In 'n
gebied tien keer groter as Groot-Brittanje in noordoos-Kanada
is die taal nie meer Engels of Frans nie. In Nunavut word
Inoektitoet gepraat.
Anders
as die doodslag in Kosovo is die geboorte van Nunavut
(``ons land'') in 1999 met vuurwerke gevier nadat die
Kanadese regering 'n geskiedkundige grondeis-ooreenkoms
onderteken het. Nie almal was egter in hul noppies
nie. Die Cree-Indiane het beweer hul land is gesteel.
``Waarom kry ons nie ook onafhanklikheid nie?'' het die
Quebecers gevra. Nogtans
het die Nunavummiut op 1 April 1999 die grootste private
grondeienaars ter wêreld geword. Dis
'n gebeurtenis wat nie sommer herhaal sal word nie - daar
is weinig plekke oor waar die inheemse bevolking in die
meerderheid is.
Nunavut
beslaan 'n vyfde van Kanada, maar hier woon slegs 22 000
mense. Dit is so uitgestrek dat dit maklik misverstaan
word en val buitekant selfs die meeste Kanadese se verwysingsraamwerk.
Dit is té noord. "Hulle sê daar is niks nie.
Net sneeu,'' sê 'n Montrealse taxi-bestuurder.
Eers
het die ontdekkingsreisigers in die somers gekom - later
die walvisjagters en pelshandelaars. Tussen
1935 en 1940 was daar erge hongersnood nadat die pelshandel
waarop die Nunavummiut staatgemaak het, ineengestort het.
Die
Kanadese regering het besluit om nedersettings op te rig,
want dan is dit makliker om regeringsfunksies en gesondheidsdienste
te lewer. Hulle
het egter uit die oog verloor dat die wild rondom hierdie
dorpies uitgeskiet sou word. Die inwoners wat gewoond
geraak het aan vaste wonings, wou nie meer rondtrek soos
vroeër nie. Armoede, werkloosheid, drankmisbruik en honger
het gevolg. Diegene wat wel nog in hul voorouers se spore
gevolg het, is 'n nekslag toegedien nadat Greenpeace en
ander omgewingsorganisasies aangedring het op die beeindiging
van walvisjag in die jare tagtig en negentig.
Soos
die San van Namibië, die Weddahs van Sri Lanka, die Australiese
inboorlinge tot die Noord-Amerikaanse Indiane het die
Nunavummiut reuse-probleme. Die selfmoordsyfer is ses
keer hoër as in die res van Kanada. Altesame 40 persent
is werkloos. Armoede en wanhoop is so diep gewortel dat
'n ontstellend hoë persentasie alkohol en dwelms misbruik.
Heelwat
jongeres soek groener weivelde. Die ouer garde dink ook
soms aan trek, maar die vrees vir verandering, 'n nuwe
taal en afskeid van geliefdes hou hulle terug.
'n
Ouerige vrou met 'n dik Reebok-baadjie en paar caribou-stewels
vertel hoe anders dit was toe sy die eerste keer by haar
seun in Ottawa gekuier het. ``Daar was orals bome
of geboue in die pad waar ek wou kyk. Daar is soveel reëls.
Jy moet aan hierdie kant van die pad ry.''
Altesame
15 persent van Nunavut se inwoners is van elders. Hulle
het probleme met die taal. Morele waardes verskil.
Die
klimaat anderkant die boomlyn is wreed. Om vriende te
vind wat belangstellings deel is moeilik, want hier woon
min mense.
Sommige
is bekommerd dat hulle met hul werk sal moet boet vir
die nuwe tuisland: die doel van Nunavut is 'n de facto
selfregerende tuisland. ``Hulle sal ons nie net kan laat
gaan nie,'' se 'n onderwyseres. ``Twee-derdes van
Nunavut se onderwysers is van elders, asook al die dokters.''
Daar
is minder as 'n handvol prokureurs uit eie bodem. Een,
Paul Okalik, is ses weke nadat Nunavut tot stand gekom
het, tot premier verkies. Hy is vroeg uit die skool, het
drankprobleme gehad en was in die tronk. Tog
het hy verder studeer met 'n beurs en is tot die balie
toegelaat.
Die
nuwe regering hoop dat ekotoerisme geld na Nunavut gaan
bring. Vir hierdie amptenare mag dit 'n jammerte wees,
maar dit is 'n seën dat Nunavut so afgeleë is. Veel mense
kan dit nie hanteer nie. 'n Infrastruktuur ontbreek feitlik.
Die toeganklikste vanaf die buitewêreld is Iqaluit, die
hoofstad. Hier is 'n restaurant of twee en 'n fliek, maar
g'n groot inkopiesentrums of wandelhalle nie. Die geboue
is met kabels geanker, want soms waai die winde werklik
woes.
Die
toeriste wat wel tot hier die pad aandurf, is meestal
ouer avontuursoekers op soek na iets buitengewoons. 'n
Nieu-Seelander vertel van onlangse besoeke aan Nepal,
Thailand en die Serengeti.
In
Nunavut, soos in ander gewilde ekotoerisme gebiede, is
geld wat uit kuns gemaak word 'n bron wat help om tradisies
lewendig te hou. Op 'n huis se stoep staan 'n ry
sneeu-uile uit klip, wagtende op 'n koper. Die eienaar
sê hoeveel dit kos en nooi dat ek iets moet kom drink
by hulle in die kombuis. Die
gesprek kies koers oor die waarde van 'n gemeenskap in
so 'n afgeleë gebied, hoe die ys dunner word weens globale
verhitting . . . Sy vrou praat min. Sy beitel aan
'n arktiese wolf. Haar man sê hulle weet dat haar beeldjies
in New York en Toronto vir tien keer meer verkoop word.
``Maar wat kan ons doen? Ons het die geld nodig.''
Soms
staan die vrou op om te kyk dat die walrusvleis vir middagete
nie aanbrand nie. Daar is ook macaroni-slaai en 'n druiwegeurdrankie
op die tafel. Eskimo's weet nog hoe om igloe's te bou,
maar hulle span deesdae tente in as hulle nie tuis is
nie. Om oor die weg te kom gebruik hulle ski-doos.
Spanne huskies word 'n seldsame gesig.
Anders
as die romantiese beeld van skoon Siberiese huskies met
sagte hare is die Nunavutse trekhonde 'n gebroedsel van
wolf, Duitse herdershond, Samoy . . . en nie buitengewoon
skoon nie. Baie stink eenvoudig. Op sommige toere
is daar feitlik geen kontak met die honde op sulke slee-sessies
nie. Die
toerleier reël die voeding tot die lostorring van geknoopte
toue. Jy hou slegs die leisels vas.
Op
see is die kajak, wat hier ontstaan het, net die ding
as jy weet hoe om uit die water te bly. Dit brand van
koue. As die sneeuwitte ysberge woes teen mekaar bots,saai
dit brokke ys oor die see. In
warmer weer word van die berge ongebalanseerd, rol om
en hul gloeiende smaragkleurige onderlywe bak in die son.
Die groenerige basis is te wyte aan yster- en koperverbindings
in die ys. Die
omgekeerde ysberge is opnuut die slagoffers van erosie
deur son en wind. Dit
raak naderhand weer onstabiel, en tuimel nogmaals om.
Die
son sak teen 10 nm, om vyf ure later weer te verskyn.
Selfs in die middel van die nag is die wêreld gebaai in
'n sagte skemerlig en sal kinders buite speel. Die skaduwees
is deurdrenk met die lig van die middernagson.
Ysbere
is soms snags lastig in dorpies waar hulle rondkrap in
vullissakke. Dit
is egter die uitsondering, want soos hul Latynse naam,
ursus maritimus (waterbeer) aandui, word poolbere beskou
as maritieme soogdiere wat grotendeels op ys of water
deurbring.
'n
Volgroeide ysbeer staan byna 3 meter hoog op sy agterpote
en weeg sowat 500 kg. Hul pelshandel het feitlik tot stilstand
gekom. 'n Kwotastelsel geld. Die ysbere voer meestal
'n eensame, nimmereindige swerwersbestaan. Dit is verstandig,
want kos is skaars en oor 'n wye gebied versprei. Die
man met die kunstenaarsvrou vertel dat die bevrore toendra
in die vroeg-somer 'n palet van blommeprag is, die voëls
keer terug . . .
'n
Helderkleurige afdruk van Hawaii hang agter hom. Voor
die venster is swaar gordyne en daaragter 'n wêreld wat
nog vir maande sal wit bly.
``Nou
dat Nunavut weer aan ons behoort, hou ek omtrent van alles
hier, behalwe die winter,'' sê hy en vryf aan sy rumatiekknie.
``Elke jaar voel dit langer.''