Elim
is een van daardie plekkies waarheen jy graag wil gaan,
maar by die afdraaipad gekom ry jy wéér verby.
Vir die verdere kilo’s sien jy nie kans na ‘n reeds
vermoeiende rit nie.
En gewoonlik skyn die son ook op dié dae barse
uit die aarde, om by Breyten te leen.
Dis dan ook nie anders die dag toe ek uiteindelik so ver
kom om juis vir Elim my bestémming te maak nie.
Die pad beef in die hitte soos die son dié wêreld
moor. Met
elke motor wat aankom draai ons flink die vensters toe
- stof klóú aan ‘n sweterige vel.
Anders as die teerpad oor Hermanus, Stanford, Die
Kelders, Gansbaai en Uilkraalsmond is die stuk vanaf Pearly
Beach na Elim grond.
Ander moontlikheid is via Bredasdorp (36 km), Napier
(30 km), Waenhuiskrans (53 km) en Agulhas (40 km) aan
die suidpunt van Afrika.
Dit is tien voor een op ‘n Sondagmiddag toe ek
oplaas Elim binnery.
Gewoonlik ry ek deur ‘n dorp vooraf ter oriëntasie,
maar spoedig kom ek agter dat dit hier onnodig is.
Veel meer as ‘n hoofstraat is hier nie. As jy iemand
in Elim se voornaam ken sal jy sweerlik slegs dit op ‘n
koevert kan skryf en dit sal sy bestemming bereik.
Soos ‘n blasé stadsjapie sou kon opmerk, voel dit
vir my of ons deur die nedersetting is nog voordat ek
behoorlik besef het ons is daar.
Was my verwagtinge dalk te hoog?
Dit dateer immers terug na doerie tyd toe Panorama
nog verskyn het.
En dis nie gister se dag nie.
In die skaduwee van ‘n vy parkeer ons digby die kerk waarvan
die deure nog oopstaan.
Enkele palmbome staan ook hier rond wat in
1824 deur Duitse sendelinge geplant is.
Dit was die vrugbare grond wat dié sendelinge verlei
het om ‘n Morawiese Sendingstasie hier te vestig.
Dit is genoem na die Bybelse oase, met sy 12 fonteine
en 70 palmbome, waar die Israeliete die tweede keer kamp
opgeslaan het nadat hulle die Rietsee oorgesteek het (Eksodus
15:27). Nes
by die Morawiërs se ander hoofposte by Genadendal en Mamre
moes Elim ‘n plek wees om jou te verkwik op ‘n woestyntog
na die Beloofde Land.
Ná die vrystelling van die slawe in 1834 het baie
arbeiders hierheen hul toevlug geneem.
Dit het verset by baie koloniste uitgelok en die
gevaar was groot dat daar met sendingstasies soos dié
by Elim weggedoen sou word.
Die Morawiërs het hul egter nie van stryk laat
bring nie. Vandag
woon hier steeds rondom
1 500 mense.
Hierdie Strandveldse dorpe het dus ‘n lang geskiedenis,
maar dit is nie net die geskiedenis wat dit fassinerend
maak nie.
Die pragtige ou kerk en omliggende geboue, die
ou Kaaps-Hollandse huis, die rye huisies met hul tuintjies
verleen ‘n ongewone argitektoniese skoonheid.
Voeg daarby ‘n gemeenskap met sy samestelling,
leefwyse en lewensbenadering en Elim word ‘n volkekundige,
historiese en argitektoniese besienwaardigheid.
Die sendingstasie en huise het besonder goed bewaar
gebly en die hele dorpie is tot nasionale gedenkwaardigheid
verklaar. Tekens
van verval is egter duidelik sigbaar en ‘n uitgebreide
restourasieprojek is noodsaaklik.
Die invloedryke kerk op die dorp sukkel met geld
vir instandhouding.
Die grasdak godswoning spog met ‘n klok wat uit
1764 dateer. Dit
is die oudste in Suid-Afrika en is in 1914 verkry van
‘n kerk in Herenhut, Duitsland, waar die Morawiese sendelinge
vandaan gekom het.
‘n Staaf verbind die horlosie se wyserplate aan
weerskante van die gewel.
Buiten die Bybel het die sendelinge hul volgelinge
ook vele vaardighede geleer.
Vandag nog is inwoners gesogte rietdakdekkers en
ambagsmanne in die Kaap.
Langs die hoofstraat staan die grasdakhuisies gesellig
teen mekaar. Almal
nie meer grasdakke nie, want die gras is duur om te vervang.
Sinkplate word al hoe meer gebruik.
Ook was al die huisies
vroeër wit geverf, maar die dorp begin al hoe meer
kleurryk word.
Met die neem van die foto’s volg ‘n klong se oë
ons rond uit een van die huisies.
Hy hang oor ‘n tweedeur deur. Verder is niemand
in sig nie. Dis
tjoepstil op hierdie uur van die Sabbat.
Ons stap verby die monument, die enigste in Suid-Afrika
wat die bevryding van die slawe in 1834 gedenk.
By die Old Mill-teekamer kan besoekers Elim se
beroemde mosbolletjies probeer wat met klipgemaalde meel
gebak word. Die
ou watermeul daarlangs dateer uit 1838 en is die grootste
houtwaterwiel in die land.
Ook kenmerkend aan Elim is die wye verskeidenheid
fynbos. Dertig
bedreigde fynbosspesies kom voor en die pad na Wolvengat
(Viljoenshof) is hiervoor aan te beveel.
Veral die sewejaartjies het al menige blomliefhebber
se hart gesteel in Europa waar dit bemark word.
|