voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


new york nie goedkoop,
maar bekostigbaar

   
jens friis
     
Die puin van die World Trade Center is nog nie heeltemal opgeruim nie, maar Amerika en veral die New Yorkers het kop opgetel en selfs die Barbie-poppe waai fluks die vlag in winkelventers. Ondanks geldprobleme is talle steeds gretig om die Big Apple te besoek. New York is nie 'n goedkoop bestemming nie, maar met goeie beplanning is dit selfs vir diegene wat met die rand as geldeenheid reis. bekostigbaar, berig JENS FRIIS.

Kalkoene, hoenders, hase, duiwe, eende - almal wagtende om geslag te word met 'n mes (kosher), swaard (halaal) of deur jouself tuis. Die winkelnaam is Spaans, maar die eienaar 'n Moslem van Oesbekistan.
    Unieke New York verloor deesdae glans as vakansiebestemming weens die sterk dollar en terreurvrese.
    Tog was die Big Apple selfs vroeër g'n goedkoop wegbreekplekkie nie en vermy talle Amerikaners dit.
    Jaarliks besoek 38 miljoen dié stad in die gelyknamige staat waarvan Hillary Clinton senator is. Die besettingsyfer van die 66 000 hotelkamers is 'n allemintige 80% en 'n kamer kos gemiddeld $229 (sowat R2 500)!
    In die ganse Amerika kos dit net in Hawaii duurder om jou kop neer te lê.
    Die New Yorkse toerismeorganisasie het pas 'n veldtog begin om ná die gebeure van 11 September meer toeriste na die stad te trek.
    Volgens die gesaghebbende Zagmat-opname word gemiddeld $33,17 vir 'n aandete (drankie, belasting en fooi ingesluit) per persoon opgedok. 'n Kaartjie na Broadway, die teaterhart, kos $52,97.
    Tog kan ekonomies agtergeblewe Suid-Afrikaners steeds dié megapolis (7,5 miljoen inwoners) aanskou deur 'n dag korter te kuier en die Padvinders se motto te volg: ``Wees voorbereid''. Uitstekende vermaak, goeie kos en 'n skoon, veilige bed is in New York moontlik teen R480 ($40) per dag. Goedkoop is hier relatief. Met minder kan dit nie.
    Sou jy vlieg, sien toe dat dit vroegoggend is om 'n nag se verblyf te spaar. Net voor landing op die Lughawe JFK lyk Manhattan-eiland soos 'n onwerklike toekomsstad.
    Daar's die wolkekrabbers op 'n repie land tussen die Hudson en East, die Statue of Liberty, die bote, die Brooklynbrug, 'n streep vliegtuie wat wag dat jy neerstryk sodat hul kan opstyg. Van die lughawe spoeg die tonnel onder die East-rivier jou lughawebus ($30) of -taxi($60) uit in Amerika se kroonjuweel.
    Sou jy die Museum of Modern Art (MOMA), Intrepid Sea-Air-Space Museum, American Museum of Natural History, en die uitkykpunt van die Empire State wil besoek, oorweeg 'n New York CityPass ($26,75). Spaar só 50%. Dit is geldig vir nege dae en te kry by enige van hierdie attraksies. Die Museum of American Folk Art is pasella en die Guggenheim ook op Vrydagaande.
    Die New York-besoekersburo langs 7th Avenue het 'n magdom brosjures en waarde-vir-geld-koepons. As hul nie teaterkaartjies het nie, gaan na die TSKS-kantoor langs Broadway vir ``2fers'' wat 50% afslag bied op vertonings soos The Full Monty, Laramy Project en Phantom of the Opera.
    Kroeë bied 2-vir-1's smiddae ná werk. Lawe 'n droë keel voordat jy na winkels gaan kyk wat 20:00 (sommige 23:00) sluit. Die limo's en toonvensters langs 5th Avenue is op sigself 'n attraksie. Macy's beskou homself as die grootste afdelingswinkel en het meer as 500 000 verskillende artikels.
    Uit mangate trek stoom, nes in flieks. Die aarde lewe. Jy kan die energie voel as jy op die gras in Central Park lê.
    Reuse-televisieskerms adverteer aaneen in helder neon. Elders sou 'n enorme gebou wat in New York staan 'n baken gewees het, maar hier is die grootstes klein. Die art deco-spits van die Chrysler- en die Verenigde Nasies-geboue sal jy beslis herken.
    Kyk straat op. Die loopvlak is 'n ononderbroke stroom koppe van elke etniese en kulturele agtergrond denkbaar. Langs die Rockefeller-Kersboom kan winters ge-ysskaats word. Digby is die grootste gotiese katedraal, St. John the Divine. Jy kan ook gratis deel wees van 'n opname by een van die TV-ateljees.
    Vermy die bekende geel taxi's. Met spitsverkeer kan 'n kort rit vrek duur word. Moltreine is skoon, maar die stasies vuil en bedompig.
    Skaf 'n MetroCard ($3 tot $80 vir 2 tot 53 ritte) aan. Dis geldig op busse en moltreine en vier mense kan dit gebruik.
    Die M4-bus lei verby die bekendste Manhattan-bakens. Dalk is jy gelukkig om 'n gids te hê wat inligting verskaf, maar dit nie oordoen met trivia oor waar die beroemdes woon en speel in die stad wat nooit slaap nie.
    Hou altyd ses quarters (25 sent) vir busse gereed. Geen dollarnote word aanvaar nie.
    Trek gemaklike skoene aan. Stap is hoe die klein spesialiteitswinkeltjies in SoHo, Greenwich Village en East Village verken word. Wat maak dit saak om soos 'n reisiger te lyk?
    Onder internasionale toeriste is die Britte die meeste (byna 1 miljoen per jaar), gevolg deur Kanadese, Duitsers en Japanners.
    Strate in Manhattan is numeries genommer. Die vangplek is om te onthou dat daar 'n East en West 88 Street kan wees.
    Onder burgemeester Rudy Giuliani het die misdaadsyfer aansienlik getuimel van wat dit in die laat jare tagtig was.
    Nog nooit het ek hier onveilig gevoel nie.
    Pizzawinkels mag van buite afgeleef lyk, maar sakelui, studente en taxi-bestuurders eet hier. Dieselfde geld $1-worsbroodjiewaentjies. Die geheim is skynbaar die worsie, want dit is geurig sonder 'n morsige spul tamatie-uie-smoor.
    Beproef die cuisine van restaurantjies in systraatjies waar die New Yorkers eet. Veral in China Town en Little Italy kan aan baie vir min gesmul word. In China Town word selfs Macdonalds sowel in Engels en Chinees geskryf!
    Vermy museumkafeterias. 'n Toebroodjie en koeldrank kos maklik $10 soos by dié op Ellis-eiland waar feitlik alle immigrante vroeër in Amerika aangekom het.
    Koop eerder vooraf en neem dit saam. Só 'n piekniek is gewoonlik veel lekkerder as om in 'n vaal, oninspirerende kafeteria te sit.
    Vir paar minute se slaap, oorweeg die Big Apple Hostel - 'n persoonlike gunsteling. Dit is digby Time Square in die middel van alles
.

j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's