In
Ottawa sou jy kinders kon grootmaak. Dit is veilig en rustig,
terwyl alles wat jy nodig het, beskikbaar is. Die breë sypaadjies
is ideaal vir rolskaatsers. Indrukwekkende brüe, pragparke
en boulevards getuig daarvan dat bykomende geld uit die
staatskas gebruik is om die Kanadese federale hoofstad op
te kikker.
Die
Kanadese is energiek en het 'n passie vir die buitelewe.
Dié indruk word versterk deur die koninklike berede polisie
(die Mounties) wat ook in Ottawa in knalrooi uniforms
te sien is.
Ottawa
is nie Holland nie, maar die stad is in die lente oortrek
met tulpe en het boonop 'n kanaal. In die somer kan pretvaarte
op die Rideau-kanaal onderneem word.
Daar
word jaarliks tussen Januarie en Maart op 8 km van dié
kanaal geysskaats en dit is die wêreld se langste ysskaatsbaan.
Die
Rideau-kanaal verbind die Ottawarivier en die Ontario-meer.
Dit is gebou om 'n toegangsroete tussen Montreal en die
Groot Mere te hê ingeval 'n oorlog soos dié van 1812 teen
Amerika weer sou uitbreek.
Kanadese
word op skool geleer dat 'n besluit van koningin Victoria
daartoe gelei het dat hul hoofstad nie op die oos-wes-korridor
langs die Amerikaanse grens lê nie. Politici kon nie ooreenkom
of die hoofstad Kingston, Cobourg, Quebec, Montreal of
Ottawa moes wees nie. Hulle het dit aan die koningin oorgelaat,
wat tot Ottawa besluit het.
Ottawa
is sentraal geleë en was daarom meer beskerm teen die
vyandiggesinde Amerika. Die omgewing is mooi waar die
Ottawa- en Rideau-rivier saamvloei. Oorkant die Ottawa-rivier
is die Franse hartland, Quebec, en sodoende vorm dit 'n
skakel tussen Engels- en Franssprekende Kanada.
Nagklubs
in Ottawa moet voor dié in die Franssprekende provinsie
Quebec sluit. Daarom verskuif partytjiegangers in die
vroeë oggendure na die woonbuurt Hull in Quebec, waar
hulle verder kuier en dans.
``Om
êrens te gewees het, maak baie mense gelukkiger as om
daar te wees,'' het die Romein Publilius Syrus eens kwytgeraak.
Ek voel nogal in 'n mate só oor Ottawa.
Jy
kom na dié stad met sy 330 000 inwoners omdat dit die
hoofstad van Kanada is. Daar is immers die geloof dat
niemand werklik in 'n land was as die hoofstad nie besoek
is nie. Moenie 'n Washington, Parys of Berlyn verwag nie.
Ottawa is 'n wonderlike plek om 'n naweek deur te bring,
maar gaan dan verder, want daar is baie te sien in dié
enorme land.