voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


new york - 5 stede in 1

   
jens friis
     
``My fahthu and muthu went to the cohnu stouh to buy a newspapuh,'' sê vriende se tienerdogter oor die telefoon. Dit kos mooi luister, want in Bronx-Engels word erre ingesluk. Sy verwag haar ouers so oor 'n uur terug, want hul sou ook spaghetti gaan koop by Dominick's en kaas by Calandra.
    ``Little Italy'' is die sinoniem vir Belmont, 'n woonbuurt in die Bronx, waar dié gesin woon. Hierdie enklawe net noord van die geweldgevulde Suid-Bronx is huis vir talle Italianers.
    Nadat Italië in 1861 verenig is, is daar opgemerk: ``Italië is geskep. Nou moet Italianers gevorm word.'' In 1898 het die stigters van moderne New York 'n metropool gevorm nadat vyf voorstede saamgesmelt het. Om New Yorkers te vorm was moeiliker.
    Inwoners van die Groot Appel identifiseer hulself vandag nog met die (voor)stad (``borough'') waar hulle woon. Dit gaan oor burgerlike trots. My Italiaanse vriend sê hy woon in die ``Bronx'' - nie ``New York'' nie!
    Dit is die geval vir selfs nuwe immigrante langs sê Atlantic Avenue in Brooklyn, Myrtle Avenue in Queens, Fordham Road in die Bronx, Hylan Boulevard in Staten Island of Broadway Avenue in Manhattan.
    Hierdie voorstede het 103 jaar gelede ingestem om saam te smelt. Daarmee is soewereiniteit oor belastingheffings, sonering en ander magte grootliks afgestaan. In ruil het dit deel geword van Amerika se grootste stad. Nogtans dra elke voorstad steeds baie gewig in die harte van hul inwoners.
    Ná burgemeester Rudolph Giluliani se voorstel dat die stadion van die New York Yankees-basketbalspan moes verskuif na Manhattan, was die 1,2 miljoen Bronxers behoorlik omgekrap.Van 1923 is die Bronx Bombers - soos daar hier ook na die Yankees verwys word - reeds eie aan die Bronx.
    So 'n skuif sou neerkom op die miskenning van hul identeit en kulturele erfenis, het die Bronxers hard en duidelik laat hoor. Daar is afgesien van die plan.
    Sulke trots kan egter teenproduktief wees as dit lei tot 'n ongemaklike saamleefverhouding. Staten Islanders het met afstigting gedreig in die jare tagtig. Daar is anders besluit nadat meer aandag aan dié voorstad afgestaan is.
    Nietemin gee hierdie trots aan inwoners 'n gevoel dat hulle aan iets behoort op 'n menslike skaal. In 'n stad van 8,7 miljoen en 'n burgemeester wat nasionale aansien geniet, wil inwoners na iemand gaan wat hulle ``ken'' as daar 'n slaggat in die straat is, meen mnr. Fernando Ferrer, Bronx-president en vanjaar se burgemeesterskandidaat vir New York.
    Hoewel die voorstede grootliks sonder administratiewe mag is, ontvang die presidente 'n klein persentasie van die stad se begroting vir plaaslike projekte soos die instandhouding van parke.
    Die presidente dien as woordvoerders vir die inwoners wat hulle verteenwoordig.
    Ander bewyse van ``borough''-identiteit is dat Staten Island 'n eie koerant het. Die woonbuurt Tottenville herinner aan die platteland hoewel dit in dieselfde stad as Times Square is.
    Queens en Brooklyn se openbare biblioteke is kwasi-onafhanklik van die New York Public Library. Dit word deur New York gefinansier, maar het afsonderlike administrasies. Soortgelyk het Brooklyn 'n eie Rooms-Katolieke aartsbiskopsetel wat onafhanklik is van die een by St. Patrick-katedraal in Manhattan.
    Brooklyn en die Bronx se onderskeidende aksente oorleef ondanks taalhomogeniteit oor die TV en radio. So sou 'n Brooklyner vir jou verduidelik dat die Midtown-tonnel uitmond by die kruising van ``toity-toid and toid'', menende 33rd St en 3rd Ave.
    Elke voorstad het eie kulturele instellings wat plaaslike identiteite herbevestig. Die Brooklyn-museum of Bronx-dieretuin is bakens van wêreldgehalte, nes Wall Street of die World Trade Centre in Manhattan.
    Voorstede word verbind met sekere immigrantegroepe. Brooklyn se Wes-Indiërs hou jaarliks 'n karnaval in September wat 2 miljoen mense trek. In die Bronx het talle Latyns-Amerikaners 'n holte vir die voet gevind. Queens is die plek vir lamskebab, laatmiddag-koffie met baklava en die El Greco-mark vir olyfolie en gevulde druiweblare.
    Na Manhattan, die kosmopolitaanse hart van die stad, word dikwels bloot gegaan om te assimileer.
    Soos my Italiaanse vriend sê: ``New York is not just Manhattan, you know.''
    Queens met byna 2 miljoen burgers is groter as Denver, Pittsburgh, New Orleans en Portland tesame. Bekend as Manhattan se slaapkamer, is groot dele van Queens nader aan Grand Central- stasie as vele Manhattan-buurte.
    Was dit nie vir die samesmelting, wat sommige The Great Mistake noem nie, sou Brooklyn die vyfde grootste stad in Amerika gewees het.
    Tog is elke inwoner van die vyf ``boroughs'' ook deel van New York soos die Empire State-gebou - 'n baken waar vele van Brooklyn se 2,5 miljoen inwoners nog nooit was nie. Dit is in Manhattan op stuk van sake. Langs ``toidy-fouhth street''.

j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's