Politieke
en kulturele geskille het Montréal byna in 'n ekonomiese
spookstad verander. Deesdae gaan dit weer klopdisselboom
en dié stad bloei ieder jaar uitbundiger.
'n
Geslag inwoners van Montreal het grootgeword met for
sale/en vente-bordjies - getuienis van Engelssprekendes
se uittog weens die dreigende afstigting van Quebec, die
enigste Franssprekende provinsie in Kanada.
Halfvol pakskure en silo's by die St. Lawrence-rivierhawe
het drie dekades lank getuig van 'n drastiese afname in
dié streek se eens florerende chemiese, papier-, aluminium-
en meubelbedrywe.
Maar nou krioel dit weer in Kanada se voorste
hawe. Soos
vanmeleë doen reuse hier aan onderweg na die Groot Mere.
Die bevolking groei ná jare se stagnasie.
Die werkloosheidsyfer van 13 % vier jaar gelede
het tot 6,5 % gedaal die laagste sedert die World
Fair in 1976. Selfs
die basketbalspan Montreal
Expos het besluit om in die stad te bly.
Daar is 'n ongekende vraag na sakepersele,
sê Bill Prickett, 'n eiendomsagent. Die infrastruktuur
is reeds hier om die ekonomiese groei te ondersteun: wolkekrabbers,
snelweë, 'n groot ondergrondse stad met 'n doeltreffende
metrostelsel ...
Tot 1970 was Montreal Kanada se spogstad. Dit was
'n finansiële en kulturele kern, 'n vervoerkruispunt en
voorste universiteitsentrum - 'n metropool wat selfs in
1976 die Olimpiese Spele kon aanbied.
Aan die stuur was 'n Engelssprekende sake-elite wat egter
hardnekkig voortgegaan het om die Franssprekende meerderheid
uit te sluit.
Weens n sterk moontlikheid van afskeiding
in die `70s het duisende Engelse padgegee en hul
geld, vaardighede en groot korporasies saamgeneem,'' vertel
dr. Benoit Trottier, n mediese dokter wat in Montreal
grootgeword het.
Vroeër was die Franse sterk Rooms-Katoliek.
Die Engelse sakelui het godsdiens ingespan om te
verseker dat ons in die geesteswetenskappe spesialiseer.
Só kon hul as minderheidsgroep die hef in die hand
hou. Toe
hul gaan moes die vakuum gevul word en Frans het Ekonomie
begint studeer. En was ons ontnugter om te sien dat godsdiens
só n politieke manipulerende instrument kon wees!
Vandag is talle kerke omskep tot nagklubs, woonstelle
en winkels. Kerkgangers
taan.
Montreal met sy groot Engelse bevolking is veel erger
geraak deur die uittog as Quebecstad, die administratiewe
setel, wat oorwegend Frans is.
Toronto het die Kanadese sakekern geword, maar
Montreal het nie beteuterd op n wonder bly wag nie
en hul aandag verskuif na markte in Amerika en Europa
met die blom van die wêreldhandel.
Deesdae fokus sakelui en politieke leiers op werkskepping
in veral die hoë-tegnologiese bedryf.
So het Bombardier eers sneeurytuie vervaardig,
maar het nou n waglys van drie jaar vir kleiner
passasiersvliegtuie.
Nortel Networks maak nie meer telefoonhandstukke
nie, maar is die wêreldleier in optiese internetskakelaars.
Dié voorspoed word gedryf deurdat Quebeckers gemaklik
voel oor hul identiteit.
Hul is Kanadese wat daarvan hou om Noord-Amerikaners
genoem te word, maar wat n Quebecois
wil wees, sal hul jou vertel.
Ons neem nie bloot uit Noord-Amerika en die ryk
beskawingsbronne van die Ou Wêreld nie. Ja,
ons put daaruit, maar doen ons eie ding.
Só vereis die noordelike klimaat byvoorbeeld gans
ander geboue en modes.
Oorgeplante Franse op n nuwe kontinent is
ons bloot net nie meer, sê Pascal de Luc, n
argitek.
Tydens n jaar se verblyf was ek verbaas oor
watter onderskeidende
Quebecois-kultuur
inderdaad bestaan - n ongewone bestuiwing van Europese
joie de vivre
en Noord-Amerikaanse invloede.
Digby die magtige St. Lawrencerivier
loop keisteenstrate verby van die oudste huise in Noord-Amerika.
Sewentien jaar voor Van Riebeeck se koms na die Kaap,
het Jacques Cartier 1 400 km die kontinent binne geseil
en hier n Indiaanse nedersetting genaamd Hochelaga
gevind. Hy
het na die heuwel waarom die stad gebou sou word verwys
as mont réal
(Frans vir mount royal) en van daar die naam
Montreal.
Mettertyd
het die Engelse bewind oorgeneem en veral Joodse, Italiaanse,
Chinese en Russiese immigrante het hul hier gevestig.
Dit gee n kosmopolitaanse gevoel aan hierdie
14de grootste metropool in Noord-Amerika oftewel die grootste
Franssprekende stad naas Parys.
Op buitelugverhoë, in parke en sale, maar veral
in die stegies en pleine naby die hawe, weerklink note
uit vreemde wêrelddele. Straatmusikante hou sy-aan-sy
konsert.
Feitlik orals is jy veilig. Selfs gure karakters sê excusez
moi' pleks van jou vreemd aan te kyk sou jy
per ongeluk teen hul stamp.
Langs die Rue Notre Dame is die Hotel de Ville, n
tipiese Franse stadsaal waar Charles de Gaulle op n
balkon sy bekende vive
le quebec libre-toespraak in 1967 gelewer het.
St. Denis en St. Laurent Boulevards is omsoom met bistros,
patisseries met uitstekende croissants en sypaadjie-kafees
soos Parys se St. Germain des Pres.
Somers is dit stampvol as Perrier gedrink word
teen die ondraaglike humiditeit.
Jy eet n crepe,
kyk hoe n straatkunstenaar die portret van n
kleuter afrond en groet wuiwende verliefdes op n
perdekoets met n bonjour.
En ja, die Quebeckers soen nes die Franse graag hul geliefdes
op straat.
Die ervaring is soos jy jou
n idilliese rendezvous
in Parys sou voorstel.
Maar
Montreal is gn kloon van die Franse hoofstad nie.
Greene Avenue en Sherbrooke Street in Wes-Montreal het
n tipiese Britse gevoel met hul pubs en Victoriaanse
geboue. Langs grastennisbane word op lowergroen rolbalbane
croquet gespeel.
In die Queen Elizabeth-hotel het John Lennon en Yoko Ono
in 1969 dae nie suite 1742 verlaat nie en Give Peace
a Chance opgeneem.
Montreal herinner Franse dan ook nie aan Parys
nie. Die
stad se strate loop nes die in New York in roostervorm.
Franse stede, nes Washington, DC, is ontwerp rondom
sirkels waar boulevards soos die speke van n wiel
na n as lei.
As vars sneeu soos bakpoeier winters onder jou voete op
straat kraak, is die talle, reuse boekwinkels net die
plek om tyd deur te bring. n Magdom koerante en
leesstof in Frans is te koop, maar ook heelwat van oraloor
die wêreld. Te kry uit Afrique
du Sud is Kentridges, Krogs, Coetzees, Mandelas en
Makebas. Vir
die gemiddelde Quebecker staan Franssprekende Wes-Afrika
egter voorop.
Quebeckers is gaande oor disse wat moeilik in Frankryk
of elders in Kanada te vinde is somtyds met goeie
rede. Hieronder
tel poutine,
n bord tjips met vleissous en gesmelte mozarella
bo-oor.
Tog is Kanadese cuisine ietwat van n oksimoron.
Ontbyt is groot en soos in Amerika kompleet met
wafels en esdoringsap (maple syrup) of bagels.
Varkpasteie met dik ertjiesop is tradisioneel, maar jy
sal waarskynlik dieselfde eet as in Londen of Kaapstad
dalk net minder skaapvleis.
Stap uit n restaurant en jy word gegroet met die
kenmerkende merci-bye!.
Die inwoners spring vaardig tussen hierdie
twee tale in n stad wat onderskeidelik deur Franse,
Engelse en Kanadese gebou is.
Celine Dion, n boorling van Montreal, verkies
Frans, maar snap die noodsaak van Engels en slaan gemaklik
oor soos die situasie dit vereis.
66 % van die 3,1 miljoen inwoners is Frans en slegs
15 % Engels.
CDs deur plaaslike kunstenaars word in toonvensters
saam met dié van sangers uit Frankryk uitgestal.
Daarna kom jy eers op Amerikaanse popmusiek af.
Om Franssprekend te wees beteken om die Quebeckse-kultuur
kerngesond te hou véél intenser as in die provinsies
met hul Brits-Amerikaanse kultuur.
Louise Beaudoin, die minister verantwoordelik vir
Quebec se taalhandves, was de hoenders in na Frankryk
se besluit dat vliegtuigloodse voortaan weens veiligheidsoorwegings
Engels sal praat met lugverkeerkontroleërs by Charles
de Gaulle in Parys.
Pasop vir die wêreldimperialisme van Engels!
het sy gewaarsku.
Haar klinkers, nes ander Franssprekende Quebeckers
sn, is kort en hard.
Iets soortgelyks aan die diepdonker klanke van
Frankofone in Wes-Afrika.
Op n Afrikaanse oor val dit baie vreemd.
Só het dit altoos vir my geklink of die moltreinbestuurder
vir St. Laurent Metrostasie aankondig as Sela
soos dit sal so wees in die Bybel.
In dieselfde maand as Beaudoin se uitspraak bevind
die Quebecse taalwaghond, die Commission
de Protection de la Langue Francaise, dat n
Montrealse winkeleienaar se Frans nie na wense is nie.
Hy word beveel om klasse by te woon of iemand te
huur wat vlot Frans is.
Ook handhaaf die Quebecse hooggeregshof die provinsiale
taalwet dat Frans die prominentste geset moet wees as
dit saam met Engels in advertensies verskyn.
Noodkennisgewings op moltreine verskyn meestal slegs in
Frans.
Stoptekens lees dikwels Arrêt!
of Arrêt/Stop.
"Even
in France, they don't have everything in French!"
sê Mary Smith, n student aan die Engelssprekende
McGill Universiteit.
Sy was nog nie in Frankryk nie.
Tog staan Kentucky Fried Chicken wat ook só in Frankryk
heet hier bekend as Poulet Fried Kentucky!
Ai-jai-jai. Jy
kon my met een van daai Kentucky-vere omtik.
Gn wonder soveel Engelse het hul goed gepak
nie. Weens
die taalbeleid vestig weinig Suid-Afrikaners hul in Quebec,
maar eerder in Vancouver of Toronto.
Oud-premier Pierre Trudeau, n federalis,
het geglo dat Kanadese eenheid swaarder weeg as streekbelange.
``My toetrede tot die politiek was tweeledig: om
seker te maak dat Quebec nie afskei van Kanada nie, en
om te verseker dat Kanada nie Quebec uitskuif nie,
het hy gesê.
In sy strewe om Quebec binne
Kanada te hou is daar aan Franssprekendes hoë regeringposte
gegee en is Engels én Frans as nasionale tale aanvaar.
Quebeckse
separatiste het die 1995-referendum net-net met n
halwe persentasiepunt verloor - 49,5 % het vir onafhanklikheid
gestem en 50,5 % daarteen.
Insiggewend is dat veel meer vir n verenigde Kanada
gestem het in 2000.
Glenn Clavier, n vertaler, verklaar dit as
volg: Die
meerderheid wat vyf jaar trug vir onafhanklikheid
gestem het was nie ten gunste van die afstigting van Quebec
nie, maar wel vir meer erkenning.
Hul wou dit klinkklaar stel:
Ons is anders as die res van Kanada en dit móét
erken word. Die doel is bereik.
Deesdae is Quebec n soort distinct
society.
Hierdie gebeure is nou verweef met reaksies teen
globalisering wêreldwyd. Daars Korsika, Noord-Italië,
Baskeie ... Serbië
wil selfs verder onderverdeel.
Oos-Duitsers verklaar sekere woonbuurte uitlandervry.
By byeenkomste van die Wêreldhandelsorganisasie
skiet die vonke. Die mensdom is bang hul verloor hul kulturele
identiteit.
Hul is meer kosmopolitaans, maar voel tog bedreig
daardeur. Daarom
n toenemende beheptheid met laer-trek vir volk en
taal, skryf Marieta van der Vyver onlangs.
Quebec het wel gekies om n lewenskragtige deel van
n groter Kanada te wees, maar die byna obsessiewe
beskerming van die eie is deel van Franssprekendes in
Quebec se lewer en longe.
Buitestaanders word nie sommer tot die kliek toegelaat
nie.
Dit is nie toevallig dat my hegste vriende in Montreal
nie n enkele gebore Quebecker ingesluit het nie.
Wel n patoloog uit Parys wat daar werk weens
beter werksgeleenthede, n Engelssprekende vertaler
uit Vancouver en n Romeense prokureur wat net voor
die val van Kommunisme vir Kanada bo Suid-Afrika verkies
het weens die geweldsituasie.
Dit is egter nie om dowe neute dat Franssprekendes
só onversetlik oor hul kultuur gewaak het nie.
Onderdrukking en diskriminasie deur Engelse was
volop.
Nes n versnit van Brit en Boer nie meer so
n bitter smaak in die mond laat as vroeër nie, is
dit ook die geval met vriendskappe en huwelike tussen
Engelssprekende en Franssprekende Quebeckers.
Dit blyk ook uit die 2000-referendum waar daar
politieke herrangskikkings plaasgevind het deurdat daar
buite talige partypolitiek tuistes gestem is.
Bepalend vir Quebec se sukses is of die Amerikaanse
ekonomie, waarvan dit grootliks afhanklik is, inderdaad
op die rand van n resessie staan.
Dit sal ook nodig wees om die provinsiale inkomstebelasting
in bedwang te hou.
Dit is die hoogste in Noord-Amerika en bemoeilik
die lok van ervare sakelui.
En dan is daar die nimmereindigende risiko van
afskeiding ...
Tog lyk die toekoms tans blink en soos die De Luc opmerk:
Hoe kan ons nie suksesvol wees nie? Die Quebecois
het reeds bewys hul is doelgerigte, harde werkers wat
bekwaam is en n professionele benadering tot dienslewering
volg. Boonop heg ons baie respek aan menseregte en is
objektiewer as ooit.
Met n titsel geluk kan dit nie anders as
dat Montreal die mas móét opkom nie.
doen.