Van ver af lyk dit soos 'n reuse-sandkasteel wat op die
see dryf. Dis egter nie 'n ligkaatsing nie, maar Mont-Saint-Michel.
En dis ook nie eintlik 'n eiland nie.
Eeue
lank reeds word gewik en weeg hoe dit moontlik is om besoekers
by hierdie fortklooster te kry sonder om hulle die illusie
te ontneem dat dit met water omring is.
In
die vorige eeu is besluit om 'n toegangsroete na die vasteland
te bou. Dit het toegeslik en groot sandbanke het gevorm.
Die
gety kom nie meer in teen die spoed van 'n galoppende
perd nie. Die ``eiland'' word deesdae net met springgety
deur water omring.
In
1995 het die Franse besluit om 'n deel van die versperring
deur 'n brug te vervang. Buite
Parys is Mont-Saint-Michel immers die gewildste besienswaardigheid
in Frankryk. Nagenoeg
3 miljoen mense besoek jaarliks dié bekendste Franse baken
naas die Eiffeltoring.
Omdat
die beoogde parkeerplek verder sal wees, sal pendelbusse
ingespan word om toeriste te karwei na dié wêrelderfenisgebied.
Dié ontwikkelingsprojek is nog in 'n vroeë fase.
Besoekers
se aanvanklike eilandstatus-teleurstelling duur net totdat
hulle verby die kitsch aandenkingswinkels is wat die enigste
straat, die smal Grande Rue, omsoom. Die geskiedenis van
die eiland strek terug na die agtste eeu. 'n Oratorium
is opgerig nadat 'n aartsengel aan die biskop van die
nabygeleë Avranches verskyn het.
Tussen
die 11de en die 16de eeu is 'n drieverdieping-abdy opgerig,
eers in die Romeinse en daarna in die Gotiese styl.
Mettertyd
is slaap- en eetsale, kloktorings en standbeelde bygevoeg.
Ná die Franse Revolusie het dit as 'n soort Alcatraz gedien.
Die
abdy is 80 m hoog en kroon die sirkelagtige granietrots
van sowat 900 m in omtrek. Dit
is beslis een van die Christendom se grootste monumente.
Daar
is vyftien hotels in Mont-Saint-Michel en 'n wye verskeidenheid
van huisvesting op die vasteland van waar daar van vroegdag
tot snags in die spreilig 'n uitstekende uitsig op die
``eiland'' is.
Baie
van die hedendaagse ``pelgrims'' neem busse van Parys
na Mont-Saint-Michel wat aan die kus van Normandië in
Noordwes-Frankryk is. Die beste is om voor 9 vm. deur
Mont-Saint-Michel te stap, wanneer die eerste toeriste
aankom.