|
My vroegste herinnering aan München is die van 'n foto van
die Theatinerkirche se kerktorings afgedruk op'n plakkaat
teen 'n koshuismuur.
München is egter ook bekend as stad van
monnike en vir sy oempa-orkeste, bierfeeste, nudistegebiede
in openbare parke, haute cuisine, as universiteitstad, tuiste
van Bayrische Motorwerke (BMW), - 'n eerstewêreldstad met
vele kontraste.
Monnike het hulle in die agste eeu hier
gevestig op die oewers van die "Isarrivier" wat
hulle Munichen - plek van die monnike - genoem het. Vier
eeue later het 'n hertog van Beiere die dorp ingeneem en
dit omskep in 'n handelsentrum. In die dertiende eeu het
die stad onder beheer van die Wittelsbach-familie gekom.
Ná die Eerste Wêreldoorlog is daar in
München geëksperimenteer met 'n radikale sosialistiese onafhanklikheidsvorm
en Hitler het beoog om dié stad die hoofsetel van die Nazi-ryk
te maak. Die konsentrasiekamp, Dachau, laat sommige inwoners
vandag nog ongemaklik voel, hoewel dit sowat 20 km van München
is. Gevolglik is die stad München veel ouer as die staat
Duitsland wat in 1870 tot stand gekom het.
Die jaarlikse Oktoberfest word eintlik
in die sonniger Septembermaand gehou. Oktober bring tekens
van winterweer: grys wolke, reën en ligte sneeu van die
Alpe 50 km ten suide waar daar op goeie wintersdae geski
word.
Daar word gesing, gedrink en gedans in
hierdie 16 dae. Die meer as ses miljoen feesgangers kuier
in groot, informele groepe terwyl hulle gebraaide varkwors
en wit radyse verslind. Skuimende goue bier kom in bekers
so groot dat 'n sespak se inhoud nie oor die rand sal stort
nie. Kelnerinne oorhandig dit graag met die seënwens: ``Grüss
Gott - God is met jou''.
Tente word opgerig waar kinders wat ``weggeraak''
het, kan slaap. Besope volwassenes kan ook oorslaap, maar
moet die volgende oggend opdok voordat hulle kan uitgaan.
Daar is 5 000 restaurants in München
wat wissel van Viëtnamese, Arabiese en Argentynse eetplekke
tot Burger King. Goedkoop staatmakers is ghoelasj- en lewerkluitjie-sop.
Geregte van aartappel en vleis is ook gewild.``Stammtisch''
op bronsplaatjies beteken dat 'n tafel gereserveer is vir
'n eetplek se gereelde klante. ``Nie-rook''-restaurants
is onbekend.
München met sy 1,3 miljoen inwoners is
ook 'n tegnologiese mekka. Die elektroniese en chemiese
bedryf, optiese instrumente, drukkerswese en motorvervaardiging
bring almal meer geld vir die stad in as toerisme.
Tog is hier talle toeriste met kaarte
in die hand - selfs in die winter wanneer dit so snerpend
koud is dat jy die ysvlokkies met jou hande kan vang. Net
Berlyn lok meer toeriste in Duitsland.
Dit is 'n heuglike dag as die dagtemperatuur
bo die vriespunt is. Alles is grys en wit. Dit reën en reën
en die volgende dag sneeu dit weer.
As die son droewig deurbreek, is dit
ongelooflik hoe mense hulle sal uitstrek in parke om soveel
moontlik van die sonstrale te geniet. Een só 'n dag het
ek na die groot Engelse Tuin gestap en op 'n bankie probeer
sit en lees, maar my hande het byna afgeval. Met die wegstap
was ek omtrent verkluim en het al hoe vinniger gestap om
warm te kon word.
Vele inwoners kom selde buitenshuis in
die winter, want motorhuise is aan huise verbind en jy kan
ry tot in verhitte parkeergarages by inkopiesentrums.
Die Marienplatz, die stad se poskaartmooi,
sentrale plein, is 'n handels- en toeristekruispad en tuiste
van die bekende Glockenspiel onder die nuwe stadsaal se
horlosie. As die 43 klokke begin lui, verskyn daar lewensgroot,
dansende figure van ridders tot vatmakers.
Die Café Glockenspiel, op die vyfde vloer
van 'n gebou oorkant die stadsaal, is 'n goeie uitkykpunt.
Die groot vensters van hierdie kafee word oopgemaak voordat
die poppe soggens om 11:00 dans. Tussen Mei en Oktober gebeur
dit ook smiddags om 12:00 en 17:00. Om sitplek in dié restaurant
te kry mag 'n probleem wees.
Die Deutsche Museum word jaarliks deur
meer as 1,4 miljoen mense besoek, 1,3 miljoen gaan na die
dieretuin en 'n miljoen bestyg die Olimpiese toring. Die
aantal besienswaardighede laat jou kop draai. München het
in 1972 die Olimpiese Spele aangebied. Die sportsentrum
lyk vandag nog modern. 'n Hele dag se swem in die Olimpiese
swembad gaan jou slegs R15 uit die sak jaag.
Die Alte Pinakothek huisves uitgebreide
versamelings van die Ou Meesters soos Rubens, Botticelli
en Raphael. Die aanliggende nuwe Pinakothek is gepak met
19de eeuse werke van veral die Franse Impressioniste.
Groot dele van München is verwoes in
lugaanvalle in die Tweede Wêreldoorlog. Buiten foto's hiervan
in openbare geboue, is die letsels daarvan heeltemal uitgewis
weens restourasie - elke marmerfontein is herbou, rooi teëldakke
is weer in plek, so ook speelse Rococo-sierengeltjies. Onbruikbare
bourommel is uit die stad weggery en buite die stad gaan
stort waarop parke en woonbuurte mettertyd verrys het.
Van die inwoners beskou München met trots
as deel van die ``Freistaat von Bayern'' en dan tweedens
as deel van Duitsland. Beiere ( Bayern) is een van die elf
Duitse deelstate. Invloede uit Oostenryk en Italië is hier
sterker as elders.
Duits word met 'n sterk dialek gepraat
met klem op die klinkers - anders as in byvoorbeeld Frankfurt
of Berlyn. Inwoners met eienaardige viltoede en fluweeljasse
word nog gesien, maar veral die jeug lig die wenkbroue al
hoe hoër vir sulke provinsialisme.
|