voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


montreal - grootste ondergrondse stad

   
jens friis
     
      
As jou idee van nirvana 'n winter is sonder handskoene, serpe en jasse wag die onverwagte op jou in een van die wêreld se koudste stede. Montreal se bogrondse stad is maar 'n tippie van die ysberg.
Die grootste stad van Quebec is alom bekend vir sy uitgerekte winters.  In die tot vyf maande lange Arktiese yswinde val sowat 2,5 m sneeu, terwyl dagtemperature van tot 30 °C normaal is.  Elders sou sulke toestande 'n stad tot stilstand ruk, maar nie vir die 3,4 milj. Montrealers nie.   Wind en weer het geen effek op hul ondergrondse stad nie - die grootste ter wêreld wat vanjaar 'n ronde 40 jaar oud is.  
30 km se tonnels verbind 'n allemintige 150 moltreinstasies, 60 geboue waarvan vele wolkekrabbers is, 7 hotelle, 200 restaurante, 1 700 winkels, drie konferensielokale, twee universiteite, twee stasies, 'n ysskaatsbaan, 40 banke ...
Selfs diegene met 'n goeie sin vir rigting raak hul koers maklik kwyt.  Dat Montreal op 'n heuwel gebou is vergemaklik nie sake nie, want die hoeveelheid verdiepings wissel voortdurend as gevolg hiervan.   Mettertyd raak jy, soos die ander 500 000 mense wat dit daagliks gebruik, egter gewoond daaraan.
November se korter dae en wisselvallige weer beteken dat pelse opgediep word, kersliggies herverskyn en die eerste sneeu val.  Dis tyd om na die buitelugweer van die afgelope maande na binne (of is dit eerder na onder?) te keer.  Die Underground City word skielik weer veel drukker besoek.  
Daar is vele voordele aan so 'n binnenshuise stad waarvan die voor die hand liggendste seker is dat gebruikers gedurende metro-ure veilig, verniet en beskermd teen wind en weer binne die labirint kan ronddwaal
So was daar 80 m vanaf my voordeur een van 'n allemintige 150 moltreinstasies.  Omdat dit 'n diepe 20 m ondergronds is was twee roltrappe nodig om jou daarheen af te voer. Hier sou jy vir 18 uur van 'n dag elke vyf minute 'n moltrein kon neem na die stadskern 2 km daarvandaan.  Een oorklimslag verder sou ek afklim skuins onder die universiteitsbiblioteek waar ek wou wees sonder om deur die ysreën te ploeter.
In die stasies praat die Montrealers min. Dit is soms so stil dat jy kan hoor hoe hul dikke wintersklere teen mekaar skuifel.  Voete weerklink op perronne.  Gereeld speel musici van konsertgehalte kitaar of viool.
Weens die goeie moltreinstelsel word verkeersopeenhopings verminder, neem die vraag na parkeerplek af en is die lug skoner.
Ook 'n bate van die netwerk is dat dit 'n buffer is teen spitsverkeer by besige stasies omdat party metro-gebruikers eers inkopies doen by die omliggende winkels voordat hul huiswaarts keer.   Hieroor is die eienaars van geboue ook bly, want dit beteken hoër huur. 
'n Rare inkopie-arkade is die Les Promenades de la Cathedrale wat geleë is onder die Christ Church Cathedral uit 1850.  Met die bou van die winkels is die ganse kerk op stelte geplaas.  
Aangesien hier nie slegs kantoorblokke is nie, maar ook universiteite, hospitale en woonstelle is Montreal se middestad dag en nag lewend – 'n rariteit in Noord-Amerika.   Weens die goeie verhouding tussen die ondergrondse stad en die kommersiële strate daarbo kon die middestad sy lewenskrag behou selfs deur erge ekonomiese krisisse. 
Les Cours Mont-Royal (Peel Stasie) was op sy dag die grootste hotel in die Britise Ryk.  Ses dekades na die opening daarvan in 1922 is die hotel omvorm tot kantore, meenthuise en die kleinste winkelkompleks in die ondergrondse stad met 30 klere-boutieks.   Vanaf die vierde vloer is die oorspronklike kandelaar van die Mont Royal Hotel nog te sien wat vroeër in 'n Monte Carlo-casino gehang het.
Ook Montreal se grootste hotel, die 1 020-bed Queen Elizabeth, is verbind met die ondergrondse stad.  Dis hier waar John Lennon en Yoko Ono vir veel meer as net 'n nag in die bed gebly het en "Give Peace a Chance" opgeneem het.  Pak jou jas weg sodra jy hier ingeboek het.  Jy hoef dit nie weer nodig te hê nie.  
Die ondergrondse stasie, Places des Arts, bied toegang tot die gelyknamige operahuis.  Meer as 800 uitvoerings vind jaarliks in vyf sale met plek vir 6 000 plaas. 
Die Molson Centre is die setel van die Montreal Canadiens, wenners van 24 Stanley Cups.  die yshokkiespan skop hul seisoen jaarliks af in September.  Hier is uiteraard ook 'n moltreinstasie.
Winters maak die ondergrondse stad dit moontlik om te leef, werk en speel in Montreal sonder om 'n voet in die bibberweer te sit
.

j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's