voorblad | bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's
 

bestemmings


''n mens kan nie jou verlede uitkoop of daarvan ontvlug nie'

   
jens friis
     
     
``Don't go through life, grow through life.'' Eric Butterworth

Onlangs sit ek in 'n kroeg in Berlyn. Dit is splinternuut en kon net sowel 'n omskepte New Yorkse warehouse gewees het. Ongepleisterde mure. Helder 3 x 2 m-skilderye. Blink metaalligte.

Dit is halftien, maar nog sterk skemer en die plek is stillerig. Deur die muurgrootte vensters kan ek Nolendorfplatz sien, 'n spilpunt van die naglewe in die gewese Wes-Berlyn.

Ná die val van die Muur het talle van dié ondernemings egter 'n tuiste gevind in ``die ander deel van die stad'' vanweë laer eiendomspryse en 'n groot vraag na sulke vermaak daar.

Skuins oorkant my sit 'n man van my ouderdom en sy jong foksterriër. Elke keer as 'n baas en sy hondevriend instap, spring die foksterriërtjie op. Maar hy is goed geleer en bly stertswaaiend langs sy baas staan.

Soos talle Duitsers lyk dit of die baas vreemdes op 'n afstand wil hou. Nogtans vra ek hoe oud sy hond is, en ná nog 'n vraag of twee hoor ek dat hy 'n regsgeleerde is, soos ekself. Sy pa gaan aan die einde van die jaar met pensioen en hy sal dan dié se praktyk oorneem.

In sy laaste skooljaar is Duitsland herenig en kon hy in München gaan studeer. Daarna het hy in Berlyn kom woon.

Dat die parlementêre setel ná dekades terugskuif van Bonn na die Berlynse Reichstag, maak hom nie opgewonde nie. Hy sou dit verkies het as die twee Duitslande aparte, nie-Kommunistiese state gevorm het.

Die Oos-Duitsers beskik nie oor dieselfde moderne praktyke, kennis en vaardighede van die ander Duitsers nie. ``My oud-landgenote gaan tweedeklasburgers word, en daarom is ek teen unifikasie,'' sê hy in gebroke Engels.

Hy is ook Russies magtig en verstaan talle van die Oos-Baltiese tale. Net soms is sy Engelse woordeskat nie omvattend genoeg vir ons geselskap nie en dan is dit sinvoller om 'n Afrikaanse woord te gebruik wat nader is aan die Duitse ekwivalent.

Hy meen die ontwikkelingsprojekte wat soos paddastoele opskiet, beteken weinig vir die gemiddelde oud-Oos-Duitser, want dis meestal Wes-Duitse firmas wat aan die stuur hiervan is.

Terwyl my gespreksgenoot sy gevoelens in 'n vreemde taal probeer verwoord, val dit my op watter ingewikkelde proses dit is as groepe een nasie gemaak word, ongeag of dit in 'n (nog nie) verenigde Duitsland of 'n (nuwe) Suid-Afrika is.

Oorverwagting van 'n regering deur die burgers, korrupsie, wanbestuur en ander transformasie-komplikasies is nie tot landsgrense beperk nie.

Ons drinkgoed is teen dié tyd boomskraap en hy vra wat ek saam met hom sal drink. Met die betaalslag merk hy op dat geld van min belang is vir hom. Hy het in die regte studeer omdat hy ander wil help en ook sodat geregtigheid kan seëvier.

Ek neem dié sosialistiese storie met 'n knippie sout. 'n Paar sinne later kla hy dan ook dat staatsaanklaers swak betaal word in Duitsland veral as jy jonk, ongetroud en kinderloos is. Huwelikstatus speel inderdaad 'n groot rol in besoldiging in Duitsland.

'n Berlyner en sy Rotweiler stap verby en die foksterriër wat kordaat blaf, moet vinnig stil gemaak word om 'n geveg te voorkom.

``Het julle vooraf besef dat Kommunisme tot 'n val gaan kom?'' vra ek.

Terwyl Rusland nog baie rooi was, was hy gelukkig genoeg om soms na mense soos Brittanje se mev. Maggie Thatcher oor die radio te luister.

``Eers het ons gedink sy praat onsin, maar daardie inligting was soos 'n mikroskyfie in ons brein waardeur jy anders na die wêreld gekyk het.

``Victor Hugo het gesê dat al die magte in die wêreld nie so kragtig is soos 'n ideologie waarvan die tyd aangebreek het nie. Oor 'n tydperk van twee of drie jaar het ons Kommunisme se einde sien kom, maar min het die pas voorsien waarteen die verandering wel plaasgevind het.''

Hy vra my oor Suid-Afrika. Toe die Berlynse Muur geval het, het ek tydens 'n skoleredenaarswedstryd bespiegel watter invloed die val van die Kommunisme op die destydse ANC sou hê. ``Ek weet 'n bietjie van Suid-Afrika. Maar dit is min: apartheid, Mandela, Kaapstad en Pieter Willem Botha,'' sê hy.

Weet hy dan nie van oudpres. F.W. de Klerk en die rol wat hy gespeel het nie? ``Ja, maar met my beperkte kennis verkies ek P.W., want F.W. het onder dwang toegegee.''

Ek probeer verduidelik dat dit in die omstandighede destyds al uitweg was. Soms is dit immers noodsaaklik om op grond van waarskynlikhede, met die mate van risiko daaraan verbonde, keuses te doen. ``Verandering was noodsaaklik om 'n revolusie soos in die Sowjet-lande te verhoed,'' sê ek.

Hy merk op dat ons nie meer skaam hoef te wees vir apartheid nie. ``Ek was vroeër 'n Kommunis, maar was geseën om nie vasgevang te bly in dié denksisteem nie. 'n Mens kan nie jou verlede uitkoop of daarvan ontvlug nie. As jy gelukkig is, kan jy dit verander deur jou dade vandag. Om dit te kan doen, moet elkeen diep dink wat het verkeerd geloop en ten alle koste probeer voorkom dat dieselfde foute weer begaan word,'' filosofeer hy.

'n Dag of wat later sit ek op die Tempelhoff-lughawe. Ek wag vir 'n vlug na Frankfurt, waar ek by liberale vriende gaan kuier wat meer ten gunste van die unifikasieproses is.

Die advertensie langs die bord waarop die vlugte aangedui word, is heel gepas: een van die grootste voordele van 'n reis is dat jy bekende denkpatrone vanuit ander perspektiewe beskou en só die moontlikheid tot herevaluering gebied word.

En ek besef: slegs 'n verandering van omgewing is soms nodig om jou met nuwe oë na jou eie situasie te laat kyk.

 


j f

 
voorblad
  |  bestemmings | raad & neigings | reisnuus | nie-reis | foto's