voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


haight-ashbury - dié hippie-heimat

   
jens friis
     

"Die sestigerjare was natuurlik die slegste tyd denkbaar om ‘n kind groot te maak. Almal was blootgestel aan hierdie malligheid wat aan die gang was."

- Nancy Reagan, Amerikaanse presidentsvrou, 8 November 1981.

Destyds het ek nie dae aaneen wierook gebrand by ‘n lavalamp terwyl Jimi Hendrix en Donovan op die agtergrond draai nie. Van Kambodja het ek niks geweet nie en my modesmaak is nie aan bande gelê omdat g’n bell bottom na my sin in Bloemfontein te kry was nie. Ek is immers eers in 1973 gebore. Nietemin was ek met ‘n onlangse kuier in San Francisco vinniger as wat jy ‘n Volkswagen-kewer kan spuitverf in Haight-Ashbury. Selfs al het ek nie deel gehad aan die geëmansipeerde 60’s en 70’s nie was hierdie woonbuurt darem die tuiste van die Grateful Dead and the Well, Lucas-films, Janis Joplin, die Fillmore East ...

In dié mekka van seuns en dogters wat vanmeleë sin gehad het in beatmusiek en hasjisj word daar deesdae handelgedryf met dié hippie-kultuur. Die Hippie-Era het ‘n geïnstitusionaliseerde deel van San Francisco se verlede geword - een van die bepalende momente van die stadsgeskiedenis, saam met die goudstormloop en die 1906-aardbewing.

Daar is boeke. Daar is staptogte. Selfs in kunsgalerye, soos die argitektonies-treffende, nuwe San Francisco Museum of Modern Art, word gereeld plek daarvoor afgestaan.

Watter antagonisme hierdie hippie-subkultuur in ‘n behoudende Suid-Afrika sou veroorsaak het besef ek kort voor my besoek weer met die lees van W.E.G. Louw se So Ver as ‘n Engel te Perd kan Ry (1969). Tóé was Suid-Afrika immers ‘n gans ander wêreld en Louw se lewensuitkyk wat vandag boekdele spreek is nie net deur hom gedeel nie. 

Met ‘n Kerkbode-onderhoud was Louw besig toe die nuus breek van die skokkende moord op dr. Verwoerd. Enkele dae later reis hy en sy vrou, Rosa, na Europa. 

Anders as Boerseuns praat die Engelse wat hul daar teëkom met "sulke stywe lippe." Louw-hulle loop "twee bekendes uit die Kaap: ds. en mev. Brand ..." raak. "Mevrou lyk soos ‘n fleurige Duitse meisie in haar rokkie wat byna soos ‘n volksdrag lyk." 

Dit terwyl die mensdom lustig kou aan die neologisme "bobbelgom" (sic!). Ook met die "beeldradio" maak Louw kennis, maar hierin het hy nie veel sin nie en wonder of die "rekenoutomaat" ons nog gaan oorheers. Die eerste mens loop op die maan, dokters plant harte oor, laser word ontwikkel ...

"Make love, not war" sê almal, maar weinig luister. daar’s oorlog in Viëtnam, Jemen, Rhodesië, tussen Arabiese state en Israel. In Jemen. In Rhodesië. John F. Kennedy en Martin Luther King sterf in sluipmoorde.

Jongmense met Beatle-lokke is orals te siene: "Af en toe wonderaarsel jy: is dit nou ‘n man of ‘n vrou? Behalwe as daar ‘n baardjie onderaan die ken is, of as jy die donker skynsel langs die geskeerde wange opmerk." Ook sou Louw in sy omswerwinge talle meisies raakloop met mini-rompies en mans met skouerlengte hare, ongeskeerde gesigte, geborduurde hemde en breë, helder dasse. 

Tog sou hierdie konsentrasie meisies en seuns met fluite en kitare, ringe, serpe en kettings niks wees in vergelyking met dié in Haight-Ashburgy, San Francisco, nie. Veral hiér is konvensionele grense na willekeur oorgesteek 

Tom Wolfe se Electric Kool-Aid Acid Test is oral te kry in boekwinkels langs Polk Street. Diegene op ‘n pelgrimstog deur Haight sal ook baat by die bekende Test Your Countercultural Literacy. Forever After Books is net die plek om te soek na die obskure en om te loer na die kennisgewingbord vir gebeure van belang vir sosiale aktiviste. 

By die ingang na die Golden Gate Park ontmoet ek om 09:30 Gary Ehrke, die toerleier van die Flower Power-staptoer, en twee Bostonse hulpbronbewaringstudente van rondom neëntien. Hul wil meer sien van Haight-Ashbury, "want die 60’s was ‘n belangrike tydvak."

In 1967 het Ehrke na San Francisco gekom nadat hy by ‘n universiteit in Nevada opgeskop het (dalk "uitgeskop is"?) en in Haight-Ashbury het hy saam met der duisende ander blommekinders ‘n tuiste gevind. 

"Jy kon hier in jou kar woon of ‘n woonstel huur met vyf ander vir $15 per maand en só deel wees van die "scene". Deur op ‘n "alleenlik kontant"-basis te werk kon belasting vrygespring word." Deesdae werk hy aan kuns-, teater- en musiekprojekte en probeer geldmaak uit die 60’s en 70’s.

Sy toer neem ons verby Victoriaanse huise wat daaraan herinner dat die Haight ontstaan het as ‘n laat-negentiende eeuse vakansieoord waar mense in die Golden Gate Park kom baljaar het of die stoomtrein na Ocean Beach geneem het. As die woonbuurt sy fisiese ontwerp te danke het aan hierdie Victoriaanse-era, het die 1967 Summer of Love daaraan ‘n ideologie gegee wat na meer as 30 jaar nog nie afgeleef is nie.

Deesdae herinner diegene wat spottenderwys vra om "spare change for drugs and alcohol" aan die etos van die 60’s toe winkels en restaurante soveel kos en klere weggegee het dat dit op bankrotskap uitgeloop het. Die filmteater, Red Vic, word steeds op ‘n kollektiewe wyse beheer.

Ons stap verby die huis van die Hell’s Angels. Voor ‘n kopervoordeur wat mooi oud word spin ‘n kat. Die volgende huis staan met sy rug na die straat - ‘n beskilderde sementmuur beeld die utopiese "back-to-the-land"-visie van die vroeë 70’s uit. 

Dit neem nie lank om iemand raak te loop wat nog nie deur die 60’s-fase is nie. Ene Matt skets sommerso op ‘n servet sy self-deurdagte godsdienstige siening by die People’s Cafe. "Hulle wat nie perfek inpas nie, het dikwels die beste insette te lewer," sluit hy af. 

Ek het geen twyfel om te glo dat hy weet waarvan hy praat nie.

In The Dead se huis woon ‘n ouerige paar met ‘n silwer Mercedes. Daar groei ‘n stokroos en surinkies beur deur die grasperkie. 

Op die hoek van Haight- en Ashbury-strate is ‘n Gap-klerewinkel. Die ou Drugstore, vroeër ‘n kafee, is nou ‘n restaurant en mikrobrouery. 

By die hoeveelste snuisterywinkeltjie word toeriste kitsch en allerhande goeters verkoop. 

Pê besluit ek om brunch te eet by Squat & Gobble.

Daar’s plek by die venster.

Oorkant my sit ‘n ouerige vrou. Sy plaas ‘n teelepel mooi haaks met haar koppie se oor. Haar tafel is besaai met blaaie, maar van alles is haar oë die opvallendste - dit is die ligste wat ek nog ooit aan ‘n mens gesien het. 

"Ek kry my high deur te skryf. Ek het aan geen ander stimulant meer ‘n behoefte nie," begint sy later te gesels. Drie van haar boeke het al só in koffiewinkels lyf gekry. Haar volgende handel oor hoe mense gevorm word deur hul beroepe en materiële rykdom. 

Sy is skynbaar werk- en kuierfiks.

"Positiewe energie genereer positiewe energie. Wat jy uitstraal, kry jy terug," vertel sy kinderlik uitgelate. "Wat vandag ‘n aardskuddende dinge is, sal nie môre nog so ‘n affêre wees nie. Ek het simpatie met hulle wat ons groep destyds verwerp het: die mag van tradisie weeg altyd swaar. Tog het ek nog altyd siele jammer gekry wat ander blameer vir hul eie dilemmas en neuroses."

Oor die luidsprekers klink Me and Bobby McGee van Janis Joplin op: "Freedom’s just another word for nothin’ left to lose / Nothin’ aint worth nothin’ but it’s free ..."

Die son dring buite deur die wolkkombers. 

Bulderende ysterperde en hul nie meer so bloedjonge ryers met grys poniesterte flits verby. 

"Vroeër was dit ‘n jong wêreld dié waar jy senior burgerskap op 25 verwerf het, maar nie meer nie. En dit is O.K., anders was ek al jare oor die muur," sê sy laggend en vat aan haar grys hare.

Lank lewe die 60’s!

Liefde. 

Altyd.


j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's