voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


maputo - mosambiek

   
jens friis
     
   
Die tablo voor die Piri-Piri-straatkafee in Maputo is gans anders as in die LM-dae. Iemand probeer 'n maand oue apie verkwansel en 'n ander Happy Christmas-ballonne. 'n Welgeklede Portugese vrou met twee
lyfwagte klim uit 'n Benz. 'n Landmynslagoffer strompel op een been verby.
Ons eet reusagtige LM-garnale met Laurentina- en 2M-biere elk. Die rekening van R140 is betaalbaar in rand, Amerikaanse dollar óf die metical. Laasgenoemde is só waardeloos dat ambassadekinders glo daarmee Monopoly speel. Ek gril ná die aftel van die stapel voosgevatte note.
'n Amerikaanse handelsmatroos naas ons vertel dat hulle graan aflaai en vir die eerste keer 'n vrag aluminium sal terugneem. ``Dalk volg sitrus, suiker en katoen ook,'' sê hy.
Mosambiek ly swaar onder 'n handelswanbalans invoer is drie keer soveel as uitvoer.
Die hitte kom deur die breë verandadak en vogtigheid verstop die soutpot. Tog is die drinkgoed koel en ons peins: Hoeveel kontant is genoeg om die polisie gelukkig te hou as hulle kamtig probleme het met jou visum sonder dat jy te veel verloor as bandidos (straatrowers) toeslaan? Hoewel sakkerollery floreer, is ernstige misdade veel minder as in Suid-Afrika. Onveiliger as Johannesburg of Kaapstad? Nee. Maar dit sê veel!
Die Instituut vir Globale Dialoog meen die ongemaklike vrede tussen Frelimo en Renamo kan ekonomiese vooruitgang kniehalter. In 1999 het pres. Joaquim Chissano se Frelimo 'n kleiner meerderheid behaal as in 1994. Renamo het ses provinsies verower, maar anders as in Suid-Afrika geld magsdeling nie. Ontevredenheid hieroor deur die Renamo-leier, Afonso
Dhlakama, het tot die dood van talle volgelinge gelei.
Midde-in 'n ondersoek na ernstige ekonomiese misdrywe is Carlos Cardoso, 'n joernalis, vermoor. Ook dit was bevestigend van die hemelhoë (ekonomiese) misdaadsyfer en 'n regstelsel wat nie so deursigtig is as die waters aan die kus nie.
``Dit gaan oor meer as bloot Frelimo-arrogansie en Renamo-koppigheid,'' skryf Chris Alden in Mozambique and the Construction of the New African State (Palgrave, 2001). Volgens hom spruit talle probleme uit gebreke in die internasionaal bemiddelde vredesooreenkoms.
``So is die onwilligheid van die regering om magsdeling te erken simptomaties van die gebrek aan eienaarskap in 'n proses wat deur die internasionale gemeenskap bevorder is. 'n Ware versoeningsgees ontbreek.''
Oorlog en sosialistiese wanbestuur het Mosambiek die allerarmste land in 1994 gemaak, maar vanweë verskeie ekonomiese hervormings lyk die mediumtermyn-vooruitsigte nou veel beter.
Onder die vertinsel van 'n veelgeroemde, kragtige groeikoers bly die inwoners egter vrek arm. Moenie vir jouself lieg nie: 'n poskaartmooie strooidakhuisie onder frangipani's wat uitbundig bloei, is nié romanties nie. Des te minder as oorlogswesies en volwassenes rondom jou aan cholera, vigs of malaria sterf.
Mosambiek is op die voorpunt van na-oorlogse rekonstruksie binne die konteks van strukturele vereffening (SV) in Afrika. Rwanda, Za¨re, die Soedan en Angola kan veel leer.
Sedert 1987 fokus die SV-program op deflasie, deregulasie en 'n vryemarkstelsel. Die Maputo-hawe is in Januarie vanjaar geprivatiseer, nes 950 ander staatsondernemings vroeër al. Hierdeur is ekonomiese ongelykheid geskep soos laas gesien voordat die Portugese gevlug het, want Frelimo-lede dring aan op uitvoerende poste in private sakeondernemings.
Deur privatisering kan reuse ook sito-sito plaaslike entrepreneurs verdring soos gebeur het in die kasjoebedryf ná 'n besnoeiing van staatsubsidies deur die IMF.
Onlangs is 'n luukse oord digby Bazaruto-eiland aangekondig waarin die minister van omgewingsake 'n leeue-aandeel het. Talle vissers sal hul grond moet prysgee.
Ook nadelig is dat voorvereistes vir ontwikkeling, soos primêre gesondheidsorg en opvoeding, in die slag gebly het deurdat die regering skuld te blitsig wou vereffen. Sommige basiese dienste ontbreek heeltemal in afgeleë dele.
Dat geld hoofsaaklik gaan aan projekte in Maputo en die suidelike provinsies, verskerp Mosambiek se etniese verdeling. Ingevolge 'n trilaterale samewerkingsprogram wat onlangs tussen Mosambiek, Suid-Afrika en Swaziland gesluit is, sal dit weer eens die suide wees wat bevoordeel word deur byvoorbeeld 'n pad tussen Maputo en Ponta do Ouro.
Global Insight meen bendes wat as ``middelmanne'' optree vir dwelm- en motordiefstalsindikate in Suider-Afrika, hou verband met die gebrekkige demilitariseringsprogram van die VN. Duisende gewere het 'n tuiste in Suid-Afrika gevind. Talle manskappe kon hulle nie versoen met die VN se benadering van integrasie nie. Vertroud met militêre operasies, het misdadige bedrywighede reg in hul kraal gepas.
Onwettige immigrasie en smokkelary kan maklik toeneem. Met die nuwe N4-tolroete oor Nelspruit is Johannesburg net ses uur van Maputo.
Mosambiek kan KwaZulu-Natal se toerisme opdraand gee. Maputo kos ewe veel, maar het 'n onderskeidende Suid-Amerikaanse atmosfeer ongekend in die streek. Wanneer die nuwe ontwikkelingskorridor tussen Gauteng en Walvisbaai voltooi is, sal dit by die Maputo-korridor aansluit. So sal die Atlantiese en Indiese Oseaan verbind word, terwyl die pad oor vier Suider-Afrikaanse state strek. Toerisme sal die samebindende faktor wees.
Veel word verwag van die Gaza-Kruger-Gonarezhou-vredespark wat deur Zimbabwe, Mosambiek en Suid-Afrika sal sny. Hierna verwys Mosambiekers graag as die ``gi-ki-gi, want dit klink so mooi''. Dié wildtuin sal die ontwikkelingsbehoeftes van inwoners en bewaring dien, maar saam met die toeriste sal ook wavragte probleme kom: onwettige immigrante, wilddiefstal, die verskuiwing van inwoners, die oordrag van siektes . . .
In Maputo het my vriend Hugh Fraser meer vullishouers gemerk as op sy vorige drie besoeke. ``Tog jammer hulle word nie gereeld leeggemaak nie,'' het ek gesê terwyl ons verby die tartanbaan stap waarop Maria Mutola vir die 800 m geoefen het om in Sydney Mosambiek se eerste goue medalje te verower.
Weinig is pluis in Mosambiek, maar gelukkig weet besoekers meestal min van dié skete. Verlede jaar het meer as 'n kwart miljoen toeriste hier aangedoen, maar dit bly moeilik om Mosambiek op die toerismekaart terug te plaas. Ongeag 'n fenomenale ommekeer is selfs Maputo 'n afgeleefde hawestad waaroor 'n apokaliptiese atmosfeer hang 'n nalatenskap van oorlog.
Of môre seker is of nie, daar is steeds 'n tinteling in die lug van Portugees-Oos-Afrika. Mosambiek ís die moeite werd om oor te veg.

j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's