voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


manchester

   
jens friis
     


Wat jy van Manchester gehoor het, is waar. Hoe nader ons stoom, hoe meer word die kleirooi pakhuise met stukkende vensters, verwaarloosde kanale, beton-oorweë. Trae, grys stroompies onderbreek soms die eentonige troshuisies. Dis Billy Elliot-wêreld kwadraat.
Die trein ruk. Iemand steier in die gangetjie.
``The fewer the facts, the stronger the opinion,'' het die oubaas oorkant my vroeër die middag gemor. ``Manchester is 'n stad wat mense leer ken sonder om ooit daar te kom.''
En dit ís so, want was dit nie vir regsnavorsing wat my hierheen gebring het nie, was Manchester vir seker ook nie op my reislys nie.
Tog het ek net versigtig my kop geknik. Hy het pas sy 80ste verjaardag gevier en was duidelik dik vir die holruggeryde rympie dat sy geboortestad sommersó is.
Elke dan en wan word Manchester immers aan sy kleinboetstatus herinner.
Nadat dié stad twee keer onsuksesvol gebie het vir die Olimpiese Spele, het Sebastian Coe opgemerk dat die wêreld net Londen ernstig sal opneem as Olimpiese stad.
Ook Manchester se bod om die Europese Sentrale Bank het gefaal. Engeland se nuwe nasionale stadion is aan Londen toegeken.
Tog was dit nie altyd so nie. In die 19de eeu was Engeland se provinsiale stede die dinamo's wat die land aangedryf het tot internasionale oorheersing. As kernpunt van die nywerheidsrevolusie het Manchester op sy dag met Londen, Parys en New York as een van die invloedrykste stede meegeding.
Deur produktiwiteit en gehalte te paar was Manchester aan die voorpunt van nywerheidswelvaart, maar dit is ook van die hardste getref weens buitelandse mededinging in die katoenbedryf. Die verbandhoudende metaal- en ingenieurswese het ook gely. Die kersie op die koek was die resessie van die jare tagtig. Spoedig was die stad berug om sy bendekultuur, dwelms, onwettige vuurwapens en werkloosheid.
Dit is nie om dowe neute nie dat Manchester in 1995 aangewys is as gasheer van die Statebondspele. Ten spyte van dekadensie het die stad teen die middel jare tagtig begin bruis met 'n byna roekelose energie. Redes was die vergroting van die lughawe, goedkoop geboue, die IT-bedryf en plaaslike musiekgroepe soos Simply Red en Oasis.
Die middestad moes grootliks herbou word ná 'n IRL-bom, en vele ander ontwikkelingsprojekte het gevolg. Daar is steeds leë pakhuise wat skouer skuur met pragtige Victoriaans-Gotiese geboue, maar die werkloosheidsyfer is byna soortgelyk as elders in Engeland. Weinige stede kan Manchester se opwindende nagklubs ewenaar. Naweek vir naweek is dit gepak met partygangers van Londen tot Amsterdam. Ook met die rolprentbedryf gaan dit voor die wind. Die gewilde TV-reeks Life, Love and everything else word byvoorbeeld daar geskiet.
Maande lank was die afwagting in Manchester reeds tasbaar vir die Statebondspele. Die meer as 5 000 atlete was verteenwoordigend van 'n derde van die wêreldbevolking. Hulle kom uit monargieë soos Jamaika en Swaziland tot republieke waaronder Indië en Sri Lanka.
Ons het in 1994 na die Spele teruggekeer en 11 medaljes in Victoria, Kanada, verower.
Die 2002-Spele was die grootste multi-dissiplinêre sportfees in Engeland sedert die 1984 Olimpiese Spele. Boonop is dit in dieselfde jaar as waarin koningin Elizabeth haar halfeeu op die troon vier. Buiten die sport sluit die kulturele program Zoeloe-danse, die Statebond-rolprentfees en 'n program van ``stedelike wêreldmusiek'' in.
Die kollig is op Sportcity waar 'n stadion vir 38 000 gebou is. Die Manchester City Football Club sal in 2003 hierheen verskuif.
Die hoofstad van Noord-Engeland met sy bevolking van 2,5 miljoen is reg vir 'n fees van sport. Nie sedert die Nywerheidsrevolusie was dit vir 'n paar dae só in die kollig nie.

sou jy gaan

  • Vervoer: Blitstreine neem jou van Manchester Piccadilly-stasie na Birmingham, Edinburgh of Glasgow. 'n Rit met Virgin Trains ( 08457 222 333, thetrainline.com) kos £20 van London Euston af. Vroeë besprekings loon. Só ook die geen-fieterjasie-vlugte van Bussy, Easyjet en Go. Die 13 km-treinrit van Manchester-lughawe na die middestad kos £2,20.
    Visum: Geen visum nodig nie, maar sorg vir genoeg geld in jou bankrekening en 'n paspoort.
  • Verblyf: Monroe's Bed and Breakfast ( 0161 236 0564) digby Piccadilly bied dubbelkamers teen £36.
    Die Jeughostel ( 0161 839 9960) oorkant die Museum of Science & Industry in Castlefield bied waarde vir geld teen ?13.
  • Te ete en drinke: Die Castle Pub langs Oldham Street bied nege soorte bier van die plaaslike Robinson's Brewery. Darbar (65 Wilmslow Road) het pryse gewen vir hul lams-kormas. Die vegan-geregte by die Manchester Buddhist Centre (16 Runer Street) in die Gay Village is onverbeterlik. Rusholme is dié plek vir goedkoop, goeie Indiese/Pakistanse restaurants.
  • Inligting: Die toerismekantoor ( 0161 234 3157, www.manchester.gov.uk/visitorcentre) is digby die stadsaal. City Life is die plaaslike ``What's On''-tydskrif.
  • Nie te mis nie: Die rolbalspele sal plaasvind in Heaton Park, die grootste munisipale park in Europa. Albert Square word oorheers deur die Victoriaans-Gotiese stadsaal met sy 84 m hoë toring. Die City Art Gallery is in 1824 ontwerp deur sir Charles Barry, die argitek van Londen se Parlementsgebou.
  • Enkele bepalende oomblikke in Manchester se geskiedenis:
    • Rutherford splits die eerste atoom (1919)
    • Emmaline Pankurst stig die Women's Social & Political Union (1903)
    • Wêreld se eerste passasierstrein na Liverpool (1830)
    • Kommunisme put uit Friedrich Engels se waarnemings van Manchester in The Condition of the Working Class in England (1844).
  • 'n Uur van Manchester af:
    • Sien perdewedrenne asook die dorpie Chester van 'n 3,2 km-sandsteenmuur wat die Romeine daarom gebou het.
    • West Yorkshire is Brönte-wêreld. Dis hier waar Charlotte, Emily en Anne hul klassieke verhale geskryf het by die Haworth-pastorie. Die dorp het top-teewinkels.
    • Buxton in Derbyshire is bekend om sy helende warmwaterbron.
    • Die Healey Dell-natuurreservaat naby Rochdale lê in 'n vallei met uitsonderlike rotsformasies en watervalle.


j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's