voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


montreal ontwaak

   
jens friis
     

Politieke en kulturele geskille het Montréal byna in 'n ekonomiese spookstad verander. Deesdae gaan dit weer klopdisselboom en dié stad bloei ieder jaar uitbundiger.

 

'n Geslag inwoners van Montreal het grootgeword met for sale/en vente-bordjies - getuienis van Engelssprekendes se uittog weens die dreigende afstigting van Quebec, die enigste Franssprekende provinsie in Kanada.
Halfvol pakskure en silo's by die St. Lawrence-rivierhawe het drie dekades lank getuig van 'n drastiese afname in dié streek se eens florerende chemiese, papier-, aluminium- en meubelbedrywe.   Maar nou krioel dit weer in Kanada se voorste hawe.  Soos vanmeleë doen reuse hier aan onderweg na die Groot Mere. 
Die bevolking groei ná jare se stagnasie.  Die werkloosheidsyfer van 13 % vier jaar gelede het tot 6,5 % gedaal – die laagste sedert die World Fair in 1976.  Selfs die basketbalspan Montreal Expos het besluit om in die stad te bly.
“Daar is 'n ongekende vraag na sakepersele,” sê Bill Prickett, 'n eiendomsagent. “Die infrastruktuur is reeds hier om die ekonomiese groei te ondersteun: wolkekrabbers, snelweë, 'n groot ondergrondse stad met 'n doeltreffende metrostelsel ...”  
Tot 1970 was Montreal Kanada se spogstad. Dit was 'n finansiële en kulturele kern, 'n vervoerkruispunt en voorste universiteitsentrum - 'n metropool wat selfs in 1976 die Olimpiese Spele kon aanbied. 
Aan die stuur was 'n Engelssprekende sake-elite wat egter hardnekkig voortgegaan het om die Franssprekende meerderheid uit te sluit. 
“Weens ‘n sterk moontlikheid van afskeiding in die `70’s het duisende Engelse padgegee en hul geld, vaardighede en groot korporasies saamgeneem,'' vertel dr. Benoit Trottier, ‘n mediese dokter wat in Montreal grootgeword het. 
“Vroeër was die Franse sterk Rooms-Katoliek.  Die Engelse sakelui het godsdiens ingespan om te verseker dat ons in die geesteswetenskappe spesialiseer.  Só kon hul as minderheidsgroep die hef in die hand hou.  Toe hul gaan moes die vakuum gevul word en Frans het Ekonomie begint studeer. En was ons ontnugter om te sien dat godsdiens só ‘n politieke manipulerende instrument kon wees!”
Vandag is talle kerke omskep tot nagklubs, woonstelle en winkels.  Kerkgangers taan.
Montreal met sy groot Engelse bevolking is veel erger geraak deur die uittog as Quebecstad, die administratiewe setel, wat oorwegend Frans is.  Toronto het die Kanadese sakekern geword, maar Montreal het nie beteuterd op ‘n wonder bly wag nie en hul aandag verskuif na markte in Amerika en Europa met die blom van die wêreldhandel.
Deesdae fokus sakelui en politieke leiers op werkskepping in veral die hoë-tegnologiese bedryf.  So het Bombardier eers sneeurytuie vervaardig, maar het nou ‘n waglys van drie jaar vir kleiner passasiersvliegtuie.  Nortel Networks maak nie meer telefoonhandstukke nie, maar is die wêreldleier in optiese internetskakelaars. 
Dié voorspoed word gedryf deurdat Quebeckers gemaklik voel oor hul identiteit.  Hul is Kanadese wat daarvan hou om Noord-Amerikaners genoem te word, maar wat ‘n Quebecois wil wees, sal hul jou vertel. 
“Ons neem nie bloot uit Noord-Amerika en die ryk beskawingsbronne van die Ou Wêreld nie.  Ja, ons put daaruit, maar doen ons eie ding.  Só vereis die noordelike klimaat byvoorbeeld gans ander geboue en modes.  Oorgeplante Franse op ‘n nuwe kontinent is ons bloot net nie meer,” sê Pascal de Luc, ‘n argitek.  
Tydens ‘n jaar se verblyf was ek verbaas oor watter  onderskeidende Quebecois-kultuur inderdaad bestaan - ‘n ongewone bestuiwing van Europese joie de vivre en Noord-Amerikaanse invloede.
Digby die magtige St. Lawrencerivier loop keisteenstrate verby van die oudste huise in Noord-Amerika. Sewentien jaar voor Van Riebeeck se koms na die Kaap, het Jacques Cartier 1 400 km die kontinent binne geseil en hier ‘n Indiaanse nedersetting genaamd Hochelaga gevind.  Hy het na die heuwel waarom die stad gebou sou word verwys as mont réal (Frans vir “mount royal”) en van daar die naam Montreal. 
Mettertyd het die Engelse bewind oorgeneem en veral Joodse, Italiaanse, Chinese en Russiese immigrante het hul hier gevestig.  Dit gee ‘n kosmopolitaanse gevoel aan hierdie 14de grootste metropool in Noord-Amerika oftewel die grootste Franssprekende stad naas Parys.  Op buitelugverhoë, in parke en sale, maar veral in die stegies en pleine naby die hawe, weerklink note uit vreemde wêrelddele. Straatmusikante hou sy-aan-sy konsert.
Feitlik orals is jy veilig. Selfs gure karakters sê “excusez moi”' pleks van jou vreemd aan te kyk sou jy per ongeluk teen hul stamp.
Langs die Rue Notre Dame is die Hotel de Ville, ‘n tipiese Franse stadsaal waar Charles de Gaulle op ‘n balkon sy bekende “vive le quebec libre”-toespraak in 1967 gelewer het.
St. Denis en St. Laurent Boulevards is omsoom met bistro’s, patisseries met uitstekende croissants en sypaadjie-kafees soos Parys se St. Germain des Pres.   Somers is dit stampvol as Perrier gedrink word teen die ondraaglike humiditeit.
Jy eet ‘n crepe, kyk hoe ‘n straatkunstenaar die portret van ‘n kleuter afrond en groet wuiwende verliefdes op ‘n perdekoets met ‘n “bonjour”. En ja, die Quebeckers soen nes die Franse graag hul geliefdes op straat.
Die ervaring is soos jy jou ‘n idilliese rendezvous in Parys sou voorstel.
Maar Montreal is g’n kloon van die Franse hoofstad nie.
Greene Avenue en Sherbrooke Street in Wes-Montreal het ‘n tipiese Britse gevoel met hul pubs en Victoriaanse geboue. Langs grastennisbane word op lowergroen rolbalbane croquet gespeel.
In die Queen Elizabeth-hotel het John Lennon en Yoko Ono in 1969 dae nie suite 1742 verlaat nie en “Give Peace a Chance” opgeneem. 
Montreal herinner Franse dan ook nie aan Parys nie.  Die stad se strate loop nes die in New York in roostervorm.  Franse stede, nes Washington, DC, is ontwerp rondom sirkels waar boulevards soos die speke van ‘n wiel na ‘n as lei.
As vars sneeu soos bakpoeier winters onder jou voete op straat kraak, is die talle, reuse boekwinkels net die plek om tyd deur te bring. ‘n Magdom koerante en leesstof in Frans is te koop, maar ook heelwat van oraloor die wêreld. Te kry uit Afrique du Sud is Kentridges, Krogs, Coetzees, Mandelas en Makebas.  Vir die gemiddelde Quebecker staan Franssprekende Wes-Afrika egter voorop. 
Quebeckers is gaande oor disse wat moeilik in Frankryk of elders in Kanada te vinde is – somtyds met goeie rede.  Hieronder tel poutine, ‘n bord tjips met vleissous en gesmelte mozarella bo-oor.
Tog is Kanadese cuisine ietwat van ‘n oksimoron.  Ontbyt is groot en soos in Amerika kompleet met wafels en esdoringsap (“maple syrup”) of bagels. Varkpasteie met dik ertjiesop is tradisioneel, maar jy sal waarskynlik dieselfde eet as in Londen of Kaapstad – dalk net minder skaapvleis.
Stap uit ‘n restaurant en jy word gegroet met die kenmerkende “merci-bye!”.  Die inwoners spring vaardig tussen hierdie twee tale in ‘n stad wat onderskeidelik deur Franse, Engelse en Kanadese gebou is.  
Celine Dion, ‘n boorling van Montreal, verkies Frans, maar snap die noodsaak van Engels en slaan gemaklik oor soos die situasie dit vereis.  66 % van die 3,1 miljoen inwoners is Frans en slegs 15 % Engels. 
CD’s deur plaaslike kunstenaars word in toonvensters saam met dié van sangers uit Frankryk uitgestal.  Daarna kom jy eers op Amerikaanse popmusiek af.  Om Franssprekend te wees beteken om die Quebeckse-kultuur kerngesond te hou – véél intenser as in die provinsies met hul Brits-Amerikaanse kultuur. 
Louise Beaudoin, die minister verantwoordelik vir Quebec se taalhandves, was de hoenders in na Frankryk se besluit dat vliegtuigloodse voortaan weens veiligheidsoorwegings Engels sal praat met lugverkeerkontroleërs by Charles de Gaulle in Parys.  “Pasop vir die wêreldimperialisme van Engels!” het sy gewaarsku.  
Haar klinkers, nes ander Franssprekende Quebeckers s’n, is kort en hard.  Iets soortgelyks aan die diepdonker klanke van Frankofone in Wes-Afrika.   Op ‘n Afrikaanse oor val dit baie vreemd.  Só het dit altoos vir my geklink of die moltreinbestuurder vir St. Laurent Metrostasie aankondig as “Sela” soos “dit sal so wees” in die Bybel. 
In dieselfde maand as Beaudoin se uitspraak bevind die Quebecse taalwaghond, die Commission de Protection de la Langue Francaise, dat ‘n Montrealse winkeleienaar se Frans nie na wense is nie.  Hy word beveel om klasse by te woon of iemand te huur wat vlot Frans is. 
Ook handhaaf die Quebecse hooggeregshof die provinsiale taalwet dat Frans die prominentste geset moet wees as dit saam met Engels in advertensies verskyn. 
Noodkennisgewings op moltreine verskyn meestal slegs in Frans.
Stoptekens lees dikwels Arrêt! of
Arrêt/Stop.
"Even in France, they don't have everything in French!" sê Mary Smith, ‘n student aan die Engelssprekende McGill Universiteit. 
Sy was nog nie in Frankryk nie.
Tog staan Kentucky Fried Chicken wat ook só in Frankryk heet hier bekend as Poulet Fried Kentucky!
Ai-jai-jai.  Jy kon my met een van daai Kentucky-vere omtik. 
G’n wonder soveel Engelse het hul goed gepak nie.  Weens die taalbeleid vestig weinig Suid-Afrikaners hul in Quebec, maar eerder in Vancouver of Toronto.   
Oud-premier Pierre Trudeau, ‘n federalis, het geglo dat Kanadese eenheid swaarder weeg as streekbelange.  ``My toetrede tot die politiek was tweeledig: om seker te maak dat Quebec nie afskei van Kanada nie, en om te verseker dat Kanada nie Quebec uitskuif nie,” het hy gesê.
In sy strewe om Quebec binne Kanada te hou is daar aan Franssprekendes hoë regeringposte gegee en is Engels én Frans as nasionale tale aanvaar.
Quebeckse separatiste het die 1995-referendum net-net met ‘n halwe persentasiepunt verloor - 49,5 % het vir onafhanklikheid gestem en 50,5 % daarteen.
Insiggewend is dat veel meer vir ‘n verenigde Kanada gestem het in 2000.  
Glenn Clavier, ‘n vertaler, verklaar dit as volg:  “Die meerderheid wat vyf jaar t’rug vir onafhanklikheid gestem het was nie ten gunste van die afstigting van Quebec nie, maar wel vir meer erkenning.  Hul wou dit klinkklaar stel:  Ons is anders as die res van Kanada en dit móét erken word. Die doel is bereik.  Deesdae is Quebec ‘n soort distinct society.” 
Hierdie gebeure is nou verweef met reaksies teen globalisering wêreldwyd. Daar’s Korsika, Noord-Italië, Baskeie ...  Serbië wil selfs verder onderverdeel.  Oos-Duitsers verklaar sekere woonbuurte uitlandervry.  By byeenkomste van die Wêreldhandelsorganisasie skiet die vonke. Die mensdom is bang hul verloor hul kulturele identiteit.  
“Hul is meer kosmopolitaans, maar voel tog bedreig daardeur.  Daarom ‘n toenemende beheptheid met laer-trek vir volk en taal,” skryf Marieta van der Vyver onlangs.
Quebec het wel gekies om ‘n lewenskragtige deel van ‘n groter Kanada te wees, maar die byna obsessiewe beskerming van die eie is deel van Franssprekendes in Quebec se lewer en longe.  Buitestaanders word nie sommer tot die kliek toegelaat nie. 
Dit is nie toevallig dat my hegste vriende in Montreal nie ‘n enkele gebore Quebecker ingesluit het nie.  Wel ‘n patoloog uit Parys wat daar werk weens beter werksgeleenthede, ‘n Engelssprekende vertaler uit Vancouver en ‘n Romeense prokureur wat net voor die val van Kommunisme vir Kanada bo Suid-Afrika verkies het weens die geweldsituasie.  
Dit is egter nie om dowe neute dat Franssprekendes só onversetlik oor hul kultuur gewaak het nie.  Onderdrukking en diskriminasie deur Engelse was volop.  
Nes ‘n versnit van Brit en Boer nie meer so ‘n bitter smaak in die mond laat as vroeër nie, is dit ook die geval met vriendskappe en huwelike tussen Engelssprekende en Franssprekende Quebeckers.  
Dit blyk ook uit die 2000-referendum waar daar politieke herrangskikkings plaasgevind het deurdat daar buite talige partypolitiek tuistes gestem is.   
Bepalend vir Quebec se sukses is of die Amerikaanse ekonomie, waarvan dit grootliks afhanklik is, inderdaad op die rand van ‘n resessie staan.
Dit sal ook nodig wees om die provinsiale inkomstebelasting in bedwang te hou.  Dit is die hoogste in Noord-Amerika en bemoeilik die lok van ervare sakelui. 
En dan is daar die nimmereindigende risiko van afskeiding ...
Tog lyk die toekoms tans blink en soos die De Luc opmerk:  “Hoe kan ons nie suksesvol wees nie? Die Quebecois het reeds bewys hul is doelgerigte, harde werkers wat bekwaam is en ‘n professionele benadering tot dienslewering volg. Boonop heg ons baie respek aan menseregte en is objektiewer as ooit.  Met ‘n titsel geluk kan dit nie anders as dat Montreal die mas móét opkom nie.”

 doen.


j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's