|
|
In Frankyk is daar baie mooi, maar ‘n kroonjuweel is Cassis ‘n vissersdorpie
aan die voet van Europa se hoogste krans, Cape Canaille (405 m).
Dis moeilik om te sê waarin die area se bekoring lê. Soos
met geluk, of ‘n geur, weet jy net dit is dáár, Onmoontlik
is dit om dit raak te vat. Dit het egter beslis te doen met
die uitstekende wyn, nog beter kos, sonskyn, die onverwagse kleure
van bougainvilleas teen eeue oue villamure en mooie mense.
Baie van die dorpies langs die Franse suidkus is tot só ‘n mate
ontwikkel dat hul oorspronklike inneemlikheid verlore is.
Cassis is egter steeds tot groot mate die vissersdorpie wat kunstenaars
soos Dufy, Signac en Derain gelok het.
Ons het nommerplate van oraloor gesien – sommige so ver soos Berlyn
en Finland (3 000 km daarvandaan). Tog is dit net somers wat
Cassis hulle na sy sonnige baai lok. Winters word hordjies
gedig en sluit besighede.
In hoogseisoen sluit die winkels vir ‘n láááng siesta rondom die
noenuur. Vir werk is dit dan té bloedig warm in hierdie geweste
wat herinner aan die Weskus, maar met meer bome en berge.
Om vier- of vyfuur sal die winkels weer oopmaak en tot by die kleinste
straatkafeetjies kan tot ounag gekuier word. Sondag is ‘n
tradisionele rusdag en net restaurante en toeristewinkels is oop.
Saans word stoele uitgedra en die straatjies in restaurante omskep.
Jy kan boonop so lank as wat jy wil in die straatkafees sit, want
jy het vir jou plek betaal. Hier is kos belangrik. Daar
is ‘n bakkery op elke hoek en talle opelugmarkte. Jy kan weglê
aan ‘n oneindige verskeidenheid – artisjokke, waatlemoen, nougat,
mousse, patee. Omelette, sop, jogurt en vrugte is oor die
algemeen heel bekostigbaar.
Wonderlik van Frankryk is dat kos deurgaans van die beste is.
Die kleinste restaurante het dikwels van die beste geregte. Kredietkaarte
word dikwels nie aanvaar nie.
Dit het my telkens opgeval dat Europa ekonomies klein word. Veeltaligheid
word vooropgestel. Op talle produkte verskyn Frans, Engels,
Duits en Nederlands.
Tog is die voertaal selfs hiér waar toeriste van oraloor bymekaarkom
uitsluitlik Frans wat problematies kan wees as jy weinig meer kan
sê as par excellence en
cul de sac.
Met ‘n glimlag, handtekens en bonjour
(goeiedag), merci
(dankie) en pardon (ekskuus)
kon ek darem oor die wegkom. Diegene wat wel ‘n geselsie wou
en kon aanknoop, het meestal verneem oor die president wat Mandela
opgevolg het (weinig kon sy naam uitspreek), Zimbabwe, die Vigsepidemie
en die Springbokke.
Rondom die beskutte baai van Cassis loop die Promenade des Lombards
soos 'n hoefyster. As jy hierlangs stap is daar aan jou een
sy skippies en dure jagte en aan die ander kant waterfront-terras
kafees, boutieks en helderkleurige bougainvilleas teen pastelkleurige
mure.
Die strande is in stroke ingedeel en die verskillende strandklubs
verhuur sambrele en sonstoele in die kleure van die klub.
Om die stemming te bewaar, word meestal geen balspeletjies toegelaat
nie en honde word ook verbied. Dit moet swaar wees vir die
Franse wat seker die enigste nasie in die wêreld is wat hul hone
selfs na die duurste restaurante saamneem.
Berg-op kyk 'n chateau-fort uit 1381 op die dorp met sy 7 600 permanente
inwoners neer. Die Chateaux de la Maison des Baux is privaat-eiendom,
maar daar langsaan is ‘n uitstekende uitkykpunt waar die land in
die Mediterreense-see val om die Calanques-kranse te vorm.
Baie strandjies is net per boot of voet bereikbaar.
Vir bergklimmers is dit hemel op aarde. Bootjies neem hul van die
hawe na die voet van die Calanques-kranse.
'n Kaart van Cassis en die Calanques is verkrygbaar by die Office
de Tourism. Dit sluit fietsry- en staproetes in. Seevoëls,
akkedisse en vosse gedy. Meer as 900 plantspesies word gevind.
Neem genoeg water saam op so 'n stap- of klimtog. Waterstrome
om droeë kele te dors is daar nie.
Wyne is reeds hier gemaak voordat die Grieke in 600 v.C. voet aan
wal gesit het. Dit sluit rooi, rosé en wit in waarvan die
wittes die beste is. Daar is menige wingerde langs die plat
kusareas, maar die beste wyne word gemaak van dié teen die skuinse
klakklip heuwels.
As Cassis na ‘n week of wat te klein word is Avignon met sy
Middeleeuse stadsmuur en Aix-en-Provence waar die skilder Cézanne
gewoon het net oor die bult.
|
|
|
|