Onlangs sit
ek in 'n kroeg in Berlyn. Dit is splinternuut en kon
net sowel 'n omskepte New Yorkse warehouse gewees het.
Ongepleisterde mure. Helder 3 x 2 m-skilderye. Blink
metaalligte.
Dit
is halftien, maar nog sterk skemer en die plek is stillerig.
Deur die muurgrootte vensters kan ek Nolendorfplatz
sien, 'n spilpunt van die naglewe in die gewese Wes-Berlyn.
Ná
die val van die Muur het talle van dié ondernemings
egter 'n tuiste gevind in ``die ander deel van die stad''
vanweë laer eiendomspryse en 'n groot vraag na sulke
vermaak daar.
Skuins
oorkant my sit 'n man van my ouderdom en sy jong foksterriër.
Elke keer as 'n baas en sy hondevriend instap, spring
die foksterriërtjie op. Maar hy is goed geleer en bly
stertswaaiend langs sy baas staan.
Soos
talle Duitsers lyk dit of die baas vreemdes op 'n afstand
wil hou. Nogtans vra ek hoe oud sy hond is, en ná nog
'n vraag of twee hoor ek dat hy 'n regsgeleerde is,
soos ekself. Sy pa gaan aan die einde van die jaar met
pensioen en hy sal dan dié se praktyk oorneem.
In
sy laaste skooljaar is Duitsland herenig en kon hy in
München gaan studeer. Daarna het hy in Berlyn kom woon.
Dat
die parlementêre setel ná dekades terugskuif van Bonn
na die Berlynse Reichstag, maak hom nie opgewonde nie.
Hy sou dit verkies het as die twee Duitslande aparte,
nie-Kommunistiese state gevorm het.
Die
Oos-Duitsers beskik nie oor dieselfde moderne praktyke,
kennis en vaardighede van die ander Duitsers nie. ``My
oud-landgenote gaan tweedeklasburgers word, en daarom
is ek teen unifikasie,'' sê hy in gebroke Engels.
Hy
is ook Russies magtig en verstaan talle van die Oos-Baltiese
tale. Net soms is sy Engelse woordeskat nie omvattend
genoeg vir ons geselskap nie en dan is dit sinvoller
om 'n Afrikaanse woord te gebruik wat nader is aan die
Duitse ekwivalent.
Hy
meen die ontwikkelingsprojekte wat soos paddastoele
opskiet, beteken weinig vir die gemiddelde oud-Oos-Duitser,
want dis meestal Wes-Duitse firmas wat aan die stuur
hiervan is.
Terwyl
my gespreksgenoot sy gevoelens in 'n vreemde taal probeer
verwoord, val dit my op watter ingewikkelde proses dit
is as groepe een nasie gemaak word, ongeag of dit in
'n (nog nie) verenigde Duitsland of 'n (nuwe) Suid-Afrika
is.
Oorverwagting
van 'n regering deur die burgers, korrupsie, wanbestuur
en ander transformasie-komplikasies is nie tot landsgrense
beperk nie.
Ons
drinkgoed is teen dié tyd boomskraap en hy vra wat ek
saam met hom sal drink. Met die betaalslag merk hy op
dat geld van min belang is vir hom. Hy het in die regte
studeer omdat hy ander wil help en ook sodat geregtigheid
kan seëvier.
Ek
neem dié sosialistiese storie met 'n knippie sout. 'n
Paar sinne later kla hy dan ook dat staatsaanklaers
swak betaal word in Duitsland veral as jy jonk, ongetroud
en kinderloos is. Huwelikstatus speel inderdaad 'n groot
rol in besoldiging in Duitsland.
'n
Berlyner en sy Rotweiler stap verby en die foksterriër
wat kordaat blaf, moet vinnig stil gemaak word om 'n
geveg te voorkom.
``Het
julle vooraf besef dat Kommunisme tot 'n val gaan kom?''
vra ek.
Terwyl
Rusland nog baie rooi was, was hy gelukkig genoeg om
soms na mense soos Brittanje se mev. Maggie Thatcher
oor die radio te luister.
``Eers
het ons gedink sy praat onsin, maar daardie inligting
was soos 'n mikroskyfie in ons brein waardeur jy anders
na die wêreld gekyk het.
``Victor
Hugo het gesê dat al die magte in die wêreld nie so
kragtig is soos 'n ideologie waarvan die tyd aangebreek
het nie. Oor 'n tydperk van twee of drie jaar het ons
Kommunisme se einde sien kom, maar min het die pas voorsien
waarteen die verandering wel plaasgevind het.''
Hy
vra my oor Suid-Afrika. Toe die Berlynse Muur geval
het, het ek tydens 'n skoleredenaarswedstryd bespiegel
watter invloed die val van die Kommunisme op die destydse
ANC sou hê. ``Ek weet 'n bietjie van Suid-Afrika. Maar
dit is min: apartheid, Mandela, Kaapstad en Pieter Willem
Botha,'' sê hy.
Weet
hy dan nie van oudpres. F.W. de Klerk en die rol wat
hy gespeel het nie? ``Ja, maar met my beperkte kennis
verkies ek P.W., want F.W. het onder dwang toegegee.''
Ek
probeer verduidelik dat dit in die omstandighede destyds
al uitweg was. Soms is dit immers noodsaaklik om op
grond van waarskynlikhede, met die mate van risiko daaraan
verbonde, keuses te doen. ``Verandering was noodsaaklik
om 'n revolusie soos in die Sowjet-lande te verhoed,''
sê ek.
Hy
merk op dat ons nie meer skaam hoef te wees vir apartheid
nie. ``Ek was vroeër 'n Kommunis, maar was geseën om
nie vasgevang te bly in dié denksisteem nie. 'n Mens
kan nie jou verlede uitkoop of daarvan ontvlug nie.
As jy gelukkig is, kan jy dit verander deur jou dade
vandag. Om dit te kan doen, moet elkeen diep dink wat
het verkeerd geloop en ten alle koste probeer voorkom
dat dieselfde foute weer begaan word,'' filosofeer hy.
'n
Dag of wat later sit ek op die Tempelhoff-lughawe. Ek
wag vir 'n vlug na Frankfurt, waar ek by liberale vriende
gaan kuier wat meer ten gunste van die unifikasieproses
is.
Die
advertensie langs die bord waarop die vlugte aangedui
word, is heel gepas: een van die grootste voordele van
'n reis is dat jy bekende denkpatrone vanuit ander perspektiewe
beskou en só die moontlikheid tot herevaluering gebied
word.
En
ek besef: slegs 'n verandering van omgewing is soms
nodig om jou met nuwe oë na jou eie situasie te laat
kyk.