voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


die prinsdom van liechtenstein

   
jens friis
     

Dit is nie verbasend dat die meeste van ons maar weinig weet oor Liechtenstein.  As een van die kleinste landjies ter wêreld is dit 6,5 x 24 km groot.   Mid-2002 is daar geraam dat hier slegs 32 842 mense woon waarvan 38 % buitelanders is.  
Ten spyte van Liechtenstein se grootte kan drie geografiese areas onderskei word:  ‘n riviervallei in die weste wat grens aan Switserland, die voetheuwels van die Oostenrykse Tiroolste Alpe in die suidooste en die noordelike gelyker dele.   
So wat kan Liechtenstein aan die besoeker bied?  Rondkyk hoogtepunte is min.  Baie toeriste kom na Liechtenstein bloot vir ‘n stempel in ‘n paspoort en ‘n seël vir ‘n poskaart om huis toe te stuur.  
In die die hoofstad Vaduz (met sy 5 100 inwoners) is die Briefmarkenmuseum (Posseëlmuseum) dan ook ‘n hoogtepunt met ‘n wye versameling plaaslike seëls wat na 1912 terugdateer.
Terwyl jy Vaduz verken mag jy sin hê in die Liechtensteinische Landesmuseum (die Nasionale Museum), Ski-museum, en die Staatliche Kunstsammlungen (Staatskunsversameling) met werke van onder meer Rubens.  Laasgenoemde is oorkant die toeristekantoor  (Städtle Strasse 37).
Die Prins van Liechtenstein is een van die enigste monarge wat nog in ‘n kasteel woon.  Dele van Schloss Vaduz dateer uit die 12de eeu, alhoewel dit grootliks herbou is in die 16de eeu.  Sy tuiste is nie oop vir die publiek nie, maar hier van die heuwel is daar ‘n goeie uitsig op Vaduz. 
Suidoos van die hoofstad lê Triesenberg met goeie staproetes en ‘n uitsig oor die Rheintal.  Winters is Malbun die gewildste ski-oord in Liechtenstein.
Alhoewel Liechtenstein dus ‘n wegbreek bied van bestemmings wat deur toeriste oorstroom word, bied dit ‘n insiggewende blik op ‘n vermenging van gevorderde feudalisme en ‘n moderne konstitusionele demokrasie.  
Die prinsdom van Liechtenstein is binne die Heilige Romeinse Ryk gevorm in 1719 en het ‘n onafhanklike stat geword in 1806.  ‘n Moderne grondwet is daargestel in 1921, maar volgens die letter van die wet behou die prins vandag nog die mag om die regering te ontbind en moet elke wet goedgekeur.  In die praktyk kombineer hierdie demokratiese monargie egter ekonomiese voorspoed met politieke vryhede waarop burgers van menige land jaloers sal wees. 

Prins Franz Josef II, een van die rykste mense ter wêreld, was die eerste om in die kasteel bo Vaduz te woon. Hy is na ‘n heerskappy van 51 jaar in 1989 oorlede.  Sy seun en opvolger, prins Hans-Adam II, beywer hom tans vir grondwetlike hervorming wat sy magte sal beperk. 

In velerlei opsig is Liechtenstein en Switserland een.  Die Switserse Frank is die geldeenheid hier.  Switserland verteenwoordig Liechtenstein in die buiteland.  Dieselfde reisdokumente geld en die enigste grenskontrole is met die Oostenrykse grens. 
Tog strek hierdie noue band maar terug na 1923.  Vooraf was daar ‘n soortgelyke handels- en monitêre-ooreenkoms met Oostenryk-Hongarye, maar die ekonomiese verwoesting daar het Liechtenstein genoop om hul na Switserland te wend.
In die Tweede Wêreldoorlog het Liechtenstein neutral gebly nes in die Eerste.  Nietemin is dit nie beset nie, alhoewel die Liechtensteinse weermag (van 80 man!) reeds in 1868 ontbind is.  
Ten spyte van sy grootte en beperkte natuurlike hulpbronne het Liechtenstein ontwikkel tot ‘n hoogs geïndustrialiseerde, vryemark ekonomie met ‘n lewende ekonomiese-diens-sektor.
Lewenstandaarde is van dié hoogste.  Liechtenstein het ‘n werkloosheidsyfer van slegs 1,8 %.  ‘n Werkloosheidsyfer van slegs 1,8 % , ‘n lewensverwagting van byna 76 jaar en ‘n geletterdheidsyfer van 100 % spreek boekdele.
Dit is toe te skryf aan plaaslike industrieë en veral lae belasting wat sedert die 1950’s vir uitsonderlike ekonomiese groei gesorg het.   Lae besigheidsbelasting van hoogstens 18 % en maklik inkorporeerbare reels het daartoe gelei dat 73 700 finansiële instellings (veral “letter box companies”) kantoortjies hier het.  Dit verskaf sowat ‘n derde van die staat se inkomste.  
Tekortkomings in bankregulasies het egter tot kommer gelei oor ernstige vorme van geldwassery.  Sedert 2001 is die kanse hiervoor egter skraler weens streng wetgewing wat deurgevoer is en verbeterde regssamewerking met ander lande. 
Anders as Switserland het Liechtenstein ‘n lid geword van die Verenigde Nasies (1990) en in 1995 van die Europese Ekonomiese Area (EEA). Die regering werk daaraan om sy ekonomiese beleide te harmoniseer met dié van die Europese Unie.  Nietemin is onwaarskynlikheid dat Liechtenstein binne die afsienbare toekoms deel sal word hiervan. 
Sou jy ‘n draai wou maak in Liechtenstein is dit die vinnigste om ‘n vlug te neem vanaf Suid-Afrika na Flughafen Zürich.  Per trein is dit 130 km na die dorpe Sargans of Buchs van waar publieke busse gereeld die grens oorsteek na Liechtenstein.  Let wel dat daar nie busse laat saans in Liechtenstein is nie.  So is die laaste een tussen Vaduz en die ski-oord Malbum om 18:20 (35 minute).
 

dit & dat

  • Internet-afkorting:  .li

  • Geografiese koördinate:  47 10 N, 9 32 O

  • Tydsone:  Sentraal-Europese nes Suid-Afrika

  • Taal:  Switserse-Duits oorwegend

  • Godsdiens:  80 % Katoliek

  • Lengte van grense:  Oostenryk 35 km, Switserland 41 km

  • Spoorwee:  18,5 km

  • Teerpaaie:  250 km

  • Klimaat:  Koue, nat winters (selde onder – 10 ºC) met gereelde sneeu of reën.  Gemagtigde, drukkende somers (hoogstens 30 ºC) met baie wolke.  Reënval per jaar tussen 1 050 en 1 200 mm.

  • Bo seespieël:  Ruggeller Riet 430 m (laagste) en Grauspitz 2599 m (hoogste)

  • Geboortesyfer:  11,24 / 1 000

  • Sterftesyfer:  6,76 / 1 000

  • Industrieë:  Keramiek, tekstiel, elektronika, metaalvervaardiging, farmaseties, toerisme. 

  • Liechtenstein Toerismekantoor:  Posbus 139, FL-9490 Liechtenstein. 

  • Telefoonkode:  423 (land) – weens die grootte is daar nie aparte kodes vir dorpe nie.    

  • Vir 2003 raam die regering dat 23,8 nuwe poste geskep moet word wat die staatsadministrasie tot 708 sal vergroot.

  • Vlag:  Twee horisontale strepe blou (bo) en rooi met ‘n goue kroon daarop.  


j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's