"Well,
we're off for America. Where it is, I don't know.
I only know it's far."
Sholom
Aleichem,
immigrant en skrywer
NEW
YORK, NEW YORK. Sedert 1996 stel die New York-gebaseerde
Wêreldmonumentefonds (WMF) 'n lys op met 100 kulturele
en historiese skatte waarvan die bestaan bedreig word.
Soortgelyk aan die bedreigde spesiestatus van wildlewe-lys
fokus die WMF die aandag op plekke met die hoop dat
dit bewaar sal word.
In die geval van Ellis Island het dit vrugte afgewerp
- baie daarvan. Nadat dié eiland in 1996 op die
WMF-lys verskyn het, is $300 miljoen binne vier jaar
geïn en kon 'n uitgebreide restourasieprojek begin.
Ellis Island Immigration Station het sy deure vir die
wêreld geopen op Vrydag, 1 Januarie 1892. Annie
Moore, 'n 15-jarige Ierse dogter, was die eerste om
ondervrae te word.
Vandag is sowat 40 % van Amerikaanse burgers afstammelinge
van immigrante wat deur Ellis Island die VSA betree
het. Gedurende die 60-jarige geskiedenis van dié
doeanepos in New York Bay het 12 miljoen hoopvolle immigrante
hierdeur beweeg.
Hieronder tel die musikant Irving Berlin wat vanaf Rusland
gekom het in 1893; komediant Bob Hope (1908, Engeland);
en die Von Trapp-familie van "Sound of Music"-faam
(1938, Oostenryk).
Sedert 1954 het Ellis Island in onbruik verval. 'n Kwarteeu
later is 'n deel van die eiland opgeknap waaronder mettertyd
die immigrasie-museum wat deesdae een van New York se
top vyf attraksies is. Die res waaronder die oud-hospitaal
het net verder agteruit gegaan. Met die geld wat bymekaar
gemaak is weens die WMF-lys sal hieraan nou behoorlike
aandag gegee kan word.
By die museum leer hul jou dat meer as 60 miljoen mense
van die wêreldoor na die VSA gekom het "om
'n multi-etniese nasie te vorm ongekend in die geskiedenis."
Circle Line's se Miss New York vaar binne 20 minute
vanaf Battery Park in Lower Manhattan na die Statue
of Liberty en Ellis Island. Kaartjies kos $8. Circle
Lane kan geskakel word by 212-269-1135 vir verdere info.
O, ja - jou mede-passasiers op die boot gaan beslis
meer uiteenlopend wees as die hoofsaaklik Europese immigrante
wat destyds geland het by dié poort tot die VSA.
-
Op
die huidige Top 100-lys van die WMF word nege plekke
in Afrika vermeld wat dringend opknappingswerk nodig
het. Hieronder tel die Larabanga-moskee in Ghana,
Thimlich Ohinga Kulturele Landskap in Kenia, Medine
Fort in Mali, Benin Stadsaardwerke in Nigerië,
Bagamoyo historiese dorp in Tanzanië en vier
plekke in Egipte waaronder die Vallei van die Konings
by Thebes.