Die fortagtige Hotel Lord Milner is die indrukwekkendste gebou
in Matjiesfontein. Net ná die bou daarvan in 1899 is dit as
uitkykpos en hospitaal vir Britse soldate gebruik. Matjiesfontin
is genoem na die riete wat gebruik word vir ``matjesgoed''
en groei langs die Baviaansrivier wat daar verby loop.
``OM,
CAS, OP, ND . . .'' lees die nommerplate van motors wat
só staan dat die peperboompies langs Matjiesfontein se enigste
straat hopelik 'n raps koelte sal gooi.
``Kom,
kom,'' gebied die pa van Kroonstad. ``Die huis is nog ver.''
Hul noenuur is verby. Dis tyd om aan te stoot. Nie dat daar
veel is om na uit te sien nie. Laingsburg is nog nie eens
verby nie en dis 'n skroeiwarm dag; g'n wolk in sig nie.
Hier
op die rand van die Groot Karoo is die reën alte taai om
te kom. Nietemin bot 'n paar bome in die tuin van
Tweedside Lodge.
Dié
Victoriaanse huis met 25 vertrekke was die eerste in Suid-Afrika
met elektrisiteit. Daar word daarop aanspraak gemaak dat
die langste private telefoonlyn in die Kolonie dit verbind
het met Tweedside Farm, 20 km suid langs die N1. Dié foon
is nou te sien in die bankmuseum straat-af.
Matjiesfontein
spog met talle ander eerstes. So was die dorpie ander vooruit
om sowel elektrisiteit as 'n rioolstelsel met water te hê.
Sou
dit onvanpas wees om te sê dit is ongelooflik dat die eerste
internasionale krieketwedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland
hier in die middel van nêrens gespeel is? Die destydse heer
en meester van
Matjiesfontein, Jimmy Logan, het twee toere van Lord Hawke
se spanne na Suid-Afrika gereël. Later het Logan betaal
vir die Suid-Afrikaanse span se toer na Engeland.
The
Laird's Arms, waar die dors geles kan word, is vol kiekies
van die krieketmal Logan, terwyl die meubels daarin van
die Marleybone Cricket Club by Lord's kom.
Dis
aan James Douglas Logan wat Matjiesfontein sy bestaan te
danke het. Voor sy koms in 1884 was dit vir ses jaar reeds
'n stopplek vir stoomtreine om water in te neem.
Nadat die Australiese skip waarop Logan was byna by Kaappunt
gesink het, het hy by Simonstad afgeklim, stasiemeester
van die pasvoltooide Kaapstad-stasie geword en is later
bevorder tot distrik-superintendent van die spoorweë tussen
die Heksrivier en Prince Albert Road. Omdat Matjiesfontein
sentraal geleë was vir sy werk, die droë Karoo-lug goed
was vir sy swak bors en hy die alleenreg ontvang het om
verversings op Matjiesfontein te verkoop, het die Logans
hul daar gevestig.
Daar
word vertel dat Logan, 'n knap sakeman, 'n fortuin gemaak
het deur kokend warm sop te verkoop. Voordat dit drinkbaar
was, het die trein vertrek, die sop is teruggegooi in die
pot en dit was gereed vir die volgende reisigers.
Mettertyd
het 'n dorpie aangegroei rondom Logan se Hotel Lord Milner
genoem na die Kaapse goewerneur. Logan was Kaapse parlementslid
en mense soos die sultan van Zanzibar en sir Randolph Churchill,
pa van Winston, het aangedoen by die landheer wat 100 000
ha rondom Matjiesfontein besit het. Met Logan se dood in
1920 was die Karoolug-mode iets van die verlede. Boonop
is die hoofpad verlê.
Die
Matjiesfonteindroom het gekwyn totdat die sakeman David
Rawdon die ganse nedersetting in 1968 van Logan se kleinseun
gekoop en die Hotel Lord Milner (twee sterre) heropen het.
Onlangs
het Transnet die pragtige stasiegebou opgeknap en 'n konferensiesentrum
ingerig.
|