McGregor. Vroeër mog ons nie na die buiteland gereis
het nie, hoewel die rand sterk was. Vandag is dit moontlik,
maar dikwels veels te duur.
Dat dít 'n rede is waarom dorpies in die Kaapse
binneland ontpop as naweekwegbreekplekke, betwyfel ek
nie. Nes die alombekende dorpies in die Britse platteland,
Provence in Frankryk en die Toskane in Italië,
wen nedersetting soos Barrydale, Stanford, Montagu,
én Greyton hier flink veld.
'n Spanperd is McGregor 19 km suid van Robertson en
twee uur se ry van Kaapstad af deur die wynlande.
Dis hier dat ek 'n vrou raakloop wat vir 'n naweek kom
uitspan het, maar jare later steeds hier woon. Nie dat
dit my verbaas nie, want ook ek het dit geniet om my
tyd hier te verspil.
Deur die jare het McGregor reeds die makers van viole,
teddiebere en uiteraard wyn gelok. Hier's antieke winkels,
menige geskiedkundige geboue, 'n kaktusplaas, koffiewinkels
en terracotta van hoë gehalte. Die kos is so lekker
dat jy wens jy kon soos 'n koei herkou.
Met sy leiwater, vrugteboorde, netjiese roosterplan
en goed bewaarde geskiedkundige huise word McGregor
beskou as een van die beste voorbeelde van 'n middel
19de-eeuse dorpie in die Wes-Kaap. Wit kothuise met
grasdakke en eenvoudige sygewels staan ingeryg langs
Georgiaanse dubbelverdiepinghuise.
Vir die eerste sowat halfeeu van sy bestaan het die
dorp Lady Grey geheet, na die vrou van sir George Grey,
die Kaapse goewerneur. Dit het egter verwarring met
die gelyknamige dorp in die Oos-Kaap veroorsaak en in
1903 is dit hernoem na eerwaarde A. McGregor.
McGregor het die laaste jare 'n blyplek geword vir aanhangers
van menige esoteriese/spirituele leefstyle en holistiese
maniere van heling. Leer, praktiseer of ervaar bloot
aromaterapie, meditasie, joga, Reiki, Shiatsu, Thai
Chi, terapeutiese danse, Sjamanisme en Afrika-dromwerksessies.
Die hartjie hiervan is die Temenos Retreat Centre in
die middel van die dorpie met sy kunsgalery, biblioteek,
asook bistro en café. Die kos hiér smaak
vorentoe.
Saligheid vir die sintuie is ook te vind in die Vrolikheid-natuurreservaat
met onder meer Kaapse grysbok, klipspringers, springbokke
en 180 voëlspesies. In Augustus en Oktober is die
reservaat van 2 004 ha oortrek met gous- en ander veldblomme.
Somermaande is dit buitengewoon warm en droog, terwyl
die winters nat en koud is. Vrolikheid kan langs die
Heron-staproete (3 km) of die daglange Rooikat (16,5
km) verken word.
'n Raps korter as die Rooikat is die Boesmankloof-voetslaanpad
(14 km) wat die stapper deur die Riviersonderend-berge
neem. Dié staproete strek in die rigting van
Greyton en begin by 'n punt sowat 12 km van McGregor,
genaamd Die Galg. Dit word só genoem omdat die
pad hier onverwags eindig. Dié cul de sac lei
deur tipiese fynbos waaronder talle proteas.
Ek kan dink dat die Kapenaars telkens na McGregor en
omstreke wil terugkeer.