Kort voor my terugkeer na Suid-Afrika is daar ‘n dag
se rondry oor op my EuroRail-kaartjie.
En só gebeur dit toe dat ek ‘n trein neem na
Friesland.
Vir my ‘n nuwe bestemming wat boonop naby genoeg
is sodat ek die aand terug kan wees in Amsterdam.
Eintlik sou ek eerder ‘n raps verder wou ry.
Dis daar rondom die grens tussen Denemarke en
Duitsland wat my voorsate vandaan kom.
Om meer presies te wees:
Sleeswyk-Holstein waarvan jy altoos geleer het
in matriek-geskiedenis.
Die WAT definieer ‘n “Fries” dan ook só:
“Lid van ‘n Wes-Germaanse stam van voorhistoriese
tyd af a/d Noordseekus, tussen die Vlie en die Eems
aangetref is en nou nog as nasionale minderheid in Nederland,
Duitsland en Denemarke woon.”
Uit my van is die wortels van dié streek steeds sigbaar.
Friis beteken blykbaar fris/vars en sou ek kon
sê: so
vars soos ‘n lentebries kom die Friese saam met my op
die trein voor.
Mooi mense.
Lang mense.
Deur die bank met blonde hare en blou oge.
Buitelanders is hier min.
Deur die Ijsselmeer (vroeër Suidersee) is Friesland
aanvanklik van die res van Nederland afgesny.
Dié isolasie van die groot Hollandse stede is
eers werklik in 1932 verbreek met die opening van die
Afluitdijk in 1932.
Deesdae is daar vanaf Amsterdam elke uur treine
na Leeuwarden (sowat R180, twee ure) of neem bus No.
350 vanaf Alkmaar oor die Afsluitdijk.
Het Noorden des Lands heet die provinsies Friesland,
Groningen en die Frisiese-eilande in Nederland.
Selfs vir die meeste Nederlanders is die provinsie
Friesland ‘n raps “anders” as die res van die land.
Hier het die mense hul eie vlag, eie volkslied
en taal – Frysk (Fries).
Fries is ‘n selfstandige taal, maar met mooiluister
is dit nes Nederlands tog moontlik om te volg.
Dis ‘n lewende taal met ‘n eie letterkunde en
koerantwese. Gedurende
die afgelope paar jaar is die posisie hiervan ook op
beduidende wyse deur wetgewing versterk.
Weens hierdie bewustheid van hul identiteit is
die provinsie se naam ‘n dekade gelede amptelik verander
van Friesland na Fryslân (soos dit gespel word in Frysk).
“Ljouwert” dui die bordjies in die rigting van
dié provinsie se hoofstad wat altyd grootliks outonoom
bedryf is. So
het die Friese landadel veel langer as in Holland voortgegaan
om ‘n aktiewe deel in die bestuur van hul provinsie
te speel.
As ekonomiese en kulturele provinsiestad
hang daar ‘n sfeer van trotse onafhanklikheidoor Leeuwarden
wat uit die 15de eeu dateer.
Regionalisme
staan sterk. Die
atmosfeer is ingetoe, gedemp, effens kil.
By die Neo-Gotiese Sint Bonifatiuskerk
beduie twee oue omies vir my na die Fries Museum.
As baken gebruik hul ‘n
nuwe kantoorgebou van oor die 10 verdiepings.
Ek stap deur verlate straatjies, oor skoon kanale,
verby dakvenstertjies op spits dakke, die Wilhelminaplein
... Die
17de eeuse Princesshof is ‘n woning versier met sware
sierpleisterwerk met ‘n leeu op die gewel – deesdae
‘n porseleinmuseum.
Om ‘n draai wag ‘n koei ter ere van die Friese
suiwelboerdery.
Friesbeestelers is dol oor dié swartbont melkbeeste
omdat hul melk so ryk is aan bottervet.
By die
Friese museum word ‘n uitstalling gewy aan dalk Leeuwarden
se bekendste boorling, Margarethe Geertruida Zelle.
Dis in werklikheid die ware naam van Mata Hari,
die Oosterse danseres wat in 1917 tydens die Eerste
Wêreldoorlog tereggestel is deur die Franse omdat sy
‘n vermeende spioen was vir die Duitsers.
“Die Mata Hari-uitstalling is ‘n baie nuwe toevoeging,
moontlik met die oog op rolprent en televisiebewuste
moderne besoekers met minder belangstelling in die friese
adel, silwersmeewerk en volksdrag, en verder miskien
ook as gebaar in die rigting van die feminisme,” skryf
Karel Schoeman in Stamland (1999).
“(Dis) ‘n karige uitstalling waar verband soms
op vindingryke wyse getrek moet word deur beligting
en ‘n parfuumflessie wat aan haar behoort het."
En so voel ek grootliks ook oor Leeuwarden.
My kuiertjie was wel kort, maar as toerismebestemming
het dit ietwat min om die lyf.
Laat staan om hierheen te kom tensy jy lank kuier
in Nederland.
Jy kom hierheen om ‘n ander deel van hierdie
platte land te sien.
En wie weet – dalk is jou indrukke gunstiger
as myne bloot deur laer verwagtinge te koester.
Ten minste het daar iets goeds vir my uit dié daguitstappie
gevloei. My
(absurde?) onsekerheid of ek enige verwantskap met Friesland
gaan voel is geles.
104 jaar gelede is te lank wat my voorsate hul
wortels daar uitgetrek het óf dit lyk dalk gans anders
‘n raps noordoos in Sleeswyk-Holstein waar hul ware
tuiste was.