voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


al capone verdwyn, nou boer chicago vooruit

   
jens friis
     
``Seperate is unequal'' is deur die Amerikaanse Supreme Court bevind in Brown: Swart en wit móét saam kan skoolgaan.
Dit is die bevinding van 46 jaar gelede, maar vryheid of te not: Wit sit uit eie wil voor en swart agter in die openbare bus wat ek geneem het.
'n Groot gros van Amerika se derde grootste stad meng steeds uitsluitlik op grond van velkleur, kultuur en wat ook al hiermee saamgaan.
Vir talle Amerikaners (ook Afro-Amerikane) is dit genoeg vryheid dat hulle oor groepsgrense heen mag meng. Baie wil egter nie.
Dus oefen hulle hierdie vryheid van keuse ook uit. Dié vryheid bestaan egter. Daarom is dit nie dieselfde as apartheid nie, argumenteer hulle.
Regverdigbaar en natuurlik? Hieroor is al tesisse geskryf. Wat egter wel gewis is, is dat rasse-integrasie in Amerika ná dekades steeds maar stamperig vorder.
Ek het nou die eerste keer 'n vriendin ontmoet met wie ek reeds 13 jaar kontak het - eers per brief, deesdae per e-pos.
Die vriendskap spruit uit 'n Engels-onderwyser se helder oomblik toe hy die Vrystatertjies se ``Ingils'' probeer opknap het deur vir hulle penvriende in die buiteland te kry.
Liewe Erinn se stem en woorde klink soos haar briewe. Ek voel op my gemak.
Sy vra na die welstand van die nuwe Suid-Afrika. Ek vertel.
Soos talle buitelanders klou sy krampagtig daaraan vas dat Suid-Afrika sal toon dat die Donker Kontinent kán werk. Anders is daar 'n groot kraak in die demokrasie-denkraamwerk.
Die gesprek kies koers na Erinn se Engels-klas waarvoor sy baie omgee. Onder die 26 vir wie sy skoolhou, is kinders uit alle agtergronde en afkomste.
Erinn is gebore in die Middewesterse metropool waar slegs die helfte van die inwoners nie-swart is. Sy het geen swart huisvriende nie.
Hoewel die woonbuurte grootliks rasgeoriënteerd is, skuur skoonmakers, bankiers, kunstenaars en boodskappers van alle agtergronde skynbaar sonder veel probleme skouers in die middestad se State Street.
"Chicago" boer vooruit. Die verbintenis met Al Capone en bendes van vroeër is kapot - so ook die bynaam Second City (naas New York en deesdae ook Los Angeles wat groter is).
Die stad is bekend vir die "Chicago" Bulls se mega-ster Michael Jordan en Oprah.
Dan is daar die Sears-toring (110 verdiepings) wat lank die hoogste mensgemaakte kolos was.
Dit is 'n stad met 'n ryke kombinasie van inwoners wat vreedsaam saamwoon en hul eie tradisies handhaaf. Met my besoek was daar byvoorbeeld 'n Keltiese en Duitse Oktoberfees volstoom aan die gang.
Die rede vir my besoek is 'n regskonferensie aan die Universiteit van "Chicago". Die sprekers is feitlik deur die bank lelieblank. Mormoonse mans, Joodse vroue, gestremdes, maar Afro-Amerikane is bykans nie onder die afgevaardigdes nie.
Ironies genoeg het die organiseerders dikwels na die multi-kulturaliteit van die regskonferensie verwys.
Wat kan dit anders wees as onbillike indiensneming op grond van ras? Hoe ver sal Suid-Afrika se beleid vir regstellende aksie-beleid gevoer word om werkplekke te skep wat meer verteenwoordigend van die bevolking is?
Dalk is daar vir ons 'n straaltjie lig. Ten minste word die meeste Suid-Afrikaners só trompop gekonfronteer met rasse-integrasie dat ons die struikelblokke openliker erken.
Dit was James Baldwin wat opgemerk het: ``I love America . . . exactly for this reason, I insist on the right to criticise her perpetually.''
Waarom spreek die normaalweg uitgesproke Amerikaners dan nie rasse-integrasie daadwerkliker aan nie? Moontlik omdat die grootste deel van die bevolking sosiale omgang verkies soos dit nou daar uitsien.
As dit egter gaan oor dollars, laat ek my nie vertel dat iedereen nie méér wil hê nie - Afro-Amerikaners ingesluit.
Hiervoor is 'n ewerediger verteenwoordiging van die bevolking in die werkplek nodig.
Maar waarom iets doen waarvan jy die gevolge aan eie bas gaan voel terwyl jy die meerderheid is én die geldmag het?


j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's