|
Chenonceau definieer wat
'n sprokieskasteel behoort te wees: onwerklik dik mure,
torings, oneindige dakvensters . . . En buite feetjieagtige
tuine wat versmelt in 'n kosmiese wêreld asof aardse grense
en gebondenheid nie bestaan nie.
Die park wat die kasteel in Frankryk omring, is groot
genoeg om sy eie poskode te hê. Met die uitstap stoot
skemer reeds teen die bome op. Nes by vele ander het ons
veel langer gebly as beplan.
Château de Chenonceau is taamlik onbekend by Suid-Afrikaners,
maar tel nietemin onder die vyf gewildste besienswaardighede
in Frankryk. Dit wil gedoen wees, want jare lank het dié
grootse, geskiedenisryke land die meeste toeriste ter
wêreld gelok.
Dit is nie 'n groot kasteel nie, maar die indrukwekkende
argitektuur bly jou by. Vir seker is dit een van die mooiste
kastele in Europa.
Sedert die Renaissance is Cheonceau, 'n romantiese en
speelse paleis, hoofsaaklik deur vroue gebou. 'n Laan
platane lei na die voorhof, wat op dieselfde fondasie
staan as die Middeleeuse fort (1230) wat in 1411 verwoes
is. Jean de Marques het met die bouwerk aan 'n toring
daar begin, maar ná 'n vroeë dood het die taak op sy aristokratiese
vrou en seun se skouers geval om dit te voltooi.
Nadat Thomas Bohier, minister van finansies belas met
Normandië, die beheer oor die dorp Cheonceaux oorgeneem
het, het hy opdrag gegee vir die bou van die sentrale
château (1515). Nietemin het ook sy vrou, Catherine Brio€nnet,
grootliks toesig gehou oor die werkery.
Die styl van hierdie sentrale deel van die kasteel is
Goties, maar die grondplan het Italiaanse ondertone. Die
lang gang wat na die lig en water lei, eggo moontlik Catherine
se liefde vir Venesië, meen die kenners.
Kort nadat die Bohiers vir Chenonceau aan Franc€ois I
verkoop het om hul skuld te vereffen, het dit weer hande
verwissel deurdat Henri II, seun van Franc€ois, dit aan
sy buite-egtelike geliefde, Diane de Poitiers, gegee het.
Diane se aandeel in die oprigtingsproses was 'n galery
van 60 m wat die rivier met verskeie boë oorspan.
Ná Henri se dood in 1559 het koningin Catherine de Medici
egter wraak geneem op haar man se minnares en die arme
Diane gedwing om die kasteel aan haar terug te gee.
Catherine het 'n galery bo-op die bestaande galerybrug
gebou. Dit het as balsaal gedien en die château het bekend
geword om sy partytjies. Hierdie groot somershuis het
Catherine se gunsteling-woonplek geword. Haar seun Franc€ois
II en Maria Stuart het 'n paar maande lank daar gewoon
ná hul troue in die Notre Dame in Parys.
Die tuine om die château het Catherine in 1568 met 'n
groot kermis ingewy.
Louise de Lorraine, die bedroefde vrou van Henri III,
het die château in 1590 geërf en die hoofkamer se plafon
swart en wit geverf. Vandag nog voel dié vertrek somber
vergeleke met die liggevulde oopte van die res.
Nes destyds word die vertrekke steeds deur kaggels verhit.
Die hele jaar deur vul reuse-blommerangskikkings die vertrekke.
Daar is 'n ryke verskeidenheid Vlaamse tapiserieë, skilderye
en meubels in die 16de-eeuse kamers met hul pragtige houtplafonne.
Die kombuis in die kelder is feitlik op die rivieroewer.
'n Invloedryke Madame Dupin, 'n 18de-eeuse grondbarones,
sou Chenonceau tydens die Revolusie van verwoesting red.
Die laaste vrou wat 'n leeue-aandeel in die instandhouding
van die kasteel gehad het, was ene Madame Pelouze, wat
'n groot restourasie in 1863 begin het. Tydens die Eerste
Wêreldoorlog het die kasteel 'n hospitaal geword waar
meer as 2 000 gewondes versorg is. Die Menier-familie,
sjokolade-baronne, het dit 'n jaar vroeër (1913) aangeskaf.
Vandag is dit staatseiendom. Ná al die jare staan Cheonceau
steeds ten spyte van vloede. In 2000 het die Cher bevaarbaar
geword nadat die regering agt sluise ná 'n halfeeu in
hergebruik geneem het. Daar word beplan om die watervlak
verder te laat styg. Tans is net 30 km van die Cher bevaarbaar.
Die Nymphea, 'n trekskuitjie wat in vlak water kan vaar,
is die enigste plesierboot op die rivier.
Die kasteel is in die winter tussen 09:30 en 16:30 oop
en in die somer tot 19:00. Toegang is R60.
|