|
Lees dié as jy al ooit gewonder het waar Infanta
van weervoorspellingfaam presies lê.
Nie te lank gelede nie, ry ons deur die Rüens. Waarom
dit só heet is klinkklaar, want soos 'n skip op
'n onstuimige see lei my motor ons deur en oor die een
na die ander dal en heuwel.
Dié golwing van die landskap is toe te skryf aan
die talle riviere en strome se inkerwing deur die kalksteen
bo-op die oeroue gesteentes van die Malmesbury-groep,
skryf Willie en Sandra Olivier in hul Toergids vir Suid-Afrika.
Die grootste rivier in die omgewing is die Breë wat
mens by Malgas teëkom en verder volg tot by die mond
daarvan 40 km verder.
Tussen 1757 en 1894 was daar talle pontoorgange oor die
Breërivier en van 1830 af was daar ook 'n oorgang
by Malgas, 'n klein nedersetting aan die wesoewer van
die rivier. Vandag is dit die enigste oorblywende handgedrewe
pont in Suid-Afrika.
Met ons besoek is sake sleg. Ons moes wag totdat 'n tweede
motor opdaag en dit finansieel lewensvatbaar is om die
rivier oor te steek.
'n Vriend wat in hierdie geweste grootgeword het, waarsku
vooraf:``Onthou dis die April-skoolvakansie en dié
kusdorpies is die vakansieplek van menige Bolandse boer.
Desember kan hulle weens oesverpligtings nie vakansie
hou nie.''
Tog blyk blyplek geen probleem te wees nie. Ons kan kies
uit gastehuiskamers in Witsand met sy ongeskonde, lang
strande en veilige swemplek. Dis hier waar die Breërivier
sy water in die see stoot en een van dié hengelplekke
langs die Suid-Afrikaanse kus is.
Sebastianbaai by Witsand het die hoogste konsentrasie
suidelike noorkapperwalvisse in 'n enkele baai langs die
Suid-Afrikaanse kus, sê Xplore, die amptelik onderskryfde
reisgids van Satoer. Die walvistoring bied 'n goeie uitkykpunt
vir al die kuiermense wat tussen Junie en November van
heinde en ver kom om walvisse te kyk.
Langs Witsand is Port Beaufort wat in 1817 genoem is na
die graaf van Beaufort, pa van lord Charles Somerset.
In hierdie nedersetting het die handelsfirma Barry &
Nephews destyds flink geld gemaak.
Die firma se spesiaal geboude stoomskip, Kadie, het in
1859 vir die eerste keer op die Breërivier na Malgas
gevaar. In plaas daarvan om die veeleisende landroete
te gebruik, is goedere per skip van Kaapstad na Port Beaufort
gebring. Nadat oor die sandbanke by die riviermonding
gedryf is, het hulle die 48 km stroomop tot by Malgas
gevaar. In die volgende ses jaar het Kadie 120 vaarte
suksesvol voltooi totdat dit in 1865 op die rotse langs
die rivieroewer gestrand het.
Vandag kan jy nie glo dat so 'n groot boot in die Breërivier
tot by Malgas opgevaar het nie. In Port Beaufort herinner
haas net die grasdakkerkie wat Thomas Barry in 1849 gebou
het nog aan dié dorpie se eertydse welvaart.
En as jy soos ek nie geweet het waar is Infanta nie: dit
lê ook aan die mond van die Breërivier.
|