Tot ‘n 60 jaar gelede was g’neen in Lyon bewus daarvan dat twee
van die allerbelangrikste Romeinse erflatings juis in
hul stad te vinde was.
Was dit nie vir ‘n non nie, was dit dalk steeds
onbekend ...
Op ‘n dag het sy in hul kloostertuin gaan stap en iets
gesien wat uit plek gelyk het.
‘n Brokstuk van ‘n pilaar het net-net sy kop
uitgesteek bo die grond.
Spoedig sou argeoloë aankondig:
‘n Aansienlik deel is gevind
van antieke Lugdunum, die hoofstad van die Romeins-Galliese
streek waarheen Lyon se oorsprong en naam terug te vinde
is.
Die vernaamste vonds was die oorblyfsels van ‘n Romeinse
amfiteater met sitplek vir 10 700 en langsaan ‘n odeon
- ‘n soortgelyke,
maar kleiner teater wat veral gebruik is vir musiekuitvoerings
en voorlesings van gedigte.
Nes
vanmeleë word dit deesdae weer gebruik.
Veral Junies en Julies word die twee teaters
pal ingespan tydens die Nuits
de Fourvière, ‘n musiek- en teaterfees.
Die uitstekende Musée de la Civilisation Gallo-Romaine
vra om ‘n
besoek, selfs al stel jy nie juis belang in Romeinse-geskiedenis
nie (gesluit op Maandag en Dinsdae, R25).
In die dae van Augustus was Fourvière-heuwel oortrek
met tempels, baddens, teaters, winkels en ‘n forum.
Deesdae troon die Notre Dame Basilica oor wat
eens was. Gevleuelde leeus tot draakkoppe versier die besige, vanilla-kleurige
steenmure. Sedert
1896 klief sy vier torings deur die Lyonse lug.
Op dié heuwel hang die basilika snags helder
verlig ver bokant die stad nes die Tour Métallique –
‘n kleinerige Eiffel-toring uit 1893.
Laat-middag as die son Lyon rooi kleur is dit vanaf
die Basilika-esplanade duidelik waarom die Kelte hul
nedersetting na Lug, die God van Lig, genoem het.
As jy gelukkig is, is Mont Blanc selfs te sien
op ‘n helder dag.
Die maklikste manier om hier bo te kom is met ‘n funikulêre
karretjie (van 06:00 tot 22:00) van place Édouard Commette
in Oud-Lyon (R15).
Dis
hier in Vieux-Lyon op die bank van die Saône-rivier
dat ‘n 300 Renaissance huise staan – ‘n kwartier wat
net deur Venisië oortref word.
Die pragfasade van die St. Jean-katedraal is
‘n móét.
Restourasie aan Oud-Lyon het in die mid-1950’s begin.
‘n Wêrelderfenistitel is in 1998 toegeken hieraan
tesame met die aanliggende Fourvière-heuwel.
Die ononderbroke 2 000-jaar bewoning van die
area sedert die Gallo-Romeinse era het tot UNESCO gespreek.
Volgens die Lyonse inligtingskantoor het die ontdekking
van die oud-stad Lugdunum
nie net inwoners van Lyon anders na hul eie geskiedenis
laat kyk nie. Ook die wêreld kyk deesdae anders na Lyon wat vir baie bloot
‘n sakestad was.
Veral Amerikaanse en Japannese toeroperateurs
spesialiseer in UNESCO Wêrelderfenisgebiede. Lyon se
hotelbesettingsyfer het van 25 % tot meer as 50 % gegroei
in die afgelope dekade.
En al dié besoekers kom grawe verseker nie slegs na
die antieke wortels van Lyon nie.
Hul kom ook éét. Lyon is immers die Gastronomiese Hoofstad van die wêreld.
Daaroor meer ‘n ander keer.