘n uitdaging vir Stewart om die publieke domein
met die kunstenaarshuis te skakel. Volgens navorsing van
Smit skei ‘n wyerige stoep, tuin of sypaadjie die groter
huise in Philippolis met die straat. By die nederiger huisies
is die straat egter ‘n verlenging van die woonkamer. ‘n
Tussenruim ontbreek.
Oorgangsfilters was noodsaaklik vir privaatheid by die kunstenaarshuis.
Stilte moes Stewart skep. Dié "gelaagdheid" is
verkry deur ‘n boord wildeolywe, verskillende plaveisels
en ‘n muur wat die teetuin, museum en inligtingsburo afskei.
In plaas van hortjies het die keuse geval op oprol-blinders
uit vleitjiesriet. ‘n Vaardige swartvrou maak dit plaaslik.
‘n Rietdakplafon en sementvloer met houtinsetsels weerspieël
en komplimenteer die aardsheid van Philippolis en sy omgewing.
Die finale fase van die gedenksentrum behels ‘n waterlabirint.
Werk hieraan begin eersdaags.
|
|
hul
het oor die kunstenaarshuis gesê ...
Mangosuthu
Buthelezi
"Dit
is goed dat Suid-Afrikaners - met die wete dat ons veel
te bied het - selfversekerd hul arms oopgooi vir internasionale
besoekers ... Die potensiaal is daar om Suid-Afrika die
setel te maak waarvandaan inspirasie vloei. Dít is noodsaaklik
vir die renaissance waarna ons so smag."
Gillian
van Houten
Met
verwysing na bedreigde diere wat buite hul natuurlike habitat
aangehou moet word ter oorlewing van hul spesie: "Kunstenaars
is dikwels buitestaanders, maar nogtans ambassadeurs wat
kultuur oordra en sodoende ras tot geloof oorbrug."
Van Houten is deesdae nou betrokke by omgewingsbewaring.
Lucia
Crichton-Miller
"Elkeen
het sy eie kamer nodig – veral om kreatief te wees,"
het Van der Post se dogter gesê. "Hopelik sal die kunstenaarshuis
die nodige tyd en ruimte vir diegene bied om in te gedy."
Coenie
de Villiers
"Mag
die Kunstenaarshuis ‘n reuse grot vir skeppende geeste wees."
Cecil
le Fleur
As
verteenwoordiger van die Griekwa Nasionale Konferensie wys
hy daarop dat kunstenaars ‘n baie konstruktiewe rol kan
speel om die skewe beel reg te stel dat die San/Griekwas
"half-mense" was. "Die toekoms van ons land
hang juis af van die verandering van persepsies."
|
|