Fifth
Avenue in New York lyk deesdae weinig anders as die
Paryse Champs-Elysées, Londense Carnaby Street
of Kürfurstendam in Berlyn. Die wêreld word
klein. Die winkels dieselfde.
Armani tot Prada gebruik "Milaan. Parys. New York.
Londen" onder-aan hul minimalistiese advertensie.
Dit spréék tot klante - meer as 'n duisend
woorde: As húl my klere koop, behoort jý
ook. Globalisering laat sy merk.
Met al die verwikkelings die afgelope jare het Kaapstadse
Langstraat egter eie aan homself gebly - selfs meer
onderskeidend geword. Dis nie oraloor waar pekelvis,
varkore (blomme) en pekanneute feitlik langs mekaar
staan nie.
Een hoogsomeroggend bevaar ek Langstraat soos soveel
maal tevore in my Kaapstaddae. Steeds is dit 'n láng
straat met nimmereindigende verrassings en met mense
wat die tapisserie van ons land weerspieël. Dit
bly 'n lewenskragtige aar van die groter geheel.
By een van die menige boekwinkels glip ek in. Tweedehands
en deurmekaar, maar met orde in die chaos. Iemand weet
presies waar's daai Dostojweski of Brink waarna jy vra.
Buite struikel ek so byna op die sypaadjie. Dis oor
'n ongeskeerde vent wat daar so wydsbeen sit. Voor hom
is 'n tiental stukkies karton uitgepak met Bybeltekste.
Hy prewel iets. Verskuif wéér 'n teks
op die sement. Selfs toe 'n paar manne op bulderende
ysterperde verbyskiet, kyk hy nie op nie. Die rus is
altyd elders.
In die venster van 'n tuisnywerheid blom 'n lelie uitbundig.
Dis hier waar ek 'n paar bessierooi rissies koop en
so ook 'n bottel deurskynende waatlemoenstukke. Die
groene stukke kan smelt in die mond - sag van binne,
maar stewig buite.
Blomverkoper Nadeem verkoop handevol rose oorkant die
Long Street Antique Arcade. Hierdie
Europese-styl arkade het 17 winkels wat spesialiseer
in antieke stukke. Deesdae is dit ook moontlik om hier
koffie te drink, maar ek is nog nie té dors nie
en stryk aan.
Op die allerboonste balkon van 'n Victoriaanse gebou
het 'n paartjie soveel pret as wat hul kan hê
met hul klere aan.
'n Witkop tannie stap voetjie vir voetjie die Pan African
Market in en verdwyn tussen rakke krale- en draadwerk.
Aladdin sou hier kon tuisvoel. Die plek is tot oorlopens
vol maskers, beeldhouwerk en houtbakke só pure
Afrika.
Na die mark se gewoel voel Long Street Café soos
'n sirene oase. By die tafel langsaan gesels 'n vrou
in 'n somber gitswart jak op haar selfoon. Haar hare
ruik na sjampoo. Oorkant haar sit 'n ellelange man met
'n moustache en kreukeltrae hemp. Die koffie is verruklik.
Die laaste bestemming van die oggend is Long Street
Baths wat in 1908 geopen is.
"Die Turkse stoombad het 20 jaar later gevolg.
Eers was 'n veldtog nodig deur raadslid Sam Goldstein
wat geglo het dat geen modernste stad sonder só
'n fasiliteit mag wees nie," vertel Abdullah Moosa
wat reeds vir jare by die swembad werk.
Selfs na 'n uitgebreide restourasieprojek in die mid-1980's
het die Long Street Baths hul eertydse karakter behou.
Jy kan steeds jou eie hokkie met bed daarin kry. So
ook 'n wit handdoek om óm jou te draai vir 'n
sweetsessie in die sauna. Die baddens is vir mans en
vroue op verskillende tye oop.
En dis hier oorkant die baddens wat Langstraat eindig
en oorgaan in Kloofstraat. Moenie soos ek as Kaapstad-groentjie
by dié Oranjestraat-verkeerslig probeer indraai
na Langstraat nie. Dit 'n eenrigtingstraat waarin alle
verkeer suid ry - nie noord nie.