voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


elke stad het sy straat -
langstraat, kaapstad

   
jens friis
     

  

Fifth Avenue in New York lyk deesdae weinig anders as die Paryse Champs-Elysées, Londense Carnaby Street of Kürfurstendam in Berlyn. Die wêreld word klein. Die winkels dieselfde.
Armani tot Prada gebruik "Milaan. Parys. New York. Londen" onder-aan hul minimalistiese advertensie. Dit spréék tot klante - meer as 'n duisend woorde: As húl my klere koop, behoort jý ook. Globalisering laat sy merk.
Met al die verwikkelings die afgelope jare het Kaapstadse Langstraat egter eie aan homself gebly - selfs meer onderskeidend geword. Dis nie oraloor waar pekelvis, varkore (blomme) en pekanneute feitlik langs mekaar staan nie.
Een hoogsomeroggend bevaar ek Langstraat soos soveel maal tevore in my Kaapstaddae. Steeds is dit 'n láng straat met nimmereindigende verrassings en met mense wat die tapisserie van ons land weerspieël. Dit bly 'n lewenskragtige aar van die groter geheel.
By een van die menige boekwinkels glip ek in. Tweedehands en deurmekaar, maar met orde in die chaos. Iemand weet presies waar's daai Dostojweski of Brink waarna jy vra.
Buite struikel ek so byna op die sypaadjie. Dis oor 'n ongeskeerde vent wat daar so wydsbeen sit. Voor hom is 'n tiental stukkies karton uitgepak met Bybeltekste. Hy prewel iets. Verskuif wéér 'n teks op die sement. Selfs toe 'n paar manne op bulderende ysterperde verbyskiet, kyk hy nie op nie. Die rus is altyd elders.
In die venster van 'n tuisnywerheid blom 'n lelie uitbundig. Dis hier waar ek 'n paar bessierooi rissies koop en so ook 'n bottel deurskynende waatlemoenstukke. Die groene stukke kan smelt in die mond - sag van binne, maar stewig buite.
Blomverkoper Nadeem verkoop handevol rose oorkant die Long Street Antique Arcade. Hierdie
Europese-styl arkade het 17 winkels wat spesialiseer in antieke stukke. Deesdae is dit ook moontlik om hier koffie te drink, maar ek is nog nie té dors nie en stryk aan.
Op die allerboonste balkon van 'n Victoriaanse gebou het 'n paartjie soveel pret as wat hul kan hê met hul klere aan.
'n Witkop tannie stap voetjie vir voetjie die Pan African Market in en verdwyn tussen rakke krale- en draadwerk. Aladdin sou hier kon tuisvoel. Die plek is tot oorlopens vol maskers, beeldhouwerk en houtbakke só pure Afrika.
Na die mark se gewoel voel Long Street Café soos 'n sirene oase. By die tafel langsaan gesels 'n vrou in 'n somber gitswart jak op haar selfoon. Haar hare ruik na sjampoo. Oorkant haar sit 'n ellelange man met 'n moustache en kreukeltrae hemp. Die koffie is verruklik.
Die laaste bestemming van die oggend is Long Street Baths wat in 1908 geopen is.
"Die Turkse stoombad het 20 jaar later gevolg. Eers was 'n veldtog nodig deur raadslid Sam Goldstein wat geglo het dat geen modernste stad sonder só 'n fasiliteit mag wees nie," vertel Abdullah Moosa wat reeds vir jare by die swembad werk.
Selfs na 'n uitgebreide restourasieprojek in die mid-1980's het die Long Street Baths hul eertydse karakter behou. Jy kan steeds jou eie hokkie met bed daarin kry. So ook 'n wit handdoek om óm jou te draai vir 'n sweetsessie in die sauna. Die baddens is vir mans en vroue op verskillende tye oop.
En dis hier oorkant die baddens wat Langstraat eindig en oorgaan in Kloofstraat. Moenie soos ek as Kaapstad-groentjie by dié Oranjestraat-verkeerslig probeer indraai na Langstraat nie. Dit 'n eenrigtingstraat waarin alle verkeer suid ry - nie noord nie.

  


j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's