voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


die land wat nooit smelt nie

   
jens friis
     

    
In 'n gebied tien keer groter as Groot-Brittanje in noordoos-Kanada is die taal nie meer Engels of Frans nie. In Nunavut word Inoektitoet gepraat.

Anders as die doodslag in Kosovo is die geboorte van Nunavut (``ons land'') in 1999 met vuurwerke gevier nadat die Kanadese regering 'n geskiedkundige grondeis-ooreenkoms onderteken het.  Nie almal was egter in hul noppies nie. Die Cree-Indiane het beweer hul land is gesteel. ``Waarom kry ons nie ook onafhanklikheid nie?'' het die Quebecers gevra. Nogtans het die Nunavummiut op 1 April 1999 die grootste private grondeienaars ter wêreld geword. Dis 'n gebeurtenis wat nie sommer herhaal sal word nie - daar is weinig plekke oor waar die inheemse bevolking in die meerderheid is.

Nunavut beslaan 'n vyfde van Kanada, maar hier woon slegs 22 000 mense. Dit is so uitgestrek dat dit maklik misverstaan word en val buitekant selfs die meeste Kanadese se verwysingsraamwerk. Dit is té noord. "Hulle sê daar is niks nie. Net sneeu,'' sê 'n Montrealse taxi-bestuurder.

Eers het die ontdekkingsreisigers in die somers gekom - later die walvisjagters en pelshandelaars. Tussen 1935 en 1940 was daar erge hongersnood nadat die pelshandel waarop die Nunavummiut staatgemaak het, ineengestort het. 

Die Kanadese regering het besluit om nedersettings op te rig, want dan is dit makliker om regeringsfunksies en gesondheidsdienste te lewer. Hulle het egter uit die oog verloor dat die wild rondom hierdie dorpies uitgeskiet sou word. Die inwoners wat gewoond geraak het aan vaste wonings, wou nie meer rondtrek soos vroeër nie. Armoede, werkloosheid, drankmisbruik en honger het gevolg. Diegene wat wel nog in hul voorouers se spore gevolg het, is 'n nekslag toegedien nadat Greenpeace en ander omgewingsorganisasies aangedring het op die beeindiging van walvisjag in die jare tagtig en negentig.

Soos die San van Namibië, die Weddahs van Sri Lanka, die Australiese inboorlinge tot die Noord-Amerikaanse Indiane het die Nunavummiut reuse-probleme. Die selfmoordsyfer is ses keer hoër as in die res van Kanada. Altesame 40 persent is werkloos. Armoede en wanhoop is so diep gewortel dat 'n ontstellend hoë persentasie alkohol en dwelms misbruik.

Heelwat jongeres soek groener weivelde. Die ouer garde dink ook soms aan trek, maar die vrees vir verandering, 'n nuwe taal en afskeid van geliefdes hou hulle terug.

'n Ouerige vrou met 'n dik Reebok-baadjie en paar caribou-stewels vertel hoe anders dit was toe sy die eerste keer by haar seun in Ottawa gekuier het.  ``Daar was orals bome of geboue in die pad waar ek wou kyk. Daar is soveel reëls. Jy moet aan hierdie kant van die pad ry.''

Altesame 15 persent van Nunavut se inwoners is van elders. Hulle het probleme met die taal. Morele waardes verskil.

Die klimaat anderkant die boomlyn is wreed. Om vriende te vind wat belangstellings deel is moeilik, want hier woon min mense.

Sommige is bekommerd dat hulle met hul werk sal moet boet vir die nuwe tuisland: die doel van Nunavut is 'n de facto selfregerende tuisland. ``Hulle sal ons nie net kan laat gaan nie,'' se 'n onderwyseres.  ``Twee-derdes van Nunavut se onderwysers is van elders, asook al die dokters.''

Daar is minder as 'n handvol prokureurs uit eie bodem. Een, Paul Okalik, is ses weke nadat Nunavut tot stand gekom het, tot premier verkies. Hy is vroeg uit die skool, het drankprobleme gehad en was in die tronk. Tog het hy verder studeer met 'n beurs en is tot die balie toegelaat.

Die nuwe regering hoop dat ekotoerisme geld na Nunavut gaan bring. Vir hierdie amptenare mag dit 'n jammerte wees, maar dit is 'n seën dat Nunavut so afgeleë is. Veel mense kan dit nie hanteer nie. 'n Infrastruktuur ontbreek feitlik. Die toeganklikste vanaf die buitewêreld is Iqaluit, die hoofstad. Hier is 'n restaurant of twee en 'n fliek, maar g'n groot inkopiesentrums of wandelhalle nie. Die geboue is met kabels geanker, want soms waai die winde werklik woes.

Die toeriste wat wel tot hier die pad aandurf, is meestal ouer avontuursoekers op soek na iets buitengewoons. 'n Nieu-Seelander vertel van onlangse besoeke aan Nepal, Thailand en die Serengeti. 

In Nunavut, soos in ander gewilde ekotoerisme gebiede, is geld wat uit kuns gemaak word 'n bron wat help om tradisies lewendig te hou.  Op 'n huis se stoep staan 'n ry sneeu-uile uit klip, wagtende op 'n koper.  Die eienaar sê hoeveel dit kos en nooi dat ek iets moet kom drink by hulle in die kombuis. Die gesprek kies koers oor die waarde van 'n gemeenskap in so 'n afgeleë gebied, hoe die ys dunner word weens globale verhitting . . .  Sy vrou praat min. Sy beitel aan 'n arktiese wolf. Haar man sê hulle weet dat haar beeldjies in New York en Toronto vir tien keer meer verkoop word.  ``Maar wat kan ons doen? Ons het die geld nodig.''

Soms staan die vrou op om te kyk dat die walrusvleis vir middagete nie aanbrand nie. Daar is ook macaroni-slaai en 'n druiwegeurdrankie op die tafel. Eskimo's weet nog hoe om igloe's te bou, maar hulle span deesdae tente in as hulle nie tuis is nie.  Om oor die weg te kom gebruik hulle ski-doos. Spanne huskies word 'n seldsame gesig.

Anders as die romantiese beeld van skoon Siberiese huskies met sagte hare is die Nunavutse trekhonde 'n gebroedsel van wolf, Duitse herdershond, Samoy .  . . en nie buitengewoon skoon nie. Baie stink eenvoudig.  Op sommige toere is daar feitlik geen kontak met die honde op sulke slee-sessies nie. Die toerleier reël die voeding tot die lostorring van geknoopte toue. Jy hou slegs die leisels vas.

Op see is die kajak, wat hier ontstaan het, net die ding as jy weet hoe om uit die water te bly. Dit brand van koue. As die sneeuwitte ysberge woes teen mekaar bots,saai dit brokke ys oor die see. In warmer weer word van die berge ongebalanseerd, rol om en hul gloeiende smaragkleurige onderlywe bak in die son. Die groenerige basis is te wyte aan yster- en koperverbindings in die ys. Die omgekeerde ysberge is opnuut die slagoffers van erosie deur son en wind. Dit raak naderhand weer onstabiel, en tuimel nogmaals om.

Die son sak teen 10 nm, om vyf ure later weer te verskyn. Selfs in die middel van die nag is die wêreld gebaai in 'n sagte skemerlig en sal kinders buite speel. Die skaduwees is deurdrenk met die lig van die middernagson. Ysbere is soms snags lastig in dorpies waar hulle rondkrap in vullissakke. Dit is egter die uitsondering, want soos hul Latynse naam, ursus maritimus (waterbeer) aandui, word poolbere beskou as maritieme soogdiere wat grotendeels op ys of water deurbring.

'n Volgroeide ysbeer staan byna 3 meter hoog op sy agterpote en weeg sowat 500 kg. Hul pelshandel het feitlik tot stilstand gekom. 'n Kwotastelsel geld.  Die ysbere voer meestal 'n eensame, nimmereindige swerwersbestaan. Dit is verstandig, want kos is skaars en oor 'n wye gebied versprei. Die man met die kunstenaarsvrou vertel dat die bevrore toendra in die vroeg-somer 'n palet van blommeprag is, die voëls keer terug . . .

'n Helderkleurige afdruk van Hawaii hang agter hom. Voor die venster is swaar gordyne en daaragter 'n wêreld wat nog vir maande sal wit bly.

``Nou dat Nunavut weer aan ons behoort, hou ek omtrent van alles hier, behalwe die winter,'' sê hy en vryf aan sy rumatiekknie. ``Elke jaar voel dit langer.''


j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's