| |
voorblad
| bestemmings | raad
& neigings | reisnuus
| nie-reis | foto's
|
 |
bestemmings
al
capone verdwyn, nou boer chicago vooruit
|
|
jens
friis
|
``Seperate
is unequal'' is deur die Amerikaanse Supreme Court bevind
in Brown: Swart en wit móét saam kan skoolgaan.
Dit is die bevinding van 46 jaar gelede, maar vryheid of
te not: Wit sit uit eie wil voor en swart agter in die openbare
bus wat ek geneem het.
'n Groot gros van Amerika se derde grootste stad meng steeds
uitsluitlik op grond van velkleur, kultuur en wat ook al
hiermee saamgaan.
Vir talle Amerikaners (ook Afro-Amerikane) is dit genoeg
vryheid dat hulle oor groepsgrense heen mag meng. Baie wil
egter nie.
Dus oefen hulle hierdie vryheid van keuse ook uit. Dié
vryheid bestaan egter. Daarom is dit nie dieselfde as apartheid
nie, argumenteer hulle.
Regverdigbaar en natuurlik? Hieroor is al tesisse geskryf.
Wat egter wel gewis is, is dat rasse-integrasie in Amerika
ná dekades steeds maar stamperig vorder.
Ek het nou die eerste keer 'n vriendin ontmoet met wie ek
reeds 13 jaar kontak het - eers per brief, deesdae per e-pos.
Die vriendskap spruit uit 'n Engels-onderwyser se helder
oomblik toe hy die Vrystatertjies se ``Ingils'' probeer
opknap het deur vir hulle penvriende in die buiteland te
kry.
Liewe Erinn se stem en woorde klink soos haar briewe. Ek
voel op my gemak.
Sy vra na die welstand van die nuwe Suid-Afrika. Ek vertel.
Soos talle buitelanders klou sy krampagtig daaraan vas dat
Suid-Afrika sal toon dat die Donker Kontinent kán
werk. Anders is daar 'n groot kraak in die demokrasie-denkraamwerk.
Die gesprek kies koers na Erinn se Engels-klas waarvoor
sy baie omgee. Onder die 26 vir wie sy skoolhou, is kinders
uit alle agtergronde en afkomste.
Erinn is gebore in die Middewesterse metropool waar slegs
die helfte van die inwoners nie-swart is. Sy het geen swart
huisvriende nie.
Hoewel die woonbuurte grootliks rasgeoriënteerd is,
skuur skoonmakers, bankiers, kunstenaars en boodskappers
van alle agtergronde skynbaar sonder veel probleme skouers
in die middestad se State Street.
"Chicago" boer vooruit. Die verbintenis met Al
Capone en bendes van vroeër is kapot - so ook die bynaam
Second City (naas New York en deesdae ook Los Angeles wat
groter is).
Die stad is bekend vir die "Chicago" Bulls se
mega-ster Michael Jordan en Oprah.
Dan is daar die Sears-toring (110 verdiepings) wat lank
die hoogste mensgemaakte kolos was.
Dit is 'n stad met 'n ryke kombinasie van inwoners wat vreedsaam
saamwoon en hul eie tradisies handhaaf. Met my besoek was
daar byvoorbeeld 'n Keltiese en Duitse Oktoberfees volstoom
aan die gang.
Die rede vir my besoek is 'n regskonferensie aan die Universiteit
van "Chicago". Die sprekers is feitlik deur die
bank lelieblank. Mormoonse mans, Joodse vroue, gestremdes,
maar Afro-Amerikane is bykans nie onder die afgevaardigdes
nie.
Ironies genoeg het die organiseerders dikwels na die multi-kulturaliteit
van die regskonferensie verwys.
Wat kan dit anders wees as onbillike indiensneming op grond
van ras? Hoe ver sal Suid-Afrika se beleid vir regstellende
aksie-beleid gevoer word om werkplekke te skep wat meer
verteenwoordigend van die bevolking is?
Dalk is daar vir ons 'n straaltjie lig. Ten minste word
die meeste Suid-Afrikaners só trompop gekonfronteer
met rasse-integrasie dat ons die struikelblokke openliker
erken.
Dit was James Baldwin wat opgemerk het: ``I love America
. . . exactly for this reason, I insist on the right to
criticise her perpetually.''
Waarom spreek die normaalweg uitgesproke Amerikaners dan
nie rasse-integrasie daadwerkliker aan nie? Moontlik omdat
die grootste deel van die bevolking sosiale omgang verkies
soos dit nou daar uitsien.
As dit egter gaan oor dollars, laat ek my nie vertel dat
iedereen nie méér wil hê nie - Afro-Amerikaners
ingesluit.
Hiervoor is 'n ewerediger verteenwoordiging van die bevolking
in die werkplek nodig.
Maar waarom iets doen waarvan jy die gevolge aan eie bas
gaan voel terwyl jy die meerderheid is én die geldmag
het? |
|
|
|
|
j f
|
voorblad | bestemmings
| raad & neigings |
reisnuus | nie-reis
| foto's |
|
|