|
Ek’s
in Innsbruck se treinstasie op soek na VVT-kaartjies,
want openbare vervoer is daarmee aansienlik goedkoper
in die provinsie Tirol.
Dis skofruiltyd en die kaartjieverkopers wat moet
oorneem kan hulself slegs met moeite deur die menigtes
wring.
Oostenryk (Österreich) floreer op toerisme.
Die ryk kulturele erfenis, wintersport en indrukwekende
natuurskoon is moeilik te klop.
Gevolglik is vooraf besprekings ‘n móét in Julie/Augustus,
asook rondom Kers- en Paasfees.
Dis dan ook nie anders in Innsbruck nie.
Na Wenen en dán na Salzburg sal gesaghebbende reisgidse
jou aanraai om te gaan as jy net ‘n dag of vier in Oostenryk
kan wees. Innsbruck
is gewoonlik derde op dié lys.
Anders as Wenen waarheen die gemiddelde Wes-Europese
toeris ‘n spesiale rit oos moet onderneem is Innsbruck
veel meer sentraal geleë.
Dis makliker bereikbaar, want hier tussen die Alpe
in die noorde en die Tuxer-bergreeks is dit digby die
grense tot Duitsland, Italië, Liechtenstein en Switersland.
Innsbruck was dan ook ‘n belangrike handelspos
sedert die 12de eeu danksy die Brennerpas, die toegangsroete
tot die suide.
Die Habsburgers het talle imposante geboue in Innsbruck
opgerig waarvan vele feitlik ongeskonde bewaar gebly het
in die ou-stad (Altstadt).
Meer onlangs het dié hoofstad van Tirol ‘n belangrike
wintersportsetel geword waar die Winter Olimpiese Spele
in 1964 en 1976 aangebied is.
Na Kitzbühel en Lienz – dalk die bekendste ski-oorde
in die omgewing – is daar gereelde treine vanaf Innsbruck.
Twee-derdes van Oostenryk is die ene berge, maar
die provinsie Tirol (soms gespel Tyrol) het gewis van
die indrukwekkendste berglandskappe in Oostenryk.
Die Grossglockner (3 797 m), Oostenryk se hoogste
berg, toring oor die 10km-lange Pasterze-gletser in die
Hohe Tauern Nasionale Park.
‘n Goeie uitkykpunt is vanaf Franz Josefs Höhe
waarheen ‘n Bundesbus gereeld vertrek vanaf Lienz tydens
hoogsomer. Tussen
Mei en November word motors wel toegelaat, maar sware
tolgeld word geëis.
Vir stappers en fietsryers kos dit niks.
Hoofweg 107 oftewel die Grossglockner Hochalpenstrasse
lei deur prag natuur.
In die noorde van die park is die Krimi-waterval
waar die water drie keer oor rotslyste tuimel.
In die dorpe rondom die park dra die Tirolers nog
soms tradisionele drag, is 80 %
Katoliek en word Duits gepraat.
Grüss Gott en Auf Wiedersehen is
die algemene groetvorme.
Engels word wyd verstaan.
Op pad na ‘n gastehuis (waarvan daar vele is) stap ek
verby dowwe graffiti wat Jörg Haider aanprys.
Oostenryk het in 2000 polities geïsoleer geword
nadat ‘n koalisie-regering gevorm is met verregse elemente.
Haider, die Vryheidsparty-leier, het berug geword
vir sy pro-Nazi-uitlatings en selfs na sy bedanking is
die wêreld nog effens lugtig vir wat hul glo in Oostenryk
kan broei.
Nietemin weet Oostenrykers aan watter kant hul brood gebotter
is. Toeriste
is welkom ongeag of hul blou oë en blonde hare het.
Pas aangekom in Innsbruck is dit goed om die 14de
eeuse Stadtturm-toring in dié dorp van 111 000 uit te
klim. Te
sien hiervandaan is die Dom (katedraal) met ‘n tipiese
oordadige barok interieur.
‘n Klipgooi daarvandaan is die Goldenes Dachl (Goue
Dak) wat bestaan uit 2 657 vergulde koperteëls wat terugdateer
na die 16de eeu.
Noord van die Inn-rivier is die dieretuin met ‘n
wye verskeidenheid diere uit die Alpe.
Dis onnodig om die heuwel daarheen aan te durf,
want sou jy ‘n dieretuin-kaartjie koop by die Hungerburgbahn-stasie
is die rit daarheen ingesluit.
Vra die Innsbruckse toerismekantoor (Burggraben 3) vir
‘n Club Innsbruck-lidmaatskap.
Dit is verniet en bied menige afslag.
Die toerismekantoor doen ook akkommodasie-besprekings.
Om te eet bied die Universiteit Mensa (Herzog Siegmund
Ufer 15) grote middagetes wat goeie waarde vir geld bied.
Die glaswerk van die Swarovski Kristallwelten is
beslis ‘n besoek werd, maar die Schloss Ambras en die
Hofburg net as jy heelwat vrye tyd het.
Die Schönbrunn in Wenen is veel indrukwekkender.
Vanaf Salzburg is daar elke twee uur ‘n sneltrein
na Innsbruck (2 ure).
‘n Gewone trein neem drie en ‘n half uur vanaf
Verona. München
is 2 uur naby. Ook
‘n poort tot Tirol is die Innsbrucks internasionale lughawe.
|