|
Die tablo voor die Piri-Piri-straatkafee in Maputo is gans
anders as in die LM-dae. Iemand probeer 'n maand oue apie
verkwansel en 'n ander Happy Christmas-ballonne. 'n Welgeklede
Portugese vrou met twee
lyfwagte klim uit 'n Benz. 'n Landmynslagoffer strompel
op een been verby.
Ons eet reusagtige LM-garnale met Laurentina- en 2M-biere
elk. Die rekening van R140 is betaalbaar in rand, Amerikaanse
dollar óf die metical. Laasgenoemde is só waardeloos dat
ambassadekinders glo daarmee Monopoly speel. Ek gril ná
die aftel van die stapel voosgevatte note.
'n Amerikaanse handelsmatroos naas ons vertel dat hulle
graan aflaai en vir die eerste keer 'n vrag aluminium sal
terugneem. ``Dalk volg sitrus, suiker en katoen ook,'' sê
hy.
Mosambiek ly swaar onder 'n handelswanbalans invoer is drie
keer soveel as uitvoer.
Die hitte kom deur die breë verandadak en vogtigheid verstop
die soutpot. Tog is die drinkgoed koel en ons peins: Hoeveel
kontant is genoeg om die polisie gelukkig te hou as hulle
kamtig probleme het met jou visum sonder dat jy te veel
verloor as bandidos (straatrowers) toeslaan? Hoewel sakkerollery
floreer, is ernstige misdade veel minder as in Suid-Afrika.
Onveiliger as Johannesburg of Kaapstad? Nee. Maar dit sê
veel!
Die Instituut vir Globale Dialoog meen die ongemaklike vrede
tussen Frelimo en Renamo kan ekonomiese vooruitgang kniehalter.
In 1999 het pres. Joaquim Chissano se Frelimo 'n kleiner
meerderheid behaal as in 1994. Renamo het ses provinsies
verower, maar anders as in Suid-Afrika geld magsdeling nie.
Ontevredenheid hieroor deur die Renamo-leier, Afonso
Dhlakama, het tot die dood van talle volgelinge gelei.
Midde-in 'n ondersoek na ernstige ekonomiese misdrywe is
Carlos Cardoso, 'n joernalis, vermoor. Ook dit was bevestigend
van die hemelhoë (ekonomiese) misdaadsyfer en 'n regstelsel
wat nie so deursigtig is as die waters aan die kus nie.
``Dit gaan oor meer as bloot Frelimo-arrogansie en Renamo-koppigheid,''
skryf Chris Alden in Mozambique and the Construction of
the New African State (Palgrave, 2001). Volgens hom spruit
talle probleme uit gebreke in die internasionaal bemiddelde
vredesooreenkoms.
``So is die onwilligheid van die regering om magsdeling
te erken simptomaties van die gebrek aan eienaarskap in
'n proses wat deur die internasionale gemeenskap bevorder
is. 'n Ware versoeningsgees ontbreek.''
Oorlog en sosialistiese wanbestuur het Mosambiek die allerarmste
land in 1994 gemaak, maar vanweë verskeie ekonomiese hervormings
lyk die mediumtermyn-vooruitsigte nou veel beter.
Onder die vertinsel van 'n veelgeroemde, kragtige groeikoers
bly die inwoners egter vrek arm. Moenie vir jouself lieg
nie: 'n poskaartmooie strooidakhuisie onder frangipani's
wat uitbundig bloei, is nié romanties nie. Des te minder
as oorlogswesies en volwassenes rondom jou aan cholera,
vigs of malaria sterf.
Mosambiek is op die voorpunt van na-oorlogse rekonstruksie
binne die konteks van strukturele vereffening (SV) in Afrika.
Rwanda, Za¨re, die Soedan en Angola kan veel leer.
Sedert 1987 fokus die SV-program op deflasie, deregulasie
en 'n vryemarkstelsel. Die Maputo-hawe is in Januarie vanjaar
geprivatiseer, nes 950 ander staatsondernemings vroeër al.
Hierdeur is ekonomiese ongelykheid geskep soos laas gesien
voordat die Portugese gevlug het, want Frelimo-lede dring
aan op uitvoerende poste in private sakeondernemings.
Deur privatisering kan reuse ook sito-sito plaaslike entrepreneurs
verdring soos gebeur het in die kasjoebedryf ná 'n besnoeiing
van staatsubsidies deur die IMF.
Onlangs is 'n luukse oord digby Bazaruto-eiland aangekondig
waarin die minister van omgewingsake 'n leeue-aandeel het.
Talle vissers sal hul grond moet prysgee.
Ook nadelig is dat voorvereistes vir ontwikkeling, soos
primêre gesondheidsorg en opvoeding, in die slag gebly het
deurdat die regering skuld te blitsig wou vereffen. Sommige
basiese dienste ontbreek heeltemal in afgeleë dele.
Dat geld hoofsaaklik gaan aan projekte in Maputo en die
suidelike provinsies, verskerp Mosambiek se etniese verdeling.
Ingevolge 'n trilaterale samewerkingsprogram wat onlangs
tussen Mosambiek, Suid-Afrika en Swaziland gesluit is, sal
dit weer eens die suide wees wat bevoordeel word deur byvoorbeeld
'n pad tussen Maputo en Ponta do Ouro.
Global Insight meen bendes wat as ``middelmanne'' optree
vir dwelm- en motordiefstalsindikate in Suider-Afrika, hou
verband met die gebrekkige demilitariseringsprogram van
die VN. Duisende gewere het 'n tuiste in Suid-Afrika gevind.
Talle manskappe kon hulle nie versoen met die VN se benadering
van integrasie nie. Vertroud met militêre operasies, het
misdadige bedrywighede reg in hul kraal gepas.
Onwettige immigrasie en smokkelary kan maklik toeneem. Met
die nuwe N4-tolroete oor Nelspruit is Johannesburg net ses
uur van Maputo.
Mosambiek kan KwaZulu-Natal se toerisme opdraand gee. Maputo
kos ewe veel, maar het 'n onderskeidende Suid-Amerikaanse
atmosfeer ongekend in die streek. Wanneer die nuwe ontwikkelingskorridor
tussen Gauteng en Walvisbaai voltooi is, sal dit by die
Maputo-korridor aansluit. So sal die Atlantiese en Indiese
Oseaan verbind word, terwyl die pad oor vier Suider-Afrikaanse
state strek. Toerisme sal die samebindende faktor wees.
Veel word verwag van die Gaza-Kruger-Gonarezhou-vredespark
wat deur Zimbabwe, Mosambiek en Suid-Afrika sal sny. Hierna
verwys Mosambiekers graag as die ``gi-ki-gi, want dit klink
so mooi''. Dié wildtuin sal die ontwikkelingsbehoeftes van
inwoners en bewaring dien, maar saam met die toeriste sal
ook wavragte probleme kom: onwettige immigrante, wilddiefstal,
die verskuiwing van inwoners, die oordrag van siektes .
. .
In Maputo het my vriend Hugh Fraser meer vullishouers gemerk
as op sy vorige drie besoeke. ``Tog jammer hulle word nie
gereeld leeggemaak nie,'' het ek gesê terwyl ons verby die
tartanbaan stap waarop Maria Mutola vir die 800 m geoefen
het om in Sydney Mosambiek se eerste goue medalje te verower.
Weinig is pluis in Mosambiek, maar gelukkig weet besoekers
meestal min van dié skete. Verlede jaar het meer as 'n kwart
miljoen toeriste hier aangedoen, maar dit bly moeilik om
Mosambiek op die toerismekaart terug te plaas. Ongeag 'n
fenomenale ommekeer is selfs Maputo 'n afgeleefde hawestad
waaroor 'n apokaliptiese atmosfeer hang 'n nalatenskap van
oorlog.
Of môre seker is of nie, daar is steeds 'n tinteling in
die lug van Portugees-Oos-Afrika. Mosambiek ís die moeite
werd om oor te veg.
|